Dis een van die kontraste daarvan om op toer in Europa te wees, kom ek agter. Aan die een kant raak ek intens bewus van hoe groot die wêreld is, met miljoene mense wat elkeen sy of haar wêreldjie as uniek beleef, maar aan die ander kant veroorsaak juis die skaal van alles wat ons beleef en die emosionele energie wat daarmee gepaard gaan, dat my wêreld gou begin krimp tot die veiligheid van die bus en hotelkamers.
Na ‘n heerlike hotelontbyt vat die bus ons tot in die middestad van Amsterdam waar ons ‘n diamantslypery besoek. Sekuriteit is daar ‘n prioriteit en orals is kameras wat elke beweging van ons dophou. Ek kan hulle beslis nie kwalik neem nie, veral nie wanneer daar so ‘n groot groep mense is nie. Hierdie is die begin van ‘n ritueel waaraan ek gou gewoond raak: ‘n gids verduidelik innemend en in groot detail van alles wat in die proeses van diamantslypery gebeur (natuurlik swel my hart van trots wanneer daar na Suid-Afrika se diamante verwys word) en dan… kry die groep ‘n geleentheid om te koop. Laasgenoemde is op die ou einde waaroor alles gaan: toeriste met ‘sakke vol geld’.
Daar is darem gratis koffie vir diegene van ons wat nog nie deur die koopgier gepak is nie. Ek en Winnie beweeg gou weer buitentoe waar ons ons aan die straattonele vergaap. Soveel so dat Winnie per ongeluk reg voor ‘n fiets instap toe sy ‘n foto wil neem. Die middeljarige fietsryer is glad nie beïndruk met haar en sekerlik alle ander toeriste wat so argeloos die spesiale fietsrypaadjies bewandel nie. Kort voor lank is dit nogal ‘n senutergende storie vir ons om heeltyd uit die fietsers se pad en die immer geïrriteerde fietsklokkieklanke te bly. Boonop is ons, die Australianers en die Nieu Zeelanders gewoond daaraan om links te hou en soek ons gereeld in die verkeerde rigting vir aankomende verkeer wanneer ons ‘n straat moet kruis, of erger nog – die stille bestormers: fietse! Na ‘n oggend in Amsterdam is ek oortuig daarvan dat ek daardie aand nagmerries oor fietse gaan beleef…
Ons volgende busrit neem ons met ‘n skilderagtige roete uit Amsterdam deur klein dorpies (onder andere Broekindewater!) waar ons iewers eers moet wag dat die brug oor een rivier tydsaam opgehys word sodat ‘n groot boot onderdeur kan vaar. Dis asof ons almal ‘ervaringshonger’ is en net wil hê dat ongewone goed moet gebeur sodat ons later daaroor kan praat. Ons is soos groot kinders wat alles uitwys en ons aan alles vergaap.
Dis ‘n lieflike dag en ons ry verby grasgroen landerytjies, deur nou straatjies waar die huise netjies en afgerond in tipies Hollandse styl in die son staan en bak, op pad na die Ijselmeergebied wat geheel en al uit die see herwin is. Ons stop by ‘n kaasfabriek waar daar reeds twee ander groot toerbusse is en wanneer ons die gebou instap is die reuk van kaas onmiskenbaar. Ons gids wat vir ons die kaasmaakproses verduidelik is netjies in tradisionele Hollandse drag geklee. Dan gaan ons na die plek waar houtklompe gemaak word, met ‘n sjarmante en aantreklike, jong klompmaker wat duidelik onder die aandag floreer wanneer hy sy ambag demonstreer. Die hout waarmme klompe gemaak word is soortgelyk aan die van die wilgerhout vir krieketkolwe, hoor ons. Ek kan nie so lekker sien van waar ek agter in die groep staan nie, maar gelukkig is Aw, die Singapoeraan wat direk voor my staan, besig om alles af te neem en kan ek sommer in sy kameraskermpie sien wat aangaan. Die houtskaafsels ruik heerlik vars en na die tyd vra ek vir die outjie of ek ‘n handvol daarvan kan kry, vir sommer net. Hy gee nie om nie en sê dat hierdie skaafsels gebruik word vir die rookproses van sommige kase.
Hierna word ons in die winkeltjie losgelaat en is ons in ekstase oor al die mooi goed. Die miniatuur houtklompe is alles redelik duur, maar die porseleinsoeweniertjies is darem nie te erg nie. Ek besluit om my aandenkings daar te koop en dis eers later wat ek my man se woorde onthou, naamlik dat die gidse ‘n mens nie noodwendig na die goedkoopste plekke toe neem nie. Hulle het orals kontakte en word op een of ander manier gekompenseer wanneer hulle toergroepe na spesifieke winkels of fabrieke toe neem.
Van hier af ry ons na Volendam, ‘n vissersdorpie op die Ijselmeer, maar eers stop ons om foto’s te neem van een van die min windmeulens wat nog aktief in Holland is. Volendam is ‘n juweel – die mooiste, vrolikste plekkie met die heerlikste vakansie-atmosfeer wat verwelkomend in die son skitter. Dis tyd vir middagete en Ken wys vir ons waar die “billike” eetplek, De Koe, is. Agterna hoor ons by die wat wel daar gaan eet het dat dit vrek duur was. Die toilette waarheen hy ons beduie is ook reg in die middel van ‘n baie duur aandenkingswinkel!
