‘n Kort kennismaking met Warskou, Pole

Dis middel-oggend wanneer die vliegtuig uiteindelik op die Chopin-lughawe in Warskou neerstryk. Dit was ‘n lang en uitputtende reis, veral die tweede been vanaf Doha – ek is moeg en vaak en gedisoriënteer en moet mooi dink om te onthou dat ons reeds gisteroggend vroeg al van die huis af weg is. Die opwinding van die reis het iewers tussen die vliegtuig se vlerke en en my slaapbenewelde brein uitgesypel en verdwyn.

Dis eers wanneer ons bagasie in die ruim is, almal veilig vasgegordel sit en die toerbus koers kies stad toe wat ek so diep as moontlik probeer asemhaal en myself daaraan herinner: onthou, geniet elke oomblik want as jy jou oë weer knip, is hierdie ook verby.

Die bus vat ons met ‘n lang roete deur die stad sodat ons ‘n gevoel van Warskou kan kry. Dis tipies Europees, maar tog anders. Ou, historiese geboue staan knus langs fassinerende moderne argitektoniese wonders wat in glas en staal hoog bo die ander troon, asof dit die natuurlikste ding op aarde is.

Pole, besef ek, is nog net ‘n abstrakte konsep in my kop. ‘n Mens kan hoeveel navorsing op die internet doen as wat jy wil, Google-kaarte met instruksies na die naaste supermark uitdruk, die geldeenheid se naam oor jou tong laat rol, leer om goeiemôre en dankie en hoeveel kos dit in Pools te sê terwyl jou oor die fyn nuanses van die gesiglose stem op Google translate probeer opvang, maar wanneer jy jou eerste tree op die grond van ‘n vreemde land gee, waai al daardie idees by jou kop uit, gryp die plek jou stukkie vir stukkie en word jou oë ‘n kamera wat fokus van die een toneeltjie na die volgende. Jy probeer soveel as moontlik indrukke in jou bewussyn vasvang, maar jy kan nie byhou nie – jou sintuie oorweldig jou. Dis reuke, geure, klanke van ‘n vreemde taal, geboue, sypaadjies, winkeltjies, bome, standbeelde, hotelkamers en… vir ‘n oomblik word jy met ysingwekkende spoed in die maalkolk ingetrek totdat jou kop draai en draai en dan dink jy: Stop! Nou is dit tyd om jouself uit te sorteer, wakker te word, in die oomblik te leef.

Ons hotel is net-net op die grense van die ou stad. Amper te ver om te loop, maar te naby om te ry. As jy avontuurlustig is, kan jy van hier af na die Ou Stadsplein toe stap, verby allerhande interessante winkeltjies, kerkies, deur parke, op met sypaadjies, stomend in die somerson. Of jy kan ‘n bus vat, of ‘n trem, of  met die moltrein al die bo-grondse straatjies uitsny tot dit jou weer by jou bestemming uitspoeg.

Die hoofstrate hier rond is breed genoeg sodat die tremspoor in die middel kan loop. Die voetgangers is ordentlik en wetsgehoorsaam en kruis ‘n straat slegs by voetoorgange. Daar is fietsers oral en jy moet maar vinnig opsy spring as jy jouself niksvermoedend in ‘n fietslaan bevind. Die verkeer is nie te druk nie en as jy verdwaal, kan jy net weer vra. Of jou Google-kaart toepassing gebruik. (Nie altyd aan te bevele nie, want ek kan normaalweg nie die instruksies en afstande honderd persent kleinkry nie. Sug.)

In die winkelsentrum reg oorkant die hotel kry ons ‘n geldkiosk waar ons Euro’s vir Zloti kan verruil. Dis 2015 en een Euro kos 14 ZAR – ons kry 4 Zloti vir elke Euro. Dit kos fyn berekening om uit te werk hoeveel ons in ons eie geldeenheid vir iets betaal, maar my goue reël bly altyd: werk jou begroting uit sodat jy ‘n spesifieke hoeveelheid Zloti per dag het en bly daarby. Soveel vir kos, soveel vir soeweniers en dit wat oorbly is ‘n bonus. En moenie onnodig koop nie, veral nie as dit iets is wat jy in Suid-Afrika ook kan kry nie. Koop kultuur, nie kaggelgoetertjies en dingetjies wat net gaan stof vergaar nie. Koop ervaring, nie ‘n ontwerpersbloesie of ‘n paar skoene wat ‘n plaas se geld kos nie.

