Amsterdam tot Ludwigshafen

Vroegoggend op die bus besef ek dat hierdie reis met al die indrukke, beelde, mense en tale (en moenie van die fietse vergeet nie!) my emosies heeltemal oorspoel. Ek was vroeg wakker en dit het my ‘n hele paar minute gevat om uit te werk waar presies ek is en wat die dag en datum is. Ek bly myself afvra hoekom ek so gek was om so ver te reis, weg van my gesin af!  Vandag is dit die eerste keer wat Ken vir ons musiek opsit en dit skep ‘n vrolike atmosfeer in die bus.  My swaar gemoed begin gaandeweg ligter word.  Ek het van die begin af geweet dat dit nie maklik gaan wees om op my eie te reis nie, en ek weet ook dat ek nie kan toelaat dat dit my vakansie bederf nie.  As ek nie die beste van hierdie situasie maak nie, kon ek net sowel by die huis gebly het.

Op pad net nadat ons van Utrecht af Duitsland toe weggedraai het, kom die oggend se eerste krisis wanneer Ken vir ons breedvoerig verduidelik hoe die opsionele uitstappies werk – heeltemal anders as wat ek gedog het toe ons na die toerplan gekyk het. Ek was onder die indruk dat dit outomaties gebeur en dat ‘n mens net elke keer hoef te besluit of jy daarop wil gaan of nie. Nou hoor ek dat Ken 21 van hierdie uitstappies gekies het waarvoor ons dan ekstra moet betaal en basies kom dit daarop neer dat ‘n mens baie gaan mis as jy nie saamgaan nie.

Dis ‘n groot dilemma, want my ‘sakgeld’ is in ‘n hele paar verskillende denominasies (dit was voor die Euro) en dis ‘n nagmerrie om sommetjies te maak om te sien wat ek in watter geldeenheid kan bekostig en dan nog etes en soeweniers kan dek. Omdat ek soveel kontant gehad het, het ek my kredietkaart by die huis gelos. Ek moet mooi besluit watter van die uitstappies noodsaaklik is en watter ek maar kan mis…

Om twintig oor drie die middag klim ons op ‘n boot vir ons Rynriviervaart, in die dorpie Boppart. Dis ‘n idillies mooi dag – daar is nie ‘n wolkie in die lug nie en die kontrasterende kleure van die blou water, die groen landskap en die Duitse poskaarthuisies skep ‘n besonderse, dromerige atmosfeer. Ek en Winnie kan eers nie besluit waar ons op die boot wil sit nie – op die bo-dek raak dit gou hopeloos te warm en dan gaan sit ons onder, waar ons met ‘n Meksikaanse gesin (‘n ma en drie van haar kinders) ‘n geselsie aanknoop. Die seun, German, praat vlot Engels, dus doen hy die meeste van die praatwerk terwyl die ander drie glimlag en kopknik wanneer hulle saamstem. Eers in Spanje vind ek uit dat dit soms moeilik is om Spaanssprekendes te verstaan omdat hulle die v-klank meestal met ‘n b-klank vervang.

Ons vaar verby Bad Salzig, bekend vir sy mineraalbaddens, waarna ons die eerste kastele begin sien, onder andere die Maus-kasteel wat in die 13de eeu deur die hertog van Katzenellenbogen gebou is. Dit lê hoog teen die berg met ‘n hele ry vlae wat vrolik in die wind wapper. By St. Goar met die bekende Lorelei-rots, onthou ek weer die legende van die Lorelei waarvan ek as kind gelees het en vertel vir Winnie daarvan. Volgens Ken is ‘n monument hier in 1984 opgerig en is die diepste punt van die Ryn hier naby.

Later klim ons van die boot op die bus tot by ons bestemming, Ludwigshafen, waar ons die aand oorslaap. Ludwigshafen het blykbaar die derde grootste hawe aan die Rynrivier, maar ons kry nie veel van die stad te sien nie omdat ons deur industriële gebied direk na die hotel toe ry.

