Singende seuns verower harte in hierdie verre land…

Julie 2002. Vanoggend se ontbyt in Louna Jeughostel het weer ‘n verrassinkie of twee opgelewer, deurdat ons nie alles kon identifiseer nie. Die ‘suurmelklekkerny’ op die spyskaart ken ons nou al, maar daar was ook ‘n ontbytgereg wat enigiets tussen hawermout en ‘n baie dik ertjiesop kon wees. Gelukkig was daar genoeg brood en vrugte om die honger magies vir eers te vul.

Vandag is een van die besigste dae van die toer met nie minder nie as drie optredes wat geskeduleer is. Die eerste een is ‘n opelugkonsert in die middestad, slegs ‘n paar blokke van die jeughostel af, dus kan ons daarheen loop. Die ou stad is lieflik met sy middeleeuse karakter, maar sonder enige pretensie.  Te oordeel aan die hoeveelheid tweedehandse klerewinkels is dit duidelik dat daar in hierdie stadium nog glad nie geld in oorvloed is vir die gewone Estoniër nie.  Wanneer ek vir Annemaarje daaroor uitvra, bevestig sy dat nuwe klere amper onbekostigbaar duur is en dat die meeste van hulle geholpe raak met tweedehandse klere.  (Na ‘n paar dae in Pärnu het die seuns ook agtergekom dat die meisies wat hulle in daardie tyd leer ken het, elke dag dieselfde klere dra en gefrons. Toe ek die geleentheid kry, het ek vir ons bevoorregte privaatskoolseuns mooi verduidelik hoeveel hulle het om voor dankbaar te wees…)

Die straatjies in die stad is redelik nou en daar is baie min motors, aangesien parkeerplek so skaars en baie duur is.  Baie min mense besit ook motors, dus is die meeste Estoniërs van openbare vervoer afhanklik.  Vir ons vreemd, vir hulle ‘n leefwyse.  Al met die straatjies op tot voor die Eestipank (bank) waar daar ‘n groot oop ruimte is, loer ons kort-kort by winkeltjies in om te sien wat hulle aanbied.  Die lug is bewolk en ons is effens bekommerd oor die beplande opelugkonsert.

Op pad na die opelug-konsert
Op pad na die opelug-konsert

Op pad na die opelugkonsert

Daar aangekom is daar nog genoeg tyd vir die klompie seuns wat die gumbootdanse doen om hulle passies vir oulaas te oefen.  ‘n Paar ander kore in vrolike, kleurvolle tradisionele drag gaan ook optree en die program inlei.  Wanneer hulle dit doen, kombineer hulle die sang met danse en kort voor lank is daar ‘n hele skare rondom die pleintjie vergader.  Gelukkig bly die reën weg tot na ons koor se optrede en daarna het almal ‘n uur of wat vry om ‘n bietjie rond te loop.

Oop ruimtes in die moderner deel
Oop ruimtes in die moderner deel
Afrika-styl
Afrika-styl
Estoniese danse
Estoniese danse

Dit het die seuns nie lank geneem om ‘n meer moderne winkelsentrum te ontdek en daar ‘n hele paar Estoniese Kroon op ontwerpersklere te spandeer nie.  Volgens hulle is dit ‘spotgoedkoop’, maar ek skud maar net my kop in verwondering.  Ek neem hulle egter nie kwalik nie, want meeste van die kinders besef in hierdie stadium nie hoeveel swaarder die waarde van ervaring teenoor aardse goed opweeg nie.  Later in die toer het ek wel my mening kon lug: “Julle ma’s en pa’s het hard gewerk vir die geld waarmee julle nou so lekker toer en dis hoofsaaklik sodat julle ‘n onvergeetlike ondervinding sou opdoen, nie dat julle klere en goed moet koop wat julle in Suid-Afrikan ook kan kry nie…”

Terug by die hotel moet die seuns hulle ‘nommer eens’ aantrek – die formele skooluniform, gebaadjie en gedas – vir die pryswennerskonsert in die saal waar hulle die vorige aand gesing het.  Dit is hier, aan die einde van hulle vertoning, waar my hart week raak vir die Afrika-karakter van ons volkslied waarmee hulle uit volle bors afsluit: Nkosi Sikelel’iAfrika.  Dis eenvoudig net ‘n ongelooflike emosionele belewens om dit so ver in die vreemde te hoor en te sien hoe honderde mense aandagtig daarna luister, op aandag staan.

Al die aankondigings oor die kompetisiewenners word in Estonies gedoen, en ten spyte daarvan dat Ann en Merike sover as moontlik probeer vertaal, is daar nie werklik genoeg tyd tussenin nie en glimlag ons maar net elke keer half skaapagtig terwyl ons saam handeklap vir wie ook al in watter kategorie aangekondig word.  Wanneer die twee egter gil en jil en op en af spring, lei ons af dat ons koor iewers iets gewen het. Die volgende oomblik word daar ‘n pad tussen die mense oopgemaak, reguit na ons toe – ‘n reuse koek!  Dit is tradisie in Europa om die gehoor se gunstelingkoor aan te wys en ons kliek dat dit ons koortjie is wat dit gewen het.  ‘n Paar minute daarna spring Ann en Merike weer op en af en hierdie keer kom daar ‘n Engelse vertaling saam met die Estoniese toespraak – Manlief en sy koor het derde prys algeheel verower. ‘n Groot prestasie, veral in die lig van die feit dat die Taiwanese koor wat gewen het, al ‘n hele paar groot internasionale kompetisies op hulle kerfstok het en dat al die ander pryswenners volwasse kore is.

In hierdie stadium van die verrigtinge het die meeste van ons al die ander kore gehoor en het die seuns en die Taiwanese koor al goeie vriende geraak – mekaar oor en weer bewonder. Elke keer wat ons koortjie opgetree het, het die Taiwanese hulle toegejuig en kort voor lank het almal saam foto’s geneem en klein soeweniertjies uitgeruil.

Aandete later die dag is in ‘n dorpie nie te ver van Pärnu af nie. Die tafels is reeds gedek in ‘n gemeenskapsaaltjie wanneer ons arriveer en daar is ons weereens getrakteer op… suurmelk.  Dis natuurlik saam met die hoofmaaltyd van vleis en groente.  Ek voel baie sleg daaroor om te sien hoeveel glase melk teen die einde van die ete onaangeraak op die tafels bly, maar ek kan die seuns nie kwalik neem dat hulle nie ‘n blitssmaak daarvoor kon ontwikkel nie.

Na ete word ons eers na die dorpie se kulturele museum geneem waar ‘n vrou wat self ‘n musikus is, vir ons ‘n kort oorsig van die dorpie se geskiedenis gee.

Die koor se derde groot optrede vir die dag is in ‘n Lutherse kerkie – erfenis van die Duitse okkupasietydperk.  Volgens Ann is daar maar ongeveer tien persent Estoniërs wat nog gereeld kerk toe gaan, maar vanaand is die kerk tjok en blok vol en doen die seuns hulle reputasie gestand deur ‘n steruitvoering te lewer.  Aan die einde van die konsert roep die gehoor hulle terug nadat hulle afgestap het en teen die derde keer wat hulle terugkom, besluit Manlief om almal te betrek deur vir hulle ‘n paar danspassies op die maat van een van die Afrikaliedjies, Teka-Teka, aan te leer.  Dit is nogal ‘n gesig om van kinders tot ou omies en tannies te sien dans.  Na die tyd vind ons uit dat daar ook ‘n televisiespan van Tallinn af was en dat die uitvoering die volgende dag op hulle nasionale televisie uitgesaai word.

Dit is vreemd om na tien in die aand uit ‘n helderverligte gebou te stap, net om te ontdek dat daar steeds daglig buite is, maar dis heerlik. ‘n Mens is in elk geval so deurmekaar wanneer jy toer dat jy enige tyd van die dag of nag kan slaap of eet. Jou liggaam pas aan by alle tye en omstandighede.

Hierdie Vrydagaand is nog lank nie verby nie en almal van ons word weer terug na Pärnu toe na die saal waar die kompetisie was, geneem.  ‘n Plaaslike hoërskool bied West Side Story in Estonies aan en dis absoluut briljant. Na die vertoning is daar vrolike musiek en danse en ons seuns laat nie op hulle wag nie. Hulle doen met oorgawe mee en geniet hulleself gate uit. Selfs die skaamste outjies het die moed om die Estoniese meisies te vra om te dans.

Dan is dit tyd om terug jeughostel toe te gaan en ons loop in ‘n groep deur die stil, breë strate, so vyf of ses blokke ver. Kort-kort kom vertel iemand hoe lekker dit was om soveel selfvertroue te kon hê.  Een ding waaroor hulle almal saamstem, is dat die Estoniese meisies beeldskoon is.

Ons het die voorafgaande paar dae nie veel tyd gehad om Pärnu werklik te leer ken nie, maar ek skat dit is wat met meeste toere gebeur – ‘n mens sien maar ‘n klein stukkie van die groter geheel.  Ons het die ent tussen die Louna hostel en die plek waar die kompetisie plaasgevind het wel goed leer ken en een of twee keer het ek dit gewaag, wanneer ek op my eie was, om ‘n effense ompad te loop sodat ek ‘n bietjie meer van daardie deel kon sien.  Soos ek reeds vroeër genoem het, was die onopgesmuktheid van die stad opvallend. Die seuns het dit dadelik toegeskryf aan ‘luiheid’ om  gras te sny of parke in stand te hou, maar vir my het dit daaroor gegaan dat as ‘n mens slegs drie maande van regtige somer het, jy jou nie gaan besig hou met dinge soos grassny en bome snoei nie.  So het ons gereeld verby ‘n groot park geloop wat ‘n mens meer die idee van ‘n stukkie natuur iewers in die platteland gegee het. Dit was lukraak oor die park versprei, hoog en groen en kol-kol was daar selfs ‘n huis tussen-in, asof daardie deel eenvoudig net nie verder ontwikkel was nie en dus in ‘n stadium net as groen gebied verklaar is.

Omdat Pärnu die Estoniërs se somervakansiestad is en die kompetisie terselfdertyd baie kore sowel as toehoorders gelok het, was daar deurentyd ‘n feestelike atmosfeer. En – duidelik het die alkohol vrylik gevloei.

Die sypaadjies in Pärnu is breed genoeg sodat voetgangers, fietsers en skaatsers almal genoeg spasie het.  Fietse is daar nie so baie nie, maar rolskaatse en skaatsplanke wel.  In die aande, wanneer dit nog lig is, speel die kinders tot tien- elfuur nog buite. Dit is immers hulle somerskoolvakansie.

Dit het die koorseuns nie lank geneem om gou vir hulleself ‘n mini-gevolg in die vorm van permanente meisie-aanhangers op te bou nie en kort voor lank het ons ook van die gesiggies geleer ken.  Hulle is tipiese tienermeisies, baie bewus van hulle eie ontwakende vroulikheid  maar nogtans nie ‘te’ prontuit nie. Dis nou natuurlik op die oog-af, hoe hulle optree wanneer ons chaperones by is. Tog is hulle terselfdertyd ook onopgesmuk, gebruik nie baie grimering nie (grimering is ook ‘n duur item) en dra, soos ek genoem het, dieselfde klere vir ‘n paar dae aanmekaar.

Pärnu is verder ‘n stadjie vol kontraste.  Langs ‘n afgeleefde en verwaarloosde woonhuis sien ‘n mens ook ‘n pragtige gerestoureerde villa.  Slegs ‘n paar blokke van die goedbewaarde middestad is die vaal, verleë strate ook, met half-vervalle geboutjies styf langs mekaar ingedruk, ‘n sekswinkel langs ‘n kafeetjie en aan die anderkant ‘n groot, verroeste sinkdeur so groot soos ‘n waenhuis.  Sekere dele, ver van die ou en gevestigde woonbuurte, staan soos littekens van die Sovjettydperk uit  en selfs nou, in die feniks-tydperk van die land, is daar nie geld vir indrukwekkende nuwe geboue met gewels of fieterjasies nie, en die moderner dele is eklekties aanmekaar geflans.

