Terug in die Middeleeue

Sondagoggend is dit tyd om Pärnu met al sy pragtige herinneringe vaarwel toe te roep.  Net na ontbyt en ‘n vinnige afranseling (‘n klompie seuns het die vorige nag later uitgebly as wat hulle toegelaat was) sny ons gou die koek wat die koor as gehoorprys gewen het. (Dis tradisie om ‘n reuse koek vir die gehoorgunsteling te gee. Vreemd vir ons uit Afrika).  Daarna pak ons en terwyl die seuns die bagasie ondertoe dra, maak ek gou ‘n draaitjie in al die kamers om te kyk of iets agtergebly het. Ek kry ‘n paar skoene in een kamer, half weggesteek onder ‘n bed en in ‘n ander een ‘n das oor ‘n handdoekreling.

Buite by die bus ontdek ons dat daar sowaar by die bus ingebreek is en dat Ludwig, die bestuurder, se bagasie wat hy in die bus gehou het, gesteel is. So ook is die yskassie wat voor in die bus gehou word met koeldranke en water, leeggemaak…

Gelukkig is Ann daar om die polisie te bel en ‘n rukkie later as tolk op te tree sodat die saak amptelik aangemeld kan word. Uiteindelik is die formaliteite afgehandel en kan die seuns die busse pak. Ons groet vir Ann en Merike, twee pragtige mense wat ons soveel gehelp en bygestaan het terwyl ons hier was.  Buite op die sypaadjie staan ‘n bedremmelde groepie meisies wat kom groet en wanneer die bus uiteindelik wegtrek, rol die trane behoorlik. Vir my wil dit voorkom of die seuns heimlik baie gevlei is deur die kortstondige aandag en glad nie so emosioneel oor die afskeid is as wat die meisies sou wou hê nie.  (Vandag, ‘n dekade later, is een van die seuns wat saam met ons was met Merike getroud en woon hulle albei in Moskou! Sy het ons ‘n jaar gelede hier kom groet.)

Ons ry terug na Tallinn toe waar ons vinnig by die hotel inboek en ons tasse neersit. Die koor is geskeduleer om om twee-uur vanmiddag ‘n opelugkonsert op die stadsplein te gee. Die bus laai ons so twee blokke van die plein af en ons volg die gids wat vir ons gewag het.

Skielik voel dit vir my of ek myself in die midde-eeue bevind – hierdie Sondag is die laaste dag van ‘n jaarlikse weeklange middeleeuse fees wat in die stad gehou word. Dis ‘n besonder kleurvolle prentjie wat ons op die plein begroet – honderde stalletjies wat allerhande oulike goedjies verkoop. Van snaakse punthoede van velt of wol, tot helderkleurige tradisionele rompe, serpe en klompe. Handgemaakte juwele, koekoekhorlosies en allerhande interessante artikeltjies. Die mense wat die stalletjies beman is in fassinerende middeleeuse kleredrag uitgedos.

Miernes

Middeleeuse stalletjies
Middeleeuse stalletjies
Van alles en nog wat
Van alles en nog wat

Ons kom agter dat daar baie toeriste ook is, want dis somer enTallinn is een van die gewildste vakansiebestemmings vir lande soos Swede, Finland en Denemarke.  (Toe ons in 2007 weer daar was, het ons gehoor dat die stad intussen ook gewild geraak het vir die hou van rampartytjies – dat groepe mans selfs van ander dele van Europa en Engeland daarheen vlieg om ‘n naweek van drink en rinkink te hê!) Dis hier maklker om in Engels te kommunikeer as wat die geval met kleiner plekke is.

Die stadsaal van Tallinn is een van die beste voorbeelde van ‘n Gotiese boustyl in die Baltiese state en volgens sommiges, selfs in die hele Noord-Europa.  Dit is soos met die meeste van die groot strukture oor ‘n tydperk lank gebou, naamlik van 1371 tot 74 en later weer vir drie jaar, beginnende by 1401.  Fassinerend.

Pragtige geboue
Pragtige geboue

Aan die een kant van die plein is daar ‘n verhoog opgerig en met ons aankoms is ‘n groep musici besig om met Middeleeuse instrumente musiek te maak.  Daar is min dinge wat so ‘n feestelike atmosfeer skep soos hierdie soort musiek.