Aandete in die hotel en ek en Winnie deel ‘n tafel met Sargon en Mary van Australië, maar Sargon lyk vir my òf Lebanees,  òf Iranees of een van daardie lande. Ons hoor egter dat hy in Rusland gebore is, wel in Iran gebly het, daarna in Israel en uiteindelik in Australië. Dwarsdeur die toer was hy die gentleman, terwyl Mary altyd vriendelik en in ‘n goeie bui was.

Na ete gaan ek en Winnie stap, maar die strate rondom die hotel is amper verlate, behalwe vir ‘n blonde jongman wat teen ‘n geweldige spoed in sy rooi sportmotor verby ons jaag. Daar is ‘n koffieplek wat oop is en wanneer ons vir die outjie agter die roomystoonbank probeer vra hoeveel die koffie kos, praat hy nie ‘n woord Engels nie, maar met handgebare vind ons uit dat dit 3 Duitse mark is en hy beduie na ‘n tafeltjie en sê in ‘n mengsel van Engels en Duits: “Sit. Bedienung kommt.” Of so iets. Ek en Winnie giggel omdat almal buite hulle vaarwater met die vreemde tale is en ons gesels lekker terwyl ons koffie drink.

Winnie stap daarna terug hotel toe terwyl ek ‘n poging aanwend om vanaf ‘n telefoonhokkie huis toe te probeer bel. Ek weet nie hoe die internasionale bellery werk nie en toe ek twee vrouens wat verbyloop probeer vra, kan nie een van hulle ‘n woord Engels verstaan nie. Ek diep daar ‘n paar Duitse woorde op wat baie ver weggebêre is, net om uit te vind dat daar nêrens ‘n telefoongids is nie. Ek stap dus toe bek-af en onvergenoegd terug hotel toe. Môre is nog ‘n dag en ek sal hopelik wel van iewers af kan bel.

Amsterdam per bus, trem en te voet…

Dis een van die kontraste daarvan om op toer in Europa te wees, kom ek agter.   Aan die een kant raak ek intens bewus van hoe groot die wêreld is, met miljoene mense wat elkeen sy of haar wêreldjie as uniek beleef, maar aan die ander kant veroorsaak juis die skaal van alles wat ons beleef en die emosionele energie wat daarmee gepaard gaan, dat my wêreld gou begin krimp tot die veiligheid van die bus en hotelkamers.

Na ‘n heerlike hotelontbyt vat die bus ons tot in die middestad van Amsterdam waar ons ‘n diamantslypery besoek. Sekuriteit is daar ‘n prioriteit en orals is kameras wat elke beweging van ons dophou.  Ek kan hulle beslis nie kwalik neem nie, veral nie wanneer daar so ‘n groot groep mense is nie. Hierdie is die begin van ‘n ritueel waaraan ek gou gewoond raak: ‘n gids verduidelik innemend en in groot detail van alles wat in die proeses van diamantslypery gebeur (natuurlik swel my hart van trots wanneer daar na Suid-Afrika se diamante verwys word) en dan… kry die groep ‘n geleentheid om te koop. Laasgenoemde is op die ou einde waaroor alles gaan: toeriste met ‘sakke vol geld’.

Daar is darem gratis koffie vir diegene van ons wat nog nie deur die koopgier gepak is nie. Ek en Winnie beweeg gou weer buitentoe waar ons ons aan die straattonele vergaap. Soveel so dat Winnie per ongeluk reg voor ‘n fiets instap toe sy ‘n foto wil neem. Die middeljarige fietsryer is glad nie beïndruk met haar en sekerlik alle ander toeriste wat so argeloos die spesiale fietsrypaadjies bewandel nie. Kort voor lank is dit nogal ‘n senutergende storie vir ons om heeltyd uit die fietsers se pad en die immer geïrriteerde fietsklokkieklanke te bly. Boonop is ons, die Australianers en die Nieu Zeelanders gewoond daaraan om links te hou en soek ons gereeld in die verkeerde rigting vir aankomende verkeer wanneer ons ‘n straat moet kruis, of erger nog – die stille bestormers: fietse! Na ‘n oggend in Amsterdam is ek oortuig daarvan dat ek daardie aand nagmerries oor fietse gaan beleef…

Ons volgende busrit neem ons met ‘n skilderagtige roete uit Amsterdam deur klein dorpies (onder andere Broekindewater!) waar ons iewers eers moet wag dat die brug oor een rivier tydsaam opgehys word sodat ‘n groot boot onderdeur kan vaar.  Dis asof ons almal ‘ervaringshonger’ is en net wil hê dat ongewone goed moet gebeur sodat ons later daaroor kan praat. Ons is soos groot kinders wat alles uitwys en ons aan alles vergaap.