Pragtige gerestoureerde huis
Pragtige gerestoureerde huis
Nalatenskap van 'n vaal tydperk...
Nalatenskap van ‘n vaal tydperk…

Een aand neem Annemaarje ons na ‘n ‘nuwer’ restaurant-cum-wegneemete plek waar sy as inwoner weet die kos is bekostigbaar. My hart het onverklaarbaar seer geword.  As ons hier in Suid-Afrika, bedorwe soos wat ons is, so ‘n plek sien, sou ons nie eers die moeite doen om daar in te gaan nie, bloot net omdat dit so onpretensieus, vaal en lelik van buite af is. Vierkantige ongeverfde struktuur en binne in die reuk van klam sement, growwe vloere, die stoele en tafels van plastiek en ongemaklik.   Maar die slaptjips is heerlik en die koffie goedkoop…

Wegneemrestaurant wat die sak pas
Wegneemrestaurant wat die sak pas

Voet aan vreemde walle…

Julie 2002  Saam met ons veerboot het daar ‘n hele paar ander ook gearriveer – honderde passasiers piekel nou met hulle tasse doeane-beheerpunt toe. Dis ‘n lieflike, helder dag en die vooruitsig van my eerste kennismaking met Estonië laat die opwinding op die krop van my maag fladder. So tussen die voortskuifel in die lang tou hou ek ‘n ogie oor die seuns, maak sommetjies in my kop om te sien of almal daar is. Weereens verwonder ek my aan die vermoë van die jeug om so vinnig terug te bons na wat beslis ‘n avontuurlike, laat nag was.

Dit neem ‘n hele rukkie vir almal in ons groep om deur te beweeg en teen die tyd wat die formaliteite uiteindelik afgehandel is, wag ons bus al buite om ons na Pärnu, ons eintlike bestemming in Estonië, te karwei. Die bus het saam met ons in die maag van die veerboot gery en Ludwig en Ahrmen was van die eerstes om van die boot af te klim.

Die voorreg om te sien hoe Tallinn, hoofstad van Estonië lyk, is ons nog nie beskore nie, want van die hawe af woerts ons slegs deur die buitewyke van die stad om so gou as moontlik in Pärnu te kom. Tallinn is in hierdie stadium net ‘n klomp geboue wat verbyflits.

Pärnu is net 130 km van Tallinn af en alhoewel ons bus baie gemaklik is, voel dit so ‘n bietjie of ‘n mens op een van daardie perdjies van ‘n mallemeule is omdat die pad in so ‘n swak toestand is. Baie hobbeltjies en duike later arriveer ons in die Estoniese stad wat bekend staan as die land se somerhoofstad oftewel, die Riviera van die Baltiese See.

Estonië se geskiedenis is net so hobbelrig soos die pad tussen Tallinn en Pärnu.  Deur die eeue heen was hulle vanweë hulle ideale ligging menigmaal die teiken van gierige lande wat op een of ander manier mag wou verkry.  Hierdie besetters was onder andere Denemarke, Swede, Rusland en Duitsland. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is die landjie eers deur Duitsland en toe, finaal in 1944, deur Rusland geannekseer en het dit deel van die Russiese Federasie geword.  Op 20 Augustus 1991 het hulle finaal die juk van die Federasie afgegooi en hulleself onafhanklik verklaar. Dit was die gevolg van die “Singende Rewolusie” wat in 1989 ontstaan het.  Hierdie mense het nooit die wapen teen enige ander land opgevat nie, maar in hierdie jaar het hulle vasgestaan en hulle verset om onafhanklikheid af te dwing.  Saam met Latvië en Litaue het hulle hande gevat en ‘n menslike ‘ketting’ bestaande uit meer as twee miljoen, regoor die drie lande gevorm.  Later meer oor die sangkultuur van hierdie nasie wat aan die Ooste deur Rusland en die Suide deur Latvië begrens word.  Hulle ‘buurstate’ oorkant die Golf van Finland, is Finland en Swede.  Hulle taal toon sekere ooreenkomste met Fins, maar verskil ook baie en hier en daar is ‘n verdwaalde Duitse of Russiese woord.

Met ons eerste kennismaking Pärnu kry ek die indruk dat hierdie stadjie nou, tien jaar na hulle onafhanklikheidsverklaring, met alle mag en krag uit die verwurgende nadraai van die kommunistiese stempel probeer loskom.  Miskien is dit die uitbundigheid van hierdie somervakansiestad-atmosfeer, dalk is dit die groot hoeveelheid privaathuise en ander geboue wat reeds gerstoureer is of die proses van rekonstruksie is, maar in hierdie stad word daar gewoel en gewerskaf.

Baie van die huise is van hout, nie noodwendig kleurvol nie, maar stylvol en anders. Later, in die loop van ons verblyf in Pärnu, hoor ons dat hulle in die Sovjet-tydperk nie toegelaat was om hulle huise te verf nie. Dele van die stad  het ry op ry depressiewe, eenvormig grys woonstelblokke wat troosteloos in die helder daglig staan.

Die ouer dele van Pärnu is boomryk en ‘n mens kry die idee dat  die bome natuurlik daar groei en nie spesifiek aangeplant is nie – dis oneweredig in die parke en langs die strate versprei. Verder vertoon die gras wat oral op die sypaadjies en in parke groei welig en onversorg, asof die somer te kort is om nog met goed soos grassnyerye en netjiese snoeiwerk te sukkel.  Die effek daarvan is egter vrolik, lighartig, vry en natuurlik.

Ons blyplek vir die tyd in Pärnu is in ‘n jeughostel ‘n blok of twee van die ou middestad af.  Die bus parkeer in ‘n nou systraatjie en daar by die ingang van die hostel wag Ann, ons Estoniese gids. Ann is eintlik die kort weergawe van haar Estoniese naam, Annemaarje en sy is ‘n Engelse onderwyseres by ‘n plaaslike hoërskool.  Elke koor wat aan die kompetisie deelneem het twee gidse wat permanent aan hulle sy sal bly vir die duur van die kompetisie.  Alhoewel Ann aanvanklik baie jonk oorkom, vind ons later uit dat sy 35 is, getroud is en ‘n seuntjie van agt het.  Die seuns is natuurlik baie meer geïnteresseerd in ons ander gids – Merike, ‘n blonde hoërskoolmeisie met ‘n vriendelike glimlag en uitstekende Engels.  Ann fluister in ons oor dat Merike die topstudent by hulle hoërskool is.

Van die buitekant af lyk die jeughostel, Louna, ‘n bietjie vaal en vervalle, maar binne word ons aangenaam verras.  Dit is heel onlangs gerestoureer en alles is skoon, netjies en nuut oorgedoen.  My en Manlief se kamer is ruim en ons volwassenes deel almal ‘n badkamer aan die oorkant van die gang. Die seuns het die res van die badkamers tot hulle beskikking.

Veel tyd vir rondkyk of uitpak is daar egter nie, want die koor het net tien minute om vinnig te verklee voordat die bus ons na die repetisielokaal by ‘n skool moet neem.  Daar stop die bus aan die agterkant van ‘n weereens half-verwaarloosde gebou waar hulle gou stemme kan opwarm en repeteer. Eers wil ek vir die halfuur net in die bus bly sit om my notas op datum te bring, maar na ‘n paar minute sien ek tot my verbasing hoe dit skielik buite donker begin raak. Dan breek ‘n donderstorm met mag en mening uit – ek het altyd gedog dis net in Suid-Afrika waar ons donderstorms op hierdie skaal van intensiteit en lawaai beleef, maar duidelik was ek verkeerd.  Ek wil-wil net benoud begin raak,  veral wanneer die seuns na nog so tien, vyftien minute almal terughol bus toe.  Ann effens bekommerd noem dat hulle nie eintlik baie sulke donderstorms hier kry nie. Die hemele skeur behoorlik oop. (Ons sou die volgende oggend hoor dat ‘n orkaan groot skade in Tallinn veroorsaak het.)

Die bus veg behoorlik ‘n pad tussen die emmers vol reën deur na die kompetisielokaal – ‘n moderne kerk so agt of tien blokke verder. Daar aangekom vat Ann die seuns na ‘n groterige vertrek aan die agterkant van die kerk toe waar hulle moet wag tot dit hulle beurt is om te sing. Die ideaal sou natuurlik wees dat almal ten minste ‘n dag gehad het om asem te skep, maar ongelukkig kon dit nie so gebeur nie. My hart swel van trots wanneer dit uiteindelik hulle beurt is om op die verhoog te stap. ‘n Mens sou nooit raai dat hulle eintlik twee dae se reis en min slaap agter die blad het nie.

Soos altyd begin hulle eers met die kategorie vir ernstiger werke. Hier vind ons ook uit dat dit die enigste hoërskoolkoor is wat deelneem – al die ander kore is volwassenes van hoofsaaklik Estonië, ‘n land vir wie koorsang so deel is soos rugby en braaivleis vir Suid-Afrikaners.

Dan volg die ligter werke en Afrika-klanke – laasgenoemde gekombineer met ‘gumboot-danse’ waarvoor die groepie van agt seuns gisteraand nog op die bo-dek van die veerboot geoefen het. Hulle word met oorverdowende applous vanuit die gehoor se kant beloon, maar die beoordelaars se gesigte gee nie veel weg nie.

Dan is dit tyd om terug hostel toe te gaan en kort voor lank vibreer dit in die gange soos die seuns lag en tekere gaan, tussen die kamers rondloop en in die storte sing.  Die chaperones maak ‘n laaste draai by al die kamers om seker te maak almal is daar en geholpe voordat ons self ook teen elfuur op ons beddens neerplons.

Ann
Ann
Lawwe gesiggie tussen kleurvolle balletjies
Lawwe gesiggie tussen kleurvolle balletjies
Laaste gumboot-oefening
Laaste gumboot-oefening
Eilandjie op eilandjie...
Eilandjie op eilandjie…
Elfuur in die nag op die bo-dek!
Elfuur in die nag op die bo-dek!
Wag vir hulle beurt ...
Wag vir hulle beurt …
Op die verhoog in 'n vreemde land
Op die verhoog…

Veerbootverkenning en ‘n stadslyn wat wink op die horison

Die veerboot is luukser as wat ek verwag het.  Nie dat ek regtig ‘n idee gehad het van hoe dit in so ‘n boot lyk nie.  Ons is vooraf gewaarsku dat die kajuite piepklein is, gemaak vir slaap en weinig meer as dit…. Op die ou end is die tweemankajuite glad nie so erg nie, mens kon selfs in jou ‘bunk’ omdraai, maar nie veel meer as dit nie.  Die seuns het in hulle viermankajuite effe van ‘n probleem gehad om hulle latlywe sowel as hulle bagasie ingepas te kry.

‘n Vinnige stort later besluit ek om ‘n bietjie te gaan lê, siende dat ons al so lank op pad en in die lug was.  Wurm my in my bedgaatjie in en daar skrik ek my yskoud.  Ek het nie besef dat die lang vlug en die hardlopery so ‘n effek op my beenspiere gehad het nie.  Elke twee tot drie sekondes trek daar ‘n ligte siddering deur my hele lyf….  My spiere het ‘n lewe van hulle eie aangeneem! Maar toe kry ek lag vir myself: dit was die siddering van die boot wat so deur my trek.

Ek gee maar op met die rustydjie.  Manlief is iewers in die maag van die veerboot besig om seker te maak dat daar geen verdwaalde koorseuntjie op sy eie  gestrand is nie en dat almal gelukkig en gesond is.  Gelukkig het ek die lys van kajuite by my en gaan soek vir Bev, grys tannie-ouma wat saamtoer.  Sy is ‘n opkikkering vir enige swaar gemoed – groot mond en lag kliphard, uit haar maag uit.

Verdwaal ek myself daar in ‘n kinkel in.  Nes ek dink ek gaan nou by ‘n hoër dek kom, loop ek my in ‘n doodloopgang vas, of land weer by my eie kajuit. Hier gaat ek en my rigtingbeduiweldheid in die vreemde al weer!  Nietemin gee ek nie moed op nie en vind later wel Bev se kajuit.  Ek en sy loop saam en gaan soek daarna vir Kim. Dan loop die drie van ons na die bo-dek waar ‘n klompie seuns reeds besig is om hulle gumboot-danse te oefen.  Dis ‘n lieflike gesig wat ons van daar af begroet – ‘n see vol eilandjies so ver as wat die oog kan sien.  Later spekuleer ons daaroor en besluit dat dit ‘n nagmerrie vir enige posbode moet wees om elke eilandjie te vind.  Hoe werk dit?  Volgens nommers of name?  Sommige eilandjies is piepklein met een of twee huise daarop, terwyl ander heelwat groter is en tien of selfs meer huise het. Ander is heeltemal verlate.

Vroeër moes almal vir hulleself iets op die lughawe vir aandete gekry het omdat kos op die veerboot baie duur is.  Ons drie spoor vir Manlief in die restaurant op waar almal ietsie bestel om te drink terwyl ons deur die ronde vensters na die stadig verbyskuiwende eilandjies  staar en oor ditjies en datjies gesels. Die seuns is oral op die boot en in die speletjieskamers, besig om hulleself gate uit te geniet.  Niemand dink eers daaraan om vroeg in die bed te probeer kom nie.  Ons is hier om maksimum te ervaar.

