Terugreis…

Juniemaand is gewoonlik die afwagtingsmaand, die laaste voorbereidingsmaand indien ons in die gelukkige posisie is om te kan reis.

Nie sedert Covid-19 nie, “to state the obvious”, soos die Ingelse sal sê. Nou word ons gedwing – nie altyd onwillig nie – om ons binnekamers weer te leer ken en lief te hê, letterlik en figuurlik.

Maar ek sou bittergraag weer wou reis. Net om weer die vreemdeling in ‘n vreemde land te wees, met vars oë na mense en dinge te kan kyk, te fokus op die lewe buite myself en ‘n kykie na ‘n ander leefwyse te kan hê…

Dus gaan ek vanoggend weer terug in die tyd. Julie 2005 op ons eerste gesinstoer.

Aquileia, Italië, en ons bevind ons in die nou bekende verwarring van jeughostel soek. Ek het reeds maande gelede plek via die internet bespreek. Eers was ons saam met die koor, het in redelik luukse hotelle in Duitsland gebly en die laaste week op ons eie terwyl Manlief ‘n seminaar in Lljubljana, Slovenië aangebied het. ‘n Vinnige terugkom aarde toe vir ons drie seuns om toe reeds in ‘n jeughostel te bly. Daardie eerste middag se verkenning was die gesiggies lank, maar gelukkig net tot hulle besef het – hierdie is ‘n ander land, ‘n ander kultuur, ‘n ander geskiedenis. ‘n Mens se gesindheid verander mos as jou fokus verskuif.

Ons hostel hier in Aquileia is in Via Roma en gelukkig kan die man by ontvangs Engels praat en vir twee Euro per persoon ekstra kan ons as gesin alleen in ‘n kamer bly. Badkamer en stort en die res is silwerskoon en ‘n rukkie later sit die seuns voor die televisie in die algemene sitkamer terwyl ek wasgoed laat was en Manlief die kar op die plein twee blokke verder laat parkeer. Veilig.

Skemeraand kies ons in ‘n algemene rigting koers op soek na pizza of iets eg Italiaans. Ons kry ‘n plekkie waar ons op die stoep by ‘n tafeltjie kan sit, maar vind uit dat hulle nie pizza bedien nie. Gmf! Ons eindig op met bruscetta, ‘n soort roosterbrood met iets daarop wat verlangs verwant aan pizza is soos ons dit ken.

Die aand is nog jonk en ons slenter na die motor toe en ry van daar af na Aquileia se basilika waar dit nogal bedrywig voorkom. Eers loop ons na die agterkant waar daar ‘n begraafplaas vir Itialiaanse soldate is wat in die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel het en verwonder ons aan die beelde en grafstene.

Binne in die kerk is ons net betyd vir ‘n gratis uitvoering deur ‘n simfonie-orkes en ons is gelukkig om sitplekke vir almal te kry.

Die stad Aquileia dateer uit die jaar 181 vC toe dit gestig is as ‘n Romeinse kolonie.  Dit was die hoofsentrum van handel tussen Noord en Suid-Europa en het as die tweede Rome bekend gestaan.  In die jaar 452 is die stad deur Atilla die Hun vernietig en toe dit in die sesde eeu herbou is, was dit die hoofkwartier van ‘n Christen patriarg tot dit deur die Venisiërs oorgeneem is in 1412.  Daarna is dit deur die Oostenrykers beset tot in 1812 toe dit in Italiaanse besit gekom het.  In 1998 is dit deur die UNESCO as ‘n Wêrelderfenisgebied verklaar is.  Die basilika is dus duisende jare oud en word met die grootste sorg bewaar.  As ‘n mens in die kerk inloop het hulle ‘n beskermende glasplatform opgerig sodat ‘n mens nie direk op die mosaiekvloer loop nie, maar dit alles steeds kan sien.  Die middelste gedeelte van die vloer is afgesper en ‘n mens kan glad nie daar loop nie.

Die uitvoering is ongelooflik met die ligte in die skemer kerk gedoof en die kollig op die orkes. Tussendeur lees ‘n Italianer lang stukke uit die Bybel en al kan ons nie ‘n woord verstaan nie, word ons geraak deur sy stem en die deernis waarmee hy lees.

Na die uitvoering is almal dors en soek iets te drinke by die stalletjies buite. Een of ander poprock orkes sal later daar optree en ons gaan sit by ‘n tafeltjie in ‘n groot tent. Ongelukkig stel die muskiete ook belang en gee ons na ‘n rukkie op en gaan terug hostel toe.

Die volgende oggend is ons vroeg uit die vere en na ‘n basiese ontbyt van harde rolletjies, piepklein glasies koffie en pakkies biscotti, pak ons die pad na Venisië aan.

Ons kom na ‘n ruk agter dat ons fluks is op pad na Padova toe en ry ‘n draai van omtrent tien kilometer, net om in die verkeer te beland wat voor ‘n tolhek opdam. Boonop is ons in die baan waar ‘n vragmotor die verkeerde deurgang gekies het en ons wag amper ‘n uur voor ons uiteindelik deur is. Van daar af volg ons die aanwysings na Fusina waar ons net betyds is om die twaalfuur boot na Venisië te kry.

Op die hoofeiland is dit ‘n miernes van bedrywighede, want dit is ‘n Saterdag en daar is ‘n stroom mense wat deurentyd van en na die Sint Markusplein beweeg. My senuwees is gedaan om nie die drie seuns of Manlief in die geroesemoes te verloor nie. Vir middagete koop ons regte pizza by ‘n kiosk en op die San Marko piazza staar die kinders verwonderd na die honderde duiwe wat rondtrippel en rondfladder op soek na mielies. Hulle wil terstond ook die duiwe voer en tussen hulle drie en agt pakkies mielies verder, oortuig ons hulle dat ons plan moet maak anders mis ons die boot vir die Drie Eilande toer wat ek vir ons bespreek het.

Weer is dit ‘n gesoek na die vasmeerplek by die waterfront en ek keer ‘n polisieman voor wat met handgebare en gebroke Engels vir ons wys waar die boot is. Teen die tyd wat ons onsself op die boot se sitplekke neerplak tap die sweet ons behoorlik af. Dit is vrek warm met nie ‘n enkele wolkie in die lug of selfs ‘n effense briesie nie.

Die gids van Adventures Bellisimo daag twintig oor twee op en teen hierdie tyd wag ‘n groot groep mense reeds aam met ons. Sy kondig alles in Italiaans, Engels, Frans, Duits en Frans af, maar met die eggo’s van die luidsprekers en die klanktrillings kan ons in elk geval geen snars van die Engels uitmaak nie.

Die boot klief deur die bruin water rondom Venisië en gou laat ons die hoofeiland agter, vaar verby kleiner eilande en ‘n klomp ander bote van verskillende groottes. Die hitte is nou meer draaglik in die wind en ons probeer soveel as moontlik van die tonele rondom ons absorbeer.

Ons eerste stop is die eiland Murano, waar die eeu-oue glasblaaskuns beoefen word. Ons tou agter die gids aan tot binne in die gebou waar die hitte ons soos ‘n bol wol tref. Daar is reeds ‘n ander groep op die paviljoentjie van waar almal ‘n goeie blik op die glasblaser het en  kort voor lank hang ons monde oop. Eers blaas die man ‘n vaas en dan, tot ons verwondering, ‘n perdjie wat op sy agterpote staan. Dis net ongelooflik hoe vinnig en meesterlik hy dit vorm.

Natuurlik neem die gids ons direk na die vertoning na ‘n winkel waar glasware uitgestal word, ten duurste. Ons hou die beursies vir eers dig toe tot ons op die volgende eiland dieselfde perdjie vir 4 Euro kan koop – aansienlik beter as die 12 Euro van Murano.

Ons volgende stop is Burano, veral bekend vir die fyn kanthandwerk wat hulle doen. Ons sien van ver af al die leunende kerktoring, een van die besienswaardighede van die eilandjie. Wat die plek nog meer gewild en besonders maak, is die veelkleurige geboue en huisies. Dit is regtig poskaartmooi – kleurvol en vrolik.

Dis ‘n besige hoofstraatjie, maar groot genoeg sodat ‘n mens nie op iemand se tone hoef te trap nie. Ons loer oral in. In ‘n klein winkeltjie sit ‘n ou vroutjie en borduur. So ‘n klein lappie borduurwerk neem maklik twee maande om klaar te werk. Terug op die boot en hierdie keer na die eiland Torcello.

Maar volgende keer meer daaroor anders raak die inskrywing te lank!

‘n Bus, ‘n boggelrug en Notre Dame deur die venster…

Donderdag 26 Julie 2001.  Dis die laaste dag van die toer, my laaste dag in Parys.  Na ontbyt gaan groet ek die res van die groep by die bus.  Ken was so gaaf om ‘n kopie van almal se kontaknommers te maak en vir elkeen een te gee. Uiteindelik vertrek die bus en ek, Jenny en Graham staan en waai vir die bus totdat dit net ‘n klein stippeltjie in die reguit straat is.

Ek is so dankbaar dat Jenny en Graham ook nie teruggaan Londen toe nie en ek dus vanaand ‘n taxi met hulle kan deel. Ons spreek af om mekaar om halftien in die voorportaal van die hotel te ontmoet. Graham het reeds die vorige dag gereël dat ‘n taxi ons om drie-uur vanmiddag sal kom oplaai. Ongelukkig vir hom en Jenny was daar ‘n effense misverstand en is hulle drie-uur vanoggend al wakker gebel!

Ons kan ons tasse in sluitkaste by die hotel bêre en dan stap ons na die bushalte toe waar ons ‘n bus kry wat tot in die stad ry en naby die Louvre stop. Ons het niks spesifieks om te doen behalwe om die tyd om te kry nie en Graham wil ook vir sy seun sigare koop, dus is ons ontspanne en rustig en geniet dit net om na die winkels en mense te kyk. Hier en daar loop ons by ‘n winkel in en bring ‘n rukkie langer tyd deur by Lafayette, ‘n gewilde afdelingswinkel. Binne is dit ‘n indrukwekkende vertoon van oormaat en oordaad – as ‘n mens opkyk sien jy ‘n groot koepel met gebrandskilderde glas wat vier vloere boontoe troon.  Teen halftwaalf is ons uitgekuier met winkel- en mensekyk en besluit om na die busstop te gaan soek waar ons die bus terug na die hotel toe moet kry. Dis naby die Madeleine-plein, maar ons kry dit nie dadelik nie en stap maar in die algemene rigting van waar ons dink die rivier is. Jenny het ‘n stadskaart by haar maar dit help nie veel vir ons oningeligtes nie. Ons begin benoud raak en loop al hoe vinniger. Ons beland aan die onderpunt van die Champs Elysee en van daar af weet ons min of meer hoe om by die Louvre uit te kom. Dit is vrek warm en ons is oneindig dankbaar wanneer ons uiteindelik die regte busstop kry. Ons verstaan nie ‘n snars van hoe die busskedule werk nie en hoop vir die beste. Elke keer wat daar ‘n bus aankom, spring ons op, net om te sien dat dit nie nommer 24 is nie. Ons gaan weddenskappe aan oor watter bus ons s’n gaan wees, maar begin dink aan plan B: ‘n taxi. Dan daag ons bus uiteindelik op en alhoewel daar net staanplek is, gee ons glad nie om nie.

Tussen die hangende arms deur loer ek by die bus se venster uit en sien dat ons naby die Notre Dame is. Op dieselfde oomblik raak ek bewus van iemand wat naby my staan en kry ‘n soort van de ja vu-gevoel: dis ‘n boggelrugman! Ek probeer ongemerk Jenny se oog vang, maar sy en Graham staan met hulle rûe na die man toe. Eers nadat ons afgeklim het kan ek vir hulle vertel van die man en ons kom tot die gevolgtrekking dat hy doelbewus hierdie busritte doen om mense koue rillings te gee…

Ons trek daar weg en ek is ontsettend dankbaar dat ons uiteindelik op pad lughawe toe is.  Ek kan nie veel sien van wat aangaan nie, want die tas voor my versper my uitsig, maar ek gee nie om nie.  Die bestuurder is een of ander Oosterling en praat nie juis baie Engels nie en ek wonder kliphard of hy ons na die regte lughawe toe vat.  Gelukkig sien Jenny in ‘n stadium aanwysings vir Charles de Gaulle en kan ons finaal ontspan.  By die lughawe word ons rekening in drie gedeel – ek het dus tweehnderd frank gespaar en is effens bek-af omdat ek nie tog maar vir my ‘n parfuumpie in die Suide gekoop het nie…

Jenny en Graham het daarop aangedring dat hulle by my bly tot ek ingeboek het en ons ontdek dat ek by die verkeerde terminaal is. Gelukkig is daar ‘n busdiens en ek wurm omtrent net betyds my tas saam met my in toe die deure toegaan en ek vir die twee Australianers kan totsiens waai.

By Terminaal 1 laai ek my tas op ‘n trollie, weeg my tas in en soek dan ‘n plek waar ek iets kan koop om te drink. Ek is verbaas dat daar geen lugversorging in die plek is nie en voel of ek gaan vergaan van die hitte.  By ‘n boekwinkeltjie loop ek ‘n Readers Digest raak en gaan sit en lees op ‘n stoel om die tyd om te kry.

