Lucerne, Switserland

Dis Saterdag wanneer ek in die hotel in Lucerne wakker word met die klank van kerkklokke wat iewers naby beier. Ek lê ‘n rukkie daarna en luister en wonder of die mense wat hier bly dit nog hoor en of hulle al te gewoond daaraan is, soos wanneer ‘n mens naby ‘n treinspoor bly en dit deel van die agtergrondsgeluide word.

Ontbyt in die beknopte eetkamertjie is graanvlokkies in piepklein bakkies, met klipharde broodrolletjies, koffie en lemoensap.

Dis ‘n bewolkte dag en deur die groot vensters van die bus lyk alles vandag vir my groener, heel waarskynlik omdat dit nie so warm en bedompig is nie. Die pad kronkel al langs ‘n rivier af en die huise en landerye staan stemmig en netjies ingeryg. Ons bestemming is die dorpie Kussnacht op die oewer van die Lucerne Meer waar ons op ‘n trein gaan klim waarmee ons teen die Rigi berg gaan opwurm. Ken het ons reeds gewaarsku dat stiptelikheid ‘n prioriteit vir die Switsers is, dus skarrel almal om so vinnig as moontlik ‘n sitplek te kry wanneer die trein by die halte aankom. Dan sit ons en kyk hoe ‘n jong man ‘n klompie melkkanne aflaai voor die trein skilpadstadig teen die berg opkruip.  Dit is duiselingwekkend hoog en die uitsig slaan ons asems weg, maar halfpad boontoe ry ons in ‘n digte misbank in.  Amper op die kruin moet ons uitklim. Daar is ‘n hysbak vir die wat nie kans sien vir die steil paadjie nie en helfte van die groep maak daarvan gebruik terwyl die res van ons boontoe loop. Daar is twee lewensgrootte kartonpoppe wat stil in die mistigheid staan – ‘n jongman en ‘n meisie in tradisionele Switserse drag. Ek en Winnie neem ‘n paar verspotte foto’s met ons gesigte in dié van die poppe s’n en dan gaan ons in die restaurant sit. ‘n Groot glas warm sjokolade en ‘n kort geselsie later neem ons die hysbak af na die treinvlak waar daar reeds ‘n ander toergroep ook saamdrom. Tot my verrassing hoor ek ‘n vrou Afrikaans praat en ek begin opgewonde met haar gesels.  Hulle is ‘n groepie van agt Afrikaners wat saam op ‘n bustoer is en vir die volgende paar dae loop ons mekaar orals raak.

Dit begin hard reën en ek besef dat dit die eerste dag is wat ek om een of ander duistere rede nie my sambreel saamgebring het nie.  Ek gebruik my drasak om my hare te probeer drooghou terwyl ‘n paar van ons naarstiglik na ons groep se kompartement soek. Die kondukteur hang by een van die waens uit, duidelik glad nie gelukkig met ons klompie verdwaaldes nie. Hy wys ‘n kwaai wysvinger na die agterste wa en roep: “Behind!” Dis egter die ander groep se wa, maar gelukkig kom Ken ons red en ons hol agter hom aan, verby die kondukteur wat lyk of hy hom bloediglik vir ons vererg het. Ons voel soos ‘n klomp stout kinders wat oor die vingers getik is en sit en giggel wanneer ons uiteindelik ons sitplekke kry en die trein kan wegtrek.

Halfpad ondertoe stop die trein en van daar af klim ons in ‘n groot kabelkar, maar alhoewel die mis effens gelig het, kan ons tot ons teleurstelling nog steeds nie veel sien nie.

By die onderpunt wag ‘n boot waarmee ons terug na Lucerne toe vaar. Ons stuurman praat Engels met ‘n sterk Duitse aksent, maar ons kan hom goed verstaan, anders as wat die geval was met die ontlyfde stem wat kort-kort oor die trein se luidsprekers opgeklink het. Hy vertel ons dat  daar in hierdie area nog steeds 12 vissersfamilies is en wys ‘n paar interessante bakens op die rivieroewer uit.

Dit reën wanneer ons terug in Lucerne aankom.  Die bus laai ons af en ons stap ‘n blok of twee tot by die Restaurant Staatkeller in die middestad vir ‘n tradisionele switserse ete. ‘n Ouerige vrou met ‘n diep altstem jodel op die klein verhogie – ‘n konsert is by die prys van die middagete ingesluit. Die musikante spring van die een instrument na die ander om hulle vaardighede ten ore te stel. Daar is ‘n basviool, klarinet, klavier en ‘n trekklavier. In ‘n stadium skommel hulle 5 Frankstukke in groot metaalbakke en boots so die geluid van klokke na.  ‘n Reuse alpehoring is volgende aan die beurt, gevolg deur ‘n baie ongewone musiekinstrument – ‘n werfbesem (in Liewe Heksie-styl) wat oor ‘n man se skouer gehou word. Hy slaan ritmies met ‘n stok van bo na onder op die besemstok, wat dan verskillende toonhoogtes (besemstokhoogtes?) tot gevolg het.