Die hoofstraatjie is soos ‘n toneeltjie uit ‘n poskaart en op die onderpunt is daar tientalle bote vasgemeer in die kaai. Ek en Winnie loop die plek vol en dis hier waar ek ontdek dat die porseleinklompies wat ek gekoop het meer as die helfte goedkoper is as by die klompfabriek. Ons koop vir by ‘n stalletjie vir ons iets om te eet en te drink en gaan sit vir ‘n paar minute op ‘n bankie by die see. Dit is lekker om saam met Winnie rond te loop want sy raak opgewonde oor elke klein dingetjie wat sy sien. Ons stap in een van die dorpie se straatjies op en kom op die oulikste, tipiese Hollandse windmeultoneel af, waarna ons weer terug bus toe gaan.
Terug in Amsterdam word ons naby die Damplein agter die paleis afgelaai. Ken wys vir ons bakens uit, maar al wat ek tot my konsternasie later onthou, is die Byekorf-gebou aan die oorkant, totaal en al uit plek uit, omdat dit deel van die oggendekskursie was. Ons het die res van die middag vry en Ken stel voor dat die wat belangstel na die Anne Frank museum toe gaan. Ons moet die bus weer sesuur kry en as ons nie daar is nie, sal hy aanneem dat ons per trein terug hotel toe is. Ek en Winnie drentel agter ‘n klompie van die groep aan, maar wanneer ons by die museum kom is daar ellelange toue. Ons vra vir Ken waar die Vincent van Gogh museum is en hy bied aan om saam met ons daarheen te loop. Dis toe nogal r’n redelike afstand, maar ons gee nie om nie. Ek en Winnie verkyk ons so aan alles dat ons glad nie tred hou met die roete nie. Ons loop onder andere verby die Rijksmuseum (waarvoor ons tot ons spyt nie tyd sal hê nie) en Ken sê dat ons ‘n trem aan die agterkant by die Heineken brouery terug Damplein toe moet kry. Ek was die vorige dag natuurlik baie verbaas toe ek hoor dat Heineken ‘n Hollandse bier is, aangesien ek altyd gedog het dit is ‘n Duitse maatskappy. Die hele Amsterdam is vol Heineken brouerye. Gelukkig is die rye mense wat wag om by die Van Gogh-museum ion te gaan nie so lank nie. Die kaartjies jaag ons 15.50 gulde uit die sak en ons kry ‘n vloerplan van die museum om te verseker dat ons alles sien wat daar te siene is. Ek is effens teleurgestel wanneer ek na Vang Gogh se vroeë werke kyk, want dit is baie donker en somber. Daar is heelwat selfportrette van hom en dis ‘n ongelooflike ervaring om voor sy oorspronklike werke te kan staan en te sien wat die kunstenaar self gesien het. Hierdie gevoel word verder versterk wanneer ons na sy bekende sonneblomme en irisse kyk. Een van sy mooiste skilderye is ‘n goue koringland met ‘n viooltjieblou-pers hemel. Later sou ons self van hierdie goue koringlande op die toer sien en sou dit my onwillekeurig laat terugdink aan die Van Gogh-skildery. Dit neem nogal lank om deur alles te gaan en wanneer ons klaar is is ons skoon uitgeput. Buite in die straat hoop ons vuriglik dat ons Ken se instruksies vir die trem reg onthou, maar dit was in die kol. Ons begin al eksperts raak om die fietse wat geruisloos en sekuur op ons afpyl te ontduik en stap Vondelpark wat voor die Rijksmuseum is. Die tremkaartjie is nie duur nie, net 3 gulde en ons moet staan omdat die meeste mense van die werk af kom. Dis baie warm en ons is nie seker hoe ver ons van die Damplein af is nie en moet kort-kort uitkyk om te probeer sien waar ons is. Die strate lyk heel anders vanuit ‘n trem as van die sypaadjie af. By die plein klim ons af en gaan dan iets soek om te drink. ‘n Blikkie Fanta kos ‘n hele R12 in Suid-Afrikaanse geld (toe die ZAR heelwat sterker was as wat dit nou is!). Daarna loop ons met Kalverstraat af wat net vir voetgangers bedoel is – ‘n groot verligting, want teen hierdie tyd is ons siek en sat vir fiets.
Die winkels is soos krale ingeryg en ons loer oral in. In een van die dwarsstraatjies besef ons dat ons nie weet waar ons ons nou bevind het nie. Dit is al na ses en as ons nie blitsig terug by die bus kom nie, is ons voorland ‘n treinrit terug Schiphol toe. Ons kan die straat waar die bus geparkeer is op ons kaart sien, maar weet nie of ons links of regs moet loop of wat ons moet doen om dit te kry nie. Wanneer ons per ongeluk op die Damplein land, raak ons paniekerig. Winnie vra kort-kort om hulp, maar min dinge is so frustrerend as wanneer jou hulpgewer ook ‘n stadskaart uit sy of haar sak haal nie. Ons kies later blindelings koers, oortuig daarvan dat ons nooit die straat gaan kry nie. Wanneer ons uiteindelik ‘n toerbus sien, is dit nie ons s’n nie en net wanneer ons, twee minute voor die vertrektyd heeltemal moed verloor, sien ons ons bus en hardloop of ons lewens daarvan afhang. Ons val letterlik by die bus in, tot die vermaak van die ander wat reeds rustig sit en wag. Ons glimlag maar verleë saam, maar ons is inniglik dankbaar dat ons ons seer voete kan laat rus en in die gemak van die bus terug hotel toe kan gaan…