Uiteindelik is ek in die vliegtuig en my hart sing, al het ek so pas gehoor dat ons op Zurich sal land en eers brandstof sal moet inneem. Ek is een van die eerstes in die vliegtuig en hoop dat ek tog net ‘n vriendelike of ordentlike persoon langs my sal kry. ‘n Italiaanse tante en haar man loop in die gangetjie af, maar loop eers verby voor die vrou omdraai en langs my kom sit. Sy en haar man is nie langs mekaar nie en na nog ‘n paar minute kom ‘n jong blonde outjie langs haar sit. Die vrou vra dadelik vir hom iets in Italiaans, maar ek kan sien dat hy, nes ek, nie weet wat sy wil hê nie. Dan sit ek twee en twee bymekaar en ek sê vir hom in Engels dat ek dink dat sy vra of hy sal omgee om sitplekke met haar man te ruil. Gelukkig is hy Amerikaans en vriendelik en sê dat dit nie ‘n probleem is nie.  Die vrou soen my amper van dankbaarheid en trek daar weg met ‘n stroom Italiaans, onder die indruk dat ek haar verstaan, maar ek glimlag net en mompel iets van ‘Non parla Italiano!” Ons lag albei en vir die res van die vlug kommunikeer ons in gebaretaal.

Gelukkig sit ek hierdie keer in die bo-dek en is daar ‘n bietjie meer beenspasie, maar ek kan nogtans nie gemaklik slaap nie.   Ek word kort-kort wakker en is heeltyd bewus van waar ons is. Halfvyf Vrydagoggend word ons wakker gemaak vir ontbyt en land om halfsewe op Johannesburg lughawe.  Dis heerlik om terug in Afrika te wees, maar eers wanneer ons nege-uur op die Durbanvlug klim, is ek regtig opgewonde, weet ek dat ek uiteindelik op pad terug huis toe is!

‘n Troostelose landskap, ‘n kerk met klomp torings en speenvarkies in slaghuisvensters…

20 Julie 2001, Vrydag.  Wanneer ek in my joernaal begin skryf kan ek nie anders nie as om te dink dat ek oor ‘n week op pad terug huis toe sal wees – hierdie is my droomreis, maar die verlange begin nou aan my hart gryp.

Vanoggend ry ons van Barcelona na Madrid.  Die landskap raak weer platter en die hoë bome word langsaam vervang met bosse, later struike en klein bossies.  Amper soos in die Karoo, dink ek, maar hier is net meer.  Op die ou end is daar nie eers meer bossies nie en lyk dit soos die klassieke Spaanse landskap wat in die skop-skiet-en donner flieks voorkom, met die ou op sy kromrug boepensperd en sy woeste hoed.  Vir middagete stop ons in die dorpie Zaragosa, met ‘n indrukwekkende kerk waar Maria, moeder van Jesus, al staande op ‘n pilaar, aan ‘n heilige Jakobus (James in Engels) verskyn het. Daarom word die katedraal “Our Lady of the Pillar” genoem. Dis geleë neffens die walle van die Ebro-rivier.

Basilica_del_Pilar-sunset
Foto: Paolo Brandao op Flickr

Die kerk het ‘n magdom torinkies. Winnie is lus vir koeldrank en ek vir koffie, dus loop ons met die straat af op soek na ‘n kafee. Ons kry ‘n ietwat karig-bevoorrade kafeetjie in ‘n systraatjie waar ons op hoë stoeltjies sit en stilletjies ons hotel-rolletjies uithaal. My koffie is niks lekker nie en haar koeldrank is warm of dalk is ons eenvoudig net reisvoos.

Dan verken ons die straatjies agter die kerk, gaan oral by klerewinkeltjies in.  Soos in baie Europese stede is hier ook uitverkopings en in ‘n winkeltjie koop ek en sy serpe teen halfprys. Ek kry ‘n lemmetjiegroen, sagte syserp en ‘n koningsblou een wat ek later vir my ma wil gee.

Wanneer ons genoeg van die winkeltjies en die hitte het, gaan ons op die wye plein sit en verwyl die tyd met ons gunsteling tydverdryf: mense-kyk.  Die kombinasie van hitte en wind raak ‘n bietjies te veel en ons gaan soek skuiling in die katedraal. Binne  is dit donker en amper  half spokerig in die lig van my protestants-gekleurde kerkervaring, ten spyte van die kersies wat brand en die mense wat in en uit beweeg.  Ek vermoed dat indien hierdie kerk een van die eerstes op ons lang reis was, dit ‘n veel groter indruk op my sou maak, maar op hierdie windverwaaide middag na ‘n hele paar uur van semi-woestynlandskap, is ‘beauty’ beslis ‘not in the eye of the beholder’. In retrospektief is dit een van daardie geleenthede wat deur ‘n mens se vingers glip omdat jy nie in die volle intensiteit van die oomblik leef nie. Iets waarteen ‘n mens moet waak.  Die kerk is werklik baie groot binne en het ook reuse plafonskilderye met ‘n fabelagtige hoofaltaar.

‘n Rukkie later bevind ons onsself weer in die koel gemak van die bus en pak ons die laaste skof na Madrid oor die verskroeide aarde aan.  Kilometer op kilometer volg waar ons nie veel sien nie.  Selfs die huise en die geboue verdwyn in die omgewing en ‘n mens moet mooi kyk om te onderskei tussen die deinserige mirages van die hitte en werklike strukture.  Ek raak skoon depressief en wonder hoe dit sou wees om permanent op so ‘n plek te moet bly.  Van die name wat ons langs die pad sien, herken ek uit Manlief se koortoere en maak ‘n nota in my agterkop sodat ek hom terug by die huis daaroor kan uitvra.

Madrid is plat en warm wanneer ons arriveer – ‘n skroeiende 39 grade Celcius volgens ‘n termometer wat sy neonboodskap bokant ‘n apteek uitbasuin.  Die hotel is in die Antonio Lopez straat en ons pak vinnig uit, stort en gaan dan na die eetsaal toe vir aandete.  Daar is vis op die spyskaart en tot my nie-fynproewerlike konsternasie bedien hulle vis, kop en stert, vinne, uitpeuloë en al. My eerstre happie is half onwillig, maar ek word aangenaam verras. Iemand sê dis forel en ek neem hulle woord daarvoor.

Na ete gaan ‘n groot groep van ons stap, maar dit is warm en daardie tyd van die aand wanneer die aarde begin afkoel, stel dit die aakligste reuke oral uit die geboue en nou stegies vry.  Hier sien ons ook iets waaraan ons nie gewoond is nie – karkasse  wat in slaghuisvensters hang – selfs piepklein speenvarkies!  Dit is nogal  grillerig, so deur die oë van ‘n toeris.  Kort voor lank draai ons terug hotel toe waar ‘n koel, skoon kamer vir ons wag.

Oor ‘n blitsbesoek aan Florence, raaisel-badkamers en ‘n kusdorpie se feesatmosfeer…

Sondag 15 Julie 2001, op die bus.  Ons is op pad van Rome af na Florence toe, op dieselfde roete as waarmee ons van Venesië af gery het. Een van die tientalle dorpies op ons roete deur Toskane is Orto.  Die dorpie is omtrent in die berg in gegrawe en onlangs het dit deel van ‘n groot internasionale bewaringsprojek geword. Tydens uitgrawings het hulle belangrike inligting oor eeue gelede se leefwyse gekry.

Ons ry ook verby Orvieto en dit lui iewers ‘n klokkie oor een van die voorgeskrewe werke wat ek in ‘n stadium met matrieks gedoen het, maar ek kan nie onthou watter een dit was nie.  Orvieto het in 1975 amper heeltemal in die berg in gesink, aangesien die berg letterlik hol van binne is as gevolg van al die graftes en katekombes wat in die berghang uitgekap is.  In hierdie stadium is daar reeds 750 ou grafte ontdek.

Wanneer ons by Florence aankom, ry ons op teen die berg na ‘n uitkykpunt toe.  Dit is ‘n asemsnakkende uitsig – letterlik en figuurlik, want ons sterf omtrent van die hitte en word glad nie getroos deur Ken se gerusstelling dat die stad self nog warmer is nie! Hierdie is die Michaelangelo-plein, met ‘n Dawidstandbeeld, groen aangepak en die spreekwoordelike duif wat homself op Dawid se effens krullerige hare sitgemaak het. Florence se pragtige bakens lê onder ons, uitgestrek en byna bewend in die somerhitte, al langs die Arnorivier wat deur die stad kronkel.

Die helfte van die groep koop onmiddellik vir hulle hoede by die vlooimarkstalletjies.  Dit is ook hier waar ek die eerste keer iets vir myself koop – ‘n drasak, want teen hierdie tyd is ek al baie moeg vir die lelike blou Trafalgarsakkie. Om een of ander rede wil ek nie onmiddellik as ‘n toeris uitstaan nie en soek ek iets wat minder opvallend is.  Ek kies ‘n vlootblou en wit gestreepte sak , maar ‘n rukkie later merk  Lisa my op dat daar Venizia op die sak staan en nie Firenze nie. Ek was so opgewonde oor my kopie dat ek nie eers die naam raakgesien het nie. Ek gaan  terug en beduie vir die Italiaanse vrou dat ek ‘n Firenze-sak wil hê.  Dan roep Ken ons nader tot by die heuphoogte klipmuur wat die plein omring, waar ‘n fotograaf ‘n foto van die hele toergroep neem.

Dan bondel ons weer in die bus en ry met die boomryke, koel straat af wat tot onder in die stadsentrum kronkel.  Ons word naby een van die vele pleine, ‘n blok van die rivieroewer af afgelaai en dan gaan die hele groep by ‘n leerplek in waar hulle vir ons demonstreer hoe hulle goudbelegsels op die leer sit.  Ek kan nie help om te glimlag vir die ou se Engels nie – “Now this is a waste bin basket”, verduidelik hy.

Dis heerlik koel in die winkel en ek en Winnie luier so lank as moontlik daar rond.  Teen die tyd wat ons klaar na alles gekyk het, is die res van die groep lankal al weg en ons kies ook ‘n koers in. Ontwerperswinkels is weerskante van die straat ingeryg – heel waarskynlik ‘n kopersparadys, want orals skree die advertensies dit uit: Saldi! Ons probeer kort-kort die ergste knelgreep van die hitte ontsnap deur by winkel na winkel in te loer.  In een van hulle sien ons die mooiste houtspeelgoed, in hulle tientalle pragtig uitgestal.  Ons loop rustig aan totdat ons later by nog ‘n plein uitkom waar ons iets soek om te eet – by een van hulle ‘toebroodjiekroeë”.  Dan gaan sit ons op die trappies oorkant die basilika, neffens ‘n standbeeld, vanwaar ons vir ‘n rukkie vir die mense kyk terwyl ons voete ‘n bietjie rus. Volgens ons stadskaart is ons ‘n blok of twee van die reuse Duomo af weg.   Ons is verstom wanneer ons op die plein aankom en om die katedraal begin loop – dit hou aan en aan en aan.  Die fassade is ‘n manjifieke kunswerk van marmer en argitektoniese ingewikkeldhede, statig en wit in die son.  Ons sien nie kans om in te gaan nie, want die toue mense wat voetjie vir voetjie vorentoe skuifel is eenvoudig net te lank.  Ons besluit om eerder stadig terug na die ontmoetingsplek toe te loop, maar op pad daarheen sien Winnie ‘n internetkafee waar ons vir 5000 lire ‘n halfuur lank se kommunikasie kan koop. Ek betaal by die Italianer met sy donker oë en netjiese baardjie en gaan sit dan by die eerste oop rekenaar.  Halfpad deur my entoesiastiese briefie aan Manlief sny die rekenaar uit, maar ek kom dit eers na 5 minute agter. Gelukkig is die Italianer gaaf genoeg om vir my daardie 5 minute wat ek gemors het krediet te gee en ek skuif oor na ‘n ander rekenaar.

Dan is dit uiteindelik weer terug op die heerlike, lugverkoelde bus waar driekwart van die groep alreeds sit en wag, gedaan van die hitte. Ons slaap nie in Florence nie, maar wel in Montecatini, ‘n Toskaanse spa-stad.  Wat ‘n aangename verrassing toe ons daar aankom. Dis ‘n skoon, netjiese plek – die huise en geboue word baie goed versorg en mens kry onmiddellik ‘n opwindende vakansiegevoel.

Die straatjie waarin ons hotel geleë is is te nou vir die bus om in te parkeer, dus word ons ‘n blok of wat verder afgelaai en moet elkeen sy eie handbagasie gryp en tot by die hotel loop. Daar wag  ‘n verrassing op my en Donna – in plaas van die gebruiklike dubbelkamer het ons elkeen ‘n enkelkamer gekry. Ek is dankbaar vir die een aand se ‘ruimte’, al voel dit effens vreemd om alleen te wees en al is die kamertjie warm. Die armsalige waaiertjie in die hoek van die kamer maak nie eintlik hond haar-af teen die hitte nie en wanneer ek hoopvol die vensters oopmaak, maak ook dit nie ‘n verskil nie.  ‘n Pluspunt is egter die toilet waarvoor ek nie ‘n handleiding nodig het om uit te werk hoe om dit te laat spoel nie. Teen hierdie tyd kan ek al ‘n boek skryf oor die vele maniere waarop ‘n toilet gespoel kan word en het ek al my eie, persoonlike sisteem uitgewerk om agter die kap van die byl, of dalk meer spesifiek, die druk van die handvatsel te kom.

Daar is die tipe met ‘n blink inlegknoppie op die bak (met ‘n keuse tussen ‘n sterk en ‘n ligte spoel), dié wat spoel met die indruk van ‘n knop teen die muur, ander met ‘n knoppie op die vloer wat jy met jou voet intrap. By een plek wou ek al amper moed opgee voor ek uiteindelik besef het dat daar sensors in die muur is wat beweging optel en dan outomaties spoel. Dit het ek natuurlik eers agtergekom nadat ek die klein plekkie van bo tot onder deursoek het, my hande naarstiglik voor die sensors gewaai het en uiteindelik per ongeluk ontdek het dat dit eers werk wanneer ‘n mens ‘n bietjie rondtrippel.

