Dis Saterdag wanneer ek in die hotel in Lucerne wakker word met die klank van kerkklokke wat iewers naby beier. Ek lê ‘n rukkie daarna en luister en wonder of die mense wat hier bly dit nog hoor en of hulle al te gewoond daaraan is, soos wanneer ‘n mens naby ‘n treinspoor bly en dit deel van die agtergrondsgeluide word.
Ontbyt in die beknopte eetkamertjie is graanvlokkies in piepklein bakkies, met klipharde broodrolletjies, koffie en lemoensap.
Dis ‘n bewolkte dag en deur die groot vensters van die bus lyk alles vandag vir my groener, heel waarskynlik omdat dit nie so warm en bedompig is nie. Die pad kronkel al langs ‘n rivier af en die huise en landerye staan stemmig en netjies ingeryg. Ons bestemming is die dorpie Kussnacht op die oewer van die Lucerne Meer waar ons op ‘n trein gaan klim waarmee ons teen die Rigi berg gaan opwurm. Ken het ons reeds gewaarsku dat stiptelikheid ‘n prioriteit vir die Switsers is, dus skarrel almal om so vinnig as moontlik ‘n sitplek te kry wanneer die trein by die halte aankom. Dan sit ons en kyk hoe ‘n jong man ‘n klompie melkkanne aflaai voor die trein skilpadstadig teen die berg opkruip. Dit is duiselingwekkend hoog en die uitsig slaan ons asems weg, maar halfpad boontoe ry ons in ‘n digte misbank in. Amper op die kruin moet ons uitklim. Daar is ‘n hysbak vir die wat nie kans sien vir die steil paadjie nie en helfte van die groep maak daarvan gebruik terwyl die res van ons boontoe loop. Daar is twee lewensgrootte kartonpoppe wat stil in die mistigheid staan – ‘n jongman en ‘n meisie in tradisionele Switserse drag. Ek en Winnie neem ‘n paar verspotte foto’s met ons gesigte in dié van die poppe s’n en dan gaan ons in die restaurant sit. ‘n Groot glas warm sjokolade en ‘n kort geselsie later neem ons die hysbak af na die treinvlak waar daar reeds ‘n ander toergroep ook saamdrom. Tot my verrassing hoor ek ‘n vrou Afrikaans praat en ek begin opgewonde met haar gesels. Hulle is ‘n groepie van agt Afrikaners wat saam op ‘n bustoer is en vir die volgende paar dae loop ons mekaar orals raak.
Dit begin hard reën en ek besef dat dit die eerste dag is wat ek om een of ander duistere rede nie my sambreel saamgebring het nie. Ek gebruik my drasak om my hare te probeer drooghou terwyl ‘n paar van ons naarstiglik na ons groep se kompartement soek. Die kondukteur hang by een van die waens uit, duidelik glad nie gelukkig met ons klompie verdwaaldes nie. Hy wys ‘n kwaai wysvinger na die agterste wa en roep: “Behind!” Dis egter die ander groep se wa, maar gelukkig kom Ken ons red en ons hol agter hom aan, verby die kondukteur wat lyk of hy hom bloediglik vir ons vererg het. Ons voel soos ‘n klomp stout kinders wat oor die vingers getik is en sit en giggel wanneer ons uiteindelik ons sitplekke kry en die trein kan wegtrek.
Halfpad ondertoe stop die trein en van daar af klim ons in ‘n groot kabelkar, maar alhoewel die mis effens gelig het, kan ons tot ons teleurstelling nog steeds nie veel sien nie.
By die onderpunt wag ‘n boot waarmee ons terug na Lucerne toe vaar. Ons stuurman praat Engels met ‘n sterk Duitse aksent, maar ons kan hom goed verstaan, anders as wat die geval was met die ontlyfde stem wat kort-kort oor die trein se luidsprekers opgeklink het. Hy vertel ons dat daar in hierdie area nog steeds 12 vissersfamilies is en wys ‘n paar interessante bakens op die rivieroewer uit.
