Vanoggend is ek weer lus vir reis. Ek dink dis die tinteling in die herfslug wat die reisgogga uit sy sluimering wakker maak. Weereens net bevestig – hierdie toer het ‘n paar jaar gelede plaasgevind…
Van hierdie dag af is dit asof die busmaatskappy opdrag gegee het dat daar so min as moontlik hoofroetes gebruik word. Ek vermoed dat hulle die dag waarskynlik so lank as moontlik uitrek om maksimum betaling kry.
Dis egter ‘n pragtige roete wat gevolg word en alhoewel die pad soos ‘n lappieskombers lyk soos wat dit reggemaak en gelas is, word dit steeds goed onderhou. Die bus ry deur klein dorpie na klein dorpie en dit herinner my baie aan die pad na Lljubljana in Slovenië en selfs aan die roete na Kalambaka in Griekeland. Die dorpies is pragtig – netjies en rustig, met die huise knus langs die pad ingeryg. Die landelike gedeeltes tussenin word intensief bewerk en daar is bykans nie ‘n lappie aarde wat nie produktief benut word nie. Landerye, vrugteboorde en digte groen woude flits weerskante van die bus verby. Binne-in die bus is dit tjoepstil – die laat nag en die sagte, gladde beweging van die bus sus die meeste mede-reisigers amper onmiddellik aan die slaap.
Later stop ons iewers vir ‘n halfuur lank iewers tussen niks en nêrens by ‘n garage-cum-restaurantjie, hoofsaaklik omdat selfs die busbestuurder lyk of hy sukkel om wakker te bly. Ek en Manlief is nuuskierig om te sien hoe dit in die paadjie by die woud neffens die garage lyk en stap ‘n ent daarmee op. Dis ‘n rustige woud, met lang kaal stamme wat skerp kontrasteer met die sagte goud van die wuiwende grasstingels tussen-in.
Ten spyte van die feit dat die pad deur die klein dorpies vleg, kom ons vroeër as beplan in Szczecin aan. Hierdie stad het in Duits as Stettin bekend gestaan en is aan die oewers van die Oder-rivier wat hier baie breed in die Baltiese See vloei. Dit was nog altyd ‘n baie belangrike hawestad, maar het ook ‘n tragiese geskiedenis van Duitse en later Russiese oorheersing en invloede. Meer as 65% van die stad is in die Tweede Wêreldoorlog in puin gelê en moes herbou word. As ‘n strategiese punt is en was die stad nog altyd belangrik en is daar ‘n groot skeepswerf wat ‘n mens begroet wanneer jy oor die breedvloeiende rivier ry.
Ons klim by die manjifieke, enorme Heilige Jakobus-katedraal af en ontmoet ‘n lank-gekende vriend van Manlief, ‘n professor in musiek, saam met wie ons in die hysbakke (twee van hulle op twee verskillende vlakke) opry na die tiende. Van daar af is ‘n asemrowende uitsig oor die hele stad – vanagter beskermende glasvensters.
Die katedraal is baie groot en alhoewel dit al eeue oud is, is dit verskeie kere herbou as gevolg van ‘n brand wat ‘n deel verwoes het, stormwinde wat die toring laat verkrummel het en groot gedeeltes wat in die oorlog gebombardeer is. Tot met die Tweede Wêreldoorlog was die kerk deel van die Pomeraanse Evangeliese kerk, maar daarna, toe Stettin aan Pole toegeken is, het dit ‘n Rooms Katolieke katedraal geword.
Dis pragtig en heerlik koel binne in die kerk, met ‘n eggo wat sekondes lank aanhou. Die orrel, kapelle, kunswerke, pilare en hoë dak is werklik besonders.
Die driester Focus-hotel is net ‘n paar blokke van die kerk af. Dit is amptelik – Pole is besig om ‘n hittegolf te beleef en ons kan dit in die kamer (sonder lugversorging) voel. Gelukkig kan ons die deur sowel as die groot venster oopmaak en die vars lug sowel as die pragtige uitsig oor die rivier, brug en promenade op die rivieroewer geniet.
Die middag trakteer iemand ons op ‘n perdekarrit – so tussen my en jou en die wye grense van die kuberruim – alhoewel dit ‘n romantiese idee is en ek baie van die kloppitie-klop van die perdehoewe op die kieselsteentjies gehou het, is die perde laatmiddag al moeg gedraf en is dit vir my moeilik om die soetsweet-perdeureuk te hanteer.
Ons woon ‘n orreluitvoering in die kerk by en dit is iets besonders, alhoewel dit nogal konsentrasie verg om te luister met jou rug na die orrel gedraai, starend na die blomme, die pilare en die preekstoel. Na die uitvoering is ons dors en soek lafenis in die hotel se foyer waar ‘n klompie van ons groep bymekaar gekom het. Iemand is honger en ons skuif na die restaurant oorkant die straat.