Die mees vreesaanjaende toilette was by een van die Autogrills op ‘n snelweg iewers waar ek alles probeer het maar glad nie kon uitwerk hoe om dit te laat spoel nie, tou opgegooi het en eers na ‘n rukkie terug in die bus gewaag het om te hoor of daar iemand anders was wat ook nie suksesvol was nie. Jip, die spesifieke badkamers het outomatiese spoelaksies wat tegelyktydig afgaan!

Net toe ek begin dink het dat dit werklik heeltemal onmoontlik is om nog ‘n nuwe soort spoelaksie te ontdek, het die volgende toilet ‘n blink knoppie op die bokant van die deksel wat jy moet uittrek en by die volgende hotel een wat jy moet indruk…

In Venesië was daar ‘n ekstra toutjie wat in die stort gehang het en die paar nuuskieriges in die groep wat gewaag het om dit uit te toets, het ontdek dat dit eintlik ‘n noodalarm is! Ek dink die hotelpersoneel sug al byvoorbaat wanneer ‘n bus met toeriste aanland en maak hulle maar gereed om ‘noodgevalle’ te hanteer.

Selfs met die wasbakproppe het ‘n mens ‘n graad in Wiskunde nodig.  Aan die begin kon ek eenvoudig net nie verstaan hoe Donna dit elke keer regkry om water uit die wasbakke te laat loop nie, want maak nie saak hoe hard ek probeer het nie, die ellendige metaalprop wou net nie uit sy gaatjie kom nie. Totdat ek weereens per ongeluk die klein hefboompie aan die agterkant van die kraan gesien het.

Storte wissel vvan benoude klein hokkies waar jy die kraan met jou kop toestamp elke keer wanneer jy beweeg,  of ‘n stort wat so wyd sproei dat die hele badkamer onder water is.  En hier in Montecatini is die kersie op die koek van hotelervarings – ons kry nie ordentlike handdoeke nie, net sulke dun katoenmateriaal-vadoekies wat jou onseker laat oor wat jy veronderstel is om daarmee te doen…

Broodrolletjies en ontbyt vertel ook hulle eie storie.  Sommige hotelle gee vir ons piepklein poedingbakkies met geel graanvlokkies wat reeds op die tafel uitgestal is wanneer ons vir ontbyt opdaag,  met klipharde broodrolletjies wat jy slegs met baie krag of ‘n hamer kan oopkry, of wat jy eers moet ooprol en dan weer moet toerol met kaas of konfyt binne-in.  Die hotelle wat wel muesli bedien doen dit slegs met koue melk of ongegeurde joghurt.  Hier in Italië kry ons biscotti wat so styf in ‘n plastieksakkie verseël is dat jy die hele pakkie verkrummel in jou poging om dit oop te kry.  Die koffie is die ergste – soms half koud en so sterk dat jou hare regop staan.  En as jy lus is om koffie iewers te koop, is dit so duur dat jy dit nie regtig kan bekostig nie.  Ek dink ek ly al erg aan kaffeïien-onttrekking.

Etes wat by die hotelle hier in Europa bedien word is altyd met koue water en dit het nou al tradisie by ons geword om dit uit ons sjampanjeglase te drink en ‘n glasie op gesonde drinkgewoontes te klink.  Ons kry ook die vreemdste kombinasies kossoorte – rys en pasta met ingekrimpte hardgebakte hoender, hoenderschnitzel met aartappelskywe.  Vanaand se ete was egter heerlik:  ‘n voorgereg van pizza, slaaie wat soet en sout ingesluit het, asook vrugte, daarna pasta met ‘n tamatiesous.  En toe kry ons varkskywe met sampioene en fyn aartappel, gevolg deur nagereg.

Na aandete gaan stap ek saam met Prakash en Sandy.  Dis ‘n belewenis! Ons hotelstraatjie is stil en rustig, maar wanneer ons die hoofstraat en die promenade binnestap, verander die prentjie.  Sondagaande is die plaaslike Italiaanse tantes uitgedos in hulle beste klere en loop hulle met hulle juwele en handsakkies straat-af, sit ingeryg saam met hulle mans in linnepakke op bankies en gesels en kyk vir die mense. Soms kry ons ‘n heerlike vars parfuumgeur wanneer ‘n paartjie verby ons stap. Iewers speel iemand ‘n trekklavier en daar heers ‘n heerlike, feestelike atmosfeer.

Wanneer ons na ‘n ruk terug hotel toe stap, kom ons op ‘n mallemeule af wat omtrent drie verskillende verdiepings perdjies het. Ons staan saam met ‘n groot groep mense en kyk hoeveel pret die kinders het terwyl hulle al in die rondte ry, gillend, jillend en waaiend vir hulle ouers wat glimlaggend toekyk.

Terug in die hotel en ek spring tussen die paar druppels water in die stort rond, wend ‘n heldhaftige poging aan om myself met die ‘vadoekie’ af te droog en klim dan in die bed waar ek onmiddellik aan die slaap raak met die wete dat môre nog ‘n dag vol interessanthede en avontuur inhou…

Rome – stad van reuse

Vanoggend het ek halfvyf al wakker geword, bewus daarvan dat dit al amper begin lig word en toe weer aan die slaap geraak.  Die vorige aand kon ek duidelik hoor hoe ander mense praat en hoes in die kamers langs ons s’n in die hotel en toe ek weer aan die slaap raak, droom ek dat Rebecca, die een dogtertjie, langs ons bly en dat daar ‘n deur tussen ons kamer en hare is.  Sy maak dit oop en kom gesels by ons, en in my droom dink ek dat ek nooit eers opgelet het dat daar ‘n deur is nie!

Vandag gaan ons Rome toe en almal sien uit daarna.  Gay haal haar notaboekie uit om aantekeninge te maak, en wanneer sy besef dat dit Vrydag die dertiende is, vertel sy van hierdie vreemde man wat saam met haar werk.  Hy sny sy hare net op Vrydag die dertiende en verlede jaar was hy blykbaar heel ontstig toe Februarie en Maart albei sulke Vrydae in gehad het.

Ons sien nie juis veel op vandag se rit nie.  Die landskap het so ‘n ietsie van die Kaap se groen, maar sonder die heuwels en die berge.  Orals is leë plaashuise, selfs ook tussen bewerkte landerye. Ken verduidelik dat baie boere dit nie meer kan bekostig om te boer nie, aangesien die regering baie van hulle belastingvoordele weggeneem het.  Hierna sou ek op enige plek in die wêreld aan die Italiaanse plase herinner word wanneer ek ‘n eensame, vervalle ruïne in landerye sien…

Ek is dankbaar vir die bewolkte weer. Dit is net eenvoudig asof ‘n mens alles soveel beter kan sien en soveel meer kan waardeer wanneer jy nie doodgaan van die hitte nie. Tyd om my notas op datum te bring, terwyl daar nie nou veel is om te sien nie, maar ek kry nie die swart pen waarmee ek aantekeninge hou in die hande nie. Mary met haar netjies gekapte rooi hare en breë glimlag sê sy het vir my ‘n pen wat sy in een van die hotelle gevat het.  Ons lag daaroor, want ek sê die pen skryf baie lekker en dat dit gaaf van die hotelle is om vir ons sulke artikels te gee.  Dit laat ons dink aan Dominic en Lino wat gister nadat ons van Burano af terggekom het vir ons gewys het dat hulle twee van die klein koppietjies en pierings waarin ons koffie bedien is, gesteel het.  Ons is almal die dood voor die oë gesweer indien ons vir Ken daarvan sou vertel. ‘n Mens kan maar net jou kop skud vir die uiterstes waartoe sommige mense sal gaan…

Vanoggend se onderwerp op die bus is dat hierdie opsionele ekskursies dikwels ‘n hengse rip-off is. Duidelik moet Trafalgar daarvoor voorsiening maak dat nie almal op die ritte sal gaan nie en moet hulle dus hulle eie onkoste dek deur die individuele pryse op te stoot.  Ons besef egter dat ons sonder die opsionele ekskursies nie veel van die stede en die besienswaardighede sou sien nie, wat ‘n mens dan nie eintlik met veel van ‘n keuse laat nie. (Donna het byvoorbeeld 10 000 Amerikaanse dollar vir die toer betaal en aan die einde van die toer het haar ekskursies op presies dieselfde te staan gekom!)

Ken kondig die vierde hotelverandering van die toer aan.  Ons gaan in Rome in die Pisana palace bly, en volgens hom is dit eintlik beter geleë as die hotel waarin ons oorspronklik bespreek is.  Wanneer ons ons oggendstop doen, kom ons soos omtrent elke dag saam met ander toergroepe daar aan en moet ons dames weereens in lang toue by die toilette wag terwyl die mans net gou in en uit kan glip.  Ken het vir ons gesê dat ons maar geduldig met die Italianers moet wees, want hulle het die manier om sommer in te druk wanneer hulle so voel en ons moet ons nie daardeur laat intimideer nie, maar dieselfde doen.  Terwyl ons in die ry staan, sien ek en Amara, een van ons toerlede, dat sommige meisies sommer vorentoe loop en indruk en net daar besluit Amara dit is presies wat ons ook gaan doen.  Ek probeer nog teenstribbel, maar sy gryp onseremonieel my hand en daar gaan ons.  Ek skaam my morsdood en vermy oogkontak met almal, maar ons is binne twee minute by die toilette in en net so vinnig weer daaruit.

Die landskap begin stadigaan weer verander wanneer die bus se wiele weer op die teer begin sing. Ons begin nou in die Appenynse bergreeks ingaan – dit is nie heeltemal so hoog soos die Alpe nie.  Ons kry vandag ook weer vir die eerste keer in ‘n lang tyd mis.  Die berge is baie dig begroei en die plante baie ruig.  Hierdie deel is geleë in Toskane.  Ons ry oor die berge en in ‘n stadium in ‘n vallei in, verby die enigste moderne kerk in italië met die naam St. Giovanni Batista, St. John the Baptist, oftewel, Johannes die doper. Ons begin nou ook al hoe meer sonneblomlande kry, vol in die blom met hulle gesiggies na ons kant toe gedraai.  Hulle is nes die mielies ook baie na aan mekaar geplant en sorg vir ‘n asemrowende prentjie van kleur teen die dowwe groen agtergrond van die berge.

Ken berei ons voor vir die ander tipe leefwyse van die mense in Rome.  Hy sê waar ons meestal ‘n “sense of Space” het, het hulle “a sense of time”.  Hy sê ook dat ons Sondag met hierdie selfde roete gaan terugkom wanneer ons in Florence gaan aandoen.

Ons ‘beter hotel’ is op die ou einde weer in ‘n woongebied geleë en wanneer ek daardie aand half mistroostig en verveeld na die woonstelle buite staar omdat ek nie die ‘Rome by night’ uitstappie doen nie, gryp ek maar weer my skouersak en loop straat-in. Dis ‘n besige straat en die motors en busse jaag verby my terwyl ek half snak na my asem tussen die uitlaatgasse, stofwalms en hitte deur. Met verligting sien ek dat ek nie die enigste tuisblyer is nie, want ek loop vir Percy en Nathalie van Mauritius raak en later ook vir Lesley, Walther en hulle dogter Esther. Hulle verduidelik vir ons waar ‘n supermark is en terwyl ons buite vir Percy wag om plastieklepeltjies vir hulle joghurt te soek, probeer ek die naam van ‘n pizzaplek uitspreek. Percy lag toe hy dit hoor – wat ek probeer lees is eintlik die Italiaans vir ‘lys van pryse’!

Vroeg die volgende oggend gaan Donna se wekker met ‘n gejuig af en wanneer ek op my horlosie kyk, sien ek dis kwart oor vier. Albei van ons probeer weer slaap, maar gee sowat ‘n uur later moed op.  Ontbyt is in elk geval vroeg geskeduleer, want die bus vertrek om sewe-uur vir die dag se bedrywighede. As ‘n mens nie baie vroeg by die Vatikaanstad aankom nie, is jy gedoem om in lang toue te wag, sê Ken.

Ons is inderdaad reeds die derde toergroep wat daar aankom en binne die volgende tien minutue bondel nog vier groepe uit hulle busse uit.

Ons gids vir die dag kom haarself voorstel.  Haar naam is Marie-Pierre en elkeen van ons kry die nuutste ontwikkeling op tegnologiese (in die jaar 2001) gebied:  die Whisper. Dit is ‘n toestelletjie wat jy saam met jou dra en wat baie soos ‘n selfoon lyk.  Jy haak die gehoorstuk om jou oor en is dan in radio-verbinding met jou gids.  Dis net soveel makliker om haar te hoor wanneer daar so ‘n gemaal en samedromming van mense is, maar later vind ons uit dat dit net so maklik is om jou eie rigting in te slaan sonder dat jy dit besef. Jy loop nog lekker en luister na jou gids, dink sy is sommer hier by jou, dan is sy al ‘n blok verder en het jy van die groep afgedwaal!

Kwart voor agt se kant begin ons beweeg nadat ons almal ‘n kaartjie in die hand gestop is.  Dit kos ‘n skamele 18 000 lire en ons  moes 108 000 lire vir vandag se ekskursie betaal!  Teen die tyd wanneer ons in die Vatikaan is en deur die hekke beweeg, het Shirley haar kaartjie verloor en moet sy weer 18 000 lire betaal om dit te vervang.