Dis ‘n lieflike dag en ons ry verby grasgroen landerytjies, deur nou straatjies waar die huise netjies en afgerond in tipies Hollandse styl in die son staan en bak, op pad na die Ijselmeergebied wat geheel en al uit die see herwin is. Ons stop by ‘n kaasfabriek waar daar reeds twee ander groot toerbusse is en wanneer ons die gebou instap is die reuk van kaas onmiskenbaar. Ons gids wat vir ons die kaasmaakproses verduidelik is netjies in tradisionele Hollandse drag geklee. Dan gaan ons na die plek waar houtklompe gemaak word, met ‘n sjarmante en aantreklike, jong klompmaker wat duidelik onder die aandag floreer wanneer hy sy ambag demonstreer. Die hout waarmme klompe gemaak word is soortgelyk aan die van die wilgerhout vir krieketkolwe, hoor ons. Ek kan nie so lekker sien van waar ek agter in die groep staan nie, maar gelukkig is Aw, die Singapoeraan wat direk voor my staan, besig om alles af te neem en kan ek sommer in sy kameraskermpie sien wat aangaan. Die houtskaafsels ruik heerlik vars en na die tyd vra ek vir die outjie of ek ‘n handvol daarvan kan kry, vir sommer net. Hy gee nie om nie en sê dat hierdie skaafsels gebruik word vir die rookproses van sommige kase.

 

Hierna word ons in die winkeltjie losgelaat en is ons in ekstase oor al die mooi goed.  Die miniatuur houtklompe is alles redelik duur, maar die porseleinsoeweniertjies is darem nie te erg nie. Ek besluit om my aandenkings daar te koop en dis eers later wat ek my man se woorde onthou, naamlik dat die gidse ‘n mens nie noodwendig na die goedkoopste plekke toe neem nie. Hulle het orals kontakte en word op een of ander manier gekompenseer wanneer hulle toergroepe na spesifieke winkels of fabrieke toe neem.

 Van hier af ry ons na Volendam, ‘n vissersdorpie op die Ijselmeer, maar eers stop ons om foto’s te neem van een van die min windmeulens wat nog aktief in Holland is.  Volendam is ‘n juweel – die mooiste, vrolikste plekkie met die heerlikste vakansie-atmosfeer wat verwelkomend in die son skitter.  Dis tyd vir middagete en Ken wys vir ons waar die “billike” eetplek, De Koe, is. Agterna hoor ons by die wat wel daar gaan eet het dat dit vrek duur was. Die toilette waarheen hy ons beduie is ook reg in die middel van ‘n baie duur aandenkingswinkel! 

Die hoofstraatjie is soos ‘n toneeltjie uit ‘n poskaart en op die onderpunt is daar tientalle bote vasgemeer in die kaai.  Ek en Winnie loop die plek vol en dis hier waar ek ontdek dat die porseleinklompies wat ek gekoop het meer as die helfte goedkoper is as by die klompfabriek. Ons koop vir by ‘n stalletjie vir ons iets om te eet en te drink en gaan sit vir ‘n paar minute op ‘n bankie by die see. Dit is lekker om saam met Winnie rond te loop want sy raak opgewonde oor elke klein dingetjie wat sy sien.  Ons stap in een van die dorpie se straatjies op en kom op die oulikste, tipiese Hollandse windmeultoneel af, waarna ons weer terug bus toe gaan. 

