Vroegoggend op die bus besef ek dat hierdie reis met al die indrukke, beelde, mense en tale (en moenie van die fietse vergeet nie!) my emosies heeltemal oorspoel. Ek was vroeg wakker en dit het my ‘n hele paar minute gevat om uit te werk waar presies ek is en wat die dag en datum is. Ek bly myself afvra hoekom ek so gek was om so ver te reis, weg van my gesin af! Vandag is dit die eerste keer wat Ken vir ons musiek opsit en dit skep ‘n vrolike atmosfeer in die bus. My swaar gemoed begin gaandeweg ligter word. Ek het van die begin af geweet dat dit nie maklik gaan wees om op my eie te reis nie, en ek weet ook dat ek nie kan toelaat dat dit my vakansie bederf nie. As ek nie die beste van hierdie situasie maak nie, kon ek net sowel by die huis gebly het.
Op pad net nadat ons van Utrecht af Duitsland toe weggedraai het, kom die oggend se eerste krisis wanneer Ken vir ons breedvoerig verduidelik hoe die opsionele uitstappies werk – heeltemal anders as wat ek gedog het toe ons na die toerplan gekyk het. Ek was onder die indruk dat dit outomaties gebeur en dat ‘n mens net elke keer hoef te besluit of jy daarop wil gaan of nie. Nou hoor ek dat Ken 21 van hierdie uitstappies gekies het waarvoor ons dan ekstra moet betaal en basies kom dit daarop neer dat ‘n mens baie gaan mis as jy nie saamgaan nie.
Dis ‘n groot dilemma, want my ‘sakgeld’ is in ‘n hele paar verskillende denominasies (dit was voor die Euro) en dis ‘n nagmerrie om sommetjies te maak om te sien wat ek in watter geldeenheid kan bekostig en dan nog etes en soeweniers kan dek. Omdat ek soveel kontant gehad het, het ek my kredietkaart by die huis gelos. Ek moet mooi besluit watter van die uitstappies noodsaaklik is en watter ek maar kan mis…
Om twintig oor drie die middag klim ons op ‘n boot vir ons Rynriviervaart, in die dorpie Boppart. Dis ‘n idillies mooi dag – daar is nie ‘n wolkie in die lug nie en die kontrasterende kleure van die blou water, die groen landskap en die Duitse poskaarthuisies skep ‘n besonderse, dromerige atmosfeer. Ek en Winnie kan eers nie besluit waar ons op die boot wil sit nie – op die bo-dek raak dit gou hopeloos te warm en dan gaan sit ons onder, waar ons met ‘n Meksikaanse gesin (‘n ma en drie van haar kinders) ‘n geselsie aanknoop. Die seun, German, praat vlot Engels, dus doen hy die meeste van die praatwerk terwyl die ander drie glimlag en kopknik wanneer hulle saamstem. Eers in Spanje vind ek uit dat dit soms moeilik is om Spaanssprekendes te verstaan omdat hulle die v-klank meestal met ‘n b-klank vervang.
Ons vaar verby Bad Salzig, bekend vir sy mineraalbaddens, waarna ons die eerste kastele begin sien, onder andere die Maus-kasteel wat in die 13de eeu deur die hertog van Katzenellenbogen gebou is. Dit lê hoog teen die berg met ‘n hele ry vlae wat vrolik in die wind wapper. By St. Goar met die bekende Lorelei-rots, onthou ek weer die legende van die Lorelei waarvan ek as kind gelees het en vertel vir Winnie daarvan. Volgens Ken is ‘n monument hier in 1984 opgerig en is die diepste punt van die Ryn hier naby.
Later klim ons van die boot op die bus tot by ons bestemming, Ludwigshafen, waar ons die aand oorslaap. Ludwigshafen het blykbaar die derde grootste hawe aan die Rynrivier, maar ons kry nie veel van die stad te sien nie omdat ons deur industriële gebied direk na die hotel toe ry.
Aandete in die hotel en ek en Winnie deel ‘n tafel met Sargon en Mary van Australië, maar Sargon lyk vir my òf Lebanees, òf Iranees of een van daardie lande. Ons hoor egter dat hy in Rusland gebore is, wel in Iran gebly het, daarna in Israel en uiteindelik in Australië. Dwarsdeur die toer was hy die gentleman, terwyl Mary altyd vriendelik en in ‘n goeie bui was.
Na ete gaan ek en Winnie stap, maar die strate rondom die hotel is amper verlate, behalwe vir ‘n blonde jongman wat teen ‘n geweldige spoed in sy rooi sportmotor verby ons jaag. Daar is ‘n koffieplek wat oop is en wanneer ons vir die outjie agter die roomystoonbank probeer vra hoeveel die koffie kos, praat hy nie ‘n woord Engels nie, maar met handgebare vind ons uit dat dit 3 Duitse mark is en hy beduie na ‘n tafeltjie en sê in ‘n mengsel van Engels en Duits: “Sit. Bedienung kommt.” Of so iets. Ek en Winnie giggel omdat almal buite hulle vaarwater met die vreemde tale is en ons gesels lekker terwyl ons koffie drink.
Winnie stap daarna terug hotel toe terwyl ek ‘n poging aanwend om vanaf ‘n telefoonhokkie huis toe te probeer bel. Ek weet nie hoe die internasionale bellery werk nie en toe ek twee vrouens wat verbyloop probeer vra, kan nie een van hulle ‘n woord Engels verstaan nie. Ek diep daar ‘n paar Duitse woorde op wat baie ver weggebêre is, net om uit te vind dat daar nêrens ‘n telefoongids is nie. Ek stap dus toe bek-af en onvergenoegd terug hotel toe. Môre is nog ‘n dag en ek sal hopelik wel van iewers af kan bel.