Dit is ‘n ongelooflike gevoel om daar in die heiligdom van die Rooms Katolieke kerk te wees.  Eers kom ons almal in die binneplein bymekaar terwyl Marie-Pierre vir ons meer inligting oor al die kunswerke en belangrikste punte van die geskiedenis gee.  Ons kan nie wag om in die gebou self te kom nie.  Die kunswerke is absoluut manjifiek en oorweldigend, veral die verskillende plafonskilderye.  Verlede jaar was dit die kerk se heilige jaar en is alles skoongemaak.  Iemand het ‘n spesiale soort gel ontwikkel waarmee die skilderye per hand tot hulle eertydse glorie herstel is.  Dit is veral die treffende bloue wat nou weer lyk soos toe dit vars geskilder is.  Dis ‘n verstommende gedagte dat hierdie pragtige kunswerke deur die eeue heen bewaar en behoue gebly het.  Ons stap deur die een saal waar daar reuse landkaartskilderye van Italië en ander wêrelddele teen die mure is – alles geografies perfek en ‘n mens besef net hoe gevorderd die beskawing reeds in die vroeë eeue was.  Hierdie deel word as ‘n museum bedryf en die vertrek is besonder lank.  Op die een plek lyk alles teen die dak of dit drie-dimensionele gipsgietwerk is, maar die gids verduidelik dat dit eintlik so skitterend geverf is.  Ons sien tappiseriewerke wat jou asem wegslaan in grootte en fyn detail.  Dit lyk soos skilderye.  Die een behangsel is letterlik 12 voet hoog en sommiges is tot 16 voet breed – absoluut kolossaal.

Dit is baie warm in hierdie vertrek, veral noudat daar meer en meer mense inkom.  Hier mag ‘n mens foto’s neem, maar nie ‘n flits gebruik nie.  Ten spyte daarvan gaan daar tog kort-kort flitse af en vra almal net om verskoning.  In een van die sale is daar ‘n reusenet onder die plafon gespan, omdat deeltjies van die pleister afval en mense so kan beseer.

Dan die een ervaring waarna ek baie uitgesien het:  Die Sistynse kapel waar Michaelangelo soveel jaar van sy lewe deurgebring het.  Dit is ‘n belewenis uit ‘n ander wêreld.  Die kleure is absoluut ongelooflik. Marie-Pierre wys ons ‘n stukkie van die plafon, ‘n paar vierkante centimeter groot, wat nie skoongemaak is nie, net om ons ‘n idee te gee van hoe swart en aangepak die plafonkoepel was voor dit skoongemaak is.  Mens kan amper geen detail in daardie deeltjie uitmaak nie.  Selfs die vloere is kunswerke in eie reg – marmermosaïek met die mooiste patrone en toneeltjies. Michaelangelo se Piëta het hy gemaak toe hy 23 jaar oud was.   Hier in die kapel mag ‘n mens nie praat nie en is daar wagte wat rondloop om seker maak dat almal stilbly en veral dat niemand ‘n foto neem nie.  Daar heers ‘n gewyde atmosfeer en mense wat ‘n sitplekkie kon kry, sit aan die kante terwyl hulle alles om hulle inneem. Sommiges se lippe beweeg soos hulle bid.  Ons bring ‘n hele rukkie hier deur.  In ‘n stadium kry ek ook ‘n plekkie teen die muur en kry dit natuurlik in my kop om stilletjies ‘n foto sonder my flits te neem.  Ek neem twee foto’s en wonder of ek nie dalk net my eie neus van onder af afgeneem het nie…

Dan kom nog ‘n oorweldigende ervaring – ons stap met trappies af tot onder in die St. Peter’s katedraal.  Hierdie plek se dimensies is van so ‘n aard dat ‘n mens eenvoudig net nie die grootte en die omvang daarvan aan enigiemand kan beskryf nie.  Ons is letterlik stofkolletjies in hierdie reusagtige plek.  Alles is in oormaat wat grootte en prag en praal betref.  Ons staan absoluut verstom en dit is verskriklik mooi.  ‘n Mens sou maklik ‘n hele oggend net hier kon deurbring.

Die werke teen die muur lyk soos reuseskilderye, maar dit is mosaïek wat so uitstekend gedoen is.  Selfs die marmer inlegwerk op die vloer is besonders.  Hier is heelwat Pouse begrawe en ek neem ‘n foto van ‘n gemummifeerde pous.  Die hoofaltaar is besonders en baie groot. Ons kan nie glo dat dit ‘n hele tien verdiepings hoog is nie, wat staan nog die reuse-koepel wat hoog bo dit uittroon. In ‘n stadium sien ons mense wat met die trappies opgeloop het  en hulle lyk soos miere wat daar rondskarrel.

Die plein buite is net so groot, met die kollonades wat deur Bernini geskep is.  Die fassade van die basilika het groot standbeelde reg rondom – ‘n totaal van 140.  Die wat reg voor ons is 7 voet hoog, die in die middel 12 voet en die wat heel bo is van Christus en die apostels is 21 voet , al lyk dit nie so van hier onder af nie.

Ons het weer ‘n rukkie vrye tyd.  Dit is vrek warm en Winnie het die vorige dag haar enkel seergemaak, dus is sy nie lus vir stap nie.  Ons gaan sit by ‘n kafeetjie nie ver van die Vatikaan af nie en kyk vir die mense wat verbyloop tot dit tyd is om weer die groep te ontmoet.

Van hier af gaan ons na die Colusseum toe.  Die bus kan net tot op ‘n sekere punt gaan en van daar af moet ons loop.  Dis ‘n kollosale plek – en die oorblyfsels is duidelik uit ‘n vreemde, onbekende era.  Die Colusseum is oor ‘n tydperk van 9 jaar gebou.  Ons loop aan tot by ‘n boog aan die oorkant van waar ‘n mens op die Forum kan akfyk.  Ek kry steeds die gevoel dat ek in ‘n stad vir reuse is.  Dis ‘n vreemde gedagte om te dink dat die Romeine hier geloop het waar ek nou is – op hierdie klippe in hierdie straat.   Baie van die klippe is so ongelyk a.g.v. verskeie aardbewings wat die stad getref het.  Ons sien ook die ruïnes van die Venustempel net langsaan.  Rome is soos ‘n ou wêreld waar die moderne en die antieke hand aan hand gaan. Volgens die gids doen hulle nie restourasiewerk nie omdat dit nie die egte en oorspronklike ding is nie.  Ek persoonlik het nie ‘n probleem met herbouing en restorering nie, want as ek aan al die plekke dink wat herbou is, het dit ‘n groter indruk op my gemaak as hierdie letterlike oorblyfsels.

Hier is net soos in Wene ook perdekarre waarop die mense ry.  Ons kan nog so ‘n bietjie rondloop, maar die groep gaan soos een man in die skaduwee van die Colusseummure op die trappies sit.  Ons kyk na die mense wat in die hitte rondloop. Oorkant ons is ‘n man wat soos ‘n Romeinse soldaat aangetrek is en geld maak deur saam met mense vir hulle foto’s te poseer.  Sy gesig is rooi gebrand, maar hy bly in die son staan.  Later steek hy tot ons konsternasie ‘n sigaret aan – gepraat van kontraste.  Maar aan die ander kant, miskien het die regte Romeinse soldate ook gerook …

Terug op die bus en ons suiker af na die katakombes.  Oral is oorblyfsels en ruïnes van eeue tevore se Romeinse leefwyse, soos ekstra bagasie wat deur die eeue heen saamgedra en somer net laat los is.  Die strate is op plekke nie baie skoon nie en die ding wat my die meeste pla, is die graffiti wat pikswart teen elke muur in Rome aangebring is.  Dit is aaklig en ontsier regtig die geboue.

Ons gaan na die katakombes van San Domitilla.  ‘n Jong meisie is ons gids en ons gaan eers in die kapelgedeelte sit waar sy vir ons van die geskiedenis vertel en dit baie duidelik stel dat die Christene definitief nie in die katakombes geskuil het toe hulle vervolg is nie…  Sy herhaal die feit later weer sodat ons dit nie vergeet nie.  Daar is ‘n sterk reuk in die saal en later besef ek dit ruik soos formalien.  Grillerig, want volgens haar is daar in elk geval geen oorblyfsels nie en vergaan die menslike liggaam definitief tot stof.  Dis ‘n doolhof van gangetjies en ons loop in enkelgelid agter haar aan.  Ek is baie versigtig om aan niks te raak nie en is nie juis gek oor die ervaring nie.  Dis yskoud en klam hier onder die aarde en dit voel of ek aan die binnekant van ‘n haas se huis is – vol allerhande gangetjies en uitgekapte, nou tonneltjies en gaatjies.  Die werklike grafgrotte is piepklein en ‘n mens kan nie dink dat iemand daar begrawe kon wees nie, wat staan nog ‘n hele familie in een graf.  Ons loop tot op die punt waar die heel eerste graftombes van die ‘heidene’ was.  Teen die lae plafon is daar nog tekeninge sigbaar, wat baie aan Boesmantekeninge herinner, behalwe dat hierdie hoofsaaklik plante en blomme met simboliese waarde is.  Dis ‘n verligting om weer buite in die oopte te wees, al gaan ons dood van die hitte.

Van hier af ry ons nog ‘n draai deur Rome waar verskillende plekke aan ons uitgewys word en dan terug hotel toe.  Wanneer die ander weg is, stap ek weer met die straat af, vir sommer net.  Hierdie keer stap ek langer as twee ure voor ek terug hotel toe kom waar ek probeer om my tas reg te maak waar die portiere dit gehaak en geskeur het.  Ook g’n wonder nie, want die meeste hotelle het elke keer net een verpiepte outjie wat die hele bus se bagasie moet hanteer.

Venesië se ou-wêreldse sjarme

Ken maak seker dat niemand in die bus enige voorkeure kry nie en almal moet elke dag ‘n sitplek aanskuif. Vanoggend is dit my en Donna se beurt om heel voor in die bus te sit en die uitsig deur die groot vensters is asemrowend.  Net so voor twee-uur die middag steek ons die grens tussen Oostenryk en Italië oor en ry tussendeur die hoë dolomietberge, al langs die redelik droë rivierbedding. Ek kyk na die rivier en wens ek kon ‘n klippie op die bodem optel om by die huis in ‘n bottel van herinneringe te hou.  Alles op die bedding is bleekwit en die water is ‘n vreemde groenblou kleur, baie soos dié van die rivier in Innsbruck.

Vir kortroetedoeleindes mol die bus weer deur tonnel na tonnel en tussendeur sien mens plek-plek nie veel nie.  Die dreuning van die bus en die rustigheid van die rit laat my ooglede bitter swaar voel, maar ek probeer my bes om wakker te bly.  Donna sit langs my en visvang – haar kop ruk kort-kort na een kant toe en kom weer op, kompleet soos ‘n dobbertjie op deinende water.

Lisa en Leo agter ons se gesprek vang my oor. Hulle is baie opgewonde oor die vooruitsig om in Italië te wees, want dit is hulle albei se geboorteland. Ek wonder hoe dit vir hulle voel om op so ‘n manier na soveel jare na hulle wortels toe terug te keer.

Dan begin ons uit die bergagtige gebied uit ry en die aarde is meer plat, maar steeds boomryk.  Ons is nie ver van Joego-Slawië af nie, sê Ken.  Ek kyk na die mielielande – die mielies staan hoog en word baie dig teen mekaar geplant, anders as in Suid-Afrika waar die rye verder uitmekaar is.

Die son kom nou reg van voor af en ek kan sien hoe ongemaklik dit vir Ken is waar hy op die voorste enkelsitplek sit.  Hy sit kort-kort sy strooihoed op.  Ken fassineer my met sy kennis en ook vanweë die feit dat ek hom nog nooit tydens hierdie hele toer gesien eet of drink het nie en ons is al langer as ‘n week op pad!  Hy is duidelik baie professioneel, meng nie onnodig met die groep nie en handhaaf sy distansie. Is dit ‘n selfopgelegde ingesteldheid, wonder ek, of is dit amptelike beleid van Trafalgar? Hoe voel dit om permanent te reis?  Dit is sekerlik nie bevorderlik vir ‘n gesonde gesinslewe nie.  Ek wonder hoeveel hy betaal word…

Ons eerste stop in Italië is Venesië, waar ek naarstiglik ‘n paar feite wat Ken uitspoeg probeer neerpen voor ons uit die bus uit klim.  Geskiedkundiges stem nie altyd ooreen wat die oorsprong of begin van Venesië  betref nie – daar is ‘n totaal van 117 klein eilandjies. Volgens Ken was dit ‘n direkte gevolg van die ineenstorting van die Romeinse Ryk en mense wat na die eilandejies toe gevlug het om van die invallers af weg te kom.  Teen die agtste eeu was die eilande goed ontwikkel met Dukes (hertog/hertoë?) wat hulle regeer het en die Republiek van Venesië ontwikkel het. In 1450 het hulle Konstantinopel verloor en in 1867 het Venesië by Italië aangesluit.  Venesië word as ‘n bedreigde stad beskou omdat dit besig is om te sink en ‘n Wêrelderfenis Grootskaalse besoedeling veroorsaak ook baie skade aan die ou geboue.

Ek het my geldsake in Wene goed bekyk en maak nie die eerste aand se besigtigingstoer mee nie – as daar iewers ‘n krisis opduik wil ek nie gestrand wees nie.  Ek voel so ‘n bietjie bek-af so by my sigselwers, want ons hotel is in die Mestre-gebied wat nie op die hoofeiland is nie en dus nie veel om te sien nie, maar die gevoel duur nie lank nie.  More is egter nog ‘n dag en ek kan doen met ‘n goeie nagrus.

Na ‘n heerlike ontbyt die volgende oggend vat die bus ons na die vaperetto-vasmeerplek toe. Ons klim op ‘n ‘busboot’ (die goedkoper opsie, want watertaxi’s in Venesië is baie duur) wat ons op die eiland afspoeg. Ken maak weereens seker dat ons presies weet waarheen ons op pad is – vier brûe tot by die St. Markusplein.  Die roete bly aan die waterfront en elke keer wanneer ons bo-op ‘n brug is, vergaap ons ons aan die honderde toeriste wat in mierpatroontjies rondskarrel.