Een Poolse frase wat ons ver bring is “ Dzień dobry – uitgespreek as  ‘djiendjo(v)brè’ wat sommer goeiemôre, goeiemiddag, goeienaand en hallo in een is. Die enigste ander woordjie wat ek gereeld mompel is ‘Dziękuję!’, uitgespreek as ‘ Dzienkoejè!/ Dzienkwé’ wat ‘dankie’ beteken. Verder is kommunikasie maar met gebare, glimlagte, kopknikke en welwillendheid. Hier en daar is daar wel ‘n woord of twee wat bekend voorkom en alhoewel hulle taal baie vreemd is en herinner aan Russies of Sloveens of Estonies wat baie min vokale in het, is daar ‘n sangerige, melodieuse amper-Franse in sommige woorde opgesluit.

In Europa voel ons Suid-Afrikaners meestal gemaklik, want ons bloed is ‘n goeie vermenging en ons staan nie werklik uit wat ons voorkoms betref nie. In die supermark groet die dames by die kasregisters ons in Pools sonder om te dink, maar wanneer ons in Engels teruggroet, kan jy sien hoe hulle kliek dat ons toeriste is. Hulle bly egter vriendelik en behulpsaam en as ons ‘n handvol note en munte na hulle toe uithou en verskonend glimlag, tel hulle sorgvuldig en geduldig die regte bedraggie af en ons beklink elke transaksie met ‘n vriendelike dankie, krom en skeef, maar in Pools.

Terwyl die koorgroep die volgende dag iewers in die hotel oefen, gaan ons klompie volwassenes op ‘n stadstoer in ‘n minibus. ‘n Rooikoptannie met ‘n swaar Poolse Engelse aksent is ons gids en begeleier.  Ons kyk na die stad deur haar oë en wat sy voel en glo ons moet weet. Ons, vreemdelinge, luister en ons aanvanklike ligsinnigheid verander gaandeweg in ‘n sombere bui. Hoe maklik is dit net nie om vanaf ‘n afstand na die koue feite van ‘n land se geskiedenis te kyk nie, sonder dat dit ‘n mens werklik raak. Maar hier, terwyl ons koppe soos in ‘n tenniswedstryd van links na regs kyk terwyl ons gids die besonderhede uitwys en feite opnoem, begin die prentjie anders lyk. Algaande begin ons dieper kyk, begin ons ervaar dat hierdie ‘n plek met ‘n geskiedenis is. Dat die oënskynlike normaliteit gegrond is op trauma en hartseer.

Warskou oftewel Warszawa is tydens die Tweede Wëreldoorlog omtrent tot op die grond platgevee en moes na die tyd steen vir steen herbou word. Ons ry deur die stad, met Jerusalemlaan al langs die voorheen Joodse kwartiere verby (daar is letterlik net ‘n klein stukkie van die oorspronklike oor) en dan met Marshallstraat tot by die ou stadsgedeelte. Oral tussen die geboue is daar groot, groen parke met helderkleurige blomme. Dis somer in Pole.

Naby die Joodse Museumgebou klim ons af om verder te stap en ons gids rammel die een feit na die ander in haar swaar Poolse aksent af terwyl ons probeer om sin van alles te maak. Stadig maar seker sypel die hartverskeurende geskiedenis van hierdie stad en die menseregte vergrype deur tot in ons bewussyn. Ons staan en luister voor die imposante struktuur van die Joodse museum met sy indrukwekkende glasteëltjies en manjifieke standbeelde – onroerende getuies wat die bloedige gebeure herdenk. Baie van die inskripsies op die gedenkstene is in Hebreeus en Pools met hier en daar ‘n Engelse of Duitse verduideliking by. Ons gids staan lank en praat terwyl ons luister en tussendeur foto’s van alles rondom ons  probeer neem. Dan loop ons na die Umschlagplatz wat die bymekaarkomplek was van waar die Warskouse Jode na die Treblinka uitwissingskamp geneem is. Sommige dae soveel as 10 000 Jode op ‘n keer om uiteindelik ‘n totaal van 300 000 Jode uit een gemeenskap te ruk. ‘n Monument vir die slagoffers is hier opgerig en op die monument  is die name van die mees algemene Pools-Joodse name in alfabetiese volgorde aangebring, vanaf Aba tot Zanna. Elke naam verteenwoordig ‘n duisend slagoffers van die Warskou-ghetto. Die omvang van dit wat ons hoor is skrikwekkend, maar terselfdertyd absorbeer ons dit en bêre dit iewers in ons bewussyn om later emosioneel te verwerk. Vir nou is daar te veel om in te neem. Onder by my voete sien ek ‘n enkele pers blommetjie wat tussen die beton deurgedring het en triomfantelik en kleurvol blom.

