Nice tot Barcelona, flamenco-danse en sangria…

Woensdag 18 Julie 2001.  Vandag is ons op pad uit Frankryk na Spanje en ons sal in Katelonië, met hulle hoofstad Barcelona, wees.  Eers ry ons kuslangs met die hoofweg wat afkyk op die see, strand, rotse en huisies ver onder. Verby Cannes draai die bus effens na die binneland toe en sien ons meer van die Provence-landskap hier in die suide van Frankryk. Ongelukkig is die meeste bekende plekke net name op groot borde omdat ons op die snelweg hou: Aix-en-Provence, dan Salon-de-Provence waar Nostredamus gebore is, Nimes, Montpellier,  dan weer parallel met die kuslyn en ‘n rits eksotiese dorpsname tot oor die grens tussen Frankryk en Spanje.

Die landskap op pad daarheen raak meer gelyk, met die berge wat heelwat kleiner vertoon omdat die hoofweë effens meer binneland se kant toe loop. Ek en Donna sit vandag in die tweedelaaste busbankie aan die linkerkant van die bus, reg voor die Australiese paartjie wat albei verkoue het en so hoes dat ek soms die haartjies op my arm voel ritsel. Ek sien behoorlik hoe die kieme deur die lug walm en na ‘n landingsplekkie soek…

Van die begin van die toer af het die mense om my siek geword – heel waarskynlik te wyte aan die lugversorgingstelsel.  Esther, wat langs Winnie sit het eerste siek geword en daarna het die kieme soos ‘n veldbrand versprei.  Winnie en Donna het albei deurgeloop, maar ek gaan die hele toer deur sonder om siek te word.  Seker omdat ek goed geïmmuniseer is deur die Australiese griepkieme wat ek twee weke voor die toer begin het gehad het.

Ken gee weer vir ons agtergrondsgeskiedenis en sê hoe gesteld hierdie mense daarop is dat hulle Kateloniërs is en nie Spanjaarde nie en dat hulle Katelonies praat, nie Spaans nie.  Soos altyd is die buitewyke van die stad niks indrukwekkends nie en lyk dit soos enige ander wêreldstad.  Die eerste kennismaking met Barcelona gee vir reis-vermoeide oë die indruk dat dit nie baie skoon is nie.  Ook hier het ons ‘n hotelverandering, maar toe Ken vir ons sê in watter hotel ons sou gebly het is ons maar dankbaar dat dit wel verander het.  Ons bly in die vierster hotel, Corcega, in Corcega straat, ‘n paar blokke van die Rambles af , Barcelona se bekendste straat.  Die stad is baie netjies uitgelê, met die Diagonal straat wat dit letterlik van die een kant na die ander in twee sny en die langste straat in die stad is.

Vanaand is die uitstappie-ervaring om flamenco-danse te gaan sien. Ek is nogal opgewonde daaroor, want ek onthou hoe romanties dit vir my as laerskoolkind was toe ek die eerste keer daarvan gelees het.  Die plek is in die hoofstraat en die bus laai ons reg voor die deur af.  Dis weer een van daardie restaurante wat klein van buite af lyk omdat dit lank en nou is. Binne-in is die vloere en mure pikswart, met rooi decor en die tafels is in groepies van drie of vier op verskillende vlakke sodat almal die verhogie in die middel teen die een muur kan sien.  Ek en Winnie land saam met Prakash en Sandy by die tafel verste van die verhoog af, reg in lyn daarmee.  Dis ‘n buffet-ete en ons gaan skep in, proe so ‘n ietsie van alles. Behalwe vir die groot verskeidenheid disse wat hulle aanbied, is daar ook verskillende drankies wat bedien word en Winnie sê dat ons hulle tradisionele drankie, Sangria, moet probeer.  Ons hou baie daarvan en dit herinner my aan ‘n koue weergawe van gluvein – ek is nie juis ‘n drank-ekspert nie, so die fynproewers sal heel moontlik van my verskil!  Later word die ligte gedoof en begin die flamencovertoning.  Ek kan egter niks sien nie en besluit om ‘n staanplek nader aan die verhoog te gaan soek. Henry en Sharon sien my staan en wys dat daar nog ‘n sitplek aan hulle tafel oop is.  Van daar af  kan ek mooi sien.  Die meisies lyk anders as wat ek myself voorgestel het – hulle is nie almal net donker nie, maar daar is ook ‘n paar met blonde hare en van hulle het ligte oë.  Die ligte in die res van die restaurant verdof en die kolligte fokus op die verhoog. Die sang is vir my vreemd, klink amper half Oosters met so ‘n ‘wobble’ daarin.  Dit, saam met die ritmiese handeklap en die kitare verleen ‘n besonderse atmosfeer.  Die dansers is absoluut uitstekend en daar is ‘n hele ry meisies van ses of sewe wat soms in ‘n groep en soms solo dans.  Daar is net twee mansdansers – ‘n jong outjie met ‘n absolute fier en regop houding en een wat effens ouer is.  Hulle beweeg met grasie, maar met perfekte tydsbereking en ‘n mens kan sien hoe almal heeltyd op mekaar ingestel is. Die mans is die middelpunt van omtrent elke dans en soms sonder hy ‘n meisie uit, wink haar nader om soos ‘n skoenlapper om ‘n broeiende swart blom te kom fladder terwyl die kastanjette skerp teen die meer vloeiende, meesleurende kitaarklanke klap.