Die spyskaart voel inderdaad ‘n bietjie duur na ons smaak en die meeste bestel slegs ‘n voorgereg of ‘n nagereg.  In ‘n stadium kom roep een van die seuns my: “Juffrou, kom kyk bietjie hier!”  Dis Komla, ‘n blinkgesig seuntjie uit Botswana, sy ogies vonkel stout.  Hy vat my na ‘n glashok in die middel van ‘n ontspanningsarea, gevul met duisende klein gekleurde balletjies en ‘n glybaan wat daarin afduik.  “Kom staan hier teen die glas,” nooi hy.  Met die seuns weet ‘n mens nooit nie, maar ek waag dit tog tot teenaan .  Reg voor my begin die balletjies skielik roer en die volgende oomblik spring daar ‘n donker koppie uit. David, oftewel Bozo, die grapjas van die groep.  Ek skrik so ‘n bietjie maar vind dit skreeusnaaks dat die seuns die spel so geniet.

Na ete verken ons die boot verder. Dis ‘n reuse affêre  Daar is ‘n paar winkeltjies waar ‘n mens soeweniers kan koop, sommige nogal vrek duur ook.  En dis hier waar die volgende ‘Kodak’-oomblik hom afspeel. Reg in die deur van so ‘n winkel kom ‘n man verby ons gestap en die volgende oomblik steier hy, val amper bo-op een van die seuns wat langs my staan.  Ek wou my eers vererg vir sy besopenheid, maar toe voel ek self skielik ook nie meer so vas op my voete nie!  Die boot het nou tussen die beskerming van die eilandjies uitgevaar en die wye oseaan getref, besef ons ‘n rukkie later. Die see is onstuimig, die golwe hoog en die boot voer ‘n verbete stryd.

Dis al amper elfuur en ons stap vir oulaas na die top-dek toe.  Daar beleef ons die ervaring van ‘n leeftyd met die son wat pienk en oranje oor die horison wegsterf, die water pers- en viooltjieblou, die golwe glimmend in silwer skuimbolle wat stadig aangerol kom….  Roerend mooi.

Later klim ek met ‘n sug van genoegdoening in my sardientjiebed.  Dis so heerlik om in die siddering en die effense wieg van die boot te slaap.  Amper soos treinry…..

Donderdag 4 Julie 2002

Ontbyt op die veerboot vanoggend was vol pret – behalwe vir die uitsig deur die ruim vensters van die eetsaal, het ons vir die eerste keer kennis gemaak met ‘n paar disse en drankies wat klaarblyklik hier in Noord-Europa aan die orde van die dag is.  Een van die seuns doen sy goeie daad vir die dag en bied aan om vir die koormeester ‘n koppie tee te bring. Manlief trek egter, heeltemal teen sy aard en liefde vir tee, sy gesig op ‘n plooi toe hy die eerste slukkie vat  Dis toe al die tyd aarbeitee met suurmelk, want Ian het nie besef dat hierdie tipe melk veronderstel is om ‘n lekkerny te wees wat mense nie in warm drankies gebruik nie!

Na ontbyt was daar net genoeg tyd om gou ons tasse te pak voordat ons almal moes opgaan na die bo-dek toe. Ons kon van ver af reeds die geboue van Tallinn op die horison sien wink – hier en daar ‘n enkele hoë toring, maar geen wolkekrabbers sigbaar nie.

Saam met ons het daar ‘n hele paar ander veerbote ook gearriveer en dit neem ons dus ‘n hele rukkie om deur die doeane-beheerpunte te beweeg waar ons paspoorte eers goed deurgekyk word voor hulle dit stempel. Dié van ons wat eerste deur is het onsself sommer op die vloer tussen ons tasse sitgemaak terwyl ons vir die ander gewag het. Teen die tyd wat die formaliteite uiteindelik afgehandel is, wag ons bus al buite om ons na Pärnu, ons eintlike bestemming in Estonië, te karwei.  Dit is hier waar die koor aan ‘n kompetisie gaan deelneem met die eerste rondte al vanaand.

Die voorreg om te sien hoe Tallinn, hoofstad van Estonië lyk, is ons nog nie beskore nie, want van die hawe af woerts ons deur die buitewyke van die stad om so gou as moontlik in Pärnu te kom.

Pärnu is net 130 km van Tallinn af en alhoewel ons bus baie gemaklik is, voel dit so ‘n bietjie of ‘n mens op een van daardie perdjies van ‘n mallemeule is omdat die pad in so ‘n swak toestand is. Baie hobbeltjies en duike later arriveer ons toe in die Estoniese stad wat bekend staan as die land se somerhoofstad en verder, die Riviera van die Baltiese See.

Estonië se geskiedenis is net so hobbelrig soos die pad tussen Tallinn en Pärnu.  Deur die eeue heen was hulle vanweë hulle ideale ligging menigmaal die teiken van gierige lande wat op een of ander manier mag wou verkry.  Hierdie besetters was onder andere Denemarke, Swede, Rusland en Duitsland. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is die landjie eers deur Duitsland en toe, finaal in 1944, deur Rusland geannekseer en het dit deel van die Russiese Federasie geword.  Op 20 Augustus 1991 het hulle finaal die juk van die Federasie afgegooi en hulleself onafhanklik verklaar. Dit was die gevolg van die “Singende Rewolusie” wat in 1989 ontstaan het.  Hierdie mense het nooit die wapen teen enige ander land opgevat nie, maar in hierdie jaar het hulle vasgestaan en hulle verset om onafhanklikheid af te dwing.  Saam met Latvië en Litaue het hulle hande gevat en ‘n menslike ‘ketting’ bestaande uit meer as twee miljoen, regoor die drie lande gevorm.  Later meer oor die sangkultuur van hierdie nasie wat aan die Ooste deur Rusland en die Suide deur Latvië begrens word.  Hulle ‘buurstate’ oorkant die Golf van Finland, is Finland en Swede.  Hulle taal toon sekere ooreenkomste met Fins, maar verskil ook baie en hier en daar is ‘n verdwaalde Duitse of Russiese woord.

Op ‘n veerboot agter die ystergordyn se fladderende stukkies in…

Woensdag 3 Julie 2002.   Ons het reeds gister met ons reis begin.  Hierdie keer is die groep saam met wie ek toer soos ‘n warm kombersie om my: Manlief die koorleier, ‘n getroude paar wat saam met my as chaperones optree, een mammie wat saamgaan en een ouma met ‘n sin vir humor soos min. Laastens, die koor: klomp seunskinders wat uit hulle vel is van opgewondenheid oor hierdie toer.

Die enigste seer hartseer is my kindes wat nie saam is nie.  Hulle kuier by hulle tante in Kaapstad waar ek weet sy hulle goed sal besig hou sodat hulle ook ‘n avontuur beleef, al is dit dan op eie bodem. Die twee kleintjies is nog te jonk en hulle ouer boetie offer die toer op om by hulle te kan wees.

Ons bestemming:  Estonië en Rusland.  Van Estonië, of Estland, soos ons in Geskiedenis op skool geleer het, het ek ‘n klompie jare terug bewus geraak toe die ginekoloog – ook vriende van ons in daardie stadium – wat my oudste in die lewe help bring het, vertel het dat dit sy geboorteland was.  In daardie stadium moes ek die land en sy ligging op die wêreldkaart gaan opsoek en het dit toe gekry:  heel bo, Noord-Noordwes Europa (of is dit dalk vol-Noord).  Piepklein in vergelyking met soveel ander lande.

En Rusland!  Ek was so opgewonde oor die vooruitsig om hierdie eens ROOI land, die gevaarlike land, te gaan ontdek. Om die Ystergordyn oop te trek.  Om die verbode vrug te gaan proe.  Want het alles wat (eens) verbode was, nie juis ‘n groter aantrekkingskrag vir ons nie?

Vir maande al wou ek myself nie toelaat om te veel te droom nie.  Sê nou net iets loop verkeerd en die hele toer word afgestel?  Laasgenoemde het inderdaad op die ou end amper gebeur, want ons reisagent, toer-beplanner, finansies-hanteerder het ‘n paar oordeelsfoute gemaak en eers twee dae voor die tyd die kat uit die sak laat neuk –  geld was op, ons het nie plek op die vliegtuig gehad nie, niks daarvan is betaal nie!  Ons het dus ‘n paar naelbyt daggies agter die rug gehad: dan gaan ons, dan bly ons. Nee, ons gaan nie meer nie. Ja, ons gaan!  Ek wonder so by my sigselwers terwyl ek my gedagtes neerpen: kan adrenalienoorspoeling en dan weer –onttrekking ‘n mens se hart skade aandoen?

Maar dis nou alles ter syde en hier bevind ek my op ‘n veerboot op die Baltiese see, besig om aantekeninge te maak oor ons toer tot dusver, nie altyd seker of die trilling wat ek voel dié van die boot of my gevaarlik hoë adrenalienvlakke is nie.

Ons het van Durban af gevlieg en die feit dat die groep van Johannesburg af met twee lugrederye sou vlieg was al klaar ‘n potensiële nagmerrie situasie.   ‘n Klompie van ons was op SAL ingeboek tot op Milaan en van daar af sou ons met Swiss Air tot in Zurich vlieg, dan oorstap vir die laaste been van ons vlug tot in Stockholm, Swede.  Die ander groep was op Alitalia, van Milaan af reguit Stockholm toe.

Internasionale vertrekke in Johannesburg het gedreig om ons in te sluk met die honderde mense wat daar soos miere rondgekriewel en gekruie het – tasse, toue, mense en nogal mense. Ons volwassenes is gedwing om ‘n baie fyn ogie oor veral die kleintjies (ouderdom van die kinders was van graad agt tot twaalf) te hou sodat hulle nie verlore sou raak in die losgemaal van die menigte nie.  Toe almal mooi bymekaar was het ons hulle eenkant op ‘n hopie laat sit waar hulle moes bly, kom wat wil, terwyl ek en Manlief gou ‘n mini-krisis probeer uitsorteer het. Een van die graad aggies het ‘n angsaanval gehad en was iewers in ‘n mediese area besig om gelaaf te word.  Met dit op die ou einde uitgesorteer, kon ons deur die instaphekke vliegtuig toe beweeg

.Dit was SAL se heel eerste direkte vlug Milaan toe en om dit te vier, het ons almal na aandete die heerlikste sjokoladetjies gekry.  Heel spesiaal.  Daarna is die rustelose, beknopte en benoude ure deur die donkerte ingesluk tot ons weer hospitaalvroeg wakker gemaak is.

In Milaan moes ons ons storie ken om van die aankomssaal onmiddellik deur die doolhof van hekke en gange te kom om dadelik ons Swiss Air vlug te haal, maar gelukkig het ons toerleier ons veilig aan boord gekry.  Dit was maar net die begin van “we’ll get there fast and then we’ll take it slow “ wat die kenmerke van sulke toere is, want ons moes ‘n rukkie by die instaphekke wag voor ons kon deurstap.  Ons vliegtuig was ‘n Jumbolino van Cross Air, geaffilieer met Swiss Air en …. wag vir die dromme.. geaffilieer met American Airlines.  Oeps – so vars op die hakke van September 2001 wou ek nie graag met Amerikaanse vliegtuie geassosieer wees nie…

Dit was maar ‘n sinkplaatvlug tot in Zurich. Buite was die wolke asemrowend sag en mooi – wit bolle watte met orals onverwagte lugleegtes wat die vliegtuig kort-kort laat bokspring het.  Hoe meer die vliegtuig geduik het, hoe harder het die seuns gegiggel.  Later kon ons nie besluit of hulle regtig dink dis snaaks nie en of hulle maar net hulle benoudheid wou wegsteek nie.  Ons het darem ongedeerd in Zurich aangekom, waar ons weereens dadelik moes oorstap na die volgende vliegtuig. Gelukkig het ons nie nodig gehad om bagasie saam te karring nie.

Van Zurich af kon ons die Europese lappieskombers onder ons geniet – asemrowend mooi.  Nader aan Stockholm was daar tientalle kanale en riviere, asook honderde eilandjies te sien.  Stockholm se lughawe was nie vreeslik groot nie, dus het dit ons nie lank gevat om deur paspoortbeheer te beweeg nie.  Met die dat ons ons bagasie van die vervoerband begin afhaal het, het ons ontdek dat daar van die tweede groep se bagasie by ons s’n was en dat sommige van ons groep se bagasie nie daar was nie.  Ons kon maar net hoop vir die beste wat die verlore bagasie betref, en het ons reg gemaak vir die paar ure se wag tot die ander by ons sou aansluit.

