Bydgoszcz en sang en kultuur…

Een ding van ‘n vreemdeling in die poorte van enige stad waar ‘n mens glad nie die taal ken nie en Engels van die inwoners gebrekkig is of glad nie bestaan nie, is dat jy aan die genade van gidse en toermaatskappye uitgelewer is. Of, aan die genade van busbestuurders. In hierdie geval, een wat nie in Engels kan kommunikeer nie en klaarblyklik net ‘n vae idee het van waarheen hy ons in Bydgoszcz moet neem.

Hy moet kort-kort pad vra en boonop glo hy nog nie aan moderne katoeters soos ‘n GPS nie – hy ignoreer dié en probeer eerder sy landkaart volg. Maar, die voordeel (twyfelagtig, maar kom ons hou die blink kant in die oog) daarvan is dat ons ‘n paar Kaapse draaie ry en ‘n bietjie meer van die stad sien as wat aanvanklik beplan was. Uiteindelik word ons by die voorhekkie van die koshuis waar ons vir die duur van ons Bydgoszcz-verblyf gaan wees uitgespoeg. Die kinders se wenkbroue skiet omhoog – na die moderne en luukse Warskou-hotel, steek hierdie geboutjie onmiddellik af. Manlief het hierdie plek egter met hierdie doel voor oë gekies – blootstelling aan ander kore en ander kulture. Basiese fasiliteite om die toerervaring meer sinvol te maak. Hopelik…

Hierdie is ‘n koshuis met die meeste van ons kamers op die derde en vierde vloere, gedeelde badkamers vir meisies en vrouens op die eerste en derde vloere en vir die mans op die tweede en vierde vloere.  Laasgenoemde sou nie so ‘n groot probleem gewees het as dit meer privaat was nie. Elke badkamer het vier storte met deursigtige glasafskortings en jy moet buite die storthokkie uit- en aantrek… Oi.

En daar is nie ‘n hysbak nie. Net 76 trappies wat nogal baie onlekker is as jy met ‘n groot reistas moet stoei. Elke keer, tas of nie, wat ek op- of afloop tel ek die trappies, vat eers ‘n asembrekie op die tweede vloer en pak dan die traptog verder aan.

Daar is darem ‘n kompromie vir ons klompie volwassenes – iewers in die buik van die gebou is daar ‘n privaatbadkamer waarvoor ons elke keer ‘n sleutel moet gaan vra. Die nadeel – reisgenote wat daarvan hou om éérste die badkamer te gebruik en dan sommer 40 tot 50 minute neem voordat hulle ablusies uiteindelik afgehandel is. Na die eerste paar aande sluip ek dus eerder vieruur in die oggend na die gedeelde badkamers toe waar ek in vrede vinnig kan stort en aantrek.

Ons kamer het soos al die ander vier beddens in en ons venster se uitsig is na die westekant, wat beteken dat ons vol middagson kry in ‘n baie lang Europese en warm dag! Die beddens het dun matrassies en ‘n houtbasis wat vreeslik kraak, maar andersins is alles baie netjies. Daar is tot ‘n klavier in hierdie kamer – net jammer dis gesluit, maar dis seker die idee wat tel.

Aandete is beskeie – net brood met twee skyfies kaas, salami en ham. Laura, ons gids vir die tydperk, het vroeër verduidelik dat die hoofmaaltyd vir die dag smiddags is.  Ons het ‘n tweede gids – Laura se susterskind, ‘n veertienjarige seun met die naam van Adam.  Sy ouers is albei Pools, maar hy self is in Amerika gebore en kom elke jaar Pole toe waar hy dan as gids vir die kompetisie optree. Sy Engels sowel as sy Pools is vlot en ons kom gou agter dat hy presies weet wat hy doen. Hy is kleinerig en skraal, maar baie intelligent en het geen probleem om besluite te neem of vir ons te sê presies waar ons moet wees en wat volgende gaan gebeur nie. Hy het sosiaal ook baie goed by die koorlede ingepas en dit was net ‘n plesier om hom saam met ons te hê.