Manlief doen vinnig iewers in ‘n hoekie ‘n paar opwarmingsoefeninge met die koor terwyl die res van ons ‘n bietjie rondsnuffel. Ek ontdek vreeslike interessante winkeltjies in die systraatjies en stegies, en selfs ‘n paar met trappe af onder in kelders in.

Na die opwarming gaan kry ek vir Manlief en ons gaan soek ‘n plek om koffie te drink, kry een nie ver van die plein af nie. Ons knoop ‘n gesprek met die eienaar agter die toonbank aan, want ons is nuuskierig oor die “Tea House” benaming van die plekkie. Hy vertel dat die Estoniërs eintlik baie lief is vir koffie maar dat hulle probeer om meer mense te kry om tee te drink.

The Tea House
The Tea House
Hulle nasionale tv-nuusspan
Hulle nasionale tv-nuusspan

Terug by die plein het Manlief eers ‘n onderhoud met ‘n plaaslike televisiestasie, waarna hulle ook met die koor se hoofleier gesels.  Dan is dit konserttyd, maar met al die ander aktiwiteite wat aan die gang is is dit onwaarskynlik dat hierdie hoekie veel aftrek gaan kry. Manlief besluit om met die gumboot-dansroetine te begin en kort voor lank is almal se aandag op die verhoog. Sommiges staar oopmond en luister en aan die einde van die danse en Afrika-liedjies (wat hulle heeltemal fassineer) bars die applous los.

‘n Klomp mense kom drom om Manlief saam om te hoor wie hy is en waar die koor vandaan kom. ‘n Vrou gee vir hom ‘n bos blomme – sy het van iemand in Pärnu van die koor gehoor en wou graag kontak maak.  ‘n Ander paartjie kan weer skaars hulle opgewondenheid bedwing, want hulle het die skool se wapen gesien wat amper net soos hulle eie koor, ‘n seunskoor in Tallin, s’n lyk.  Tussen die mense is ook ‘n klompie wat die koor reeds in Pärnu gehoor het en weer na Tallinn toe gekom het.  Onder andere is daar Juri-Ruut, die dirigent van die Estoniese Jeugsimfonie-orkes, wat daar vir Manlief vertel dat hy nie een van die konserte in Pärnu gemis het nie en dat hy beplan het om elke konsert in Tallinn by te woon. ( Hierdie kennismaking het daartoe gelei dat sy orkes in 2007 in Suid-Afrika saam met Manlief se ander koor kom toer het.)

‘n Prettige affêre inderdaad.

Laaste dag in Pärnu

Saterdag Julie 2002. Vanoggend was daar tyd  om in Pärnu se middestad te gaan rondloop voor die middag se bedrywighede.  Ons het oral ingeloer – van tweedehandse klerewinkels om te sien wat die gewone Estoniër vir klere betaal, tot ‘n moderne winkelsentrum waar bekende handelsname hulle produkte in helderverligte vertoonvensters uitstal. Die mees fassinerende is egter die ou-wêreldse mantel wat die middestad dra – kieselsteenstraatjies en ou geboue met hulle eie karakter. Ek wonder altyd watse stories die mure sou vertel indien hulle stemme sou gehad het…

Vroegmiddag stap ons deur die boomryke strate met die son wat kol-kol tussen die blare deur speel na die plek waar middagete in tente bedien word. Van daar af beweeg al die kore na die stadion toe vir ‘n repetisie. Rye en rye stoele is op die gras staangemaak, terwyl die kore op die paviljoen bymekaar kom.  Daar is reeds ‘n paar orkeste wat hulle instrumente opgestel het en besig is om dit galmend in te stem.

Middagete
Middagete
Taiwannese koor
Taiwannese koor
Een van die vele orkeste
Een van die vele orkeste
Stout gesiggies!
Stout gesiggies!

IM000440

Na die repetisie stap ons ‘n verdere twee blokke na ‘n skoolsaal toe waar ons koor ‘n middagkonsert moet doen. Met hierdie kompetisie en soveel ander kry die gemeenskap in ‘n dorp of stad sowel as ander nabygeleë plekke altyd die geleentheid om na die kompetisiekore te luister. Ek hou nogal van die idee, want so kom ‘n mens dikwels by plekkies uit wat jy selde of ooit as ‘n gewone toeris sou besoek. Dis ook interessant en opwindend om tussen gewone mense te wees waar musiek en sang ‘n internasionale kommunikasiemedium is sonder dat enigiemand mekaar se taal hoef te praat.