Ruspes wat die seuns is, het hulle dadelik begin geld trek en voorraad vir die lang wag tot drie-uur aangeskaf.  Coke, Fanta en ander gaskoeldranke was nogal duur – in daardie stadium was die Sweedse Kroon en die ZAR min of meer dieselfde – ‘n hele 18 Kroon, terwyl ‘n hamburger en tjips in ‘n restaurant vir ‘n paar geesdriftiges ‘n hele 79 Kroon uit die sak gejaag het.  Drie-uur het  die res van die groep gearriveer en toe ontdek ons dat vyf van hulle minus hulle bagasie was. Wat ‘n ramp, want ons moes die veerboot haal om oor die Baltiese see na Tallinn toe te vaar en sou nie lank vir die verlore bagasie kon wag nie.  Terwyl Manlief die lughawe-beamptes aanvat oor die bagasie, pak Span A van die seuns solank die bus wat buite vir ons wag, terwyl Janneman (nie sy regte naam nie), ons toerleier, paspoorte bymekaarmaak om daarna per taxi na die Estoniese ambassade te jaag waar ons visums wag om afgehaal te word.

Die lugredery belowe om die verlore bagasie na Tallinn toe aan te stuur sodra hulle dit opspoor. Janneman kom terug met ons visums en ons almal bestyg die toerbus.  Die toerbus gaan saam met ons op die veerboot klim en behoort aan ‘n Duitser, Ludwig, wat al vorige toere van Manlief hanteer het.  Na ‘n vinnige besoek aan McDonalds is ons op pad hawe toe. Slaan my dood met ‘n nat vis, daar is Ahrmen, die busbestuurder, nie seker hoe om by die hawe te kom nie en ek begin stilletjies naels kou, wonder of ons betyds gaan wees. Ongelukke kom mos gewoonlik in klompies, glo ek bygelowig, en met die rampspoede wat ons reeds getref het, is ek bang ons mis die veerboot.  Boonop knaag die gedagte aan my dat ons toerorganiseerder dalk nie die veerboot betaal het met al die marankas wat hy veroorsaak het nie.. en wat dan? Ek kyk by die busvenster uit, maar registreer nie veel van wat ek sien nie, behalwe dat ons deur die industriële gebied ry en dat daar ‘n reuse Nokia toringgebou sigbaar is.  Ek kan dus in alle eerlikheid sê dat ek wel al in Stockholm was, alhoewel ek geen idee het hoe dit daar lyk nie.

Wonder bo wonder spoor Ahrmen die veerboot en die hawe op en met tien minute tot ons beskikking, laai ons ons bagasie met die spoed van wit lig uit die bus en draf ons kletterend met die staaltrappies op na die vlak waar ons op die boot moet klim.  In my haas en met my medemenslikheid om Manlief se tas ook saam te sleep – hy moes van die kinders help – haak my tas boonop nog vas aan die nou trappies en spook ek om dit los te kry voor ek kan aanbeweeg.  Ek dink dit was seker nogal ‘n gedoente om te aanskou met die spulletjie van ons wat soos voetsoldate van ouds ons pad opveg boontoe!

Ons maak dit toe net betyds met die klank van die skip se mishoring cum blaasfluit in ons ore.  Nog was dit het einde niet, want toe moes die kajuitverdeling gedoen word.  Die seuns bly in groepe van vier in kajuite en ons volwassenes natuurlik twee-twee. Een van die matriekseuns, ‘n hemelbesem, gryp sy tasse en loop agter sy maats aan en die volgende oomblik stamp hy sy voorkop teen ‘n swaar staalbalk sodat jy net sien bloed spat.  Uit met die noodhulpkissie, ontsmettingsmiddels, pleisters en die toetie, maar op die ou end is hy weer mobiel en kan hy loop. Ek en Manlief  kry einde ten laaste ook ons sleutel en…. verdwaal amper in die doolhofgange van die boot.  Liewe aarde, ‘n mens het omtrent ‘n graad in Wiskunde nodig om jou kajuit te kry!

Maar meer hieroor in die volgende aflewering…

‘n Bus, ‘n boggelrug en Notre Dame deur die venster…

Donderdag 26 Julie 2001.  Dis die laaste dag van die toer, my laaste dag in Parys.  Na ontbyt gaan groet ek die res van die groep by die bus.  Ken was so gaaf om ‘n kopie van almal se kontaknommers te maak en vir elkeen een te gee. Uiteindelik vertrek die bus en ek, Jenny en Graham staan en waai vir die bus totdat dit net ‘n klein stippeltjie in die reguit straat is.

Ek is so dankbaar dat Jenny en Graham ook nie teruggaan Londen toe nie en ek dus vanaand ‘n taxi met hulle kan deel. Ons spreek af om mekaar om halftien in die voorportaal van die hotel te ontmoet. Graham het reeds die vorige dag gereël dat ‘n taxi ons om drie-uur vanmiddag sal kom oplaai. Ongelukkig vir hom en Jenny was daar ‘n effense misverstand en is hulle drie-uur vanoggend al wakker gebel!

Ons kan ons tasse in sluitkaste by die hotel bêre en dan stap ons na die bushalte toe waar ons ‘n bus kry wat tot in die stad ry en naby die Louvre stop. Ons het niks spesifieks om te doen behalwe om die tyd om te kry nie en Graham wil ook vir sy seun sigare koop, dus is ons ontspanne en rustig en geniet dit net om na die winkels en mense te kyk. Hier en daar loop ons by ‘n winkel in en bring ‘n rukkie langer tyd deur by Lafayette, ‘n gewilde afdelingswinkel. Binne is dit ‘n indrukwekkende vertoon van oormaat en oordaad – as ‘n mens opkyk sien jy ‘n groot koepel met gebrandskilderde glas wat vier vloere boontoe troon.  Teen halftwaalf is ons uitgekuier met winkel- en mensekyk en besluit om na die busstop te gaan soek waar ons die bus terug na die hotel toe moet kry. Dis naby die Madeleine-plein, maar ons kry dit nie dadelik nie en stap maar in die algemene rigting van waar ons dink die rivier is. Jenny het ‘n stadskaart by haar maar dit help nie veel vir ons oningeligtes nie. Ons begin benoud raak en loop al hoe vinniger. Ons beland aan die onderpunt van die Champs Elysee en van daar af weet ons min of meer hoe om by die Louvre uit te kom. Dit is vrek warm en ons is oneindig dankbaar wanneer ons uiteindelik die regte busstop kry. Ons verstaan nie ‘n snars van hoe die busskedule werk nie en hoop vir die beste. Elke keer wat daar ‘n bus aankom, spring ons op, net om te sien dat dit nie nommer 24 is nie. Ons gaan weddenskappe aan oor watter bus ons s’n gaan wees, maar begin dink aan plan B: ‘n taxi. Dan daag ons bus uiteindelik op en alhoewel daar net staanplek is, gee ons glad nie om nie.

Tussen die hangende arms deur loer ek by die bus se venster uit en sien dat ons naby die Notre Dame is. Op dieselfde oomblik raak ek bewus van iemand wat naby my staan en kry ‘n soort van de ja vu-gevoel: dis ‘n boggelrugman! Ek probeer ongemerk Jenny se oog vang, maar sy en Graham staan met hulle rûe na die man toe. Eers nadat ons afgeklim het kan ek vir hulle vertel van die man en ons kom tot die gevolgtrekking dat hy doelbewus hierdie busritte doen om mense koue rillings te gee…

Ons trek daar weg en ek is ontsettend dankbaar dat ons uiteindelik op pad lughawe toe is.  Ek kan nie veel sien van wat aangaan nie, want die tas voor my versper my uitsig, maar ek gee nie om nie.  Die bestuurder is een of ander Oosterling en praat nie juis baie Engels nie en ek wonder kliphard of hy ons na die regte lughawe toe vat.  Gelukkig sien Jenny in ‘n stadium aanwysings vir Charles de Gaulle en kan ons finaal ontspan.  By die lughawe word ons rekening in drie gedeel – ek het dus tweehnderd frank gespaar en is effens bek-af omdat ek nie tog maar vir my ‘n parfuumpie in die Suide gekoop het nie…

Jenny en Graham het daarop aangedring dat hulle by my bly tot ek ingeboek het en ons ontdek dat ek by die verkeerde terminaal is. Gelukkig is daar ‘n busdiens en ek wurm omtrent net betyds my tas saam met my in toe die deure toegaan en ek vir die twee Australianers kan totsiens waai.

By Terminaal 1 laai ek my tas op ‘n trollie, weeg my tas in en soek dan ‘n plek waar ek iets kan koop om te drink. Ek is verbaas dat daar geen lugversorging in die plek is nie en voel of ek gaan vergaan van die hitte.  By ‘n boekwinkeltjie loop ek ‘n Readers Digest raak en gaan sit en lees op ‘n stoel om die tyd om te kry.

Uiteindelik is ek in die vliegtuig en my hart sing, al het ek so pas gehoor dat ons op Zurich sal land en eers brandstof sal moet inneem. Ek is een van die eerstes in die vliegtuig en hoop dat ek tog net ‘n vriendelike of ordentlike persoon langs my sal kry. ‘n Italiaanse tante en haar man loop in die gangetjie af, maar loop eers verby voor die vrou omdraai en langs my kom sit. Sy en haar man is nie langs mekaar nie en na nog ‘n paar minute kom ‘n jong blonde outjie langs haar sit. Die vrou vra dadelik vir hom iets in Italiaans, maar ek kan sien dat hy, nes ek, nie weet wat sy wil hê nie. Dan sit ek twee en twee bymekaar en ek sê vir hom in Engels dat ek dink dat sy vra of hy sal omgee om sitplekke met haar man te ruil. Gelukkig is hy Amerikaans en vriendelik en sê dat dit nie ‘n probleem is nie.  Die vrou soen my amper van dankbaarheid en trek daar weg met ‘n stroom Italiaans, onder die indruk dat ek haar verstaan, maar ek glimlag net en mompel iets van ‘Non parla Italiano!” Ons lag albei en vir die res van die vlug kommunikeer ons in gebaretaal.

Gelukkig sit ek hierdie keer in die bo-dek en is daar ‘n bietjie meer beenspasie, maar ek kan nogtans nie gemaklik slaap nie.   Ek word kort-kort wakker en is heeltyd bewus van waar ons is. Halfvyf Vrydagoggend word ons wakker gemaak vir ontbyt en land om halfsewe op Johannesburg lughawe.  Dis heerlik om terug in Afrika te wees, maar eers wanneer ons nege-uur op die Durbanvlug klim, is ek regtig opgewonde, weet ek dat ek uiteindelik op pad terug huis toe is!

Parys – stad van betowering

Woensdag 25 Julie 2001.   Ontbyt in die hotel se eetsaal op die grondvloer en ons het ‘n mooi uitsig op die rivier. Met die terugloopslag vertel ek vir Donna dat ek die vorige aand die brandtrap aan die buitekant van die hotel ontdek het.  “You need to have this special Paris experience,” oortuig ek haar om ook die Paryse lug uit hierdie hoogte te ervaar.  Ek stap voor en sy is nog besig om te wonder of ons onsself nie sal uitsluit nie, toe die deur agter haar toegaan. Tot ons konsternasie is daar nie ‘n handvatsel of ‘n deurknop aan die buitekant nie en ons besef dat ons inderdaad op die brandtrap gestrand is!  Daar is net tien minute tyd voordat die bus vertrek en ek gaan uit benoudheid aan’t giggel.  Die enigste oplossing is om maar met die trappe af te stap in die hoop dat die onderste vloer iewers ‘n oop deur sal hê. In my gedagtes sien ek al hoe ek oor die hoë sifdraad moet klim, want aan hierdie kant van die hotel sal niemand ons raaksien nie.  Tot ons verligting is die hekkie aan die onderpunt van die trappe oop en ons kan gou weer met die hysbak opgaan om tande te borsel.

Op die bus ry ons rivierlangs en nader aan die middestad ry ons oor ‘n brug na die Wesbank. Ons gids vir die dag wag reeds by die Notre Dame vir ons. Die Notre Dame is indrukwekkend, besonder groot, vol detail en kunswerke wat ‘n mens verstom.

Foto: http://theplanetd.com
Foto: http://theplanetd.com

Wanneer ons uitkom word ons deur ‘n tipiese Paryse straattoneel begroet, vir my is die atmosfeer heeltemal anders as die ander Europese stede.  Dalk is dit maar net my romantiese idees oor die stad, maar ek hou daarvan.

Foto: http://twyga.com/
Foto: http://twyga.com/

Ek en Winnie snuffel rond in ‘n paar winkeltjies, koop poskaarte en dan is ons weer op die bus. Ons ry na die Operaplein en die Madeleine kerk en van daar af deur een van die gewildste dele van Parys tot by die Champs Elysees met sy agt bane wat boomomsoom reguit voor die bus uitstrek.  Van hier af gaan ons na Montmartre, die bekende Paryse baken met sy kunstenaars.

