Snerpend koud is die enigste woorde wat die weer hier in die Middellande kan beskryf. Die lug is ysig blou en my persepsie van kleur word, soos baie dinge in my lewe, deur die weer en die natuur beïnvloed…
Miskien is ek inherent ‘n draadsitter wat kyk na watter kant toe die wind waai voor ek sê of doen. Hier deur my venstertjie lyk die wêreld vandag darem nie te oes nie, dink ek.
Ek het al dikwels gewonder oor die mens en die natuur en hoe ons aanpas by die fisiese landskap om ons. Stadsjapies moet aanpas en inpas by die tempo waarteen daar geleef word. Op die platteland het ons dieselfde hoeveelheid ure in die dag, maar ons tyd word straks gerek omdat ons nie soveel ure in die verkeer hoef deur te bring nie.
Hoe, wonder ek, verskil iemand wat op die Noordwesvlaktes bly teenoor iemand in die Karoo – of raak hulle rustig, is daar ‘n oopte, ‘n wydheid in hulle siele wat nie by die bergbewoner is nie. Stadsbewoners weer, is heeldag tussen honderde mense, sien duisende mense, het duisende beelde wat elke uur van die dag voor hulle verbyflits sonder dat hulle vir een minuut lank betrokke hoef te raak, deel daarvan hoef te raak. Plattelanders sien dalk nie soveel mense nie, het veel minder sosiale kontak – wanneer die geleentheid hom dus voordoen, glo ek, is hulle meer intens betrokke as iemand wat vanwee die omvang van hulle kontak meer oppervlakkig verkeer. Of nie?
Die Noordelike Halfrond met lang winters en kort somers. Wintertyd keer ons almal na binne – letterlik en figuurlik. Ons soek minder ander mense se geselskap op, is meer tevrede om knus in ons eie huise te wees. Ons kom minder buite, het eerder ‘n behoefte om dieper in ons dop te kruip. Somertyd is dit anders, dan is dit makliker om die son te deel met ander, aktiwiteite aan te pas om meer insluitend te wees. So, as die handskoen aan die ander hand is, lang winters, kort somers – sou dit ook ons persoonlikhede, ons uitkyk op die lewe beïnvloed? Koue sneeulande teenoor warm, droë streke… sou ek dieselfde ek op ‘n ander plek gewees het?