Middeleeuse juweelstadjie…

Op pad van Warskou na Bydgoszcz in Pole is daar stringe klein plattelandse dorpies. Ek is nie seker of ons busbestuurder die beste pad, die langste pad of die kortste pad vat nie (alles hang gewoonlik af van die busmaatskappy en hoeveel hulle kry en ‘n mens kan nooit verseker sê as jy in ‘n vreemde land is nie). Dis ‘n gelapte pad, maar interessant en ons kan sien hoe die platteland lyk, min of meer ‘n gevoel kry van die leefwyse hier. Nie dat ‘n mens ooit ‘n ordentlike idee deur die vensters van ‘n bus kry nie, maar dit gee jou die geleentheid om te dink, om in te neem, om klein dingetjies op te merk. Met snelweë kry ek altyd die gevoel van isolasie – meestal is daar hoë beskuttings langs die pad aangebring, waarskynlik om die wind af te keer, of dalk om die geraas te verminder, maar dis daar en dis die somtotaal van jou belewenis.

Die stukkie snelweg uit Warskou uit het ook frustrasies  – net as jy dink daar is ‘n interessante huisie, plaasopstal, geboutjie om nuuskierig te beloer, is daar iets wat die uitsig versper en mis jy daarop uit.

Ek verstom  my aan die brugontwerpe wat ons oral teekom – so amper asof iemand aangestel is om die hele land se ontwerpe te koördineer en so kleurvol en skouspelagtig as moontlik te maak. ‘n Abstrakte skildery van ‘n onbekende filosofie daaragter, maar ek hou daarvan, dit fassineer my, die kleurvolle, skoon lyne.

Dit is duidelik dat boerderybedrywighede op ‘n intense skaal plaasvind. Met my leke-oog het ek geen idee watter gewasse verbou word nie, maar ek verlustig my in die skakerings van groen – varsgroen, geelgroen, blougroen, waterverfgroen, papegaaigroen. Kol-kol is daar laventelpersvelde waar die fyn blommetjies skerp teen die sagte groen uitstaan. Iewers swerm ‘n klomp voëls verskrik uit ‘n woud en op ‘n ander plek kruie ‘n boer rustig met sy trekker en sleepwaentjie voor ons aan in die pad.

Die pad kronkel tussen dorpies deur, soms net met ‘n paar huise en dan plotte met boorde en blomtuine. Die name bly onuitspreekbaar moeilik en die een klein dorpie na die ander flits verby en ‘n mens besef eers dat jy deur een is wanneer ‘n groen padteken met ‘n rooi skuinsstreep deur die naam ook verbyswiep.

Soms is daar bondels plantasie weerskante van die pad – lang, dun stamme wat wit in die oggendson glinster terwyl die blare blink en ritselend weerkaats. Ons stop iewers tussen niks en nêrens vir ‘n oggendbreek (busbestuurders word verplig om ‘n twintigminuut-breek na ‘n sekere aantal ure te neem) en die teer is stowwerig en warm in die son. Ons koop iets om te drink en stap ‘n entjie om die koel lafenis van ‘n woud te gaan ervaar. Ek en Manlief stap selfs ‘n entjie met ‘n kronkelpaadjie af waar plantasie woud en ruigte word, ‘n enkele huisie iewers tussen die sagbewegende skadu’s sigbaar raak voor ons omdraai.

Behalwe dat ons busbestuurder nie twee woorde in Engels kan sê nie, blyk dit ook dat hy nie honderd persent seker is van waarheen ons moet gaan wanneer ons aan die buitewyke  van Torun kom nie. Nogal vreemd dat hy nie vertroud is met moderne tegnologie nie, want daar is wel ‘n GPS in die bus. Met ‘n effense draai parkeer hy darem in ‘n groterige parkeerarea en moet ons die laaste entjie tot by die boogingang van die Middeleeuse stad stap. Torun herinner ‘n mens nogal aan ‘n paar van die ander Europese Middeleeuse stadjies, soos Rothenburg in Duitsland.

Ek en Manlief besluit om eers ietsie vir middagete te kry voor ons die stadjie  verken en sien gou ‘n Döner Kebab-plekkie wat ons aandag trek. Dis klein en ongesofistikeerd, maar die pryse lyk billik en die Midde-Oosterling agter die toonbank is saaklik maar nie onvriendelik nie. Dit blyk dat hy van Tunisië af is, want behalwe vir sy voorkoms – donker vel met fletsblou oë en swaar wenkbroue – is daar oral plakkate van Tunisië teen die bure.

Ons wag vir ons kos by een van twee plastiek kafeetafeltjies sonder enige kleedjies. Langs ons sit twee mollige vrouens en ewe mollige man en praat Engels met ‘n tipies Britse aksent. Soos altyd voel dit nie vreemd om sommer net ‘n gesprek met iemand aan te knoop nie en wanneer ek uitvra, hoor ek hulle is van Manchester. Dis twee susters wat vir hulle broer, ‘n Engelse onderwyser in Torun, kom kuier het.