Elkeen van ons kry ‘n aansteeksirkelwapentjie met die BIM-logo (Bydgoszcz Musical Impressions) daarop. Hiermee kan ons van enige vorm van openbare vervoer gebruik maak: bus, trem of trein. Elkeen kry ook ‘n mikrogrootte pakkie kaartjies vir elke dag se ete. Ek het myne natuurlik na ‘n dag al verloor en eers ‘n paar dae nadat ons uit Bydgoszcz uit weg is weer gekry!

Die volgende episode in ons busbestuurder-sepie volg. Die eerste aand al het hy ons bus in ‘n parkeerterrein daar naby gaan parkeer, maar nie rekening gehou met die beperkings van ‘n baie nou straatjie nie. Hoe hy daar ingekom het, weet ek nie, maar dit was ‘n ramp om met die grote bus in die teenoorgestelde rigting te probeer uitkom.  Onsuksesvol, want in sy vorentoe en agtertoe ry, maak die agterkant van die bus hard kennis met die hekpaal waaraan die hefboom van die terrein is en die bus sit stewig vas. Omtrent al die seuns klim uit die bus om te gaan help om die bus los te kry. Intussen het die verkeer weerskante in die straat al opgehoop en is die motorbestuurders nie beïndruk met die situasie nie. Met ‘n gesteun en gekreun is die bus uiteindelik los uit sy greep en begin die vorentoe-agtertoe proses weer van voor af tot ons uiteindelik kan ry. Ons bestuurderomie is duidelik erg ontstig oor die voorval, want hy sal verantwoording aan die busmaatskappy oor die skade aan die bus moet doen. In die bus gons dit soos almal oor die voorval kwetter en selfs lag, maar my hart is seer vir sy pad.

Dis die begin van ‘n kultuur-avontuur. Die eerste aand kom al die kore, groepe, dansers en orkeste op ‘n oop stuk grond met lang groen grasse langs die rivier bymekaar. Musiek trompetter en bulder uit groot luidsprekers en dit wemel van tradisionele kostuums. Kort voor lank is dit dans- en demostrasietyd en die passies word met gemak en grasie uitgestal, die res genooi om elke keer sirkels en treintjies te vorm en mee te doen. Die jongetjies huppel en lag met ‘n vonkel in die oog en ons vlei onsself op die gras eenkant neer, probeer die muggies en die muskiete weghou.

Daar is baie vreemde en fassinerende instrumente wat deur sommige groepe gebruik word en meeste van die musiek sowel as die danse het ‘n middeleeuse klankie aan hulle wat ‘n mens na ‘n totaal vreemde wëreld verplaas.

Kommunikasie vir die res van ons week se verblyf bly ‘n probleem, maar daar is min dinge wat nie deur wedersydse welwillendheid oorkom kan word nie. Die dames in die kombuis waardeer ‘n dankie, al is dit nou in Afrikaans, Engels of gebroke Pools.

Die busbestuurder se ellendes is nie op ‘n einde nie. Die eerste oggend groet ek hom met ‘n Poolse goeiemôre, maar hy beduie dat dit glad nie ‘n goeie oggend is nie. Hy kon uiteraard nie weer in die parkeerterrein parkeer nie en het die bus so na as moontlik aan die sypaadjie, maar aan die verkeerde kant van die straat oornag laat staan. ‘n Vragmotor het een of ander tyd klaarblyklik te naby aan die bus verbygery en die kantspieëltjie afgeruk! Dit lyk my of die bus maar na Amakrokokroko herdoop moet word! Dit lyk nou kompleet soos ‘n insek waarvan die een voeler afgebreek is.

Amper in die middel van Bydgoszcz se middel is die jeugsentrum waar die meeste van die werkswinkels plaasvind en terwyl die kore daar doenig is, verken ons groep die moderne winkelsentrum ‘n blok of twee daarvandaan af. Dit word ons daaglikse afpakplek waar ons eers met koffie begin en dan stelselmatig die afdelingswinkels en die kleiner plekkies leer ken.