Waar kom dié vandaan?
Waar kom dié vandaan?
Volgepakte saal
Volgepakte saal

Met ons aankoms is dit dadelik duidelik dat die organiseerders nie voorsiening vir ‘n groot gehoor gemaak het nie, want gou-gou is die klein saaltjie vol en moet daar nog stoele ingedra word. Ons klompie Suid-Afrikaners besluit om ons sitplekke af te staan en ek kry vir my ‘n plekkie in ‘n breë vensterbank waar ek as bonus ‘n goeie uitsig onder op die straat het. Tot my verbasing sien ek hoe ‘n perdekar ‘n langerige, geel waentjie trek. Rustig, asof dit die mees natuurlike ding in ‘n stad is.  Die saal is gou so vol dat mense by die deur en selfs met die trappe af saamgebondel staan. Ek wonder wat in hulle koppe aangaan, hierdie mense vir wie musiek so ‘n integrale deel van hulle leefwyse is.

In die gehoor is natuurlik al ‘n paar bekende gesiggies – die jong meisies wat oral saam met die seuns gaan, sowel as ‘n handvol volwassenes wat die koor ‘aangeneem’ het. (Later sou ons hoor dat daar ‘n paar van hulle was wat nie ‘n enkele van die koor se konserte gemis het nie!)

Langs my staan ‘n Duitser wat iets vir my sê. Alhoewel ek so ‘n paar woorde verstaan, antwoord ek hom in Engels. Hy is eintlik net daar uit nuuskierigheid, sê hy, en was nie veel te wagte van ‘n skoolkoortjie nie, maar hy is aangenaam verras.

Die konsert word met die nou gebruiklike Afrikamusiek en gumbootdanse afgesluit. Na die derde éncore moet Manlief egter halt roep – die gebruiklike optog van kore gaan binnekort begin.  Gelukkig neem dit net ‘n paar minute om by die beginpunt te kom en word ons deur ‘n skouspelagtige, helderkleurige prentjie begroet. Die kore het almal hulle tradisionele drag aan en dis ‘n fees vir die oog. Daar heers ‘n vrolike atmosfeer, want die spanning van die paar dae se kompetisie is verby en mense lag en gesels.  Een van die organiseerders wys waar ons koor tussen die ander moet inval.  Elke koor het een of ander vlag of banier wat hulle dra. Ons klompie het gelukkig ‘n groot Suid-Afrikaanse vlag gebring wat natuurlik baie belangstelling uitlok. Dan begin die groepe beweeg terwyl honderde toeskouers langs die strate saan en juig en waai. Voor in die optog is ‘n marsorkes wie se klanke die strate vul. Inderdaad ‘n vreugdevolle geleentheid wat almal terdeë geniet.

Die Suid-Afrikaanse vlag  word trots gedra
Die Suid-Afrikaanse vlag word trots gedra
Kleurvolle tradsionele drag
Kleurvolle tradsionele drag

Die roete eindig by die stadion wat stadig maar seker met toehoorders, kore en orkeste vul. Die konsert  is ‘n hele twee ure lank, maar vir ons klompie in die gehoor vlieg die tyd verby – ons geniet dit om na al die kore en orkeste te luister. Die seuns, daarenteen, moet heeltyd tjoepstil op die paviljoen bly sit totdat dit hulle beurt is om deel van die optrede te vorm. Na die konsert het ons die res van die aand af en word daar glo ‘n ‘partytjie’ in die stadion gehou. Die seuns het egter genoeg gehad, want die partytjie is glad nie so opwindend nie na ‘n besige dag wil hulle eerder rondloop en na ‘n pizza- of burgerplek gaan soek.  Manlief en die koorhoofseun is as verteenwoordigers van die koor na ‘n formele dinee uitgenooi en ek stap saam met Beth terug jeughostel toe, behoorlik pootuit na ‘n besige maar opwindende dag.

Singende seuns verower harte in hierdie verre land…

Julie 2002. Vanoggend se ontbyt in Louna Jeughostel het weer ‘n verrassinkie of twee opgelewer, deurdat ons nie alles kon identifiseer nie. Die ‘suurmelklekkerny’ op die spyskaart ken ons nou al, maar daar was ook ‘n ontbytgereg wat enigiets tussen hawermout en ‘n baie dik ertjiesop kon wees. Gelukkig was daar genoeg brood en vrugte om die honger magies vir eers te vul.