Terug in Amsterdam word ons naby die Damplein agter die paleis afgelaai.  Ken wys vir ons bakens uit, maar al wat ek tot my konsternasie later onthou, is die Byekorf-gebou aan die oorkant, totaal en al uit plek uit, omdat dit deel van die oggendekskursie was.  Ons het die res van die middag vry en Ken stel voor dat die wat belangstel na die Anne Frank museum toe gaan.  Ons moet die bus weer sesuur kry en as ons nie daar is nie, sal hy aanneem dat ons per trein terug hotel toe is.  Ek en Winnie drentel agter ‘n klompie van die groep aan, maar wanneer ons by die museum kom is daar ellelange toue. Ons vra vir Ken waar die Vincent van Gogh museum is en hy bied aan om saam met ons daarheen te loop.  Dis toe nogal r’n redelike afstand, maar ons gee nie om nie.  Ek en Winnie verkyk ons so aan alles dat ons glad nie tred hou met die roete nie. Ons loop onder andere verby die Rijksmuseum (waarvoor ons tot ons spyt nie tyd sal hê nie) en Ken sê dat ons ‘n trem aan die agterkant by die Heineken brouery terug Damplein toe moet kry. Ek was die vorige dag natuurlik baie verbaas toe ek hoor dat Heineken ‘n Hollandse bier is, aangesien ek altyd gedog het dit is ‘n Duitse maatskappy.  Die hele Amsterdam is vol Heineken brouerye.  Gelukkig is die rye mense wat wag om by die Van Gogh-museum ion te gaan nie so lank nie. Die kaartjies jaag ons 15.50 gulde uit die sak en ons kry ‘n vloerplan van die museum om te verseker dat ons alles sien wat daar te siene is.  Ek is effens teleurgestel wanneer ek na Vang Gogh se vroeë werke kyk, want dit is baie donker en somber.   Daar is heelwat selfportrette van hom en dis ‘n ongelooflike ervaring om voor sy oorspronklike werke te kan staan en te sien wat die kunstenaar self gesien het.  Hierdie gevoel word verder versterk wanneer ons na sy bekende sonneblomme en irisse kyk. Een van sy mooiste skilderye is ‘n goue koringland met ‘n viooltjieblou-pers hemel. Later sou ons self van hierdie goue koringlande op die toer sien en sou dit my onwillekeurig laat terugdink aan die Van Gogh-skildery.  Dit neem nogal lank om deur alles te gaan en wanneer ons klaar is is ons skoon uitgeput.  Buite in die straat hoop ons vuriglik dat ons Ken se instruksies vir die trem reg onthou, maar dit was in die kol. Ons begin al eksperts raak om die fietse wat geruisloos en sekuur op ons afpyl te ontduik en stap Vondelpark wat voor die Rijksmuseum is.  Die tremkaartjie is nie duur nie, net 3 gulde en ons moet staan omdat die meeste mense van die werk af kom.  Dis baie warm en ons is nie seker hoe ver ons van die Damplein af is nie en moet kort-kort uitkyk om te probeer sien waar ons is.  Die strate lyk heel anders vanuit ‘n trem as van die sypaadjie af.  By die plein klim ons af en gaan dan iets soek om te drink. ‘n Blikkie Fanta kos ‘n hele R12 in Suid-Afrikaanse geld (toe die ZAR heelwat sterker was as wat dit nou is!).  Daarna loop ons met Kalverstraat af wat net vir voetgangers bedoel is – ‘n groot verligting, want teen hierdie tyd is ons siek en sat vir fiets.

Die winkels is soos krale ingeryg en ons loer oral in. In een van die dwarsstraatjies besef ons dat ons nie weet waar ons ons nou bevind het nie. Dit is al na ses en as ons nie blitsig terug by die bus kom nie, is ons voorland ‘n treinrit terug Schiphol toe.  Ons kan die straat waar die bus geparkeer is op ons kaart sien, maar weet nie of ons links of regs moet loop of wat ons moet doen om dit te kry nie. Wanneer ons per ongeluk op die Damplein land, raak ons paniekerig. Winnie vra kort-kort om hulp, maar min dinge is so frustrerend as wanneer jou hulpgewer ook ‘n stadskaart uit sy of haar sak haal nie. Ons kies later blindelings koers, oortuig daarvan dat ons nooit die straat gaan kry nie.  Wanneer ons uiteindelik ‘n toerbus sien, is dit nie ons s’n nie en net wanneer ons, twee minute voor die vertrektyd heeltemal moed verloor, sien ons ons bus en hardloop of ons lewens daarvan afhang. Ons val letterlik by die bus in, tot die vermaak van die ander wat reeds rustig sit en wag. Ons glimlag maar verleë saam, maar ons is inniglik dankbaar dat ons ons seer voete kan laat rus en in die gemak van die bus terug hotel toe kan gaan…

Dag twee – Londen tot Amsterdam

Om vroeg wakker te word was vanoggend behoorlik ‘n verligting – my drome was chaoties en deurmekaar, aangespoor deur die naglawaai in die straat onder my hotelkamer en onrustigheid in my onderbewussyn oor die toer wat voorlê.