Wat interessant omtrent die meisies is, is dat hulle nie almal noodwendig skraal is nie. Die mans lyk presies hoe ek my nog altyd Spaanse mans voorgestel het: donker met skouerlengte swart en soms effense krullerige hare. Almal se oë is vasgenael op die vertoning – skouspelagtig, met ‘n intimiteit wat die gehoor wil-wil uitsluit, maar aan die einde van elke stuk word ons met briljante glimlate en skitterende oë beloon.  Wanneer die ligte uiteindelik weer aangaan kry hulle ongelooflike applous. Tyd vir ‘n laaste happie van vele nageregte en dan kommandeer Ken ons weer op om terug hotel toe te gaan.

Pisa, tonnels, Nice en Monte Carlo se lonkende liggies…

Maandag 16 Julie 2001.  Miskien was die busbestuurder ons vanoggend genadig sodat ons nie ver met ons bagasie sou hoef te loop nie, of dalk het hy nie die geduld gehad om te wag terwyl ons aangesuiker kom nie, want ten spyte van die nou straatjie het hy half op die sypaadjie reg voor die hotel gestop. Daarmee het hy homself egter die argwaan van motoriste op die hals gehaal, want hulle was glad nie beïndruk met die feit dat hulle nie verby die bus kon sien nie en het behoorlik op hulle toeters gelê. Halfpad deur die inlaaiproses begewe José se moed hom toe en daar trek hy weg met net die helfte van die toergroep in die bus, oorblywende bagasie nog op die sypaadjie. ‘n Paar van ons het maar geduldig-angstig gewag tot ons die bus verder af in die systraatjie kon sien en toe met ons tasse soontoe gekarring.

Een van vanoggend se interessanthede was dat ons verby die Italiaanse dorpie Lucci gery het waar Puccini gebore is. Ons eerste stop was  in Pisa, met die leunende toring wat die Italiaanse stadjie op die landkaart hou. Die bus moes ‘n hele ent van die kompleks af parkeer vanwaar ons na die toring toe moes loop, verby ‘n klomp straatstalletjies met ‘n baie oulike ontwerp. Die mobiele stalletjies is op wieletjies gemonteer , met panele wat soos ‘n insek oopvlerk sodat hulle ware reeds daaraan kan hang en hulle nie alles elke dag hoef uit te pak of weg te pak nie. Die stalletjies lyk soos reuse Meksikaanse hoede en net so kleurvol, afhangende van wat binne uitgestal word of wat daaraan hang.

Die ervaring om die toring uiteindelik self te sien, is vreemd.  ‘n Mens sien dit net altyd op prentjies of poskaarte en jy dink dit is iets wat verskriklik hoog in die lug in troon, net om uit te vind dat dit nie heeltemal so hoog is nie.  Wanneer jy nader kom sien ‘n mens egter die besondere detail en die besondersheid daarvan. Terwyl ons daar is, is hulle besig om die basis te probeer versterk sodat dit nie meer sal oorleun nie, ‘n ingewikkelde, tydrowende proses. Ons kan dus nie met die trappies opgaan en voel hoe die swaartekrag ons ondertoe trek nie. Nadat ons die struktuur genoeg aangegaap het, is daar tyd om ‘n bietjie by die stalletjies rond te snuffel en aandenkinkies te koop voordat ons weer terug bus toe moet gaan.