Vandag is een van die besigste dae van die toer met nie minder nie as drie optredes wat geskeduleer is. Die eerste een is ‘n opelugkonsert in die middestad, slegs ‘n paar blokke van die jeughostel af, dus kan ons daarheen loop. Die ou stad is lieflik met sy middeleeuse karakter, maar sonder enige pretensie.  Te oordeel aan die hoeveelheid tweedehandse klerewinkels is dit duidelik dat daar in hierdie stadium nog glad nie geld in oorvloed is vir die gewone Estoniër nie.  Wanneer ek vir Annemaarje daaroor uitvra, bevestig sy dat nuwe klere amper onbekostigbaar duur is en dat die meeste van hulle geholpe raak met tweedehandse klere.  (Na ‘n paar dae in Pärnu het die seuns ook agtergekom dat die meisies wat hulle in daardie tyd leer ken het, elke dag dieselfde klere dra en gefrons. Toe ek die geleentheid kry, het ek vir ons bevoorregte privaatskoolseuns mooi verduidelik hoeveel hulle het om voor dankbaar te wees…)

Die straatjies in die stad is redelik nou en daar is baie min motors, aangesien parkeerplek so skaars en baie duur is.  Baie min mense besit ook motors, dus is die meeste Estoniërs van openbare vervoer afhanklik.  Vir ons vreemd, vir hulle ‘n leefwyse.  Al met die straatjies op tot voor die Eestipank (bank) waar daar ‘n groot oop ruimte is, loer ons kort-kort by winkeltjies in om te sien wat hulle aanbied.  Die lug is bewolk en ons is effens bekommerd oor die beplande opelugkonsert.

Op pad na die opelug-konsert
Op pad na die opelug-konsert

Op pad na die opelugkonsert

Daar aangekom is daar nog genoeg tyd vir die klompie seuns wat die gumbootdanse doen om hulle passies vir oulaas te oefen.  ‘n Paar ander kore in vrolike, kleurvolle tradisionele drag gaan ook optree en die program inlei.  Wanneer hulle dit doen, kombineer hulle die sang met danse en kort voor lank is daar ‘n hele skare rondom die pleintjie vergader.  Gelukkig bly die reën weg tot na ons koor se optrede en daarna het almal ‘n uur of wat vry om ‘n bietjie rond te loop.

Oop ruimtes in die moderner deel
Oop ruimtes in die moderner deel
Afrika-styl
Afrika-styl
Estoniese danse
Estoniese danse

Dit het die seuns nie lank geneem om ‘n meer moderne winkelsentrum te ontdek en daar ‘n hele paar Estoniese Kroon op ontwerpersklere te spandeer nie.  Volgens hulle is dit ‘spotgoedkoop’, maar ek skud maar net my kop in verwondering.  Ek neem hulle egter nie kwalik nie, want meeste van die kinders besef in hierdie stadium nie hoeveel swaarder die waarde van ervaring teenoor aardse goed opweeg nie.  Later in die toer het ek wel my mening kon lug: “Julle ma’s en pa’s het hard gewerk vir die geld waarmee julle nou so lekker toer en dis hoofsaaklik sodat julle ‘n onvergeetlike ondervinding sou opdoen, nie dat julle klere en goed moet koop wat julle in Suid-Afrikan ook kan kry nie…”

Terug by die hotel moet die seuns hulle ‘nommer eens’ aantrek – die formele skooluniform, gebaadjie en gedas – vir die pryswennerskonsert in die saal waar hulle die vorige aand gesing het.  Dit is hier, aan die einde van hulle vertoning, waar my hart week raak vir die Afrika-karakter van ons volkslied waarmee hulle uit volle bors afsluit: Nkosi Sikelel’iAfrika.  Dis eenvoudig net ‘n ongelooflike emosionele belewens om dit so ver in die vreemde te hoor en te sien hoe honderde mense aandagtig daarna luister, op aandag staan.

