Groen Weense woude in ‘n bus wat saggies om die kronkelpaaie gly…

Vyfuur die middag is ons weer op die bus. Ken verduidelik dat die woudgebiede baie gewild is, veral omdat die klimaat daar so aangenaam is. Dit is heelwat koeler as in Wene self en die humiditeit is ook minder.  Ons pad vat ons eers deur die industriële gebied en dis interessant om soveel bekende handelsmerke raak te sien, soos Tupperware, onder andere.  Ek vra vir Donna of hulle in Amerika ook Tupperware het en sy sê ja.  Ons lag dadelik lekker daaroor, want die idee roep onmiddellik prentjies van kaste vol plastiekhouers op.  Daar is ook Spar supermarkte en dan weer ‘n ligte herinnering daaraan dat ons in Europa is met die groot groen borde wat die rigting na Budapest en Bratislava aandui. Iemand vra vir Ken hoe dit moontlik is dat al die mense nuwe karre ry en hy antwoord dat  alle tweedehandse karre in Oos-Europa verkoop word waar daar minder geld in omloop is.

Ons ry tot by ‘n dorpie met die naam van Heiligenkreuz waar ons afklim om na die kerkie te gaan kyk.  Dis kwart voor 6 en ‘n tipiese laatmiddag, stiller atmosfeer heers.  Die kerk is aan die een kant, die klooster aan die ander kant en saam vorm dit ‘n groot binnehof waarin ‘n reuse ou boom groei.  Sy takke sprei wyd uit en langs dit is ‘n indrukwekkende standbeeld van ‘n man met goue septers en ander versierings.  Hierdie is ook in die barokstyl, verduidelik Ken.  Die kerk behoort aan die Silent Order en binne mag ons nie praat nie, net in stil rye voortskuifel en van agter die tralies na alles kyk. Hierdie kerk en klooster is in die tyd van die Turke vernietig maar is later heeltemal oorgebou.  Terwyl ons daar is, begin die reusagtige groot klokke  skielik beier – dit is ‘n belewenis om te hoor, amper skrikwekkend met ‘n diep, swaar klank.  Die koepeltoring is uivormig en herinner mens aan Russiese koepels, satyngroen aangeslaan in die laatmiddaglig.  Ek wens ek kon langer bly en die atmosfeer verder absorbeer, maar ons is nog nie by ons bestemming nie en moet terug bus toe.  By ‘n restaurant langs die kerk is hulle besig om die tafels gereed te kry vir die aand en groot bome gooi reuseskadu’s oor die plein wanneer ons vertrek.

Verder aan ry ons deur die dorpie Meiling wat sy eie besonderse geskiedenis het, ook verbind aan die Habsburgse vorstehuis.  Een van die prinse, Rudolf, het ‘n minnares in hierdie dorp gehad en toe hy in ‘n stadium gedwing word om van haar af te sien, het hy en sy een aand gaste oorgenooi vir ete, lekker gekuier en na die tyd het hulle twee selfmoord gepleeg.  Die jagtershut waarin dit gebeur het is omskep in ‘n klooster wat vandag nog in gebruik is.

Van Meiling af raak die roete al hoe interessanter.  Ons ry deur Helenental  en ek wonder wat die geskiedenis agter die naam is.  Die bus beweeg seepglad oor die padoppervlak. Dit, saam met die musiek en die groen-groen woude verleen ‘n dromerige atmosfeer aan alles.  Die woude is digbegroei, hoog en so naby dat dit voel asof jy jou hand kan uitsteek en daaraan kan raak.  Die eerste ent het ons kol-kol dorpies gekry wat soms letterlik in die voue van die berge ingepas is en plek-plek ook netjies bewerkte landerye waar ‘n mens ver kon sien, maar nou is dit net woud op woud op woud.  Ek kan nie genoeg kry van die bome nie en moet my neus omtrent teen die busvenster druk wanneer ek wil kyk hoe hoog dit hemelwaarts reik.

In die dorpie Baden stop ons.  Baden is ‘n eksklusiewe oord vir die rykes en die rustiges.  Die stad is veral gesog vir sy mineraalbaddens wat gallerhande genesende kwaliteite het – enige kwint en kwaal, van rumatiek tot velsiektes word glo hier gekuur.  Ons klim by ‘n tuin-park af wat ‘n rosarium genoem word en stap daar rond.  Dit is met sorg uitgelê en baie groot.  Dis die een netjiese roosbedding op die ander, almal sorgvuldig met ‘n naamplaat geïdentifisser.  Iemand sien die Nieu Seelandse roos wat of heeltemal uitgeblom het of glad nie hier gedy nie.  Daar is ‘n rustige atmosfeer en mense stap oral rond, veral rondom die meer wat aan die ander kant is.  Ek breek stilletjie ‘n stukkie boombas van een van die bome af om huis toe te neem.