Die groot Trafalgartoerbus het reeds in ‘n systraatjie gestaan en luier toe ek met my tas aangesukkel gekom het. Die toergids, ‘n korterige, skraal mannetjie, het homself in ‘n Britse aksent voorgestel as Ken. 

‘n Rukkie later kom ‘n middeljarige vrou langs my sit. Haar naam is Dana en sy bly in Florida, Amerika.  Ken het gesê dat sy by my moet sit, want ons twee sal vir die duur van die toer ‘n kamer deel.

Voor ons uit Londen vertrek, stop die bus eers naby Trafalgarplein waar die laaste klomp toerlede opklim – 54 van ons in totaal. Die busbestuurder, José, kan nie ‘n woord Engels praat nie en is reusagtig groot, maar baie vriendelik. Ek spring gou uit om poskaarte te koop en skrik my byna lam toe ek uit die klein winkeltjie kom en vir ‘n oomblik nie weet in watter rigting die bus geparkeer is nie.  Stel jou die dilemma voor om op die eerste dag al die bus te verpas! Ek vat ‘n drafstappie na die punt van die straat en wil huil van verligting wanneer ek die bus ‘n entjie verder sien. 

Ken verwelkom die hele groep en vra waar almal vandaan kom.  Die helfte is Australiërs, daar is ongeveer 8 Nieu Zeelanders, drie van Amerika, ‘n paartjie van Mauritius af (hulle huistaal is Frans), ‘n jong paartjie van Singapoer af – hulle twee dogtertjies Melissa en Susannah toer saam, ‘n middeljarige paar van Kanada af en ons is sewe Suid-Afrikaners.  Die ander Suid-Afrikaners is Indiërs wat soos ek, almal in Kwa-Zulu Natal bly. Daar is nog ‘n vyfjarige dogtertjie op die toer, haar naam is Rebecca en sy en haar ouers, Lynda en Lino, is van Australië af.

Ons kruiskruip deur die strate van London voor ons uiteindelik op die pad na Dover toe is.  Net voor tienuur is ons in ‘n lang tou van busse en motors wat almal in die groot ruim van die Burgundy, ‘n reuse veerboot, parkeer. Ek is verstom oor hoeveel ander busse reeds daar is en Ken sê dat ons moet seker maak hoe ons bus lyk en waar dit geparkeer is voordat ons uitklim.  Intussen het ek uitgevind dat my toermaat se Amerikaanse aksent my mislei het – sy is eintlik Donna, nie Dana nie. Ons volg die stroom mense op met stelle trappe tot in ‘n restaurantarea waar ons gelukkig genoeg is om ‘n tafel by die venster te kry.  Buite is dit ‘n lieflike dag met die son wat op die water van die Engelse kanaal glinster en die veerboot wat ‘n stroom wit golwe oopsny terwyl ‘n handvol seemeeue krysend bo die boot rondmaal en die kranse van Dover stadig maar seker kleiner word. In my kop maal die liedjie ‘White Cliffs of Dover’ al heel oggend rond, maar word gelukkig geleidelik verdoof deur die opwinding van die atmosfeer om ons.

Die enigste ander enkelreisiger op ons bustoer kom by ons sit – Winnie, ‘n klein, fyn meisie, oorspronklik van die Filipyne, maar sy bly al sedert haar elfde jaar in Australië.  Ons koop reuse toebroodjies en Cappucino’s vir middagete terwyl almal inligting uitruil oor wat ons doen en waar ons vandaan kom.  Winnie is ‘n verpleegster en Donna ‘n administratiewe bestuurder van ‘n mediese praktyk, besig om af te tree.  Sy was reeds op ‘n toer deur Engeland, Skotland en Ierland en het ‘n vyfdag breek tussen-in gehad voor sy by hierdie een aangesluit het.