Ons word in die een straat afgelaai en loop van daar af verder aan tot waar ons die Funiculier kry – ‘n soort van treinkabelkar wat ‘n alternatief vir die trappe is om ons bo op die heuwel te kry.  Die van ons wat voor in die ry is klim eerste in en skielik gaan die deure toe en trek die tuig met ‘n spoed weg.  Net ses van ons is binne-in en ons en die res van die groep staar verslae na mekaar. Dan neem die humor van die situasie oor en begin ons onder mekaar bespiegel oor die moontlike redes hoekom dinge so vinnig gebeur het. Iemand  besluit dat it is omdat ons baie spesiaal is en dus spesiale behandeling kry.  Bo moet ons lank wag vir die res van die groep om in ‘n oorvol karretjie te arriveer.

Die gids neem ons eers na die kunstenaarsplein, bekend daarvoor dat van die kunswêreld se grootste name dikwels hier gewerk het.  Oral op die plein stal die kunstenaars hulle skilderye uit terwyl hulle rustig voortwerk en ons vergaap ons aan alles wat hulle het.  Daar is heelwat van hulle wat ‘n lewe uit portretskilder maak en hulle wil net vir Winnie met haar strooihoed en jassie skets, maar sy lag net, want sy weet  hoeveel geld hulle op die ou end daarmee maak.

Foto: www.aparisguide.com
Foto: http://www.aparisguide.com

Ek, Winnie en Donna loop tot op die punt van die straatjie en dan soek ons ‘n plek waar ons ons rolletjies kan eet en iets kan drink.  In een van die systraatjies is ‘n gebou wat baie soos ‘n soort van kerk lyk, maar ons kan nie uitmaak wat dit is nie.  Ons sien egter leë parkbankies om die gebou en wanneer ons mooi kyk, sien ons dat die hekkie nie gesluit is nie.  Ons besluit om daar te gaan sit tot iemand ons wegjaag, maar niemand doen dit nie en ons kan ons broodjies in vrede eet.

Foto: www.aparisguide.com
Foto: http://www.aparisguide.com

Daarna stap ons op na die kerk.  Montmartre is op ‘n hoë heuwel en van daar af het ons ‘n baie mooi uitsig oor die stad, alhoewel dit vandag ‘n bietjie deinserig is en nie so ‘n helder dag soos gister nie.

Dit is ook besonder warm en wanneer ons genoeg gesien het, besluit ons om terug bus toe te loop en daar te gaan wag.  Dis definitief koeler in die bus as in die straat, dus klim ons in en wag vir die ander.

Hierna gaan ons na die Louvre – die galerye daarvan is ‘n totaal van 26 km lank, hoor ons.  Ons gaan egter net die hoogtepunte sien en sal vir ongeveer twee ure daar wees.  Ek is nogal teleurgesteld en besef dat hierdie spesifieke toer die ‘historiese’ een genoem word en dus nie noodwendig op kuns ingestel is nie. Dis ‘n verrassing om die groot glaspiramide by die Louvre se ingang te sien. Dit voel heeltemal in teenstelling met die eeu-oue kunsskatte wat binne bewaar word.

glaspiramide

Omdat dit so ‘n groot groep is en die Louvre so besig is, verdeel die groep in twee en die helfte van ons gaan saam met ‘n ander gids.  Sy is ‘n jongerige vrou wat met ‘n swaar Franse aksent praat en soms kan ons nie mooi hoor wat sy sê nie, maar soos al die ander gidse, het sy ‘n uitgebreide kennis oor alles.  Ons loop van die een punt na die ander, hier op met trappe en daar af met trappe, draai haastig links en dan weer regs.  Ons sien die Venus de Milo wat met ‘n strak gesig voor haar uitstaar, die Liberte-beeld wat koploos staan en op ‘n Griekse eiland gevind is.  Ons gids vertel ons dat baie beelde koploos is omdat die mense in ‘n stadium handel gedryf het met die beelde en dit baie makliker was om die koppe alleen te verkoop en te vervoer.  In ‘n groot saal sien ons  reusegrootte skilderye waarvan meeste deur ‘n sekere David vir Napoleon gedoen is.  Net soos by Schonbrunn-paleis hoor ons hier dat dit gebruiklik was om ‘n skildery van belangrike gebeure te maak, soos in hierdie geval, die kroning van Napoleon.  Dit is werklik ongelooflik goed gedoen – veral wat die fluweel en pels van die mantels betref.  Dit voel of ‘n mens daaraan kan raak, so realisties is dit. Ons gids vertel ons hoe die kunstenaar op die kroningsdag rowwe sketse gemaak het en daarna vir jare lank elke gas wat by die kroning was, gekry het om vir hom te kon sit sodat hulle portrette honderd persent korrek sou wees.  Soos in baie ander het hy homself ook in die toneel in geverf.

Foto: http://www.ssqq.com/
Foto: http://www.ssqq.com/

By die Mona Lisa is daar ‘n los gemaal, asof die hele Parys op hierdie oomblik daarna wil kyk. Dit vat ons ‘n hele rukkie om naby genoeg te kom om dit te kan waardeer.  Intussen vertel ons gids ons van die geskiedenis van die vrou in die Mona Lisa – hoe daar vermoed is dat sy geskilder is na die dood van haar baba en dat sy reeds weer swanger was. Die Mona Lisa is heelwat kleiner as wat ‘n mens jouself voorgestel het, maar steeds is dit ‘n besondere ervaring om voor hierdie beroemde kunswerk te kan staan.

Weereens opvallend van al die standbeelde in die Louvre, is die groot aantal kaal mansfigure – ‘ n duidelike bewys van die posisie van die man in die samelewing, deur die eeue heen. Daar is baie min beelde van vroue.

Ons kyk ook na die Egiptiese sfinks wat  aan een van die Franse konings geskenk is. Dit is ‘n massiewe swaar granietblok, maar die neus van die sfinks is af.  Die gids vertel ons van die moontlike redes hoekom dit gedoen is, maar vir my klink dit in elk geval net na blote spekulasie.  Ons stap tot onder in die kelders, waar die oospronklike fortmure van die Louvre was voordat een van die konings die hele spulletjie laat toegooi het, dit gelyk gemaak het en die nuwe struktuur bo-gronds opgerig het.  Dis koud en klam daar onder.

Wanneer ons uiteindelik weer by die bus in die parkeergarage kom, is ons dankbaar dat ons net twee ure lank daar was.  ‘n Mens het werklik ‘n hele dag of selfs langer nodig om deur alles te gaan, maar definitief nie so haastig nie.  Die feit dat daar soveel mense op ‘n slag is, maak dit ook baie moeilik om alles honderd persent te kan waardeer.

Terug hotel toe vir ‘n breek van ‘n uur en ‘n half voort die laaste uitstappie van ons toer.  Ons begin met ‘n bootvaart op die Seine-rivier.  Elkeen kry ‘n brosjuretjie waarop die verskillende stadsbakens aangebring is. ‘n Jong meisie tree as gids op en wys vir ons die bakens uit terwyl sy meer besonderhede daaroor gee. Wanneer sy klaar is sê sy dat sy eintlik ‘n student is wat net vir die oomblik uithelp.

Die brûe is ongelooflik in hulle uniekheid en detail wat mens werklik net kan waardeer as jy onder deur dit vaar.  Elke brug het ook sy eie geskiedenis.  Op die een brug is byvoorbeeld al die gesigte van ministers van ‘n sekere tyd daarop uitgekap, ‘n hele string van hulle.  Daar is Pont Neuf, wat Nuwe Brug beteken en die eerste brug wat van beton gebou is en nie van hout nie. Dit was ook die eerste brug waarop daar nie huise gebou is nie.  Daar is die Alexander brug met sy goue beelde en sy prag en praal wat die vriendskap tussen Frankryk en Rusland uitbeeld en vele ander.

Foto:http://www.bestourism.com/
Foto:http://www.bestourism.com/

Die riviervaart is heerlik en die son skyn warm.  Wanneer ons die Latynse gedeelte van Parys nader – dit word so genoem omdat dit die studentedeel is en daar tot ‘n sekere tyd net in Latyn by die Sorbonne Universiteit klasgegee is – begin ons al hoe meer mense sien wat op die oewer sommer net sit en gesels, of boek lees, of stap.  Naby die universiteit is daar selfs ‘n groepie studente wat saam sing, dans en handeklap en oral is daar stalletjies wat onder andere boeke verkoop. Na ‘n uur is ons weer in die bus, weer op pad na die Champs Elysees waar ons om die Arc de Triomphe ry.

Foto: http://beauty-places.com/
Foto: http://beauty-places.com/

Hierdie area om die boog is besonders omdat hier geen verkeersreëls geld nie, behalwe dat jy vir mense van jou linkerkant af toegee.  Daar is geen aanduidings van bane nie en almal ry kruis en dwars in en uit en ek is maar dankbaar dat ek nie self hoef te bestuur nie.  Ons stop aan die ander kant vir ons aandete breek en Ken verduidelik dat ons onder deur die straat kan loop en in die middel van die boog kan uitkom.  Ek en Winnie gaan eers by ‘n hamburgerplek in vir ons aandete.  Binne is dit verskriklik warm en dis behoorlik ‘n verligting om weer buite in die straat te kom. Ons gaan met die ‘subway’ trappe af en draai dan links soos wat Ken beduie het.  Halfpad onder hoor ons ‘n ongelooflike mooi stem van ‘n sopraan wat daar sing, haar geld op daardie manier verdien.  Wanneer ons bo kom, is ons aan die ander kant van die boog, saam met nog ‘n paar ander van die groep.  Ons staan ‘n hele rukkie daar en gesels en kyk na die mense.  Dominic met sy alewige videokamera is ook daar en ek moet vir hom op kamera sê wat ek van die toer gedink het.

Terug op die bus en dis tyd vir die Eiffeltoring.  Dis amper agtuur wanneer ons daar aankom en ons staan eers vir ‘n rukkie en wag terwyl Ken ons kaartjies gaan haal.  Die mense staan in ‘n lang tou en wag aan die anderkant.  Dis drukkend warm en ek sê vir Donna dat dit is hoe dit in Suid-Afrika voor ‘n donderstorm voel.  Uiteindelik begin ons na die hysbakke toe beweeg.  Die Eiffel is in 1889 gebou vir ‘n wêreld ‘fair’ en die mense het niks daarvan gehou nie.  Hulle het gesê dat dit baie lelik was en Parys ontsier, maar om een of ander rede is die toring nooit afgebreek nie en is dit vandag een van Parys se bekendste bakens.  Terwyl ons voor die hysbak wag, begin daar groot swaar druppels neerplof.  Ons gaan op tot die tweede vlak en moet dadelik skuiling soek wanneer ons uitklim.  Gelukkig duur die reën nie baie lank nie en kan ons die uitsig van daar af bewonder.

Foto: www.theapricity.com
Foto: http://www.theapricity.com

Dit is eenvoudig net ‘n ongelooflike prentjie en ons loop stadig al om die toring terwyl ons die stadstoneel bewonder.  Dis nog steeds lig, maar oral begin die stadsliggies aanflikker.  ‘n Mens voel of jy net heeltyd daar kan bly en na die stad kan staar, maar nege-uur moet ons weer terug in die bus wees.  Ons staan nader na die hysbak toe waar daar reeds toue mense is.  Gobin, Julie, Dennis en Reena is ‘n ent voor ons en agter ons is nog lede van die groep.  Na tien minute hoor ons egter dat die mense tou staan om verder met die hysbak op te gaan en ons wil eintlik afgaan.  Intussen het daar ‘n klompie mense agter ons kom staan en moet ons dus verby almal druk om uit te kom.  Waarheen nou?  Ek sien al hoe ons op hierdie laaste aand van die toer laat vir die bus gaan wees.  Gelukkig beduie iemand vir ons waar om te wag en na ‘n paar minute kom die hysbak daar aan.  Ons is net betyds vir die bus en gaan terug hotel toe.  Ken sê sy laaste woorde vir die groep as geheel, want ‘n paar van ons gaan die volgende dag in Parys agterbly terwyl die res terug London toe gaan.

Lourdes, Biarritz, Bordeaux en die idilliese Loire-vallei…

Maandagoggend 23 Julie 2001.  Na die vorige aand se intense ervaring volg ‘n ietwat rustiger dag waarop ons na ons volgende bestemming, Bordeaux toe gaan ry.

Maar eers het ons ‘n vry oggend in die nou rustige dorpie – ‘n welkome verandering op die gewone roetine van moeg opstaan, haastig eet en haastig pak.  Die wat wil het vanoggend die geleentheid om nege-uur na die Engelse mis toe te kan gaan en elfuur moet almal by die bus wees.