Orals is stalletjies met soeweniers, hoede, sonbrille, serpe, noem dit maar op. Dan is ons op die St. Markusplein. Voor die Basilika is daar reeds toue en toue mense wat wag om in te gaan. Ken het ons vooraf op die kleredragmaatreëls by die meeste katedrale gewys, naamlik dat ‘n mens nie daar kan ingaan met kortbroeke nie en dat vrouens se skouers bedek moet wees.  Ons loop eers met ‘n nou stegie  aan die ander kant van die plein deur na ‘n glasblaser se werkswinkel toe. Binne is daar stellasies waarop ons almal inryg. Ek sit in die voorste ry en voel die hitte van die oond en die vlam, maar verkyk my aan die behendigheid waarmee die man sy glasblasery demonstreer, onder luide applous en oe’s en aa’s van die groep af.

Daarna word ons na die middel van hulle winkel geneem waar een van die verkoopsmanne vir ons ‘n paar interessanthede vertel en terloops meedeel hoe maklik dit eintlik is om iets daar te koop… Selfs verpakking en versending na enige land toe is nie ‘n probleem nie.

Rondom ons is die mooiste glasware en glaskunswerke, pragtig uitgestal en ingeryg op die rakke, glinsterend in die kunsmatige lig. Winnie koop twee horlosies met glas- inlegwerk.  Sy betaal 132 000 lire vir elkeen maar wanneer ons later in die straatjies rondkyk sien ons die horlosies vir die helfte van die prys.  Sy hou vol dat haar horlosies eg is en ons stry nie met haar nie, want sy is waarskynlik reg.

Ons het ‘n rukkie tyd om op ons eie rond te loop en van die ouer gardes gebruik die geleentheid om die Basilika te besoek. Ek en Winnie loop kruis en dwars in die nou stegies rond. Die meeste van die geboue kom baie vervalle oor, maar ek hou van die atmosfeer.  Ek roep weer Ken se woorde op – die Italianers gee nie soveel om vir die uiterlike nie, maar binne in hulle huise is alles duur en smaakvol. Kort-kort is daar ‘n bruggie oor een van die vele klein kanaaltjies en dan staan ons vir rukke en kyk hoe die gondoliers met hulle gondolas vol toeriste deur die kanaaltjies onder deur die bruggies vaar, soms in bondels van drie of vier, ander kere een vir een.

Dis vandag heerlik koel en ek het ‘n sterk vermoede dat dit ook tot my positiewe persepsie van Venesië bydra.  Tussen die twee van ons kry ons ons pad terug na die plein toe en van daar af loop ons weer met die vier brûe al langs die kanaal tot waar ons om halftwaalf die boot vir die Lagoon Cruise moet kry.

Dis heerlik koel op die boot, want ek en Winnie besluit om op die bo-dek ons sit te kry. Die boot vaar in die hoofkanaal in van waar ons koers kies, weg van die hoofeiland af en verby ‘n klompie kleiner eilande. Die kanaal na hierdie kant toe is minder besig as van die vasteland se kant af en daar is selfs hier en daar ‘n bootjie met net een of twee mense in. Almal volg die kanaalreëls en hou by ‘n roete wat die ‘verkeer’ reguleer.  Na ‘n rukkie verloor ons ons entoesiasme om op die bo-dek te sit, want die wind raak onaangenaam en ons stap met die trappies af tot in die boot se buik.

Terri wys vir my ‘n kerktoring op een van die eilande wat baie duidelik na een kant toe oorleun.  Op die ou einde is dit die eiland waarheen ons op pad is – Burano.  Ek is onmiddellik gek daaroor toe ons afklim.  Die huise en geboue is almal verskillende pastelkleure geverf – poskaartmooi – en alles is skoon en netjies.  Die hoofstraatjie is heelwat breër as die hoofeiland se stegies. Halfpad straat-af gaan ons by ‘n piepklein restaurantjie in vir ons middagete.  Dit lyk nie juis indrukwekkend aan die voorkant nie, maar wat ‘n verrassing toe ons instap en sien dat dit besonder groot aan die binnekant is.  Dit is baie nou, maar lank.  Ons moet deur twee groot sale loop voordat ons in die eetlokaal kom wat vir ons gereserveer is. Die ete is ‘n verdere verrassing.  Ons begin met ‘n vispatee, biscotti (daardie droë rooster-beskuitjie tipe wat ons al ‘n paar keer by ontbyt ook gekry het), wyn en koeldranke.  Daarna is dit vislasagne met slaai en ‘n ander stukkie vis daarby, toe is dit Calamariringe en garnale wat in olie gebraai is.  Laasgenoemde geniet ek vir die eerste keer in my lewe, want ek is nie juis ‘n seekos-entoesias nie.  Nagereg is “almond brittle” soortgelyk aan die harde grondboontjiekaramel wat ons ken, asook ‘n tipe van vlakoekie wat jy tradisioneel in jou wyn moet druk.  Dit word opgevolg deur heerlike vars vrugte, koffie en likeur.  Nodeloos om te sê dat almal hopeloos te veel geëet het. Die Italianers in die groep gloei van trots en sê dat hierdie werklik ‘n tradisionele Italiaanse ete is – g’n wonder dat soveel van hulle in die somer ‘n lekker lang middagslapie moet inkry nie.

Na ete loer ons by die winkeltjies in.  Burano se beroemde kant-handwerk word oral uitgestal en daar is ‘n magdom klein winkeltjies weerskante van die straat. Daar is ook baie plekke wat tuisvervaardigde Venesiese maskers, glas- en ander aandenkings verkoop en ons kan maar slegs by ‘n paar van hulle ingaan.

Daarna is ons weer op die boot terug na Venesië toe.  Dit neem amper ‘n uur om daar te kom.  Op die kaai weet ek nie juis wat ek wil doen nie, want sommiges in die groep gaan op ‘n gondola-vaart en ek het gekies om dit nie te doen nie.  By die St. Markusplein sien ek dat die toue voor die Basilika nie te lank is nie en dat daar sommiges van die groep is wat reeds daar staan.  Die ry beweeg redelik vinnig vorentoe, dus lyk dit vir my na ‘n goeie idee om ook die binnekant te sien.

Die Basilika is selfs van buite af imposant met die ingewikkelde detail op die fassade en die oormaat van alles.  Teen hierdie tyd het ek nie meer genoeg byvoeglike naamwoorde om alles mee te beskryf nie. ‘n Vrou voor my het ‘n baie kort kortbroekie aan en wanneer sy by die ingang kom, word sy nie toegelaat om in te gaan nie.  Binne is dit donker en somber en nie een van ons is lus om 3000 lire te betaal om met die trappe in die toring op te gaan nie, dus skuifel ons stadig verby die kapelletjies en die preekstoel en is na 15 minute weer uit. Daar is nog ‘n tydjie voordat ons bymekaar moet kom en ek kyk saam met ‘n paar van die groep na die baie mooi en baie duur goed in die winkelvensters om die plein.

Die St. Markusplein self het ‘n gesellige atmosfeer.  Daar is ongelooflik baie duiwe wat deur die mense gevoer word en later wonder Natalie van Mauritius waarom die mense toegelaat word om dit te doen aangesien die duiwe nie net alles bemors nie, maar ook ‘n gesondheidsrisiko inhou.  Die restaurantstoele aan die kante van die plein is nie juis oorvol nie, aangesien dit nogal duur is om daar te sit, want daar is oral musici wat klavier en ander instrumente bespeel om klante met hulle lieflike musiek te lok.  Dit is baie goedkoper om eerder ‘n toebroodjie by ‘n toebroodjiekroeg te bestel, want daar kan jy staan en eet.

Ons loop vir Shirley en haar kleindogter raak – hulle is Amerikaners.  Sy sê dat sy uitgeput is en nie kans sien om op die gondolavaart te gaan nie, maar sy het reeds daarvoor betaal en Jessica wil bitter graag gaan – sal ek omgee om haar plek in te neem?

Op pad na waar ons die gondolas moet kry luister ons eers vir ‘n rukkie na die musiek.  Ek en Jessica beland saam met die jong paartjie van Singapoer en hulle dogtertjies op ‘n gondola.  Die ma en dogtertjies lyk regtig soos drie poppies, so klein en fyn is hulle.  Die gondolier is jonk en aantreklik en stuur die boot gemaklik met sy gespierde arms.  Hier en daar is daar ‘n verkeersknoop en dit lyk of hulle ‘n baie ingewikkelde manier het om hulleself te navigeer.  Die gondolas ry so drie-drie saam sodat almal die musiek van die een boot af kan hoor. Op ‘n ander gondola is daar ook iemand wat sing – jy kan sien dat hy dit al jare lank doen en hy is so effens ongeduldig met die jong outjie wat sy begeleiding met ‘n trekklavier doen. Dan versplinter die ou-wêreldse prentjie wanneer die gondolier se selfoon skielik lui en ek kan nie help om te glimlag oor die kontras nie.  Hy gesels lustig en natuurlik in Italiaans.  Ons verwonder ons aan die verweerde toestand van baie van die geboue.  Die rit duur ‘n uur, maar die laaste rukkie sien ek nie veel nie, want ek en Lin gesels land en sand.

Terug op vaste aarde wag die res van die groep al en ons klim weer op die vaporetto  terug na ons bus toe.  Henry vertel dat sy beursie uit sy broeksak gesteel is terwyl hulle in die Basilika was.  Dis ‘n groot terugslag, want hy het nie net sy kredietkaarte verloor nie, maar ook ‘n groot kontantbedrag.  Ken waarsku ons die heeltyd teen sakkerollers en alhoewel ons dit in gedagte hou, is hulle heel waarskynlik so vinnig dat ons in elk geval nie sal agterkom as ons beroof word nie.

Basil en Catriona het ook ‘n interessante storie.  Oral op die kaaisypaadjie is smouse wat allerhande speelgoed en aandenkings en ook handsakke verkoop.  Hulle is eintlik ‘n oorlas, want sodra jy die geringste belangstelling toon, raak jy nie van hulle ontslae nie.  Die een ding wat my hierdie keer gefassineer het, is sulke karton Miekie en Mieniemuis-figuurtjies waaraan ‘n magneet geheg is.  Jy vryf dit so ‘n paar keer oor jou radio wat ‘n ingeboude magneet het en wanneer jy musiek aanskakel ‘dans’ die figuurtjies op hulle eie.  Basil-hulle het drie van hierdie figuurtjies by een van die smouse gekoop en net nadat hulle betaal het, het daar skielik ‘n groot kabaal uitgebreek. Die ou het sy goed binne sekondes bymekaar gemaak, weggehol en so ver as wat hy gehardloop het, ander smouse gewaarsku.  Hulle is eintlik onwettig daar  en daarom stal hulle meestal hulle ware op komberse uit – wanneer dit nodig is, bondel hulle eenvoudig net alles saam in die kombers en dan verdwyn hulle blitsvinnig!

Wene – stad van konings, walse en aan die buitewyke, woude…

Die snelweg tot in Wene is ‘n groot frustrasie – ‘n mens kan nie veel sien nie. Ken speel hierdie keer Strausswalse in die agtergrond. Met ‘n vonkel in sy oog (heel verdag) kondig hy aan dat ons nie te teleurgesteld moet wees nie, want ongelukkig is die hotel waar ons gaan bly nie te watwonders nie. Hy was maar net lus ons reaksie te sien, want die Hotel Rosen is pragtig. My en Donna se kamer het drie enkelbeddens in en ons is aan die straat se kant waar dit nie so donker is nie.

Ken het reeds – ensiklopedie wat hy is – ‘n paar feite oor Wene, die koninklike stad met in daardie stadium net minder as twee miljoen inwoners, uitgeryg. Ons is nou op die mees Oostelike punt van ons toer en ons maak gedienstiglik kolletjies op die groot padkaarte wat elkeen van ons aan die begin van die toer gekry het.

Dis die grootste stad in Oostenryk, met die Donau wat van Oos na Wes deur die stad vloei.  Die Habsburg koningsfamilie het hier vanaf die 13de eeu tot in die 1900’s geregeer.  In 1680’s het die Ottoman Turke probeer om die stad oor te neem, maar hulle kon dit nie regkry nie.  In die 18de eeu het Marie-Theresa (Marie-Antoinette se ma) gesorg dat dit die sentrum van klassieke musiek word.  Baie van die groot geboue is opgerig in Frans-Jozef se tyd en na die eerste Wêreldoorlog moes Oostenryk sewe agstes van sy grondgebied prysgee.  Na die Tweede Wêreldoorlog is Wene soos so baie Europese lande in vier besettingsones verdeel en het dit eers in 1955 weer onafhanklik geword.  In die sewentigerjare het dit belangriker geword en het dit al hoe vinniger as ‘n stad begin groei.

Vyfuur vertrek die res van die groep op ‘n aand-uitstappie. Ek het vroeër reeds besluit dat ek nie op hierdie uitstappie sal gaan nie, want eers moet ek weer my geldsake uitwerk. Veel kans was daar nog nie gewees nie en ten spyte daarvan dat ek my sommetjies mooi moet doen, is ek dankbaar dat Manlief daarop aangedring het dat ek ‘genoeg sakgeld’ saambring, min wetende dat al die ‘opsionele’ uitstappies nie deel van die toerprys is nie.

Ek bekyk die brosjure weer goed – as ek nie die volgende dag se beplande Imperial Highlights doen nie, gaan ek op my eie nie veel van die stad te siene kry nie. Dit gaan my ‘n verdere 460 AS kos, maar dit behoort die moeite werd te wees. Ek werk gou uit hoeveel dit in Duitse Mark is en sit dan die geld in ‘n koevert met ‘n kort briefie vir Ken om hom van die verandering te vertel.