Dit reën wanneer ons terug in Lucerne aankom. Die bus laai ons af en ons stap ‘n blok of twee tot by die Restaurant Staatkeller in die middestad vir ‘n tradisionele switserse ete. ‘n Ouerige vrou met ‘n diep altstem jodel op die klein verhogie – ‘n konsert is by die prys van die middagete ingesluit. Die musikante spring van die een instrument na die ander om hulle vaardighede ten ore te stel. Daar is ‘n basviool, klarinet, klavier en ‘n trekklavier. In ‘n stadium skommel hulle 5 Frankstukke in groot metaalbakke en boots so die geluid van klokke na. ‘n Reuse alpehoring is volgende aan die beurt, gevolg deur ‘n baie ongewone musiekinstrument – ‘n werfbesem (in Liewe Heksie-styl) wat oor ‘n man se skouer gehou word. Hy slaan ritmies met ‘n stok van bo na onder op die besemstok, wat dan verskillende toonhoogtes (besemstokhoogtes?) tot gevolg het.
Die altvrou kry ‘n klompie van die gaste bymekaar wat op die verhogie moet gaan staan en kans kry om op die alpehorings te blaas en te probeer jodel. Voor elkeen ‘n kans kry, word hulle gevra van watter land af hulle kom, wat groot pret en toejuiging van die gehoor se kant af ontlok. Dan moet hulle bier drink en sy sing ‘n lied eie aan elkeen se land. Die Suid-Afrikaanse liedjie is Sarie Marais, maar met hulle uitspraak klink dit meer Hollands as Afrikaans.
Na ete loop ek saam met Winnie en Jessica in die winkels rond. Ek soek geskenkies vir my seuns in ‘n speelgoedwinkel en tussen die rakke en my fokus deur verloor ek die twee meisies. Dis heerlik om ‘n bietjie op my eie rond te snuffel. Intussen het dit opgehou reën en daar heers ‘n vrolike atmosfeer in die nat strate. Ek drentel tussen die winkels rond, probeer ‘n afdelingswinkel se gratis internetfasiliteite sonder om hond haar-af met die e-pos te maak, loer by ‘n parfuumwinkel in en koop houtmarionette by ‘n soewenierswinkeltjie.
Dan loop ek rustig rond tot by die Chapel-brug en is onmiddellik gek daaroor. Die hele brug is van hout gemaak met rye en rye blombakke gevul met helder blomme wat aan die buitekant van die brug hang. Dit is ‘n toe brug en binne-in is sulke driehoekgeweltjies waarop die mooiste middeleuse toneeltjies geverf is. Ek vergaap my daaraan en daarna gaan staan ek vir ‘n rukkie stil op die brug om na die rivier en die mense aan die ander kant te kyk. Die toneeltjie voor my is idillies met die ingerygde geboue en straatkafeetjies waar mense rustig buite sit en eet en gesels.
Iewers bespeel ‘n straatmusikant ‘n harp, wat die atmosfeer nog meer dromerig en romanties maak.
Ek stap verder en dan met ‘n ander brug weer terug oor die rivier waarna ek in Leo en Lisa, twee Australiërs van die toergroep, vasloop. Lisa vra of ek al my teelepel – met komplimente van die toergroep – in die Bucherer-winkel gaan haal het. Dis ‘n groot plek wat Rolex-horlosies en ander duur juweliersware verkoop. Ek voel effe geïntimideerd om in te gaan, maar Lisa oortuig my dat ek my gratis lepeltjie moet gaan haal. Sy haak summier by my in en loop saam met my. Die pryse in die winkel is skrikwekkend hoog, maar ‘n rukkie later het ek die lepeltjie in my sak en stap ons weer uit.
Ek is lus om iewers koffie te drink en alhoewel Leo en Lisa saam met my gaan sit, wil hulle niks bestel nie. Die kelner is baie vies daaroor (‘n mens mag nie sommer net ‘n stoel beset nie!) en sê sonder om doekies om te draai dat hulle nie daar kan piekniek hou nie. Ek voel soos ‘n gek wanneer hulle vir my staan en wag terwyl ek my koffie drink.
Terug by die hotel wag ‘n faks van my man af vir my en ek maak dadelik al my kleingeld bymekaar om te bel. Na ‘n kort gesprek met hom en die kinders voel ek sommer stukke beter en klim moeg maar tevrede in die bed.