Ek loop ‘n entjie dorp-in en mik vir ‘n gebou wat baie na ‘n treinstasie lyk. Binne-in is daar ‘n groente- en vrugtemark en vir ‘n rukkie dwaal ek deur die kleurryke en welriekende stalletjies en sien dan ‘n uitgang waardeur die hoek van ‘n opelug vlooimark sigbaar is. Skuins agter my hoor ek die woorde: “Alles vir niks!” en wanneer ek omdraai, sien ek ‘n swartman wat sy aandenkings met blink oë in die lug hou. Ek is nog besig om my aan die woorde te verwonder toe Prakash skielik oor my skouer praat – ek het nie eers besef hy en Sandy is ook daar nie. “Maar dit klink mos baie na Afrikaans!” sê hy. Ons glimlag albei, maar ek sê dat dit waarskynlik eerder Nederlands is. Prakash is ‘n dokter in ‘n Durbanse hospitaal en hy en Sandy is deel van ons groep van nege Suid-Afrikaners in die toergroep.

Ek drentel nog ‘n bietjie rond voor ek weer terugstap hotel toe. ‘n Blok van die hotel af is ‘n vrou besig om die plante voor haar winkeltjie met ‘n sproeier nat te maak en is so op haar taak gefokus dat sy nie ‘n ander vrou sien wat agter haar verbyloop nie. Met die omdraaislag spat sy die arme vrou papnat en vra vreeslik om verskoning. In Frans, natuurlik. Albei kyk na my en die een sê “douche!” en trek weg met ‘n verduideliking, min wetende dat alhoewel ek kliek wat sy sê, ek nie haar taal praat nie. Ek lag maar saam, knik my kop en stap aan na die welkome visuele verposinkie.

Die roete van die dag neem ons deur die glansryke en kleurryke Biarritz aan die Mediterreense kus. Wanneer ons van die snelweg in die stad in afdaal, lê die blou see koel en sprankelend onder ons. Die bus parkeer en spoeg ons uit om middagete te gaan soek en ‘n bietjie rond te loop. Daar heers ‘n vrolike vakansie-atmosfeer en die strand is pragtig, maar het nie die sand en klippies van Nice nie. Ek en Winnie sit en bekyk die mense terwyl ons wegneemkoffie drink en ons hotelbroodjies eet. Die branders hier is heelwat groter as in Nice en Ken het gesê dat hierdie dorpie as’t ware ‘ontdek’ is toe een of ander filmster hier kom vakansie hou het. Haar man het van die branders gehou en spesiaal sy branderplank laat haal en so die belangstelling van ander mense gaande gemaak. Sedertdien is dit ‘n gewilde branderplankry-oord.

Voor die bus vertrek ontdek ek en Winnie ‘n romantiese winkeltjie met die naam Chocolateur. Binne in verdwaal ons in die heerlike soet geure van ‘n wye verskeidenheid vorms en groottes tuisgemaakte sjokolades, genoeg om enigeen na sy beursie te laat gryp. Ons verstom ons aan die ‘skeppinge’, maar nie een van ons is regtig lus vir sjokolade nie. Die detail en fyn afgerondheid van elke sjokoladetjie is ‘n kunswerk op sy eie.

Dan is ons weer terug in die luukse toerbus en bekyk die wêreld deur die wye vensters. Kilometer op kilometer van denneplantasies wat hoofsaaklik aangeplant is om erosie van die sanderigheid sover as moontlik te probeer terughou, volg.

Dis vroegaand wanneer ons in Bordeaux arriveer, maar hierdie is net ‘n oorslaapstop en ons sien nie veel van die stad nie, behalwe om na ete ‘n entjie te gaan stap. Die hotel is egter in ‘n redelik afgeremde area van die stad en daar is nie baie mense in die strate nie. Dit voel of die tyd deur die eeue heen hier gaan stilstaan het, maar die pragtige ou geboue is verwaarloos en hulle glorie het lankal al vergaan. Dis net die uitsig deur die hotel se vierkantvenster wat fassinerend is met rye en rye dakkies wat voor ‘n mens uitstrek…

24 Julie – Dinsdagoggend op pad na Parys.  Ons roete sal ons deur die Loire-vallei neem en in die loop van die oggend sien ons uiteindelik die wingerde van Frankryk terwyl die pad deur die groen taferele kronkel.  Op pad sien ons ‘n afdraaipad na Futuroscope en Ken sê dit is ‘n baie groot temapark met hotelle en allerhande winkels en dinge.  Oral langs die pad is lappe sonneblomlande wat groot en geel blom.  Dis ‘n wolklose dag onder die blou uitspansel en by die dorpie Tours draai ons om deur die Loire-Vallei te ry.  Hierdie gebied is sedert 2000 as wêreld-erfenisgebied verklaar.  Die huisies wat ons nou kry is goed versorg, meeste van hulle dubbelverdiepings met hope blombakke wat dit in ‘n idilliese prentjie omskep.   Ons ry al langs die Loire-rivier af en al kan daar nie besonder groot bote op hierdie rivier vaar nie, is Frankryk ‘n land van waterweë en kan ‘n mens van die Mediterreense kus tot in Calais met groot bote vaar.  Hierdie deel is baie boomryk en die nou paadjie is ‘n  welkome verandering, want dit is al asof ‘n mens op hierdie manier meer in kontak met die platteland kom.  Die rivier vloei breed en oral is daar klein eilandjies.

Ons stop vir middagete in ‘n dorpie met die naam van Amboise – die huisies netjies langs mekaar ingewurm, die winkeltjies kleurvol. Die Chateaux (kasteel) is ‘n manjifieke plek wat ons reeds van ver af kan sien en is in die vroeë 1500’s deur Koning Francois I gebou. Dan ‘n interessante konneksie wat ons almal laat regop sit – dis in hierdie klein dorpie waar Leonardo da Vinci sy laaste dae derugebring het.  Dit is nie so besig soos die meeste ander plekke waar ons al was nie, alhoewel daar steeds heelwat toeriste is.  Ons stap op na die Chateaux vanwaar daar ‘n pragtige uitsig oor die dorpie en die Loire-rivier is.  Daarna stap ons in die straatjies rond, op soek na poskaarte en ‘n lafenis.

Terug in die bus en ons ry weer verder al met die  walle van die rivier langs tot in Blois waar ons terugdraai op die hoofroete na Parys.

Reeds aan die buitewyke van die stad begin ons druk verkeer kry, dus gaan dit maar stadig.  Ons hotel is die Ibis Pont de Bercy, ‘n hele ent van die middestad af.

Soos gewoonlik klim Ken eers uit die bus uit om ons kamersleutels te kry en Maria, een van die Australiërs, volg kort op sy hakke.  Sy kry haar kamersleutel eerste want sy moet baie dringend by die badkamer uitkom.  Almal drom in die foyer saam terwyl Ken ons sleutels uitdeel.  Ons staan reg by die hysbak en wag dat dit weer afkom. Almal lag en gesels, opgewonde oor die geleentheid om in Parys te kan wees. ‘n Paar minute later verbeel ek my dat ‘n gehamer tussen die stemme deur hoor. Toe dit weer herhaal word, besef ek dit klink glad nie soos die ritmiese getimmer van werksmense nie.  Eers maak ek ‘n grap en sê dat iemand in die hysbak vassit, maar niemand steur hulle aan my nie. Dan luister ek mooi en hoor  hoe iemand om hulp roep.  Wanneer die hotelpersoneel uiteindelik die buitenste deur van die hysbak oopforseer staan arme Maria daar. Sy het net  twee voet ver gevorder toe die hysbak gaan stop het en later het die ligte selfs afgegaan. Toe ek haar die aand vra of sy darem eers by die badkamer uitgekom het, antwoord sy dat sy tien minute nadat sy terug in haar kamer was besef het dat sy nog steeds nie ‘n draai geloop het nie!

Die uitsig vanuit ons hotelkamer is asemrowend mooi. Dis ‘n skoon, helder dag en ons kan selfs die Eiffeltoring sien. Ons is van die gelukkiges, want daar is net ‘n paar van die groep wat kamers aan daardie kant het.

Vanaand is weer een van my tuisbly-aande.  Ek het dit aanvanklik oorweeg om wel na die kabaret en ete te gaan, maar toe ek sien dat hierdie een aand amper ‘n duisend rand gaan kos, het ek besluit ek gaan dit nie doen nie.  Ek kry vir Lesley en Esther in die foyer en Lesley sê sy is lus vir stap. Ons loop rivierlangs met die straat af, kruis die Seine en stap dan met ‘n straatjie op wat nie juis baie bemoedigend voorkom nie. Hierdie is beslis nie ‘n gegoede woonbuurt van Parys nie en die straat is besaai met vuilerige kafeetjies vanwaar daar kort-kort ‘n rumoer opklink – hierdie tyd van die dag hou gesoute dobbelaars die perdewedrenne op televisie dop.  Ken het gesê dat die Franse lief vir hulle perderesies is en baie geld daarop wed.  Ons stap ‘n hele paar blokke tot by die punt van die straat en draai dan om.  Tot my verbasing sien ek wat die naam van die brug is:  Pont de Nelson Mandela!

Terug in my kamer is dit so kwart oor nege se kant, tussen donker en lig en ek kan nie die versoeking weerstaan om ‘n foto van die stadstoneel te neem nie.  Die maan hang laag oor die stadsliggies en ‘n deel van die snelweg met sy diamante en robyne is sigbaar. Ek kan nie wag vir die volgende dag om hierdie romantiese stad beter te leer ken nie…

Van Madrid tot Lourdes – ‘n sonderlinge ervaring

Julie 2001. Na Toledo se rondloop kry ons voete ‘n ruskansie in die bus en sit ons heerlik agteroor . Soos gewoonlik is daar ‘n opgewonde geruis van almal wat oor hulle ervarings gesels en hulle kopies uithaal en wys.

Terug in Madrid het ons ‘n halfuur by die hotel voor ons op ‘n besigtigingstoer deur Madrid gaan. Ken deel vir elkeen ‘n kaart van die stad uit sodat ons kan sien waarheen die bus ry. Ek moet sê dit help nogal om ‘n mens te oriënteer sodat jy darem ‘n idee kan vorm van waar jy jou bevind.

Dit is steeds snikheetwarm en die stad is oortrek met fonteine wat doelbewus aangebring is in ‘n poging om ‘n bietjie vog in die lug te kry.  Ek wonder of dit regtig werk.  Ons ry eers deur die rykste woongebied waar die winkels ten minste 30% duurder is as hulle eweknieë elders in die stad.  Die gids wys belangrike en historiese  geboue, monumente en standbeelde uit, terwyl sy interessante feite uitryg.

Wanneer ek mooi op die kaart kyk ontdek ek dat ons hotel nie baie ver van die middestad af is nie.  Dit is aan die onderpunt van Toledostraat, so ongeveer twee blokke weg van die oudste brug in Madrid.  Dit word die Toledobrug genoem en mag net deur voetgangers gebruik word. Vir die wat kans sien en òf nuuskierig òf genoeg energie oorhet, is daar die geleentheid om ‘n bietjie op hulle eie rond te dwaal. Die bus laai ons in die middestad af, met Ken se instruksie dat ons die nommer 23 bus terug hotel toe kan haal, asook duidelike aanwysings van waar die bushalte is.

Soos ons roetine teen daardie tyd is, soek ek en Winnie eers na ‘n internetkafee en is verheug toe ons amper dadelik een kry, op die vierde vloer van ‘n gebou waar daar ook dobbelbedrywighede plaasvind.  Hierdie een is nog goedkoper as die een in Barcelona en kos slegs 100 pesetas vir ‘n halfuur. Ons woerts ons boodskappies en briefies uit en dan is ons weer buite in die straat.

Kort-kort sien een van ons ‘n interessante winkeltjie waar ons gaan inloer en so verloor ons gou tred met waar ons onsself bevind. Teen die tyd wat ons dit besef is ons totaal verdwaal. Die probleem kom by die groot afdelingswinkels op verskillende vloere in – ‘n mens kyk na een afdeling en dan ry jy lustig op en af met roltrappe na die ander afdelings toe, gaan sommer by ‘n ander uitgang uit in plaas van waar ‘n mens oorspronklik ingekom het.