Al die aankondigings oor die kompetisiewenners word in Estonies gedoen, en ten spyte daarvan dat Ann en Merike sover as moontlik probeer vertaal, is daar nie werklik genoeg tyd tussenin nie en glimlag ons maar net elke keer half skaapagtig terwyl ons saam handeklap vir wie ook al in watter kategorie aangekondig word.  Wanneer die twee egter gil en jil en op en af spring, lei ons af dat ons koor iewers iets gewen het. Die volgende oomblik word daar ‘n pad tussen die mense oopgemaak, reguit na ons toe – ‘n reuse koek!  Dit is tradisie in Europa om die gehoor se gunstelingkoor aan te wys en ons kliek dat dit ons koortjie is wat dit gewen het.  ‘n Paar minute daarna spring Ann en Merike weer op en af en hierdie keer kom daar ‘n Engelse vertaling saam met die Estoniese toespraak – Manlief en sy koor het derde prys algeheel verower. ‘n Groot prestasie, veral in die lig van die feit dat die Taiwanese koor wat gewen het, al ‘n hele paar groot internasionale kompetisies op hulle kerfstok het en dat al die ander pryswenners volwasse kore is.

In hierdie stadium van die verrigtinge het die meeste van ons al die ander kore gehoor en het die seuns en die Taiwanese koor al goeie vriende geraak – mekaar oor en weer bewonder. Elke keer wat ons koortjie opgetree het, het die Taiwanese hulle toegejuig en kort voor lank het almal saam foto’s geneem en klein soeweniertjies uitgeruil.

Aandete later die dag is in ‘n dorpie nie te ver van Pärnu af nie. Die tafels is reeds gedek in ‘n gemeenskapsaaltjie wanneer ons arriveer en daar is ons weereens getrakteer op… suurmelk.  Dis natuurlik saam met die hoofmaaltyd van vleis en groente.  Ek voel baie sleg daaroor om te sien hoeveel glase melk teen die einde van die ete onaangeraak op die tafels bly, maar ek kan die seuns nie kwalik neem dat hulle nie ‘n blitssmaak daarvoor kon ontwikkel nie.

Na ete word ons eers na die dorpie se kulturele museum geneem waar ‘n vrou wat self ‘n musikus is, vir ons ‘n kort oorsig van die dorpie se geskiedenis gee.

Die koor se derde groot optrede vir die dag is in ‘n Lutherse kerkie – erfenis van die Duitse okkupasietydperk.  Volgens Ann is daar maar ongeveer tien persent Estoniërs wat nog gereeld kerk toe gaan, maar vanaand is die kerk tjok en blok vol en doen die seuns hulle reputasie gestand deur ‘n steruitvoering te lewer.  Aan die einde van die konsert roep die gehoor hulle terug nadat hulle afgestap het en teen die derde keer wat hulle terugkom, besluit Manlief om almal te betrek deur vir hulle ‘n paar danspassies op die maat van een van die Afrikaliedjies, Teka-Teka, aan te leer.  Dit is nogal ‘n gesig om van kinders tot ou omies en tannies te sien dans.  Na die tyd vind ons uit dat daar ook ‘n televisiespan van Tallinn af was en dat die uitvoering die volgende dag op hulle nasionale televisie uitgesaai word.

Dit is vreemd om na tien in die aand uit ‘n helderverligte gebou te stap, net om te ontdek dat daar steeds daglig buite is, maar dis heerlik. ‘n Mens is in elk geval so deurmekaar wanneer jy toer dat jy enige tyd van die dag of nag kan slaap of eet. Jou liggaam pas aan by alle tye en omstandighede.

Hierdie Vrydagaand is nog lank nie verby nie en almal van ons word weer terug na Pärnu toe na die saal waar die kompetisie was, geneem.  ‘n Plaaslike hoërskool bied West Side Story in Estonies aan en dis absoluut briljant. Na die vertoning is daar vrolike musiek en danse en ons seuns laat nie op hulle wag nie. Hulle doen met oorgawe mee en geniet hulleself gate uit. Selfs die skaamste outjies het die moed om die Estoniese meisies te vra om te dans.

Dan is dit tyd om terug jeughostel toe te gaan en ons loop in ‘n groep deur die stil, breë strate, so vyf of ses blokke ver. Kort-kort kom vertel iemand hoe lekker dit was om soveel selfvertroue te kon hê.  Een ding waaroor hulle almal saamstem, is dat die Estoniese meisies beeldskoon is.