Middagetes by die koshuis bestaan uit hoender schnitzel, aartappels en blomkool of ander soorte vleis met … aartappel en dikwels diks snye brood. Meestal met ‘n bord sop daarby – smaaklik.

Ons leer Bydgoszcz se riviereiland ken, waar ‘n groot park al langs die walle af loop en ‘n tydelike verhogie aangebring is. Vanaf die paviljoentjie het ‘n mens ‘n mooi uitsig op die rivier en die imposante geboue oorkant die straat. Dit blyk ook ‘n gewilde plek te wees waar bruidspaartjies graag foto’s neem. Na die aktiwiteite loop Adam en Laura voor en ons loop oor die rivier tot by die oudste kerkie in die stad. Dit is Goties en lyk dus nie indrukwekkend van buite af met die nou reeds donkerrooi bakstene nie, maar binne in is die atmosfeer gewyd tussen die stil ikone, skilderye van heiliges, pragtig versierde koepels en diep juweelkleure.

Van hier af loop ons deur die Ou Stadsgedeelte van Bydgoszcz met sy kieselsteenstraatjies en pragtige ou geboue wat skouer teen skouer langs mekaar ingeryg is. ‘n Hele paar blokke verder gaan ons met trappe af in ‘n tonnel onder deur een van die breë strate en dan weer bo naby die jeugsentrum uitkom.

Die eerste aand kom al die groepe die jeugsentrum bymekaar en het hulle pragtige, kleurvolle tradisionele drag aan. Die Poolse afkorting vir Suid-Afrika is RPA en ons neem agter die banier en ons vlag stelling in. Oral om ons is groepe besig om hulle instrumente te stem en daarop te blaas en dis behoorlik ‘n babelse lawaai. Nogtans skep dit ‘n gesellige, feestelike atmosfeer en almal staan en lag en gesels terwyl mense op en af loop om foto’s te neem. Agter ons is ‘n groep oulike dansertjies uit Romenië met meisietjies wat nie ouer as agt of nege jaar lyk nie.

Iemand voor iewers gee die bevel en uiteindelik begin die optog deur die strate. Dit is nie baie ver tot by die Opera Nova waar die openingsaand gehou gaan word nie. Die optog beweeg stadig maar seker vorentoe en in ‘n stadium sluit ‘n klompie Poose meisies hulle by ons groep aan.

Die openingseremonie is skouspelagtig en uit die boonste rakke – duidelik is daar baie moeite gedoen om die geleentheid te choreografeer en die dansers met hulle vlae is besonders goed. ‘n Amerikaanse gospelgroep sing ‘n paar items en word luid toegejuig. Dan is daar ‘n jazzgroep waar die hoofinsturmentalis ‘n tipe van xilofoon/marimba instrument bespeel terwyl hy drie stokkies in elke hand hou. Baie indrukwekkend, maar die musiek is stadig maar seker besig om ons almal aan die slaap te sus. Ons kry nie regtig kans om heeltemal uit te rus nie, dus is dit ietwat van ‘n foltering om deur so ‘n lang musiekaand te sit. Anders as met koormusiek waar ‘n mens presies weet wanneer die einde van ‘n stuk aanbreek, voel dit of hierdie items geen einde het nie – elke keer wanneer dit klink of dit gaan ophou, begin ‘n ander instrument met ‘n solo en hou dit vir ‘n ewigheid aan.

Bedags, so tussen die musiek-aktiwiteite deur kry ons kort-kort kans om die stad rondom ons te verken. Naby die koshuis is ‘n supermark met die naam van Biedronka (ek herdoop dit na die ‘Dronk bytjie’ want daar is ‘n vrolike bytjiegesiggie langs die naam). Die Poolse supermarkte is darem nie so ingewikkeld soos sommige ander in Europa wat die afweeg van groente en vrugte betref nie. ‘n Mens vat wat jy nodig het en dan weeg hulle dit vir jou by die kasregister. Ons koop onder andere bottels water ook, wat nogal ‘n gewigtige pakkie maak wanneer ‘n mens dit in die warm son terug na jou blyplek toe moet dra.