Ons mikpunt is die Plaza Mayor en ons sien dit pragtig duidelik op die kaart, maar dis verniet of ons kan uitwerk na watter kant toe ons moet loop. Die hitte doen ook niks om ons frustrasievlakke te verlig nie, want dis ‘n skroeiende 41° Celcius!Ons moet by die Plaza Mayor uitkom, ons sien dit heel duidelik op die kaart, maar of ons links of regs daarheen moet draai, weet ons nie.  Ons kry onsself op die kaart en terselfdertyd sien ons dat dit vrek warm is:  41 grade Celcius.  Ek is verbaas dat ek nie meer ongemaklik voel nie, want ek hou regtig nie van hitte nie. Die droë lug is waarskynlik meer toegeeflik as wanneer die humiditeitsvlakke hoog is.

Foto: http://www.droblo.es/wp-content/uploads/2010/10/Plaza_Mayor.jpg
Foto: http://www.droblo.es/wp-content/uploads/2010/10/Plaza_Mayor.jpg

Later is ons keelvol van die voortploetery en Winnie keer iemand voor om rigting te vra. Ons het op ‘n manier aan die teenoorgestelde kant van die plein beland en noudat ons dit weet, is dit maklik genoeg om weer by Toledostraat uit te kom.

Ten spyte van die baie stappery is ek nie regtig lus om in ‘n bedompige stadsbus te klim nie. Winnie besluit ook dat dit dalk nie so ‘n slegte idee is om terug hotel toe te loop nie. Daar is nie veel te siene wanneer ons uit die sentrale gedeelte van die stad is nie, maar daar is heelwat minder voetgangers. Kort-kort kom iemand naby genoeg verby sodat ‘n mens òf sweet òf die vars geure van iemand wat na siësta gestort het, ruik.

Ons stap oor die Toledobrug wat in die agtiende eeu oor die Manzanare-rivier gebou is. Dis ‘n pragtige ou brug met nege boogstrukture wat dit versterk. Daar is ook twee altare opgerig vir die beskermheiliges van Madrid, San Isidro en Santa Maria de la Cabeza.

Foto: Wikimedia
Foto: Wikimedia

By die hotel besef ons dat ons middagstappie sedert die bus ons afgelaai het, ‘n volle drie ure in beslag geneem het. Ons is dus letterlik en figuurlik pootuit, maar dit beteken ook dat ek daardie nag soos ‘n klip slaap.

22 Julie  2001 – Sondagoggend.  Ek was vanoggend vroeg wakker en het voor en na ontbyt ‘n bietjie op my eie in die een straat  gaan stap waar ons nog nie was nie.  Vandag ry ons na die noorde van Spanje, gelukkig nie weer deur die bar semi-woenstyngebied nie.  Die landskap is bergagtig en rotsagtig en die gras is droog in skakerings van diep-goud, omsoom met groen bos.  Dis mooi en anders.

Ons ry hierna deur die Baskiese area van Spanje, spatsels dorpies wat aan en af deur die panorama van die bus se vensters verskyn. Vir my is hierdie deel die mooiste in die Spaanse landskap, met Barcelona tweede. Later word die groen meer intens – ‘n reuse lappieskombers wat netjies aanmekaar gestik is en elke stukkie grond word intensief beplant en bewerk.

Oor die grens in Frankryk word die plantegroei digter, weliger met elke nou en dan ‘n blerts kleur tussen-in.  Laatmiddag arriveer ons in Lourdes, ‘ a quaint little town” volgens die gids se beskrywing.    Dit is verfrissend anders, skoon, mooi, met ‘n plattelandse atmosfeer.

Dit is nog steeds verstikkend warm.  My en Donna se kamer is reg bokant ‘n betonblok wat die hitte nog verder reflekteer, dus hou dit nie veel sin in om die vensters oop te maak nie en daar is nie lugversorging nie.  Nadat ons tasse aangekom het,  gaan ek ‘n entjie stap, net om bietjie vars lug te kry. Eers sit ek op ‘n graswal oorkant die hotelletjie en kyk hoe die mense verbyloop –  gesinne wat gaan stap, hier en daar ‘n ou omie met ‘n hoed en ‘n kierie, twee ou dames fier en regop.  Twee dogtertjies speel ‘n paar meter van my af, rol skaterend teen die graswal af. Dan staan ek op en stap verder met die straat op, rustig terug met ‘n ander een.

Foto: http://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/2/2f/MpaLurdesRosaryBasilica.jpg
Foto: http://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/2/2f/MpaLurdesRosaryBasilica.jpg

Aandete is in ‘n lokaal aan die ander kant van die hotel en ons sit almal soos sardientjies ingedruk.  Daar is ‘n opgewonde gedruis van gesprekke in die groep en wanneer ek mooi begin luister, kom ek agter dat omtrent driekwart van die groep Rooms Katolieke is wat al baie lank na Lourdes uitgesien het.  Dis my eie skuld dat ek die agtergrondsinligting oor die stadjie gemis het, want  vir een van die min kere op die toer het ek aan die slaap geraak in die bus en net wakker geword toe Ken gesê het hoe laat aandete sou wees!  Nou vind ek uit dat ‘n meisie met die naam van Bernadette iets soos 18 visies van Maria hier gehad het – Our Lady, noem hulle Maria.  Mense kom van heinde en verre as pilgrims hierheen om die Grotto te besoek en met brandende kersies deel te neem aan ‘n pelgrimsmars van duisende.

Ek is nuuskierig om te sien waaroor die opgewondenheid gaan en na aandete stap ek, Winnie en Donna en ‘n klompie van die ander straat-af. Onder, nader aan die plein waar die optog om nege-uur sal begin, koop almal wat wil kerse en houers om heilige water in te sit by ‘n klein winkeltjie.  Al die winkeltjies verkoop Katolieke aandenkings en ikone.  Hoe nader ons aan die plek beweeg, hoe meer mense is in die strate, almal doelgerig op pad na die plein toe.  Hulle kom van orals, sonder enige lawaai, heel rustig. Wanneer ons op die wye plein kom, is daar al ‘n skare mense wat wag.  Voor ons, aan die ander kant van die plein, is ‘n hoë kerkgebou met trappies weerskante aan die vleuels wat boontoe lei.  Aan die agterkant is die Grotto, verduidelik Ken  en wys na waar die fontein met heilige water is.  Die groep van ons toer wat die optog wil meemaak kom op die eindpunt van die lang tou bymekaar en die handjievol van ons wat net waarnemers is, klim met die trappe op tot heelbo van waar ons ‘n goeie uitsig oor die toneel kan kry.

Foto: http://images.catholic.org/travel/destinations/2011012047_grotto.jpg
Foto: http://images.catholic.org/travel/destinations/2011012047_grotto.jpg

Dit is ‘n gesig waarop ek nie voorbereid was nie, ‘n atmosfeer wat my byna oorweldig.  Ons sien die voorpunt van die prosessie wat reeds stadig begin beweeg het,  met ‘n ikoon van Maria wat op ‘n draagbaar gedra word.  Hulle word gevolg deur tientalle mense wat op mobiele beddens gestoot word en letterlik honderde mense in rystoele.  Oor groot luidsprekers eggo die dreunsang van gebede in minstens ses tale of selfs meer en elke keer wanneer ‘n gebed gedoen word, herhaal die stadig bewegende skare dit met strak, ernstige gesigte.  Kol-kol klink koorsang op en elke nou en dan kan ek selfs die melodie van ‘n bekende liedjie identifiseer.  Dit is ‘n veelkleurige prosessie wat afgewissel word deur groepe wat dieselfde kleur geel, rooi of blou hemde aanhet.  Oral wapper kronkelende baniere wat aandui van waar af die pelgrims kom en ons klein groepie Protestante kan maar net verstom van bo-af neerkyk op die vreemde tafereel wat homself onders ons afspeel.

Skemer het stadig begin daal aan die einde van ‘n lang Europese somersdag en nou begin die duisende kersvlammetjies helderder in die dowwe lig skyn. Dis moeilik om ons toergroep van bo-af te identifiseer, maar hulle is amper laaste in die optog en ons verbeel ons dat ons ‘n paar van hulle kan eien.  Die voorpunt van die optog het reeds begin omdraai en die die lang, digte tou mense vorm esse soos wat hulle terugbeweeg.  Dit is eenvoudig net ‘n ongelooflike ervaring en wanneer ek later vir Ken daaroor uitvra, sê hy dat daar tussen 12 en 15 000 mense was en dat daar soms selfs tot 25 000 mense aan die optog deelneem.

Foto: http://archive.cliftondiocese.com/3996
Foto: http://archive.cliftondiocese.com/3996

Dis ‘n stadige proses en na ‘n ruk besluit ek om nie vir Donna en Winnie te probeer wag nie want ons gaan mekaar definitief nie na die tyd in die skare kry nie. Ek stap saam met Sandy en Prakash en die klomp Nieu Zeelanders terug hotel toe.

Wanneer ons weer onder op die plein is, sien ek dat daar ‘n hospitaal langs die kerk is. Dan speel ‘n vreemde toneel hom voor ons af. ‘n Ambulans wat soos ‘n gholfkarretjie aangedryf word, ry geluidloos tussen die mense in en stop langs iemand wat siek geword het. Twee mans tel die sieke op ‘n draagbaar en laai hom in die ambulans voor dit weer net so geluidloos wegtrek.

Ten spyte van die duisende mense in die optog, wemel die strate steeds van mense wat net rondloop of rustig in restaurante kuier. Ek het werklik gedink dat elke besoeker aan Lourdes en omgewing deel van die optog was. Terug by die hotel is ek reeds in die bed wanneer Donna ‘n uur later ook opdaag, haar hande beskermend geklem om die kosbare kleinodes van haar geloof wat sy iewers by ‘n winkeltjie gekoop het…

Toledo – mooiste stad op die berg en ‘n katedraal wat jou woordeloos laat…

Saterdag 21 Julie 2001.  Na ‘n heerlike buffet-ontbyt waar ek en Winnie weer vir ons padkosbroodjies maak, ontmoet die plaaslike gids ons vir die dag in Toledo. Manlief was voorheen al daar en ek is baie nuuskierig om die stadjie uiteindelik te sien.

In 484 nC het Spanje katoliek geword en in 711 nC het die Arabiere en Moslems dit ingeval en vir 800 jaar oorgeneem tot in 1492. ( ek maak nie regtig sommetjies nie, hoop maar dis reg.)  Toledo is in die La Mancha provinsie en in ‘n stadium het dit 77000 mense gehad toe dit die hoofstad van Spanje was.  Dit is die een stad waar Jode, Christene en Moslems vir eeue lank goed saamgebly het, hoor ons.  Voor ons in Toledo ingaan, stop ons eers hoog bo by ‘n uitkykpunt van waar jy die hele stad kan sien.  Die uitsig is asemrowend en ‘n mens kan sien hoekom hulle dit die stad op die berg genoem het.  Dit was letterlik ommuur en ons het verby die ou ingang gery wat hulle kon toemaak sodat niemand die stad kon binneval nie.  Van waar ons staan kan ons mense onder in die rivier sien visvang en ons dink onwillekeurig aan die forel van die vorige aand.

Hierdie pragtige foto vanaf die uitkykpunt is te siene by: http://onebigphoto.com/a-view-on-toledo-spain/
Hierdie pragtige foto vanaf die uitkykpunt is te siene by: http://onebigphoto.com/a-view-on-toledo-spain/

Ons gids, ‘n vrou, waarsku ons dat ons baie maklik in Toledo kan verdwaal en dat ons moet seker maak dat ons heeltyd by die groep bly.  Sy sê dat indien ons wel afdwaal, ons weer om kwart oor twaalf by die St. Martins-brug moet wees, want ‘n mens sal nooit iemand in die doolhof van Toledo se straatjies kry nie.  Die bus gooi ons aan die onderkant af en ons ry genadiglik met roltrappe teen die berg op.  Ons tel nie minder as ses stelle nie en is dankbaar dat ons nie trappe hoef te klim nie.  Die straatjies is regtig baie nou en eintlik gemaak vir donkies en voetgangers en wanneer daar ‘n motor verbykom moet ons almal omtrent in enkelgelid teen die mure loop.  Daar is darem nie baie motors nie.

Niemand is juis oorentoesiasties om nog ‘n katedraal te sien nie, maar wanneer ons binne in Toledo s’n staan, is ons verstom.  Dis ‘n aangename verrassing, so in kontras met Zaragosa se donker kerk.Dit is ‘n kolossale struktuur, maar binne is dit lig en ruim.

Foto gevind op tripadvisor.com
Foto gevind op tripadvisor.com

Hierdie kerk is oor ‘n tydperk van 263 jaar gebou en die hele struktuur aan die binnekant word deur trospilare ondersteun.  Daar is 88 van hulle.  Oral aan die kante is mini-kapelle, dele van die kerk wat deur  gesiene families gekoop en versier is en wat deur traliehekke beskerm word.  Die kapelle se versiering is volgens die rykdom van die familie wat dit besit of beset het.