Van Pisa af ry ons weer terug na die Appenynse bergreeks toe en van daar af begin die landskap gaandeweg meer bergagtig raak.  Ons ry verby Carrara waar Italië se beste marmer gemyn word en ek onthou my vriendin se geskenkie van jare gelede, ‘n vioolspelende seuntjie wat op ‘n stukkie Carrara-marmer gemonteer is. Daar is heelwat marmerfabrieke van die pad af te sien, indrukwekkend met blokke marmer opmekaar gestapel in allerhande groottes, kleure en verskillende stadiums van bewerking.

Vandag gaan ons baie ure op die pad deurbring en Ken het ‘n slim plan bewerkstellig om ons geïnteresseerd en wakker te hou. Ons moet die aantal tonnels waardeur ons gaan tel, tot ons by die Franse grens kom. Almal glimlag in hulle enigheid en besluit dat dit ‘n maklike kompetisietjie gaan wees met waarskynlik ‘n maksimum van veertig of vyftig tonnels.  Toe nie – die groot totaal eindig op 161!  Ons is later so keelvol vir tonnels tel, maar gee ook nie op nie.  Boonop volg sommige van hulle so vinnig op mekaar dat ons partykeer nie betyds kan besluit of dit ‘n brug of ‘n tonnel is nie.  My telstelsel is dat ek ‘n regmerkie agterin my notaboekie maak die oomblik wat ons by ‘n tonnel inry om sodoende seker te maak dat ek nie een oorslaan of een twee keer tel nie.  Wanneer ons vir ons oggendbreek stop, is my totaal al 115 en sommige van die ander trek by 117.  Op die ou einde gaan die prys na Dennis en Reena wat ‘n spanpoging aangewend het. Later in die toer sou Reena ‘n bottel parfuum as prys by Ken kry.  My telling was tweedebeste op 162, maar ongelukkig is daar nie ‘n prys vir naaswenners nie.

Nie een van ons kla egter nie, want dis omtrent ‘n verligting om nie meer na die grens tonnels hoef te tel nie.  Iemand wonder hoekom hulle nie maar net die hele pad een lang tonnel gemaak het nie…

Ons bestemming vir die dag is Nice, op die onderste punt van Frankryk.  Die hotel waar ons bly is een van die wat Trafalgar op die nippertjie verander het en dis ver van die middestad af.  Om die waarheid te sê, dit is glad nie eers in Nice self nie, maar dit vind ons eers later uit.  Trafalgar voel ‘skuldig’ daaroor en ons kry ‘n ekstra aandete by een van die restaurante op die promenade, waarvoor ons natuurlik glad nie omgee nie.  Nice is letterlik die speelplek van die rykes, maar daar is gewone mense ook. Die see is ‘n blou waarin jy verstom-verlore kan raak, poskaartprentjiemooi.  Sekere dele van die strand is privaat, wat beteken jy moet betaal om by daardie stukkie in te gaan.  Dis maklik om daardie dele te herken, want hulle het helder blou en wit-gestreepte sonsambrele met wit , lang en elegante strandstoele wat netjies staangemaak is.  Die strand self is ook besonders – daar is geen sand nie, net spierwit marmerklippies in alle groottes en vorms.  Vanuit die groot busvensters op pad na die restaurant toe was Donna, welberese en ingestel op detail, die eerste persoon om ‘n bostuklose meisie raak te sien en van toe af kon Ken maar vergeet om enige bakens aan die groep uit te wys, want almal het net gekyk hoeveel bostuklose vrouens hulle kon rsien!

Die stad self het ‘n lieflike vakansie-atmosfeer met die rustigheid van mense wat ontspan en hier en daar geïrriteerde inwoners wat hulle bes probeer om nie deur die argelose houdings van die toeriste ondergekry te word nie. Dis ‘n stad van intense kleurkontraste en so anders as die eeu-oue ‘swaarmoedig’ dog indrukwekkende skouspelagtige tonele in Rome en die kanaalstraatjies en verweerde geboue in Venesië.

Ons het genoeg tyd om eers ‘n bietjie rond te loop en ‘n rukkie op ‘n spierwit bankie langs die strand te sit voor ons weer om sewe-uur by die Gustav 5 restaurant bymekaar moet kom.  Na aandete neem die bus ons na die een bestemming waarna die meeste van ons uitgesien het:  Monaco, daardie klein koninkrykie waarvan almal hierdie idilliese, romantiese verwagtings het.  En dit voldoen inderdaad aan al ons verwagtinge. Die bus ry met ‘n nou kronkelstraatjie berg-op van Nice af en om elke draai see se kant toe kry ons ‘n paar sekondes se asemrowende uitsig op die blou-blou see, seiljagte en bootjies wat onder vasgemeer lê. Berg se kant toe is die huisies en woonstelgeboue in miershoop-gelid ingerig. Dan daal die bus geleidelik weer totdat Monte Carlo reg onder ons lê.