Terug op die bus vertel Ken vir ons dat Baden se baddens reeds sedert die Romeinse tyd gebruik word, veral later deur die Habsburgse koningshuise wat hier ‘n kasteel gehad het – Kasteel Liechtenstein.  Dit troon hoog bo die dorp uit.  Dan die volgende brokkie inligting:  hier in die Liechtenstein kasteel het Schubert sy werk “Unter den Linden” gekomponeer.  Beethoven was hier in Baden toe hy sy 9de simfonie gekomponeer het en ook Mozart het dikwels hierheen gekom.

Van hier af kry ons baie wingerde.  Ons finale bestemming vir die aand:  Gumpeldskirchen,  ‘n klein dorpie waar hulle self wyn maak.  Die straatjies is besonders nou wanneer ons daar aankom en die bus moet half uit die dorp uit parkeer.  Die taverne waarheen ons loop is lank en nou, strek van die een dwarsstraatjie tot die ander.  Ons sit buite by groot tafels.  Daar is reeds ‘n ander groep wat deur die musikant van die aand – ‘n trekklavierspeler met ‘n wilde woeste blonde snor – opgekommandeer is om ‘n paar danspassies uit te voer. Hy gryp ons groep nog voor ons kans kry om te kan sit.  Wanneer ons uiteindelik by ons plekke kan plaasneem, gaan hy aan met sy manewales en heers daar ‘n ontspanne, vrolike atmosfeer.  Ons kry kraffies en flesse vol wyn, Spritzer (‘n mengsel van wyn en mineraalwater) en bier.  Daarna brood met kaas en gerookte spek, slaai (wortel en kool en ‘n soort aartappel) en later hoender en vark in groot opskepborde.  Die flesse en glase word volgehou en die gelag en gesels neem toe in volume.  Ons musikant speel verskillende volksliedjies, Sarie Marais ook.  Almal sing en dans lustig saam, want die tonge raak los.  Die jodel is weereens ‘n bron van groot vermaak.  Sharon sit langs my (sy is ‘n Kanadees) en ons giggel vir alles en almal.  ‘n Seningrige, maer vrou met ‘n miniromp en pikswart hare kom neem foto’s van paartjies met ‘n Poloroid (die soort wat Bee destyds ‘n kiekiekakker genoem het!).  Sy vra: You like? You like? En ‘n rukkie later kom sy terug met die foto’s netjies in ‘n sleutelhouer, wat natuurlik 99 Schilling kos.  Dominic probeer nog oor die prys kibbel maar sy wil niks daarvan hoor nie en neem die houertjies baie vies weg.  Graham, die kaalkop Australiër wat tot dusver heel besadig bedeesd en gereserveerd was, is ‘n bron van groot pret.  Hy klim behoorlik uit sy kassie uit en laat almal lag.  Ek kyk later op my horlosie en sien dat dit amper nege-uur is.  Ek het belowe om huis toe te bel vir die tweeling se verjaarsdag, maar as ek die klompie mense so kyk, gaan ons vanaand beslis nie vroeg wegkom soos bepan nie.  Ek raak senuweeagtig en gaan soek na ‘n telefoonhokkie van waar ek kan bel.  Ek kry een, maar dit werk net met munte en ek het ‘n telefoonkaart wat ek moet gebruik anders verloor ek dit.  Ek vra vir Ken hoe laat ons gaan ry, met die doel om hom sover te kry om almal bymekaar te roep, maar ek is nie baie suksesvol nie. Ek sit my pruilgesiggie op en Sharon vra wat’s fout.  Sy probeer help om die klompie op te kommandeer, maar ons word lustig geïgnoreer.  Uiteindelik begin almal die boodskap kry en drentel bus toe.

Gelukkig neem ons hierdie keer die kortpad terug Wene toe en arriveer ons om tienuur by die hotel.  Ek spring eerste uit die bus om te gaan bel, maar ons huisnommer in Suid-Afrika is beset.  Ek probeer keer op keer maar kom eenvoudig nie deur nie.  Teen hierdie tyd is ek al hoogs ontsteld en is lus om in trane uit te bars.  Net toe ek finaal opgee en wil terugloop hoor ek hoe iemand my naam noem. Dis Ken, met ‘n faks van Manlief af in sy hand wat hy al die pad vir my gebring het.  Ek gaan eers terug kamer toe om dit te lees en probeer dan later weer bel. Uiteindelik is ek suksesvol en my hart blom.  Ek kry ‘n kansie om met almal te gesels en wanneer ek later uitgeput op my hotelbed neerplons, is dit met die wete dat dit goed met my liefhêmense gaan…