Ons let op dat die straatjie waar die bus op ons eerste aand soveel konsternasie veroorsaak het, intussen deur werkers aan die kante oopgekap is, nuwe plaveisel of iets gelê is en reeds besig is om droog te word. Die mense werk ook soms tot laat in die aand en wanneer ons vir Laura hieroor uitvra, sê sy dat hulle in die somer in skofte werk om projekte afgehandel te kry. Dit is ongelooflik vir ons as Suid-Afrikaners om te sien hoe vinnig en hoe deeglik dinge daar gedoen word! Orals om ons vind daar padwerke plaas, maar dit veroorsaak geensins lang oponthoude nie en jy sien selde dat iemand net staan en niks doen nie. Dit voel of daar letterlik op die een dag slote gegrawe word vir watter doel ook al, om net drie dae later te sien dat dit weer opgevul, opgeteer is en verkeer weer normaal kan vloei.

Die hoof-kompetisielokaal is naby die Ou Stad geleë en die bus laai ons elke keer in ‘n koel, boomryke straat af. Ons kry ‘n nuwe busbestuurder wat meer na ‘n jazz-musikant as ‘n bestuurder lyk – hy het lang grys hare wat hy in ‘n poniestert vasbind. Dit wil voorkom of hy so ‘n klein bietjie Engels verstaan, want toe hy met die bus wegtrek en dit om een of ander rede nie lekker in rat kry nie, sê iemand iets van ‘n busprobleem waarna die man omdraai en dramaties sê: “No problems, no problems!”.  Dit blyk dat ons die kort lootjie betreffende busbestuurders vir hierdie toer getrek het. Om alles te kroon is ons ongeluksvoël omie van die eerste twee dae nog steeds met ons en ry nou elke dag ook saam. Dit voel nogal vreemd en ek wonder of die bestuurders later die helfte van die bus gaan volsit?

Ons kry ook geleentheid om saam met Laura na die moderne Basilika naby die jeugsentrum te gaan kyk Sy behoort aan die gemeente en ‘n vriend van haar het die ontwerp van die hoofingang se deur gedoen.  Dis ‘n pragtige, moderne gebou van buite af maar binne lig, mooi en besonders.  Later drink ons koffie by spesiale plekkie toe met die naam Cukierna Sowa. Sy verduidelik dat die eienaar van Bydgoszcz af is, maar wêreldberoemd is vir die sjokolades en soetgoedjies wat hy maak. Sy winkel het selfs takke in Londen en Parys.

Op ‘n ander dag na die kompetisie eet ons roomys op die stadsplein en daar doen ons koor ‘n paar Afrika-liede wat gou ‘n gehoor trek. Van die Amerikaanse koorgroep wat in die werkswinkel saam met ons koor was is ook daar en drie van hulle vra of hulle Shanandoah saam met die koor kan sing.

Dis al na twee wanneer die bus by die koshuis aankom en almal gou eers middagete gaan eet. Teen daardie tyd het ek al lankal my ‘kaartjies’ verloor, maar almal ken ons nou al so goed dat ek sommer in die ry kan val sonder dat iemand vir my kaartjie vra. Die vrouens wat in die kombuis werk is almal baie vriendelik en glimlag altyd wyd wanneer ‘n mens vir hulle dankie sê – glad nie bot of stug nie, ten spyte van die kommunikasieprobleem.

Die Bulgare wat heelweek saam met ons in die koshuis gebly het kom saans laat van iewers af en is gewoonlik in die luim om musiek te maak.  Ons kamervenster is omtrent reg bo die ingang van die koshuis en dit is waar hulle met hulle vreemde siter- en fluitinstrumente sit en speel. Later is daar groepies wat op die maat van die tradisionele musiek dans en ek neem hulle van bo-af af.