Foto: Wikimedia
Foto: Wikimedia

Ons sit op kerkbankies aan die agterkant van die koorgedeelte oftewel die hoofaltaar, wat in die middel van die kerk is, terwyl die gids met ons oor die geskiedenis van die kerk praat.  Hierdie gedeelte is eeue gelede gebruik om onderdak aan haweloses te verskaf, sê sy.  Hier tussen die hoë, sierlike marmerboë en pilare het die mense in die aande geslaap en selfs kos gemaak. Dit is ‘n wonder dat alles so behoue gebly het.

Dan beweeg ons om na die voorkant  van die reuse katedraal en daar is dit ‘n skouspel van sonlig wat deur die hoë dakvenster straal en lig oor alles strooi. Dit verleen ‘n besondere kwaliteit en diepte aan die skilderye en versierings. (Later sou ek wonder oor die effek daarvan op die pigment in die skilderye.)   Die plafonskilderye het ongelooflike detail op detail op detail – te veel om in te neem.  Die gids wys na die vloer – hier waar ons is staan ons op ‘n kardinaal se graf, sê sy. Sy wys ook na boontoe waar die kardinaal se hoed aan ‘n stuk draad of iets van die plafon af hang, soos dit gebruiklik was vir daardie tydperk.

Ons beweeg aan na ‘n gedeelte waar die skatte van die kerk gehou word.  Dit is in ‘n klein kamertjie en word deur glas en alarms beskerm.  Ons sien die goue ark wat elke jaar op die eerste Sondag in Junie tydens ‘n spesiale prosessie uitgehaal word en versigtig deur die strate gedra word. Dit is van goud en ander edelgesteentes gemaak en al die verskillende deeltjies kan afsonderlik afgehaal word – asemsnakkend kosbaar.  Die ark is versier met die fynste figuurtjies denkbaar en al die goud weeg saam 200 kilogram. Voor, naby die glas, is twee baie ou boeke waarvan een die heel eerste vertaling van die Bybel uit Latyns in Frans is, oop op ‘n goudbeslaande bladsy.  Daar is ook ‘n goue kroon en ander uiters waardevolle artikels in die skatkamer.

Van hier af beweeg na die musem waar die oorspronklike werke van Spanje se mees bekende kunstenaars bewaar word.  Die meeste is van El Greco, die Grieksgeborene wat hom in Toledo kom vestig het.  Die skilderye is reusagtig groot en ongelooflik gedetailleerd met kleure en figure wat lewe, veral die spesifieke een waar die kunstenaar die kontras tussen lig en donker baie goed hanteer het.

Ons kry ook die geleentheid om in die hoofaltaararea in te gaan.  Dit is absoluut verstommend – manjifieke gedetailleerde houtsneewerk van onder andere okkerneuthout.  Die muur agter die altaar is ‘n totale kunswerk (doen julleself die guns en gaan kyk na foto’s op die internet).

Foto: Wikimedia
Foto: Wikimedia

Verder is daar treffende marmer en albaster beeldhouwerk en ons gids verduidelik dat twee kunstenaars daaraan gewerk het – die een is van Spanje en die ander een van Frankryk.  Die Franse beeldhouer se figure is almal klassiek, sonder beweging en uitdrukking terwyl die Spaanse een die teenoorgestelde gedoen het.  Wat my egter fassineer is die engelgesiggies wat hoog bo op die altaarrand aangebring is – tientalle klein kindertjies wat elkeen sy eie uitdrukking het en ook in ‘n eie rigting kyk. Dit is asof die kunstenaar absolute genot in die skepping daarvan ervaar het. Ek leef my so daarin in dat ek my voorstel dat hierdie gesiggies om middernag lewendig word en hulle borrellaggies van pret deur die katedraal eggo…

Die ongelooflike detail en dimensie van alles is oorweldigend. Hier is ook ‘n madonnafiguur met ‘n verskil – haar gesig is nie uitdrukkingloos soos wat die madonnas gewoonlik gedoen word nie, want sy straal met liefde en sorg waarmee sy na die baba kyk.  Die enigste ding wat my omtrent daardie figuurtjie pla, is dat die baba se koppie baie klein is in vergelyking met gewone babas, wat hom amper ‘n oumensgesiggie gee.  Miskien is dit juis so gedoen om wysheid en heiligheid uit te beeld…

Na die intense besoek aan die katedraal is daar soveel beelde en indrukke wat in my kop ronddwarrel, maar daar is nog ‘n kerk waar El Greco se meesterstuk uitgestal word. Ons wag in die skaduwee van ‘n boom terwyl die lang tou toeriste stadig vorentoe skuifel. Dis eintlik vreemd om te dink dat al hierdie mense wag om na een skildery te gaan kyk – die begrafnis van die graaf van Orgaz.

Foto: Wikimedia
Foto: Wikimedia

Iets wat ek by die meeste van die gidse opmerk is dat hulle graag ‘n vraag vra wat hulle self beantwoord.  And why is this a masterpiece?  Because…  And how do they do it?  Easy….    Ons gaan uiteindelik in.  Die skildery is enorm en in die agterste gedeelte van die kerk wat afgeskort is sodat die besoekers nie die gewone dienste en aktiwiteite van die kerk sal versteur nie.  Hierdie is een van die vyf groot meesterstukke in die kunswêreld, sê sy.  And why?  Sy verduidelik dat dit in twee dele gedeel word, onder en bo. Onder is die begrafnis van die graaf wat wonderlike dinge hier op aarde gedoen het.  Sy liggaam word deur twee heiliges (Stefanus en Augustinus) voor die verbaasde begrafnis na die hemel toe gedra. In ‘n halfmaan agter hulle is die gesigte van bekendes en belangrikes van daardie tyd.  Soos ons reeds met ander kunstenaars gehoor het, het El Greco ook sy handtekening gelaat in die vorm van sy selfportret wat hy ingeskilder het.  Hy is maklik herkenbaar omdat hy die enigste een is wat direk vorentoe kyk. Hy het ook sy jong seuntjie ingeverf.  Die hele skildery is vol bekende bybelse karakters in die boonste deel waar Christus die sentrale figuur is.  Teen hierdie tyd ken ons ook maklik vir Petrus uit wat altyd geskilder word met die sleutels van die koninkryk in sy hand.  Dan ‘n brokkie interessante nuus:  drie maande gelede is El Greco se graf in die kerk geïdentifiseer en  het hulle besluit dat hy hier voor die skildery herbegrawe gaan word.

Ons kry weer vrye tyd om so ‘n bietjie op ons eie rond te snuffel.  Dit is die eerste keer tydens hierdie toer wat ‘n gids ons aanbeveel om nie by twee sekere winkels in te gaan nie.  Volgens haar het hulle net die vorige week onaangename ervarings met Trafalgartoeriste gehad.  Die een is van diefstal beskuldig en die ander een is ook glad nie goed behandel nie.  He told me that if he gets one of my people again he will kick them out!  Ek dink dit is nogal snaaks en sê later vir Winnie ek sal glad nie verbaas wees as dit ‘n persoonlike vete tussen die gids en die eienaars is nie. Ons maak nietemin seker dat ons nie daar ingaan nie.  Dit is Winnie se eerste kennismaking met Toledo se goue juweliersware en sy is baie verbaal in haar verwondering. Dit is nogal lekker om saam met iemand te toer wat alles so geniet.  Die juweliersware het ‘n unieke styl waar hulle die goud op metaal wat ‘n swart agtergrond vorm, monteer.  Gelukkig dat my kinders nie hier is nie, want hier is swaarde en dolke in oormaat en hulle kan geen swaard weerstaan nie!

Ons is honger en kry langs die kerk ‘n soort van plein met bankies waar twee of drie paartjies van die groep reeds sit en ons ons hotelbroodjies kan geniet. Wanneer die groep weer bymekaar kom, lei die gids ons deur die Joodse gedeelte van Toledo terug na die bus toe.

‘n Troostelose landskap, ‘n kerk met klomp torings en speenvarkies in slaghuisvensters…

20 Julie 2001, Vrydag.  Wanneer ek in my joernaal begin skryf kan ek nie anders nie as om te dink dat ek oor ‘n week op pad terug huis toe sal wees – hierdie is my droomreis, maar die verlange begin nou aan my hart gryp.

Vanoggend ry ons van Barcelona na Madrid.  Die landskap raak weer platter en die hoë bome word langsaam vervang met bosse, later struike en klein bossies.  Amper soos in die Karoo, dink ek, maar hier is net meer.  Op die ou end is daar nie eers meer bossies nie en lyk dit soos die klassieke Spaanse landskap wat in die skop-skiet-en donner flieks voorkom, met die ou op sy kromrug boepensperd en sy woeste hoed.  Vir middagete stop ons in die dorpie Zaragosa, met ‘n indrukwekkende kerk waar Maria, moeder van Jesus, al staande op ‘n pilaar, aan ‘n heilige Jakobus (James in Engels) verskyn het. Daarom word die katedraal “Our Lady of the Pillar” genoem. Dis geleë neffens die walle van die Ebro-rivier.

Basilica_del_Pilar-sunset
Foto: Paolo Brandao op Flickr

Die kerk het ‘n magdom torinkies. Winnie is lus vir koeldrank en ek vir koffie, dus loop ons met die straat af op soek na ‘n kafee. Ons kry ‘n ietwat karig-bevoorrade kafeetjie in ‘n systraatjie waar ons op hoë stoeltjies sit en stilletjies ons hotel-rolletjies uithaal. My koffie is niks lekker nie en haar koeldrank is warm of dalk is ons eenvoudig net reisvoos.

Dan verken ons die straatjies agter die kerk, gaan oral by klerewinkeltjies in.  Soos in baie Europese stede is hier ook uitverkopings en in ‘n winkeltjie koop ek en sy serpe teen halfprys. Ek kry ‘n lemmetjiegroen, sagte syserp en ‘n koningsblou een wat ek later vir my ma wil gee.

Wanneer ons genoeg van die winkeltjies en die hitte het, gaan ons op die wye plein sit en verwyl die tyd met ons gunsteling tydverdryf: mense-kyk.  Die kombinasie van hitte en wind raak ‘n bietjies te veel en ons gaan soek skuiling in die katedraal. Binne  is dit donker en amper  half spokerig in die lig van my protestants-gekleurde kerkervaring, ten spyte van die kersies wat brand en die mense wat in en uit beweeg.  Ek vermoed dat indien hierdie kerk een van die eerstes op ons lang reis was, dit ‘n veel groter indruk op my sou maak, maar op hierdie windverwaaide middag na ‘n hele paar uur van semi-woestynlandskap, is ‘beauty’ beslis ‘not in the eye of the beholder’. In retrospektief is dit een van daardie geleenthede wat deur ‘n mens se vingers glip omdat jy nie in die volle intensiteit van die oomblik leef nie. Iets waarteen ‘n mens moet waak.  Die kerk is werklik baie groot binne en het ook reuse plafonskilderye met ‘n fabelagtige hoofaltaar.

‘n Rukkie later bevind ons onsself weer in die koel gemak van die bus en pak ons die laaste skof na Madrid oor die verskroeide aarde aan.  Kilometer op kilometer volg waar ons nie veel sien nie.  Selfs die huise en die geboue verdwyn in die omgewing en ‘n mens moet mooi kyk om te onderskei tussen die deinserige mirages van die hitte en werklike strukture.  Ek raak skoon depressief en wonder hoe dit sou wees om permanent op so ‘n plek te moet bly.  Van die name wat ons langs die pad sien, herken ek uit Manlief se koortoere en maak ‘n nota in my agterkop sodat ek hom terug by die huis daaroor kan uitvra.

Madrid is plat en warm wanneer ons arriveer – ‘n skroeiende 39 grade Celcius volgens ‘n termometer wat sy neonboodskap bokant ‘n apteek uitbasuin.  Die hotel is in die Antonio Lopez straat en ons pak vinnig uit, stort en gaan dan na die eetsaal toe vir aandete.  Daar is vis op die spyskaart en tot my nie-fynproewerlike konsternasie bedien hulle vis, kop en stert, vinne, uitpeuloë en al. My eerstre happie is half onwillig, maar ek word aangenaam verras. Iemand sê dis forel en ek neem hulle woord daarvoor.

Na ete gaan ‘n groot groep van ons stap, maar dit is warm en daardie tyd van die aand wanneer die aarde begin afkoel, stel dit die aakligste reuke oral uit die geboue en nou stegies vry.  Hier sien ons ook iets waaraan ons nie gewoond is nie – karkasse  wat in slaghuisvensters hang – selfs piepklein speenvarkies!  Dit is nogal  grillerig, so deur die oë van ‘n toeris.  Kort voor lank draai ons terug hotel toe waar ‘n koel, skoon kamer vir ons wag.