Nou is ek heeltemal op my eie. Dis in die tyd voor die Internet en Google met sy kaarte waar ‘n mens virtueel ‘n plek kan verken voordat jy ‘n voet uit jou eie huis uit sit.  Straat-op of straat-af, wonder ek. Ek draai regs – hierdie deel van Wene het heelwat besighede, maar ook baie huise, so dis meer woonbuurt as besigheidsarea. Ek stap fluks aan, maak of ek wêreldwys is en nie ‘n onsekere toeris uit die Suidpunt van Donker Afrika nie.  Net twee blokke aan sien ek ‘n supermark op die straathoek. Binne voel ek half-idioties. Eerstens, met die opset van die supermark wat meer soos ‘n kafee as ‘n supermark lyk. Ek sien dadelik die groente- en vrugte-afdeling in die hoek en daar bekyk ek die storie van ‘n kant af. Ek is lus vir kersies, maar weet nie hoe gemaak om dit afgeweeg te kry nie. Ek maak my bruinpapierkardoesie vol en loop skoorvoetend na die kassiere toe. Sy gee my net een kyk en stuur my terug, maar gelukkig is daar hierdie keer iemand wat weeg en help. Seker maar my verbeelding, maar buite op die sypaadjie is hierdie kersies nie so lekker soos die heel eerstes wat ek in Heidelberg geproe het nie.

Terug by die hotel bekommer ek my oor hoe laat die volgende oggend se uitstappie gaan afskop en of ek dit gaan regkry om die tweeling op hulle verjaarsdag te bel. Hulle sal definitief nog nie 7 uur wakker wees nie, afhangende van hoe laat hulle vanaand in die bed gaan kom. Hulle eerste verjaarsdag sonder hulle ma… Ek begin myself erg bejammer, bekyk die hotelkamertjie so en skielik lyk dinge glad nie meer so rooskleurig soos die hotel se naam dit sou wou hê nie.

‘n Mens kan sekerlik nie vir ‘n onbepaalde tyd in ‘n vreemde land en ‘n vreemde stad sit nie, dus gryp ek maar weer my skouersak. Europese aande is dit mos nog heerlik lig buite en dis veilig om te gaan stap, dus kan ek maar net sowel my sorge gaan platstap.

Hierdie keer kies ek straat-af en draai dus links. Dis heerlik buite in hierdie rustige buurt.  ‘n Blok verder staan daar twee vriendelike dames in ‘n deur van ‘n netjiese geboutjie en ek moet vinnig my pruilmondjie keer, want die twee is net in bikini’s geklee. Ek kliek onmiddellik dat hulle dansers of prostitute moet wees, want hulle laat my aan die vrouens in Amsterdam se rooiliggebied dink.  Dan sien ek op die muur van die gebou dat dit ‘n ontkleedansklub is. Hmm, die bikini’s beteken dus nie dat hulle warm kry nie….

Van hier af raak die verkeer ‘n bietjie meer druk, meer besighede, geen woonhuise nie. Dit moet naby ‘n stasie ook wees, te oordeel aan sommige van die geboue. Teen hierdie tyd begin ek wonder of ek dalk moet omdraai, maar dan sien ek ‘n plekkie wat dalk ‘n internetkafee kan wees. Die outjie agter die toonbank is gelukkig Engels magtig en net soos spaghetti en garage en cliché is ‘Internet’ mos ‘n internasionale woord.  Ek plak myself voor ‘n rekenaar neer, gereed om my tikvermoë maksimaal te benut in die 15 minute tyd wat ek het. Dit het my 30 sjielings gekos. Maar ek maak aanmekaar foute, omdat my vingers te gewoond aan ons sleutelborde by die huis is. Ek bly vreemde resultate op die skermpie kry en dit vat ‘n paar minute van my kosbare tyd om uit te werk waar die  @-sleuteltjie is. Ag toggie, die y en die z het ook plekke omgeruil.  Vandag het iemand op die bus gesê dat sy seun hom laat weet het om tog minder te drink wanneer hy vir hom pos stuur, want sy spelling is verskriklik. Die Kanadese sleutelborde se uitleg is ook anders as hierdie een. Aanhouer wen en uiteindelik kom ek by my e-posbus in en kry ek kans om vinnig te sien watter boodskappe daar is. Ek tik met die spoed van wit lig en groot konsentrasie boodskappe huis toe. Na die tyd voel ek heelwat beter en beloon die jongman met ‘n ‘danke schön’ en ‘n mooi glimlag wanneer ek klaar is.

Ek is skaars terug by die hotel wanneer Donna en die res van die groep ook aanland. Weereens is ek te moeg om my reisjoernaal op datum te bring en bevind my kort voor lank in droomland.

10 Julie.  Wene.  Ons moet vroeg wikkel om by die  Schönbrunn Paleis te kom voor die hele wêreld en sy niggie ook daar aanland.  Ilse is ons plaaslike gids en lig ons oor die fynste detail in.  Hierdie paleis is in 1568 gebou en is oorspronklik gekoop vir die jagseisoen. Dit het 1 114 vertrekke.  Maria-Theresa en 1800 ander mense het saam met haar daar gebly.  Die staat het die paleis in 1918 oorgeneem, waarna dit baie verwaarloos was tot dit in 1992 in privaatbesit gekom en gerenoveer is.

Schönbrunn is vir my ‘n oorweldigende ervaring. Heel waarskynlik omdat dit my kinders se verjaarsdag is en ek alles dus ootreffend-emosioneel ervaar. Ek kon vroegoggend nie daarin slaag om hulle in die hande te kry nie, dus is die wêreld nie juis ‘n rooskleurige en romantiese plek nie.  Midde al die prag en praal, die oordadigheid van die skilderye, grootte van die vertrekke, voel ek baie emosioneel. Ek kan nie help om te dink hoe gewone mense in absolute armoede en ellende moes oorleef terwyl die koningsgesin oorvloed en oordaad gehad het.  Om hierdie te sien is om werklik ‘n idee te kry van hoe groot die verskil tussen die haves en die have nots was – in baie plekke in die hedendaagse samelewing is dit steeds so.

In een van die groot sale is daar ‘n reusagtige skildery van Maria-Theresa se oudste seun se troue en Ilse vertel ons watter groot voorreg dit vir die mense was om staanplek te kon kry waar hulle kon kyk hoe die uitgenooide gaste eet… stel jou dit voor.  Maria-Theresa se slaapkamer is veral indrukwekkend. Haar bed is versier en behang met handborduurwerk wat 14 jaar geneem het om te voltooi, dit terwyl die werkers van onder die tapisserie af moes werk en  spieëls moes gebruik het om te kon sien hoe hulle kunswerke aan die voorkant lyk.

Elke vertrek in die paleis het sy eie geskiedenis en storie agter die storie. Ons kom in die vertrek waar daar ‘n standbeeld van ‘n baba is asook ‘n afgietsel van ‘n jong man se gesig.  Dit is Napoleon se seun, verduidelik Ilse.  Omdat daar soveel politieke kontroversie rondom hom was, was hy nooit toegelaat om uit die paleisgronde te gaan nie en het hy soos ‘n gevangene hier gelewe.  Hy is op 21-jarige ouderdom aan tering dood en die vermoede is sterk dat hy geen mediese aandag gekry het nie.  Nog ‘n voorbeeld van iemand wat op die verkeerde tyd en plek gebore is, dink ek.

Maria-Theresa self het 16 kinders gehad.  Die een vertrek was haar man se studeerkamer.  Alles is met die fynste smaak en detail gedoen – selfs die vloere is kunswerke op hulle eie.  ‘n Ander vertrek wat sy as haar eie beskou het, is beslaan met goud.  In die tyd toe dit opgerig is, het die vertrek 1 miljoen fleurens, hulle geldeenheid van daardie tyd, gekos.  Die versierings is tydens die Tweede Wêreldoorlog van die mure afgehaal en gestoor en toe dit weer teruggesit is, het dit twee jaar geneem om alles te kry soos wat dit voorheen was.

In die hoofsaal is die plafonne met reuse-skilderye versier.  Ilse wys vir ons ‘n spesifieke een waarop ‘n oorlogstoneel geskilder is.  Tydens die oorlog was dit die enigste deel van die paleis wat deur ‘n bom getref is, sê sy.  Selfs die gedeelte waar die Lippizanerstoetperde opgelei is is vandag steeds indrukwekkend.

Dit is eenvoudig amper net te veel om in te neem.  Aan die einde van die begeleide toer het ons ‘n rukkie vry en stap ons buitetoe na die tuine.  Aan die verste punt van die tuin is daar spesiaal ‘n boog opgerig sodat ‘n mens dit van binne die paleis kan sien.

Ons klim daarna op die bus en ry verder deur Wene waar daar nog baie is om te sien.  ‘n Mens sou definitief ‘n hele paar dae net in hierdie stad kon deurbring.  Daar is die fontein met die standbeeld van die laaste Russiese soldaat agter dit.  Wanneer ‘n mens op ‘n sekere punt reg voor die fontein staan kan jy glad nie die standbeeld sien nie.  Dit is doelbewus so gedoen.  Die geboue het ongelooflike detail en ek wonder hoe bevredigend dit vir die mense was wat daaraan gewerk het om die eindproduk van jare se arbeid te kon sien.  Het hulle enigsins genot daaruit geput, ‘n gevoel van trots ervaar?

Ons klim van die bus af en stap ‘n entjie om na ‘n standbeeld van Johann Strauss te gaan kyk  – dit is heeltemal met goud beslaan.  ‘n Straatkunstenaar  het sy waterverf- en inkskilderye neffens die standbeeld uitgestel en wanneer ek dit van naderby beskou is ek werklik beïndruk daarmee – dit is baie goed gedoen en beeld toneeltjies uit die Weense stadslewe uit.  Daarna sien ons Beethoven se monument, die Wiener Konzerthaus, die Schwarzenbergplein wat vir 10 jaar tydens die okkupasie die Stalinplein genoem is.

Nog ‘n hoogtepunt is ‘n besoek aan die Weense Staatsopera.  Die voorportaal en sygange van die operahuis slaan my asem weg.  Alles is in oormaat:  marmer en goud en kristalkandelare net waar jy kyk.  Ons loop tot agter op die hoofverhoog. Daar is deurentyd ‘n groot lawaai aan die gang, want tydens die somermaande word daar restourasiewerk aan die operahuis gedoen. Op die oomblik is hulle ook besig om die sitplekke te herstoffeer en is groot dele van die gehoorsaal afgekamp.  Ons gaan sit en Ilse probeer haar bes om deur die lawaai vir ons inligting deur te gee.  Ons moet behoorlik ons ore spits om te kan hoor wat sy sê.

Die operahuis het in ‘n stadium afgebrand en is in Mei 1869 weer herbou, ‘n proses wat 19 jaar lank geduur het.  Ilse vertel ons van die Weners se hartstogtelike liefde vir opera, hoe die opera elke aand vol bespreek is en hoe die mense in lang toue staan om kaartjies in die hande te kry. Soms los hulle selfs oornag stoele daar om hulle plek te hou, of sit ‘n klip met hulle naam op in die ry.  Ons Suid-Afrikaners kyk vir mekaar en almal van ons het dieselfde gedagte:  as jy in Suid-Afrika waag om jou stoel buite te los sal jy nie net jou plek nie maar ook jou stoel verloor!  Ons kyk na die losies waar die belangrike gaste sit. Een keer per jaar word al die stoele uitgeneem vir die Neujahrs dans, wat ‘n groot en indrukwekkende geleentheid is, sê sy en die geld wat daarmee gemaak word gaan alles vir liefdadigheid.

Wene het soveel om te sien dat ‘n mens werklik nie alles kan inneem nie.  Dit is veral om die Ringplatz waar die mooiste geboue is.  Daar is lindebome en geboue en monumente.  Ons maak ook ‘n draai by die winterpaleis wat akkers en akkers beslaan.  Elke koning het oor ‘n tydperk van 600 jaar sy eie stempel daarop afgedruk, nog ‘n vleuel aangelas.   Ons kyk maar net vanaf ‘n afstand, want weereens kry ons warm en is ons al moeg geloop.  Dis wanneer ons hiervandaan na die bus toe gaan wat die kontraste van Wenen my tref – tussen die outydse en die moderne.  Ons klim in ‘n luukse bus terwyl iemand anders met ‘n perdekar in die strate ry.  Die perde dra oogklappe om die verkeer te kan hanteer.

Selfs die museumgeboue is absoluut mooi buite.  Aan die agterkant van die paleis is die Spaanse ryskool.  Ons ry verby die parlementsgebou wat in Griekse styl is, oral die ongelooflike mooi standbeelde.  Die stadsaal is imposant, met kraampies vir die somerfees voor dit.  Daar is die Votiv-kerk wat in Nieu Gotiese styl gebou is en 25 jaar geneem het om te voltooi.  Dit het 10 jaar geneem om die een toring skoon te maak. Dit is nogal kenmerkend van die meeste van die ou geboue –  dit is swart aangeslaan na jare se wind en weer en besoedeling.

Oral is koffiehuise wat volgens Ilse soos tweede huise vir die Weners is.  Hulle sal ure sit en koffie en liters water uitdrink terwyl hulle gesels.  Selfs die Weense tronk lyk na ‘n luukse hotel en dit is in die middel van die stad.

Dit lyk behoorlik of ons almal in die bus na ‘n tenniswedstryd kyk, want ons volg heeltyd die gids se aanduidings, links en regs van die straat.  Die koninklike stalle waarin 600 perde en 400 koetse gehou is is nou ‘n museum vir moderne kuns en is onlangs gerestoureer.  Die St. Stephanus- katedraal is die hart van Wenen.  Ons gaan in sonder om toegangsgeld hoef te betaal.