Ons het die voorafgaande paar dae nie veel tyd gehad om Pärnu werklik te leer ken nie, maar ek skat dit is wat met meeste toere gebeur – ‘n mens sien maar ‘n klein stukkie van die groter geheel.  Ons het die ent tussen die Louna hostel en die plek waar die kompetisie plaasgevind het wel goed leer ken en een of twee keer het ek dit gewaag, wanneer ek op my eie was, om ‘n effense ompad te loop sodat ek ‘n bietjie meer van daardie deel kon sien.  Soos ek reeds vroeër genoem het, was die onopgesmuktheid van die stad opvallend. Die seuns het dit dadelik toegeskryf aan ‘luiheid’ om  gras te sny of parke in stand te hou, maar vir my het dit daaroor gegaan dat as ‘n mens slegs drie maande van regtige somer het, jy jou nie gaan besig hou met dinge soos grassny en bome snoei nie.  So het ons gereeld verby ‘n groot park geloop wat ‘n mens meer die idee van ‘n stukkie natuur iewers in die platteland gegee het. Dit was lukraak oor die park versprei, hoog en groen en kol-kol was daar selfs ‘n huis tussen-in, asof daardie deel eenvoudig net nie verder ontwikkel was nie en dus in ‘n stadium net as groen gebied verklaar is.

Omdat Pärnu die Estoniërs se somervakansiestad is en die kompetisie terselfdertyd baie kore sowel as toehoorders gelok het, was daar deurentyd ‘n feestelike atmosfeer. En – duidelik het die alkohol vrylik gevloei.

Die sypaadjies in Pärnu is breed genoeg sodat voetgangers, fietsers en skaatsers almal genoeg spasie het.  Fietse is daar nie so baie nie, maar rolskaatse en skaatsplanke wel.  In die aande, wanneer dit nog lig is, speel die kinders tot tien- elfuur nog buite. Dit is immers hulle somerskoolvakansie.

Dit het die koorseuns nie lank geneem om gou vir hulleself ‘n mini-gevolg in die vorm van permanente meisie-aanhangers op te bou nie en kort voor lank het ons ook van die gesiggies geleer ken.  Hulle is tipiese tienermeisies, baie bewus van hulle eie ontwakende vroulikheid  maar nogtans nie ‘te’ prontuit nie. Dis nou natuurlik op die oog-af, hoe hulle optree wanneer ons chaperones by is. Tog is hulle terselfdertyd ook onopgesmuk, gebruik nie baie grimering nie (grimering is ook ‘n duur item) en dra, soos ek genoem het, dieselfde klere vir ‘n paar dae aanmekaar.

Pärnu is verder ‘n stadjie vol kontraste.  Langs ‘n afgeleefde en verwaarloosde woonhuis sien ‘n mens ook ‘n pragtige gerestoureerde villa.  Slegs ‘n paar blokke van die goedbewaarde middestad is die vaal, verleë strate ook, met half-vervalle geboutjies styf langs mekaar ingedruk, ‘n sekswinkel langs ‘n kafeetjie en aan die anderkant ‘n groot, verroeste sinkdeur so groot soos ‘n waenhuis.  Sekere dele, ver van die ou en gevestigde woonbuurte, staan soos littekens van die Sovjettydperk uit  en selfs nou, in die feniks-tydperk van die land, is daar nie geld vir indrukwekkende nuwe geboue met gewels of fieterjasies nie, en die moderner dele is eklekties aanmekaar geflans.

Pragtige gerestoureerde huis
Pragtige gerestoureerde huis
Nalatenskap van 'n vaal tydperk...
Nalatenskap van ‘n vaal tydperk…

Een aand neem Annemaarje ons na ‘n ‘nuwer’ restaurant-cum-wegneemete plek waar sy as inwoner weet die kos is bekostigbaar. My hart het onverklaarbaar seer geword.  As ons hier in Suid-Afrika, bedorwe soos wat ons is, so ‘n plek sien, sou ons nie eers die moeite doen om daar in te gaan nie, bloot net omdat dit so onpretensieus, vaal en lelik van buite af is. Vierkantige ongeverfde struktuur en binne in die reuk van klam sement, growwe vloere, die stoele en tafels van plastiek en ongemaklik.   Maar die slaptjips is heerlik en die koffie goedkoop…

Wegneemrestaurant wat die sak pas
Wegneemrestaurant wat die sak pas

Voet aan vreemde walle…

Julie 2002  Saam met ons veerboot het daar ‘n hele paar ander ook gearriveer – honderde passasiers piekel nou met hulle tasse doeane-beheerpunt toe. Dis ‘n lieflike, helder dag en die vooruitsig van my eerste kennismaking met Estonië laat die opwinding op die krop van my maag fladder. So tussen die voortskuifel in die lang tou hou ek ‘n ogie oor die seuns, maak sommetjies in my kop om te sien of almal daar is. Weereens verwonder ek my aan die vermoë van die jeug om so vinnig terug te bons na wat beslis ‘n avontuurlike, laat nag was.