Ons volgende stop is die Markplein, alhoewel daar lankal nie meer sprake van ‘n mark is nie. Die plein self is verruklik wat die atmosfeer betref met die gesellige zoem van stemme en die wit sambrele wat koelte vir die restauranttafeltjies verskaf. Blombakke met helder blommetjies verskaf spatsels kleur en die nou systraatjies is fassinerend – weereens is oud en nuut langs mekaar ingesardyn en kan jy jou nie voorstel dat hierdie pragtige stad gelyk met die aarde gevee was nie. Wel, soort van, want dit was gereduseer tot murasies en hope bakstene en rommel. Een rooibaksteenkerk is steentjie vir steentjie terugherwin en elke steen is met sorg weer in sy oorspronklike plekkie herstel. Binne in die kerk is die atmosfeer gewyd, is dit halfdonker en misterieus, kan ‘n mens vir ‘n paar minute stil word en net aan niks dink nie, tot jy weer in die helder sonlig uitstap.

Warskou het baie toeriste, maar jy kan dit nie vergelyk met sommige van die Wes-Europese stede waar jy soms jou pad moet oopveg om iets te kan sien nie. Bedags is daar genoeg plek by een van die restaurantjies waar jy die plaaslike kos of bier kan uitprobeer met musiek wat van iewers af stroom en jou ervaring verder inkleur. Of jy kan in die nou straatjies afloop en by winkeltjies inloer tot jy by die stadsmuur kom waar daar skilderye van alle groottes en kleure uitgestal word.

Of jy kan vir jou ‘n buskaartjie koop waarmee jy heeldag kan rondry, of met dieselfde kaartjie op ‘n trem of die moltrein klim en lukraak iewers afklim, sommer net vir die pret. Hulle openbare vervoerstelsel loop op geoliede ratte en die meeste mense maak daarvan gebruik, selfs tot laat in die aand.

Ons stadstoer kom ook tot ‘n einde.  Iemand in ons groep het iewers gesien dat daar ‘n klavieruitvoering van Frederic Chopin se werke in een van die groot parke gaan wees. Gratis en verniet in die opelug. Ons bussie laai ons reg voor die parkhekke af en ons gids laat ons met instruksies oor hoe om min of meer weer by ons hotel uit te kom.

Die park is lieflik en groen en reeds driekwart vol mense. In die middel by ‘n standbeeld van Chopin is ‘n soort van amfiteater waar mense op stoele en komberse sit en verder op is elke denkbare oop kolletjie op die gras tussen die blombeddings en onder die bome gevul. Ons kry ‘n nessie vir onsself onder ‘n boom en later luister ons midde die rustigheid van die park tussen honderde ander na die musiek terwyl kindertjies rondhardloop en speel.

Operasie Hotel Vind volg hierna – vervoer met ‘n bus of ‘n trem blyk die beste opsie te wees en in die waan dat ons kaartjies op die trem kan koop, gaan ons by die halte wag.  Ons ontdek egter dat die kaartjiemasjien nie kontant of kredietkaarte neem nie maar dis te laat om weer af te klim. Ons weet nie of ons moet giggel of benoud moet wees nie, maar byt vas en loer onderlangs vir mekaar met die hoop dat daar nie ‘n inspekteur opklim en ons beboet of summer van die trem afgooi nie.

Dis met verligting wat ons min of meer naby ons bestemming uit die trem uit spring en ons giggel en praat almal tegelyk. Die entoesiasme verdwyn egter wel na ‘n ruk toe ons met ‘n Kaapse draai moet loop om weer by ons hotel uit te kom.

Die wonderlikste ding omtrent Europese somersaande is die son wat so laat ondergaan. Vroegaand is die ergste hitte van die dag oor en dan is dit nog heerlik lig buite. Genoeg tyd om tot laataand rond te drentel in die aandatmosfeer te geniet. Of om koffie by een van die pleinrestaurantjies onder groot sambrele te drink, miskien ietsie ligs te eet en die tyd geselsend te verwyl.

‘n Mens kan slegs maar ‘n baie klein stukkie van die hart van ‘n stad in ‘n besoek van ‘n dag of twee leer ken. Jy kan dit doen sonder ‘n gids, sonder enige vooropgestelde planne, of jy kan dit meer gestruktureerd doen, by al die belangrikste en bekendste besienswaardighede uitkom. Maak nie saak hoe jy dit benader nie, jy sal steeds net ‘n breukdeel van dit wat ‘n plek bied, kan verken. En indien jy gelukkig genoeg is en op ‘n ander keer weer daar kan uitkom, sal die stad vir jou ‘n ander profielfoto verskaf en jou van vooraf opgewonde maak. Die belangrikste is om soveel as moontlik te sien en soveel as moontlik te doen, maar nie so dat die plesier daaruit verlore gaan omdat jy naarstiglik alles op een slag wil inprop nie en alles net in ‘n waas verbygaan nie.

Volgende keer meer oor die middeleuse stad Torun en Szczecin, ‘n ander Poolse stad wat in die Duitse besettingstydperk as Stettin bekend gestaan het.

5 gedagtes oor “‘n Kort kennismaking met Warskou, Pole”

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s