Die restaurant is op die walle van die rivier en ons sit buite. Die drankies en die kos kom en almal was net besig met hulle laaste happies toe weerlig en donderslae en reën uitbreek. Almal skarrel om onderdak te kom. Dit is reeds laat en Manlief besluit dat ons twee sommer so in die reën hotel toe moet hardloop. Nogal ‘n koelerige storie en ons kom druipnat in die voorportaal van die hotel aan. Ten minste het die reën die ergste hitte gebreek en ons kan ons kamervenster oopmaak sonder dat dit inreën.
Vroeg Sondagoggend word ek wakker en kyk by die venster uit. Buite is baie mense reeds bedrywig en daar is orals fietse op die promenade te sien. Later die dag sou ons uitvind dat daar ‘n groot driekampkompetisie plaasgevind het. Almal het die oggend vry en die professor het vir my en Manlief genooi om elfuur saam met hom te gaan koffie drink. Hy sal ons met sy motor kom oplaai.
Kwart voor elf is hy daar en ons saam met hom na waar sy motor ‘n blok of twee boontoe in die straat geparkeer is. Hy is ‘n baie gawe man en beslis nog baie fiks vir sy 80 jaar! Dis mense soos hy wat my altyd my eie energievlakke en lewenslus laat bevraagteken! Ek vra uit oor die mooi gebou oorkant die straat en hy sê dat dit polisiekantore is. Langs dit is ‘n besondere interessante en moderne wit gebou en die professor bied aan om vir ons te gaan wys hoe dit binne lyk. Dit is die Filharmoniese saal, sê hy. Alles binne is ook spierwit met ‘n werklik indrukwekkende ontwerp. In die voorportaal is ‘n restaurant wat deur die lede van die filharmonie gebruik word.
Dan klim ons in die motor en ry die paar blokke na die restaurant toe waar ons voor ‘n baie hoë gebou stop. Ons ry met die hysbak op na Café 22 – opt die 22ste vloer van die gebou! Die hysbak beweeg ongelooflik vinnig boontoe maar ‘n mens kan dit nie eers voel beweeg nie. Moderne tegnologie maak werklik ‘n groot verskil.
Wat ‘n wonderlike ervaring om die wêreld van daardie vlak af te kon beskou! Die restaurant se uitsig is asemrowend en mens kan reg rondom die restaurant loop en letterlik vir kilometers ver sien. Ver onder op die grond van waar ons sit is ‘n kleiner gebou en ek tel ‘n hele nege verdiepings wat van hier af na niks lyk nie.
Manlief en die prof gesels oor koor- en musieksake. Hy was onder andere vir 35 jaar hoof van die musiekdepartement by die universiteit en is ‘n gerekende musikus wat onder andere oral in die wêreld rondreis en kompetisies beoordeel. Vroeër jare het hy ook sy eie kore gehad. Hy is die persoon wat konserte, uitstappies en restaurantetes vir ons hier in Pole gereël het.
Na die koek-, tee- en geselssessie groet die prof en ons tweetjies loop ‘n paar blokke op na ‘n moderne winkelsentrum om dit te gaan bekyk.
Terwyl ons wag om by die robot ‘n weereens baie breë en ingewikkelde kruising oor te stap, kom ‘n jong paartjie met hulle kinders en hond aangestap. Die hondjie is ‘n kruising tussen ‘n worshond en iets anders en begin sommer dadelik die straat oorstap. Die seuntjie roep sy naam uit en onmiddellik draai die hondjie om en kom staan ewe stemmig by die gesinnetjie. Van toe af is dit te oulik om te sien hoe hy saam met hulle stap, maar kort-kort opkyk om seker te maak hulle is nog by hom.
Ons loop in die winkelsentrum rond, kyk na pryse van leerprodukte (te duur!) en gaan dan na die supermark toe waar ons water loop voor ons terugstap na die hotel toe. Dis ‘n vrek warm dag en die son maak dit nog warmer, maar ons haal darem die hotel. Nog tyd om ‘n middagslapie in te kry voor ‘n uitstappie na Kamien Pomorski…
Volgende keer oor Kamien Pomorski en ‘n paar foto’s.
Mmm, dit was ‘n lekker rondloop so vroeg in die môre. Dis die wonder van reis – jy kan altyd op jou herinneringhoofweg terugry en gou gaan inloer na die plekke waar jy was!
Inderdaad so 🙂
Lekker om jou te sien en raak te lees.
Hoop dit gaan goed?
Hallo daar! Gaan goed, dankie. Die luggie hierdie kant begin nou net skraal raak, heerlik herfs met ‘n effense byt in die wind.
Lekker gelees en saamgereis! Jy het seker dagboek gehou, anders kon jy nie so in detail onthou wat gebeur het nie?