Dit neem ‘n hele rukkie vir almal in ons groep om deur te beweeg en teen die tyd wat die formaliteite uiteindelik afgehandel is, wag ons bus al buite om ons na Pärnu, ons eintlike bestemming in Estonië, te karwei. Die bus het saam met ons in die maag van die veerboot gery en Ludwig en Ahrmen was van die eerstes om van die boot af te klim.

Die voorreg om te sien hoe Tallinn, hoofstad van Estonië lyk, is ons nog nie beskore nie, want van die hawe af woerts ons slegs deur die buitewyke van die stad om so gou as moontlik in Pärnu te kom. Tallinn is in hierdie stadium net ‘n klomp geboue wat verbyflits.

Pärnu is net 130 km van Tallinn af en alhoewel ons bus baie gemaklik is, voel dit so ‘n bietjie of ‘n mens op een van daardie perdjies van ‘n mallemeule is omdat die pad in so ‘n swak toestand is. Baie hobbeltjies en duike later arriveer ons in die Estoniese stad wat bekend staan as die land se somerhoofstad oftewel, die Riviera van die Baltiese See.

Estonië se geskiedenis is net so hobbelrig soos die pad tussen Tallinn en Pärnu.  Deur die eeue heen was hulle vanweë hulle ideale ligging menigmaal die teiken van gierige lande wat op een of ander manier mag wou verkry.  Hierdie besetters was onder andere Denemarke, Swede, Rusland en Duitsland. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is die landjie eers deur Duitsland en toe, finaal in 1944, deur Rusland geannekseer en het dit deel van die Russiese Federasie geword.  Op 20 Augustus 1991 het hulle finaal die juk van die Federasie afgegooi en hulleself onafhanklik verklaar. Dit was die gevolg van die “Singende Rewolusie” wat in 1989 ontstaan het.  Hierdie mense het nooit die wapen teen enige ander land opgevat nie, maar in hierdie jaar het hulle vasgestaan en hulle verset om onafhanklikheid af te dwing.  Saam met Latvië en Litaue het hulle hande gevat en ‘n menslike ‘ketting’ bestaande uit meer as twee miljoen, regoor die drie lande gevorm.  Later meer oor die sangkultuur van hierdie nasie wat aan die Ooste deur Rusland en die Suide deur Latvië begrens word.  Hulle ‘buurstate’ oorkant die Golf van Finland, is Finland en Swede.  Hulle taal toon sekere ooreenkomste met Fins, maar verskil ook baie en hier en daar is ‘n verdwaalde Duitse of Russiese woord.

Met ons eerste kennismaking Pärnu kry ek die indruk dat hierdie stadjie nou, tien jaar na hulle onafhanklikheidsverklaring, met alle mag en krag uit die verwurgende nadraai van die kommunistiese stempel probeer loskom.  Miskien is dit die uitbundigheid van hierdie somervakansiestad-atmosfeer, dalk is dit die groot hoeveelheid privaathuise en ander geboue wat reeds gerstoureer is of die proses van rekonstruksie is, maar in hierdie stad word daar gewoel en gewerskaf.

Baie van die huise is van hout, nie noodwendig kleurvol nie, maar stylvol en anders. Later, in die loop van ons verblyf in Pärnu, hoor ons dat hulle in die Sovjet-tydperk nie toegelaat was om hulle huise te verf nie. Dele van die stad  het ry op ry depressiewe, eenvormig grys woonstelblokke wat troosteloos in die helder daglig staan.

Die ouer dele van Pärnu is boomryk en ‘n mens kry die idee dat  die bome natuurlik daar groei en nie spesifiek aangeplant is nie – dis oneweredig in die parke en langs die strate versprei. Verder vertoon die gras wat oral op die sypaadjies en in parke groei welig en onversorg, asof die somer te kort is om nog met goed soos grassnyerye en netjiese snoeiwerk te sukkel.  Die effek daarvan is egter vrolik, lighartig, vry en natuurlik.