Die altvrou kry ‘n klompie van die gaste bymekaar wat op die verhogie moet gaan staan en kans kry om op die alpehorings te blaas en te probeer jodel. Voor elkeen ‘n kans kry, word hulle gevra van watter land af hulle kom, wat groot pret en toejuiging van die gehoor se kant af ontlok. Dan moet hulle bier drink en sy sing ‘n lied eie aan elkeen se land. Die Suid-Afrikaanse liedjie is Sarie Marais, maar met hulle uitspraak klink dit meer Hollands as Afrikaans.

Na ete loop ek saam met Winnie en Jessica in die winkels rond. Ek soek geskenkies vir my seuns in ‘n speelgoedwinkel en tussen die rakke en my fokus deur verloor ek die twee meisies. Dis heerlik om ‘n bietjie op my eie rond te snuffel. Intussen het dit opgehou reën en daar heers ‘n vrolike atmosfeer in die nat strate. Ek drentel tussen die winkels rond, probeer ‘n afdelingswinkel se gratis internetfasiliteite sonder om hond haar-af met die e-pos te maak, loer by ‘n parfuumwinkel in en koop houtmarionette by ‘n soewenierswinkeltjie.

Dan loop ek rustig rond tot by die Chapel-brug en is onmiddellik gek daaroor. Die hele brug is van hout gemaak met rye en rye blombakke gevul met helder blomme wat aan die buitekant van die brug hang. Dit is ‘n toe brug en binne-in is sulke driehoekgeweltjies waarop die mooiste middeleuse toneeltjies geverf is. Ek vergaap my daaraan en daarna gaan staan ek vir ‘n rukkie stil op die brug om na die rivier en die mense aan die ander kant te kyk. Die toneeltjie voor my is idillies met die ingerygde geboue en straatkafeetjies waar mense rustig buite sit en eet en gesels.

Iewers bespeel ‘n straatmusikant ‘n harp, wat die atmosfeer nog meer dromerig en romanties maak.

Ek stap verder en dan met ‘n ander brug weer terug oor die rivier waarna ek in Leo en Lisa, twee Australiërs van die toergroep, vasloop. Lisa vra of ek al my teelepel – met komplimente van die toergroep – in die Bucherer-winkel gaan haal het. Dis ‘n groot plek wat Rolex-horlosies en ander duur juweliersware verkoop. Ek voel effe geïntimideerd om in te gaan, maar Lisa oortuig my dat ek my gratis lepeltjie moet gaan haal. Sy haak summier by my in en loop saam met my.  Die pryse in die winkel is skrikwekkend hoog, maar ‘n rukkie later het ek die lepeltjie in my sak en stap ons weer uit.

Ek is lus om iewers koffie te drink en alhoewel Leo en Lisa saam met my gaan sit, wil hulle niks bestel nie. Die kelner is baie vies daaroor (‘n mens mag nie sommer net ‘n stoel beset nie!) en sê sonder om doekies om te draai dat hulle nie daar kan piekniek hou nie.  Ek voel soos ‘n gek wanneer hulle vir my staan en wag terwyl ek my koffie drink.

Terug by die hotel wag ‘n faks van my man af vir my en ek maak dadelik al my kleingeld bymekaar om te bel. Na ‘n kort gesprek met hom en die kinders voel ek sommer stukke beter en klim moeg maar tevrede in die bed.

Amsterdam tot Ludwigshafen

Vroegoggend op die bus besef ek dat hierdie reis met al die indrukke, beelde, mense en tale (en moenie van die fietse vergeet nie!) my emosies heeltemal oorspoel. Ek was vroeg wakker en dit het my ‘n hele paar minute gevat om uit te werk waar presies ek is en wat die dag en datum is. Ek bly myself afvra hoekom ek so gek was om so ver te reis, weg van my gesin af!  Vandag is dit die eerste keer wat Ken vir ons musiek opsit en dit skep ‘n vrolike atmosfeer in die bus.  My swaar gemoed begin gaandeweg ligter word.  Ek het van die begin af geweet dat dit nie maklik gaan wees om op my eie te reis nie, en ek weet ook dat ek nie kan toelaat dat dit my vakansie bederf nie.  As ek nie die beste van hierdie situasie maak nie, kon ek net sowel by die huis gebly het.