Omdat ons aan die Westekant van die gebou is, sien ons elke aand ook hoe die son skouspelagtig agter die geboue op die horison verdwyn en hoe ‘n enkele kruis se silhoeët bo die horisonlyn uitstaan.

Een middag stel een ou in ons groep voor dat ons ‘n bietjie trem ry om te sien hoe Bydgoszcz lyk, want tot dusver was ons ‘ekskursies’ beperk tot die sentrum en die kompetisielokaal en het ons nog nie van openbare vervoer gebruik gemaak nie omdat ons bus ons heeltyd karwei. ‘n Paar van ons stap saam met hom na die tremhalte toe wat so ‘n paar blokke daarvandaan in ‘n ouerige deel van die stad is. Dit is ‘n redelike warm dag en ons sit en geniet dit om net rustig te wees en na die geboue en parke te kyk, asook na die mense wat op en af klim. Daar is verbasend baie mense wat hierdie tyd van die dag van tremvervoer gebruik maak. Sommige klim op en klim weer twee blokke verder af, want ons laat vermoed dat dit nie so duur is om trem te ry nie.

Op ‘n ander keer loop ons al met die rivierwal langs tot by ‘n bootrestaurant wat permanent vasgemeer is en drink koffie of ietsie koels. Die dae is warm, dus soek ons heeltyd na skadu. Pole se maksimum somerstemperature is selde meer as 20° Celcius, maar ons is daar midde in die hittegolf wat oor Europa hang. Oral in Bydgoszcz is daar ‘spuitfonteintjies’ gemaak wat hoë boë uit die punte van plastiekpype spuit en waarin klein kindertjies uitgelate baljaar. Mense op fietse ry sommer dwarsdeur die sproeireën.

Die musiekweek se afsluitingsaand is ook in die Opera Nova en skouspelagtig met danse en vlae en weerskante van die verhoog sowel as op die agterste muur, ‘n visuele interpretasie van die danse wat plaasvind. Alles is perfek gechoreografeer – baie van die kleiner musiekgroepe verskaf byvoorbeeld die musiek vanaf links of regs voor op die verhoog, terwyl die dansgroepe van die verskillende lande op die verhoog is. Volgende groot orkeste kom dan met die agterste verhoog op boontoe van onder af en alles verloop seepglad. Elke groep en koor wat deelgeneem het kry ‘n geleentheid om ‘n item of twee te lewer, wat dit ‘n baie lang aand maak.

Ons staan die laaste oggend baie vroeg op want Szczecin, ons volgende bestemming, is ver. Teen sewe-uur is die bus gepak en is ons gereed om te vertrek, maar ‘n klein probleempie het intussen opgeduik. Beide Laura en Adam is daar om te groet, wat dus daartoe lei dat ons langer vat om aan die gang te kom. Intussen het die padwerke die vorige dag al na ons straat toe verskuif en die spoed waarmee hulle werk is iets om te aanskou. Aanvanklik wag hulle geduldig dat die bus moet vertrek, maar dan gee hulle nie meer om nie en begin die groot masjiene wat hope beton uitspoeg sommer langs die bus! Vir ‘n paar minute kon ons almal net verstom staar, want ons was oortuig daarvan dat die bus nie daar sou kon uitkom nie. Tyd is geld vir hierdie werkers en hulle vat beslis nie nonsens nie.

Die groot betonspoeger kruip stadig maar seker sentimeters van die bus verby en dan kan ons uiteindelik gaan, alhoewel dit nogal ‘n missie vir die bestuurder is om uit te kom met dié dat die straat in die rigting waarheen ons moet gaan nou afgesper is. Maar uiteindelik is ons op pad Szczecin toe…

5 gedagtes oor “Bydgoszcz en sang en kultuur…”

    1. Ja, ‘n mens word skoon na ‘n ander tydvak verplaas omdat daar soveel tradisionele sang- en dansgroepe was. Selfs middeleeuse en handgemaakte vreemde instrumente.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s