Dit is die mooiste tyd van die dag, iewers tussen lig en donker wanneer liggies oral in stringe begin aanknipper en skyn. Onder, bykans knus teen die meterhoë mure, lê die hawe tjokvol met seiljagte en luukse bote in verskillende ontwerpe en groottes. Monte Carlo self bestaan uit een wolkekrabber op die ander en van onder af lyk dit nie of daar ‘n enkele duim spasie gemors is nie.

Ons string uit die bus uit met ons blink toppies en uitskoprompe en formele langbroeke, want Ken het gesê dat ons netjies aangetrek moet wees vir die okkasie. Daar is ‘n hysbak waarin ons bondel om ons na die hotel- en casinovlak toe te neem. Bo staar ‘n hele paar van ons oopmond na die skitterende prag en praal waarmee alles bedruip is.

Voor die hoofcasino is die Porsche’s, Mercedese, Rolls Royce en ander superluukse motors reeds ingeryg.  Speelplek vir die rykes is dit beslis.  Reg oorkant pryk die Paris-hotel statig waar een nag se akkommodasie waarskynlik meer as my maandelikse salaris kos.  Ken verduidelik weer hoe dit werk –  ‘n  mens kan net by die hoofcasino ingaan indien jy in formele aanddrag geklee is.  Daar word ook nie enige kameras toegelaat nie.  Gelukkig het hulle darem voorsiening vir die gewone toeriste ook gemaak, met nog ‘n casino neffens die ‘strictly come paying’ ene.

Ek en Winnie bewonder eers al die luukse motors voor ons dit waag om gou eers by die hoofcasino se voorportaal in te loer. Geen kans om verder as loer te kom nie, want ‘n handvol deurwagte se wenkbroue skiet onmiddellik en vraend die hoogte in en ons retireer en loop maar gelate na die plebscasino toe.

Binne word ons onmiddellik ingesluk deur dobbelmasjiene in allerhande variasies, klanke en skemerbeligting.  Tussen die masjiene deur kan ons reeds ‘n paar van ons mede-toerlede sien waar hulle dobbelskyfies in die gretig-gapende gleufies van die masjiene voer.  Elke nou en dan is daar die kenmerkende gille begelei deur die metaalkletter van muntstukke wat in bakkies uitgespoeg word. Tussendeur die aspirant-wenners is dar duidelik ‘n hele paar gesoute dobbelaars wat die gulsige masjiene sommer twee op ‘n slag voer. Ek staar soos ‘n agie na ‘n jong meisie wat aanhou wen en aanhou speel. Ek self waag dit nie om my geluk te toets nie, want nadat ek as kind ‘n hele vyftig sent op ‘n moontlike July-wenner verloor het, was ek oortuig daarvan dat ek nie ‘n lewe uit enige vorm van dobbel sou kon maak nie.

In die een area is daar ‘n masjien met handgrootte perdjies wat teen mekaar hardloop. Die wenner word elke keer in groot letters bo-aan aangedui en ek en Winnie staan ‘n rukkie daar, besluit so tussen ons twee op ‘n wenner, maar nie een van ons raai reg nie. Wanneer ons genoeg van die klatergoud en die kletterklanke het, stap ons buitentoe waar dit intussen heeltemal donker geword het.

‘n Prentjie soos uit ‘n feeverhaal begroet ons – duisende liggies skep ‘n amper-magiese atmosfeer. Daar is fonteine wat blouwit water uitsputter, neonborde wat flikker en ver op die gesigseinder bootligte wat beloftes van romantiese reise inhou.

Ek en Winnie stap verby die fonteine met die terraspaadjie op tot by die boonste straat waar ons ‘n bankie kry en vir ‘n rukkie na die skouspel staar.

Na ‘n uur of wat is ons weer terug op die bus en luister ons na die geklets van opgewonde wenners en die bek-af, dog beïndrukte opmerkings van die verloorders. Later raak dit stil en teen die tyd wat die bus voor ons hotel stop, is daar nog net hier en daar ‘n vaak sinsnede wat deur die helder ligkring van die hotelvoorportaal ingesluk word. Nog ‘n dag van opwinding en indrukke is verby…