Kort voor lank is ons hoender-en-lamskebabs gereed – 11 Zloty daarvoor betaal met slap tjips daarby – en ons smul lekker voordat ons die stad aanpak.

Torun is ‘n pragtige stad, met baie ou, Gotiese kerke en kieselsteenstraatjies wat allerhande interessanthede wegsteek en jou naderwink. Daar is heelwat ander toeriste in die hoofstraat en by een van die kerke staan twee of drie mans hoog bo in die toring en sing – musiek omtower selfs die mees eenvoudige toneeltjie in iets besonders. Omdat die straat nogal breed is, het ‘n mens nie die gevoel dat jy deur die ander toeriste verswelg word nie. Ons loop rustig aan en verkyk ons aan die klein winkeltjies, wat hulle uitstal en hoe kleurvol alles is.

Hier, soos in die res van Europa, word die kort somermaande met oorgawe gevier en orals borrel blombakke met helder rooi en pienk malvas uit vensterbanke, vanaf balkonne, voor winkeltjies. ‘n Ent op in die straat is ‘n imposante gotiese rooibaksteengebou van wat soos die stadsaal lyk, sigbaar. In sy vierkantige toring pryk ‘n reuse astrologiese horlosie met goue wysers. Onder by sy voete is daar allerhande stalletjies, vrolik en uitnodigend en aan ‘n lamppaal is ‘n tiental rigtingtekens aangebring wat wys waar verskillende bakens in die stad is, maar daarvoor sal ons nie vandag tyd kry nie. Die Poolse name daarby help ook nie juis nie, maar duidelik is dit meestal kerkies en geskiedkundige geboue.

Die geboue weerskante van die straat troon hoog bokant ons uit, rooi baksteen teen helderblou lug en wit wattewolke, ‘n magdom torinkies wat skerp teen die blou afgeëts word. Die fassades  is netjies en so mooi afgewerk. Soms sagte grys mure met venstertjies wit omraam, ‘n lus vir die oog. Ander kere skoonwit mure met spatsels malvas wat van die gietysterbalkonnetjies afhang. Lamppale met hulle lanternligte herinner aan ou flieks en ‘n mens verwag om ‘n kapkar met perde om die volgende hoek te sien kom. En alles is skoon. Skoon en netjies. Iewers het ek gelees of gehoor dat elke geboue op ‘n gereelde klokslag geverf en skoongemaak moet word as deel van die stadsregulasies.

In die kieselsteenstraat voor ‘n winkeltjie sit twee musikante – viool en basviool en die soet klanke van Mozart word hoorbaar bo die sagte geruis van stemme, dwarrel nostalgies tussen die geboue deur. Hulle is nog jonk, sien ek, en daar is reeds muntstukke en geldnote in die viooltas by hulle voete. Die violis se hare en baard is lank en hy het ‘n bloedrooi lap oor die stoel waarop hy sit, gedrapeer. Voor hom is ‘n staander met die musiek, maar sy oë is bottoe terwyl die strykstok magiese klanke uit die snare tower.

Op die stadsplein is ‘n vrugtestalletjie onder wit tentdakkies neffens ‘n heldergeel sambreeltentjie waar blomme en ballonne verkoop word. Drie meisies sit daar naby op ‘n bankie en giggel terwyl hulle roomys eet. Hier draai ons om en loop stadig terug, koop water en sjokolade by ‘n supermarkie en ‘n ent verder soek ons die koel stilte van ‘n pragtige kerkie op waar ons vir ‘n paar minute sit en die ongelooflike detail van die loodglasvensters, uitgekerfde preekstoel en ikone bewonder.

‘n Ruk later bevind ons onsself weer by die ingangsboog en met ‘n paar minute oor voor ons bus toe moet gaan, sit ons op ‘n bankie en wag vir die res van die groep. Langs ons kabbel die water van ‘n rivier verby en orals tussen die fyn blommetjies is daar torgrootte hommelbye wat argeloos hulle gang gaan.

 

Met die terugstap na die bus toe kom daar ‘n omie met ‘n lang, slap swart motor uit een van die parkeerplekke gery. Hy sien ons en besluit om eerder regs om te ry maar misgis hom en  met ‘n gekletter en gekraak ry hy bo-oor ‘n oranje plastiekkeël wat hy nie raakgesien het nie en ons giggel uitbundig, geniet die onverwagse Kodak-oomblik…

Dan weer terug op die bus. Ons volgende stop: Bydgoszcz.

3 gedagtes oor “Middeleeuse juweelstadjie…”

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s