Die veerboot meer by Calais vas waar ons die stroom mense van die restaurantdek af terug in die maag van die boot volg en mooi moet kyk om die regte bus te vind.  Ken wag reeds in die deur en wanneer ons uit die skemer in die helder sonlig inry, trakteer hy ons op ‘n stroom inligting oor Calais en daardie deel van Frankryk waardeur ons gaan ry.  

Die toermaatskappy keur hulle gidse baie goed en ek kom gou agter hoekom. Ken is soos ‘n wandelende ensiklopedie met allerhande brokkies geskiedenis en interessanthede . Aanvanklik was ek seker dat hy notas gebruik, maar later besef ek dat hy al die feite in sy kop het. Ek vind ook uit dat hy hierdie spesifieke toerroete al vir die laaste dertien jaar doen. 

Elkeen van ons kry ‘n reuse landkaart van Europa waarop ons elke dag ons roete met ‘n pen kan merk. Deur die groot vensters van die bus lyk die landskap nie veel anders as waaraan ek gewoond is nie, maar wanneer die padtekens verbyflits, is dit duidelik dat ek my beslis nie in Afrika bevind nie. Die snelweg neem ons eers deur industriële gebied aan die boonste punt van Frankryk en dan deur België. Ongelukkig is dit die meer praktiese roete en is België self nie in ons reisplan ingesluit nie. 

Dan is ons Holland waar ek uiteindelik die Europese stempels van die prentjies in my kop begin herken. Die poskaartgrootte plasies en landerye word met blink kanaaltjies tussen-in afgeskort en strek netjies en groen sover as wat die oog kan sien. Daar is orals fietspaadjies, maar ons sien nie baie fietsers op die platteland nie.  Ons kruis die Maasrivier wat ongelooflik wyd vloei, met  bote wat orals vaar en vasgemeer is en in ‘n stadium sien ons selfs ‘n stukkie kunsmatige strand waar die mense in die son lê en baai. 

Die rustigheid van die plattelandse tonele word egter gou vergeet wanneer ons kort na vieruur die eerste afrit en groot verkeer naby Utrecht tref. Ons kruip voort teen ‘n slakkepas en die slaap wil-wil my oorval, maar ek weier om in te gee, te bang ek mis iets. 

Ons hotel vir die eerste twee aande is die Ibis Hotel by Schiphol-lughawe en dit voel vir my of dit tussen niks en nêrens is nie. Die hotel self is egter modern en gerieflik en is dus ideaal vir ‘n plek waar ‘n mens slegs oorslaap. 

Ons eerste uitstappie is ‘n kanaalvaart, dus ry ons met die bus tot in Amsterdam waar ons op ‘n rivierboot klim. ‘n Jong Hollandse meisie wat vlot Engels praat is ons gids en sy wys al die interessanthede vir ons uit, van letterlik die kleinste huisie  in Amsterdam wat tussen die ander ingedruk is, tot die een waarin die mees bekende historiese figure gebly het.  Ek vergaap my aan alles, veral die tipiese boustyl en die honderde fietsryers wat oral ry. Ons gids verduidelik dat die huise en geboue vier soorte gewels het – trappies, klokvorm, kroon en plat.  Die huise is almal baie nou omdat mense belasting op die oppervlakte wat hulle huise beslaan moes betaal en dus eerder vertikaal as horisontaal gebou het.  Die gevolg hiervan is dat dit nogal ‘n missie is om meubels in die boonste verdiepings te kry en dit heel dikwels aand die buitekant opgehys moet word.

Oral op die kanaal is huisbote, driekwart van hulle onwettig omdat mense dikwels  die belasting daarvoor nie kan of wil betaal nie. Dit is duidelik dat die meeste van die bootbewoners gewoond is aan nuuskierige toeriste wat op en af deur die kanale vaar, want almal gaan hulle gang en steur hulle glad nie aan ons nie. 

Daar heers ‘n gemoedelike atmosfeer in die rivierboot, want in die loop van die dag het ons mekaar beter begin leer ken. In een huisboot staan ‘n jong meisie voor haar stofie met ‘n resepteboek in die hand en dit lok kommentaar uit oor wat sy vir aandete gaan voorberei, aangesien die meeste van ons teen hierdie tyd nogal honger is. 