Op pad net nadat ons van Utrecht af Duitsland toe weggedraai het, kom die oggend se eerste krisis wanneer Ken vir ons breedvoerig verduidelik hoe die opsionele uitstappies werk – heeltemal anders as wat ek gedog het toe ons na die toerplan gekyk het. Ek was onder die indruk dat dit outomaties gebeur en dat ‘n mens net elke keer hoef te besluit of jy daarop wil gaan of nie. Nou hoor ek dat Ken 21 van hierdie uitstappies gekies het waarvoor ons dan ekstra moet betaal en basies kom dit daarop neer dat ‘n mens baie gaan mis as jy nie saamgaan nie.

Dis ‘n groot dilemma, want my ‘sakgeld’ is in ‘n hele paar verskillende denominasies (dit was voor die Euro) en dis ‘n nagmerrie om sommetjies te maak om te sien wat ek in watter geldeenheid kan bekostig en dan nog etes en soeweniers kan dek. Omdat ek soveel kontant gehad het, het ek my kredietkaart by die huis gelos. Ek moet mooi besluit watter van die uitstappies noodsaaklik is en watter ek maar kan mis…

Om twintig oor drie die middag klim ons op ‘n boot vir ons Rynriviervaart, in die dorpie Boppart. Dis ‘n idillies mooi dag – daar is nie ‘n wolkie in die lug nie en die kontrasterende kleure van die blou water, die groen landskap en die Duitse poskaarthuisies skep ‘n besonderse, dromerige atmosfeer. Ek en Winnie kan eers nie besluit waar ons op die boot wil sit nie – op die bo-dek raak dit gou hopeloos te warm en dan gaan sit ons onder, waar ons met ‘n Meksikaanse gesin (‘n ma en drie van haar kinders) ‘n geselsie aanknoop. Die seun, German, praat vlot Engels, dus doen hy die meeste van die praatwerk terwyl die ander drie glimlag en kopknik wanneer hulle saamstem. Eers in Spanje vind ek uit dat dit soms moeilik is om Spaanssprekendes te verstaan omdat hulle die v-klank meestal met ‘n b-klank vervang.

Ons vaar verby Bad Salzig, bekend vir sy mineraalbaddens, waarna ons die eerste kastele begin sien, onder andere die Maus-kasteel wat in die 13de eeu deur die hertog van Katzenellenbogen gebou is. Dit lê hoog teen die berg met ‘n hele ry vlae wat vrolik in die wind wapper. By St. Goar met die bekende Lorelei-rots, onthou ek weer die legende van die Lorelei waarvan ek as kind gelees het en vertel vir Winnie daarvan. Volgens Ken is ‘n monument hier in 1984 opgerig en is die diepste punt van die Ryn hier naby.

Later klim ons van die boot op die bus tot by ons bestemming, Ludwigshafen, waar ons die aand oorslaap. Ludwigshafen het blykbaar die derde grootste hawe aan die Rynrivier, maar ons kry nie veel van die stad te sien nie omdat ons deur industriële gebied direk na die hotel toe ry.

Aandete in die hotel en ek en Winnie deel ‘n tafel met Sargon en Mary van Australië, maar Sargon lyk vir my òf Lebanees,  òf Iranees of een van daardie lande. Ons hoor egter dat hy in Rusland gebore is, wel in Iran gebly het, daarna in Israel en uiteindelik in Australië. Dwarsdeur die toer was hy die gentleman, terwyl Mary altyd vriendelik en in ‘n goeie bui was.

Na ete gaan ek en Winnie stap, maar die strate rondom die hotel is amper verlate, behalwe vir ‘n blonde jongman wat teen ‘n geweldige spoed in sy rooi sportmotor verby ons jaag. Daar is ‘n koffieplek wat oop is en wanneer ons vir die outjie agter die roomystoonbank probeer vra hoeveel die koffie kos, praat hy nie ‘n woord Engels nie, maar met handgebare vind ons uit dat dit 3 Duitse mark is en hy beduie na ‘n tafeltjie en sê in ‘n mengsel van Engels en Duits: “Sit. Bedienung kommt.” Of so iets. Ek en Winnie giggel omdat almal buite hulle vaarwater met die vreemde tale is en ons gesels lekker terwyl ons koffie drink.

Winnie stap daarna terug hotel toe terwyl ek ‘n poging aanwend om vanaf ‘n telefoonhokkie huis toe te probeer bel. Ek weet nie hoe die internasionale bellery werk nie en toe ek twee vrouens wat verbyloop probeer vra, kan nie een van hulle ‘n woord Engels verstaan nie. Ek diep daar ‘n paar Duitse woorde op wat baie ver weggebêre is, net om uit te vind dat daar nêrens ‘n telefoongids is nie. Ek stap dus toe bek-af en onvergenoegd terug hotel toe. Môre is nog ‘n dag en ek sal hopelik wel van iewers af kan bel.