Halfvier is ons terug by die hotel en moet vyfuur weer uit vir ons toer deur die Weense woude – ‘n inskrywing op sy eie, wat ek dus vir later hou…

Mooiste Mozartstad en die klank van musiek…

Dis ‘n heerlike koel oggend en die berge is toe onder miskomberse. Die vorige dag het ons verby die 1964 Olimpiese ski-helling gery.  Dit is ‘n rukkie gelede afgebreek en word op  die oomblik herbou.  Ons het by die kerkie reg onder die helling gestop en skeef geglimlag oor die feit dat die skiërs reg op die begraafplaas afkyk wanneer hulle spring.  Sekerlik nie ‘n goeie voorteken nie!

Vandag ry ons verby Zillertal waar die Oostenrykse ski-span  oefen.  Ken het vir ons Mozartmusiek opgesit om ons in die regte stemming te kry – ons is op pad Salzburg toe – Mozart se geboorteplek.  Die sneeu lê plek-plek nog soos versiersuiker op die bergtoppe.  Die drywende lae wolke en groen bome met die son wat kol-kol deurkom en die musiek skep ‘n baie spesiale, dromerige, nostalgiese atmosfeer.

Hierdie tyd soggens is ons almal op en wakker en wanneer dit nie so warm is nie, soos nou, is dit asof ‘n mens die prentjies opnuut waardeer.  My kop is vol beelde, indrukke, klanke en reuke wat bly draai, wag om weer opgeroep te word.  Gister in Innsbruck met die laatmiddag Sondagatmosfeer was daar hierdie klein winkeltjie wat net buite die middeplein in een van die stegies was – die reuk van kaneel en speserye het ons binnetoe gelok. Dit het die mooiste stringe-dinge gehad wat van die dak en orals af gehang het, met linte aan mekaar geknoop en die twee verkoopsdames het tradisionele switserse kostuums aangehad – ou-wêreld bekoorlik geglimlag.

Ons ry nou in Beiere in.  Regs is ‘n kasteel, op die grens tussen Beiere en Oostenryk, maar ons gaan nie hier stop nie. Die hoof ski-oorde van Duitsland is almal hier rond geleë.  Dit is so 88 km van Munchen af.  Die landskap begin so ‘n bietjie verander – die berge is nie meer so hoog nie.

Die enigste manier om die busrit goed te hanteer is om te probeer wakker bly, dus haal ek gereeld my pen en notaboek uit.  Gister was ek heeltyd vaak, maar sodra ‘n mens begin visvang, raak jou nek en kop baie seer en voel jy op die ou end regtig goor en bederf dit jou dag-ervaring meer as ‘n gebrek aan slaap.

Ken se kenners-gidsoog sien ons kopknikkery en dink aan maniere om ons wakker te hou. Hy wys vir ons die laserskywe wat gebruik word om vragmotor- en busbestuurders mee te kontroleer.  Daarop word spoed, vinnige rem-aksies, verpligte rustye geregistreer en aan die einde van elke rysessie goed bestudeer.

Ek kyk so na die reisgroep om my:  dis regtig ‘n gawe klomp bymekaar.  Meestal mense in hulle middeljare, maar fiks en entoesiasties genoeg om die ervaring vir almal ‘n genot te maak.  ‘n Mens kan by enigiemand inskakel sonder om uit plek te voel en, ‘n rare feit – nie een van die groep van 55 rook nie!  Amper te goed om waar te wees.

Een van die eerstes wat ek leer ken het, is Gay en haar man Terry – hulle is van Nieu- Zeeland en ek kry altyd die mooiste glimlag van haar af. In ‘n stadium sê sy vir my ek lyk soos ‘n vriendin van haar en sy neem in die loop van die toer foto’s om vir Susan, my ewebeeld, te gaan wys. Ek wonder of Susan ook sal dink dat ons na mekaar lyk!

Agter my en Donna sit Lisa en Leo – Italiaanse Australiërs en dis nogal interessant om so tussendeur te luister na hoe sy met Leo gesels oor alles wat vir haar opvallend is – sy sien veral die plante en bome raak.

Die Chiemsee lê blou en ver voor ons uitgestrek. Dis nogal ‘n vreemde gevoel om baie van die plekke waarvan ons in Geskiedenis geleer het, hier te sien.  Ongelukkig onthou ek nie veel van alles wat ek geleer het nie, maar net soos ek is daar ‘n paar ander mense op die toer wat van plan is om na die tyd ‘n bietjie te gaan nalees.  Terwyl ek so na die landskap kyk dink ek daaraan dat ons op die ou einde waarskynlik nie baie goed gaan onthou wat ons waar gesien het nie.  Intussen is Ken steeds besig om dosyne feite uit te ryg – verstommend.  Ek wonder of hy op elke toer presies dieselfde dinge uitwys en of hy ‘n punt daarvan maak om dit anders te probeer aanbied.

Die son is besig om agter die wolke uit te kom – dalk nie so ‘n goeie teken nie en ons gaan waarskynlik weer binnekort vrek van die hitte.  Sug.

46 km van Salzburg af ry ons oor die Tiroler Achen brug.  Ek het gedink dat ek miskien kans sou kry om te lees, maar my boeke is permanent in my tas.  Vanoggend het ek vir die eerste keer ‘n ekstra handbagasie in die ruim gesit en raai wat is daarin? Die reuse strykyster wat so baie plek in my tas opneem!  Ek het hopeloos te veel klere gepak. Al die “just in case” gevalle “stay in case” lyk dit my.  Twee paar skoene sou voldoende gewees het. Een paar vir stap, en een vir spesiale uitgaangeleenthede.  Gistermiddag se tuisblyery het my definitief goed gedoen, want vandag sien ek weer kans vir stap.  Weet wel nie of ek  vanmiddag nog steeds so gaan voel nie…

Ons ry verby Berchtesgarten waar Adolf Hitler sy vakansietye deurgebring het.  Hierdie plek is vir sy 40ste verjaarsdag gebou. Dit is 5500 voet bo seevlak bo-op die berg en daar is baie moeite gedoen, maar hy was blykbaar nie so gek daaroor nie en het nie veel tyd daar verwyl nie.  Het dit net 13 keer besoek omdat hy engtevrees gekry het in die hysbak waarmee hy die laaste ent tot bo moes ry!  Eva Braun het glo meermale hiernatoe gekom.

Ons is amper in Salzburg – die stad het ‘n totaal van 130 000 mense (2000 statistieke).  Dit is geleë in die Noordelike deel van die Salzburgse Alpe, baie populêr vir ski. Dit verskil in karakter van die ander Oostenrykse stede, hoofsaaklik omdat dit eers in 1618 deel van die Oostenrykse unie geword het.  Dit was altyd ‘n baie ryk stad omdat hier op grootskaal sout gemyn is en is baie lank deur aartsbiskoppe geregeer.  Die meeste van die geboue is in die Barokstyl en daar is ook ‘n groot Italiaanse invloed uit Rome.  Musiek speel ‘n groot rol in die stad en daar word dikwels musiekfeeste gehou.  Die eerste Mozartfees is in Augustus na die Eerste Wêreldoorlog gehou, daarna het dit ‘n jaarlikse instelling geword.  Mozart is hier gebore en een van die gewildste lekkers hier is Mozart Kugels.

Hoog bo Salzburg sien ons die grootste kasteel/fort in Europa, reeds in die elfde eeu gebou en een van die min wat in totaliteit behoue gebly het.  Ons opsionele toer vandag is die Sound of Music een, en Gabi, ‘n mooi blonde vroutjie, is ons gids.  Ken sê sy is baie goed en dit is inderdaad so.  Sy is oulik en tradisioneel aangetrek.  Ons kry deurlopende kommentaar van haar af, allerhande klein dingetjies oor Sound of Music en die lewe van Maria.  Sy vertel ons veral van die verskille tussen Maria se werklike lewe en die fliek wat gemaak is.  Maria was 22 en die Hertog (?) 47 toe hulle getroud is en hulle twee saam het 3 kinders gehad.  Sy was swanger met hulle derde kind toe hulle na 11 jaar van getroude lewe gevlug het.  En hulle is nie met die berge oor nie, maar per trein.

Dit is ‘n warm dag, maar Gabi is dankbaar dat dit nie té warm is nie, want voordat ons gekom het het die stad ‘n hittegolf beleef.  Die bus sukkel om te draai a.g.v. die bome wat weerskante van die nou straatjie op pad na die Von Trapp huis geplant is.  Dit is Lindebome, sê sy en hulle hout word veral vir houtsneewerk gebruik.  Ons sien Schloss Leopoldtkrone, die agterkant van die huis wat in die fliek gebruik is.  Die straat is ongelooflik mooi en ons klim uit die bus uit en loop om die meer.  Hier vertel sy ons die storie van die aktrise wat die heel kleinste dogtertjie in die fliek gespeel het.  Tydens ‘n reünie wat een of ander tyd in die vorige jaar gehou is, het sy gesê dat sy nie veel van die fliek se skietery onthou nie, behalwe dat sy baie ontsteld was tydens die toneel toe die boot omgeval het.  Julie Andrews was veronderstel om haar te help, maar sy het amper verdrink omdat sy en Julie weerskante van die boot uitgeval het.

Van hier af gaan ons na Heilbrunn waar die gazebo is wat hulle in die fliek gebruik het. Op pad daarheen sien  ons die Hangman’s Cottage vanuit die bus. Dit staan half eenkant en  Gabi vertel dat die mense niks daarvan gehou het om naby Salzburg se ‘hangman’ te bly nie.

Die regte Maria is in die tagtigerjare in Vermont, Amerika, oorlede.  Sy het dikwels terug na Oostenryk toe gekom en wanneer sy hier was, ‘n tradisionele “dirndl”, die Oostenrykse voorskootrok,  gedra.  Verdere agtergrond:  von Trapp  het so baie geld gehad omdat hy voorheen met ‘n ryk vrou getroud was – ‘n sekere Lady Whithead.  Hy het haar geld geërf toe sy dood is, maar in 1935 alles verloor as gevolg van die ineenstorting van die beurs.  In 1940 het die Nazi’s sy huis oorgeneem en dit is deur Himmler gebruik.  Die familie het dit in 1945 weer teruggekry en toe het hulle dit verkoop.

Ons klim by die Heilbrunnpaleis af om na die gazebo te kyk.  Later in die bus vertel Gabi ons van die ‘choker’ of halsband wat sy om haar nek dra.  In Duits noem hulle dit ‘goitre bands’, want dit dateer uit die tyd toe die meeste mense in Salzburg goitres gehad het a.g.v. gebrek aan jodium in die sout.   Sy noem ook terloops dat ons baie gelukkig is om goeie weer te hê, want Salzburg het normaalweg 180 dae reën per jaar.

Terug in die ou stad  ry ons met ‘n kabeltreintjie na die bopunt van Hohe Schloss –  ‘n jong meisie ‘bestuur’ die karretjie en dit lok natuurlik heelwat kommentaar en geskerts van die  mans se kant af uit. Van bo af kan ‘n mens verstommend ver sien, na alle kante toe.  Hierdie is spesiaal so hoog op die berg gebou sodat die vyand te moeg sou wees om te veg indien hulle tot bo sou probeer  klim! Ek kan dit nogal verstaan…

Terug ondertoe en ons sien die oudste begraafplaas in Oostenryk. Dit lyk soos ‘n tuin – mense maak mini-blomtuintjies op die stukkie reghoekige grafgrondjies.  Allerhande gietyster figure versier die grafte.  Van daar af loop ons ondertoe, verby ‘n opelugmark waar groente en vrugte kleurvol uitgestal word.  Ons ruik ook die geur van varsgebakte brood en speserye.

Voor Mozart se geboortehuis groet Gabi ons en sê dat Ken ons oor ‘n halfuur daar sal kry.  Ek en Winnie loop met ‘n straatjie af om na die stalletjies en die winkeltjies te kyk en wanneer ons vir Ken kry, loop almal saam na die Mirabelle-tuine wat pragtig uitgelê is.  Hierdie paleis waar die tuine is, is deur een of ander vors vir sy minnares en haar 12 kinders gebou.  Op die plein waar die Mozart standbeeld is, het ‘n ander keiser in ‘n stadium 45 huise opgekoop wat hy laat platslaan het om die plein daar te maak.  Daar gaan binnekort een of ander musiekfees daar gehou word, want werksmense is besig om orals kabels te lê.  Gabi het vroeër genoem dat Mozart in sy kort leeftyd meer as 600 werke gekomponeer het en by die huis waar hy gebly het, dink ek aan watter ongelooflike skat hy nagelaat het en vir hoeveel mense hy selfs vandag nog werk genereer met sy talente – museums, besienswaardighede, aandenkings.

Dis lekker om weer terug op die bus te wees.  Ek moes weer geld wissel en moet nog bereken hoeveel kommissie ek hierdie keer moes betaal en hoeveel ek in die wisseltransaksie verloor het.  Mens weet nooit presies hoeveel geld jy gaan uitkry nie.  Ons ry oor die grens tussen die Salzburg-provinsie en Ober Osterreich met die hoofstad Linz waar ons later verby ry.  ‘n Laaste interessante feit oor Salzburg: dit het 109 kerke en ons ry verby die kerk waar die bruiloftoneel vir Sound of Music verfilm is.