Ons ry onder deur die Magere brug wat gebou is vir twee susters wat glad nie goed met mekaar oor die weg gekom het nie.  Knus aan die oewer sien ons ook die superluukse Amstel hotel, waar die gaste buite sit en bedien word deur kelners wat almal deftig uitgevat is. Later vaar ons die hawegebied in en die gids wys vir ons die Wetenskapmuseum  uit wat in die middel van die hawe gebou is – dit lyk nes ‘n reuse groen padda en volgens haar hou die meeste Amsterdammers glad nie van die gebou nie.  

‘n Spesiale aandete is deel van die uitstappie en dit kry ons in ‘n drywende Taise restaurant, die Sea Palace. Dis ons eerste groot ete van die dag en word eers teen agtuur se kant bedien, maar beslis die wag werd.  Die hoofgereg is Indonisiese rysbord, die nasionale Hollandse dis. Ons kry ook noedels en groente, met verskillende soorte vleise en souse.  Die helfte van die groep is egter te bang om van die beesvleis te eet, want volgens Winnie is “mad cow” siekte nog steeds ‘n probleem in Europa. Drankies en heerlike nagereg is ingesluit. 

Om tienuur is dit nog helder lig buite en dit voel baie onwerklik, asof dit eintlik middag moet wees. Van die restaurant af klim ons weer op die bus en Ken sê dat hy ons na die rooiliggebied toe gaan vat.  Ek het al so baie daarvan gelees dat dit glad nie vir my vreemd of dramaties voel nie, maar die meeste in die groep se monde hang oop.  Die enigste iets wat vir my opvallend is, is dat die vrouens so gewoon lyk, asof ek verwag het dat ‘n mens op hulle gesigte sou kon sien dat hulle prostitute is.  Ek kom ook niks agter van die sogenaamde aggressie wat gewoonlik teen nuuskierige toeriste gemik is nie – miskien omdat ons in ‘n groep is en hulle dus weet dat dit nie besigheid vir die oomblik beteken nie.  Sommige van hulle lyk selfs heel geamuseerd wanneer ons verby loop. Die een vrou het ‘n ongelooflike lyf aan haar maar wanneer ons nader kom, sien  ek dat sy glad nie meer so jonk is nie.  Winnie kan uit skone senuweeagtigheid nie ophou giggel nie. Daar is oral sekswinkels en uit die titels van baie van die flieks en video’s wat daar wys is dit duidelik dat daar pornografie in oormaat is.  

Na die tyd loop ons nog so ‘n bietjie in die omgewing van die Damplein rond en alhoewel die straatjies soveel anders is as waaraan ek gewoond in Suid-Afrika is, is almal baie dieselfde, wat nogal verwarrend kan wees wanneer ‘n mens na bakens soek om jouself te oriënteer.  Die Paleis, Sentrale treinstasie, kerke en ander groot geboue  troon imposant bo die strate uit en noudat dit uiteindelik heeltemal donker is en die honderde liggies aan is, word Amsterdam in ‘n feewêreld omskep. 

Terug by die hotel kruip ek uiteindelik tussen die koel lakens van die hotelbed in. Ek besef dat ek fisies heeltemal uitgeput is. My kop draai behoorlik van die dag se indrukke en prentjies wat daar ronddwarrel, maar ek slaap soos ‘n klip tot die volgende oggend. Ek word onseremonieel deur die skril geluid van ‘n wekker uit my slaap geruk, spring vervaard en vies op, net om te ontdek dat dit my eie wekkertjie is wat iewers in my tas se maag tekere gaan. 

Eers wil ek jammer vir myself voel wanneer ek skielik besef waar ek my bevind – onbereikbaar ver van die huis af, sonder my man en kinders ‘n vreemdeling tussen ‘n groot groep mense – maar dan neem die gevoel van afwagting weer oor: nog ‘n dag wink in Amsterdam en dis beslis nie nou die tyd om te wroeg en te tob nie. Terwyl ek hier is, gaan ek my bes probeer om werklik in die oomblik te leef en soveel as moontlik uit die ervaring haal…