Ek is alweer vaak en probeer my bes om wakker te bly.  Waar gaan al my energie heen, wonder ek.  Dit dreineer iewers heen saam met die beweging en klank van die bus.  In hierdie stadium is die rit baie vervelig en raak ek nog vaker.  Dis ten minste nog ‘n uur en ‘n half voor ons in Wene gaan arriveer.  Hierdie deel van Unter-Osterreich is ‘n landbougemeenskap en ons sien oral koringlande.  Dis ‘n diep, goue kleur en lê soos reuse lappieskomberse oor die heuwels…

Ludwigshafen, Heidelberg, Strasbourg, Lucerne…

Ons het vroeg reeds vanaf Ludwigshafen na Heidelberg vertrek, ‘n plek wat ek nogaal graag wou sien weens die gelyknamige dorp in Suid-Afrika. Die bus het ons al voor nege-uur uitgespoeg om die strate te gaan verken, terwyl daar nog nie veel aan die gang was nie. Die oggendluggie was redelik koel en ons kon die middestad met sy kieselsteenstraatjies rustig verken. Hier en daar was winkeliers nog besig om hulle winkeltjies se deure oop te sluit en op ‘n balkonnetjie het ‘n ouer vrou die malvas in die blombakke op haar balkonnetjie natgegooi.  Ons staan en kyk hoe ‘n ‘n omie sorgvuldig die rakke voor sy vrugtewinkel uitstoot en ek proe vir die eerste keer in my lewe heerlike vars, koel en groot Europese kersies. Later sou ek dikwels weer koop, maar niks kon by Heidelberg se vroeg-oggend soet kersies kom nie.

 

Hierdie deel van die stadjie lê in die skadu van ‘n groot kasteel op ‘n heuwel wat bo-oor alles uittroon. Die Barokstyl-geboue hier het op een na almal in ‘n stadium afgebrand en is toe weer oorgebou. Ons loop in die hoofstraat af en ek verwonder my aan die sorgvuldigheid waarmee elke kieselsteentjie in die straat gelê is. Aan die bo-punt van die straat staan ‘n mallemeule met sy perdjies tjoepstil en wag vir kinders om heel waarskynlik eers vanaand weer sy ratte in die rondte te laat draai.

 

Die klank van ‘n motor wat stadig in so ‘n straatjie afry, sal altyd die opwinding van daardie reis weer in my laat opborrel. Ek en Winnie giggel vir die manier waarop die bestuurder die nou straatjie navigeer deur sommer op die sypaadjie en om lamppale te ry in sy poging om verby die geparkeerde voertuie te kom. Ons loop kort-kort in iemand van ons toergroep vas en dan word daar opgewonde en vinnig ‘n paar interessanthede uitgeruil. Ons het maar ‘n uur tyd voor die bus net voor tien weer vertrek.

Ons volgende stop is Strasbourg, Alsace-Lorraine, net oor die Duitse grens in Frankryk. Hier stap ons eerste na ‘n enorme Gotiese katedraal waarna Winnie gou by die poskantoor neffens dit inglip om poskaarte te pos.  Die straatjies is veelkleurig, met soewenier- en poskaartstalletjies besaai. Die Frans wat ons om ons hoor is natuurlik Grieks vir die meeste van ons, dus is ek dankbaar dat ons ten minste met ons mede-toerlede in Engels kan kommunikeer.  Terwyl ek vir Winnie wag, word my aandag deur ‘n straatkunstenaar getrek wat ‘n potloodskets van ‘n toeris doen. Om my heers ‘n karnaval-atmosfeer soos mense nuuskierig daar en om die straatsmouse saamdrom. ‘n Paar meter verder dans ‘n meisie rukkerig op maat van ‘n klingelende juweelboksiemusiek. Iemand klop my op die skouer – hy het ‘n hele versameling van horlosies en leergordels wat hy aan my wil verkwansel.  Ek skud my kop en wanneer ek besef dat Winnie heel waarskynlik al klaar met haar poskantoormissie is en ek haar in die skare verloor het, gaan soek ek na ‘n plek waar ek die Duitse Mark wat ek nog oorhet vir Franse Frank kan gaan omruil. Ek loop verby straatkafeetjies waar mense agteroor sit en bier of koffie drink en gesels, verkyk my aan die blombakke wat vrolik in rooi en pienk aan geboufassades hang terwyl ek die ‘wisselkoerswinkel’ soek.

‘n Entjie verder in die straat af stoot ‘n vrou in ‘n burka ‘n baba in sy waentjie en wanneer ek verby haar loop, vat sy my aan die arm en ten spyte daarvan dat ek nie Frans verstaan nie, weet ek sy bedel vir geld en ek skud maar net my kop.

 

Ek is verlig wanneer ek uiteindelik ‘n plek kry waar ek my Duitse Mark kan omruil. Op die lys van die verskillende geldeenhede sien ek verbaas dat die ZAR ook aangedui word – hulle koop dit vir 60c en verkoop dit vir R1.10, sien ek.

Teen hierdie tyd is ek al honger en op pad na die bymekaarkomplek koop ek vir my ‘n ham- en kaasbroodjie by ‘n stalletjie. Terwyl ek vir die broodjie wag kom ‘n Duitssprekende vrou langs my staan en vra vir die jong meisie agter die toonbank waar sy die ‘boot’ kan kry. Die meisie is Franssprekend en verstaan nie en ek vertaal so ewe die versoek in Engels, waarna die meisie vir die vrou beduie hoe om te loop.

Broodjie in die hand loop ek terug na die katedraal toe en gaan sit op die trappies en eet. Nog ‘n straatsmous kom staan voor my met ‘n speelgoed-gorilla wat dans en homself dan obseen ontbloot.  Die man glimlag breed en brabbel iets wat ek nie verstaan nie, maar ek skud vir die soveelste keer my kop – ek stel regtig nie daarin belang om hierdie ding te koop nie.

Kort voor lank is Winnie en die res van die groep ook daar en dan loop ons almal saam met Ken na waar die bus geparkeer is. Van daar af ry ons na die Switserse grens naby Basil.

Switserland is nie deel van die Europese unie nie, dus moes almal paspoorte gereed hou vir in geval hulle daarna wou kyk. Ons het grootoog by die grens gesit en wag terwyl doeane-amptenare deur ‘n bus met Japanese toeriste se paspoorte kyk, maar ons bus is op die ou einde deurgelaat.

Die snelweg loop al langs die Swartwoud, maar ongelukkig kan ons nie veel daarvan sien nie.Lucerne is asemrowend mooi, maar ons is almal moeg en glad nie meer so entoesiasties en vol energie soos vroeër die dag nie.  Dit is baie warm en wanneer ons van die bus af klim, gaan ons na die leeu-rots kyk – ‘n standbeeld van ‘n leeu wat uit die ruwe rotswand gekap is.  Dit is ter ere van die Switsers wag wat iewers in ‘n vorige eeu vir Louis, die Sonkoning, gaan red het en op die ou einde almal self gesterf het.  Ons bly nie lank hier nie en nadat ons vir nog ‘n paar minute rondgeloop het, gaan ons na ons hotel toe wat nogal ‘n hele ent van die ou stadsgedeelte af is.  Dit is die  Central Hotel, Kriens.  Ken sê dat dit deur ‘n familie bedryf word en dus ‘n baie persoonlike atmosfeer het, wat inderdaad so is.  Dit bestaan uit drie geboue – die sentrale deel op die hoek van die straat en aan die ander kant ‘n rooi-en-groen gebou.  Ek en Donna is in die sentrale deel van die hotel en die kamer is so klein dat ons verby ons tasse moet skuur om by ons beddens uit te kom.

Aandete is in die hotel en ons hele groep word behoorlik soos sardientjies in die eetvertrek in gedruk.  Na ete gaan ek, Winnie en Jessica (‘n Amerikaanse tiener wat saam met haar ouma op die toer is) stap.  Ek is nie werklik in ‘n bui vir geselsies oor koetjies en kalfies nie en daar is ook nie veel om te sien nie, dus loop ek net ‘n klein entjie saam voordat ek op my eie terug hotel toe gaan.  Halfpad straat-af hoor ek iemand fluit en dis die ander Suid-Afrikaners wat ook op pad terug is en my roep om saam met hulle terug te loop. Terug by die hotel is dit lekker om my skoene uit te skop en daardie aand slaap ek weereens soos ‘n klip …

Amsterdam tot Ludwigshafen

Vroegoggend op die bus besef ek dat hierdie reis met al die indrukke, beelde, mense en tale (en moenie van die fietse vergeet nie!) my emosies heeltemal oorspoel. Ek was vroeg wakker en dit het my ‘n hele paar minute gevat om uit te werk waar presies ek is en wat die dag en datum is. Ek bly myself afvra hoekom ek so gek was om so ver te reis, weg van my gesin af!  Vandag is dit die eerste keer wat Ken vir ons musiek opsit en dit skep ‘n vrolike atmosfeer in die bus.  My swaar gemoed begin gaandeweg ligter word.  Ek het van die begin af geweet dat dit nie maklik gaan wees om op my eie te reis nie, en ek weet ook dat ek nie kan toelaat dat dit my vakansie bederf nie.  As ek nie die beste van hierdie situasie maak nie, kon ek net sowel by die huis gebly het.

Op pad net nadat ons van Utrecht af Duitsland toe weggedraai het, kom die oggend se eerste krisis wanneer Ken vir ons breedvoerig verduidelik hoe die opsionele uitstappies werk – heeltemal anders as wat ek gedog het toe ons na die toerplan gekyk het. Ek was onder die indruk dat dit outomaties gebeur en dat ‘n mens net elke keer hoef te besluit of jy daarop wil gaan of nie. Nou hoor ek dat Ken 21 van hierdie uitstappies gekies het waarvoor ons dan ekstra moet betaal en basies kom dit daarop neer dat ‘n mens baie gaan mis as jy nie saamgaan nie.

Dis ‘n groot dilemma, want my ‘sakgeld’ is in ‘n hele paar verskillende denominasies (dit was voor die Euro) en dis ‘n nagmerrie om sommetjies te maak om te sien wat ek in watter geldeenheid kan bekostig en dan nog etes en soeweniers kan dek. Omdat ek soveel kontant gehad het, het ek my kredietkaart by die huis gelos. Ek moet mooi besluit watter van die uitstappies noodsaaklik is en watter ek maar kan mis…

Om twintig oor drie die middag klim ons op ‘n boot vir ons Rynriviervaart, in die dorpie Boppart. Dis ‘n idillies mooi dag – daar is nie ‘n wolkie in die lug nie en die kontrasterende kleure van die blou water, die groen landskap en die Duitse poskaarthuisies skep ‘n besonderse, dromerige atmosfeer. Ek en Winnie kan eers nie besluit waar ons op die boot wil sit nie – op die bo-dek raak dit gou hopeloos te warm en dan gaan sit ons onder, waar ons met ‘n Meksikaanse gesin (‘n ma en drie van haar kinders) ‘n geselsie aanknoop. Die seun, German, praat vlot Engels, dus doen hy die meeste van die praatwerk terwyl die ander drie glimlag en kopknik wanneer hulle saamstem. Eers in Spanje vind ek uit dat dit soms moeilik is om Spaanssprekendes te verstaan omdat hulle die v-klank meestal met ‘n b-klank vervang.

Ons vaar verby Bad Salzig, bekend vir sy mineraalbaddens, waarna ons die eerste kastele begin sien, onder andere die Maus-kasteel wat in die 13de eeu deur die hertog van Katzenellenbogen gebou is. Dit lê hoog teen die berg met ‘n hele ry vlae wat vrolik in die wind wapper. By St. Goar met die bekende Lorelei-rots, onthou ek weer die legende van die Lorelei waarvan ek as kind gelees het en vertel vir Winnie daarvan. Volgens Ken is ‘n monument hier in 1984 opgerig en is die diepste punt van die Ryn hier naby.

Later klim ons van die boot op die bus tot by ons bestemming, Ludwigshafen, waar ons die aand oorslaap. Ludwigshafen het blykbaar die derde grootste hawe aan die Rynrivier, maar ons kry nie veel van die stad te sien nie omdat ons deur industriële gebied direk na die hotel toe ry.

Aandete in die hotel en ek en Winnie deel ‘n tafel met Sargon en Mary van Australië, maar Sargon lyk vir my òf Lebanees,  òf Iranees of een van daardie lande. Ons hoor egter dat hy in Rusland gebore is, wel in Iran gebly het, daarna in Israel en uiteindelik in Australië. Dwarsdeur die toer was hy die gentleman, terwyl Mary altyd vriendelik en in ‘n goeie bui was.

Na ete gaan ek en Winnie stap, maar die strate rondom die hotel is amper verlate, behalwe vir ‘n blonde jongman wat teen ‘n geweldige spoed in sy rooi sportmotor verby ons jaag. Daar is ‘n koffieplek wat oop is en wanneer ons vir die outjie agter die roomystoonbank probeer vra hoeveel die koffie kos, praat hy nie ‘n woord Engels nie, maar met handgebare vind ons uit dat dit 3 Duitse mark is en hy beduie na ‘n tafeltjie en sê in ‘n mengsel van Engels en Duits: “Sit. Bedienung kommt.” Of so iets. Ek en Winnie giggel omdat almal buite hulle vaarwater met die vreemde tale is en ons gesels lekker terwyl ons koffie drink.

Winnie stap daarna terug hotel toe terwyl ek ‘n poging aanwend om vanaf ‘n telefoonhokkie huis toe te probeer bel. Ek weet nie hoe die internasionale bellery werk nie en toe ek twee vrouens wat verbyloop probeer vra, kan nie een van hulle ‘n woord Engels verstaan nie. Ek diep daar ‘n paar Duitse woorde op wat baie ver weggebêre is, net om uit te vind dat daar nêrens ‘n telefoongids is nie. Ek stap dus toe bek-af en onvergenoegd terug hotel toe. Môre is nog ‘n dag en ek sal hopelik wel van iewers af kan bel.