Ons blyplek vir die tyd in Pärnu is in ‘n jeughostel ‘n blok of twee van die ou middestad af.  Die bus parkeer in ‘n nou systraatjie en daar by die ingang van die hostel wag Ann, ons Estoniese gids. Ann is eintlik die kort weergawe van haar Estoniese naam, Annemaarje en sy is ‘n Engelse onderwyseres by ‘n plaaslike hoërskool.  Elke koor wat aan die kompetisie deelneem het twee gidse wat permanent aan hulle sy sal bly vir die duur van die kompetisie.  Alhoewel Ann aanvanklik baie jonk oorkom, vind ons later uit dat sy 35 is, getroud is en ‘n seuntjie van agt het.  Die seuns is natuurlik baie meer geïnteresseerd in ons ander gids – Merike, ‘n blonde hoërskoolmeisie met ‘n vriendelike glimlag en uitstekende Engels.  Ann fluister in ons oor dat Merike die topstudent by hulle hoërskool is.

Van die buitekant af lyk die jeughostel, Louna, ‘n bietjie vaal en vervalle, maar binne word ons aangenaam verras.  Dit is heel onlangs gerestoureer en alles is skoon, netjies en nuut oorgedoen.  My en Manlief se kamer is ruim en ons volwassenes deel almal ‘n badkamer aan die oorkant van die gang. Die seuns het die res van die badkamers tot hulle beskikking.

Veel tyd vir rondkyk of uitpak is daar egter nie, want die koor het net tien minute om vinnig te verklee voordat die bus ons na die repetisielokaal by ‘n skool moet neem.  Daar stop die bus aan die agterkant van ‘n weereens half-verwaarloosde gebou waar hulle gou stemme kan opwarm en repeteer. Eers wil ek vir die halfuur net in die bus bly sit om my notas op datum te bring, maar na ‘n paar minute sien ek tot my verbasing hoe dit skielik buite donker begin raak. Dan breek ‘n donderstorm met mag en mening uit – ek het altyd gedog dis net in Suid-Afrika waar ons donderstorms op hierdie skaal van intensiteit en lawaai beleef, maar duidelik was ek verkeerd.  Ek wil-wil net benoud begin raak,  veral wanneer die seuns na nog so tien, vyftien minute almal terughol bus toe.  Ann effens bekommerd noem dat hulle nie eintlik baie sulke donderstorms hier kry nie. Die hemele skeur behoorlik oop. (Ons sou die volgende oggend hoor dat ‘n orkaan groot skade in Tallinn veroorsaak het.)

Die bus veg behoorlik ‘n pad tussen die emmers vol reën deur na die kompetisielokaal – ‘n moderne kerk so agt of tien blokke verder. Daar aangekom vat Ann die seuns na ‘n groterige vertrek aan die agterkant van die kerk toe waar hulle moet wag tot dit hulle beurt is om te sing. Die ideaal sou natuurlik wees dat almal ten minste ‘n dag gehad het om asem te skep, maar ongelukkig kon dit nie so gebeur nie. My hart swel van trots wanneer dit uiteindelik hulle beurt is om op die verhoog te stap. ‘n Mens sou nooit raai dat hulle eintlik twee dae se reis en min slaap agter die blad het nie.

Soos altyd begin hulle eers met die kategorie vir ernstiger werke. Hier vind ons ook uit dat dit die enigste hoërskoolkoor is wat deelneem – al die ander kore is volwassenes van hoofsaaklik Estonië, ‘n land vir wie koorsang so deel is soos rugby en braaivleis vir Suid-Afrikaners.

Dan volg die ligter werke en Afrika-klanke – laasgenoemde gekombineer met ‘gumboot-danse’ waarvoor die groepie van agt seuns gisteraand nog op die bo-dek van die veerboot geoefen het. Hulle word met oorverdowende applous vanuit die gehoor se kant beloon, maar die beoordelaars se gesigte gee nie veel weg nie.

Dan is dit tyd om terug hostel toe te gaan en kort voor lank vibreer dit in die gange soos die seuns lag en tekere gaan, tussen die kamers rondloop en in die storte sing.  Die chaperones maak ‘n laaste draai by al die kamers om seker te maak almal is daar en geholpe voordat ons self ook teen elfuur op ons beddens neerplons.

Ann
Ann
Lawwe gesiggie tussen kleurvolle balletjies
Lawwe gesiggie tussen kleurvolle balletjies
Laaste gumboot-oefening
Laaste gumboot-oefening
Eilandjie op eilandjie...
Eilandjie op eilandjie…
Elfuur in die nag op die bo-dek!
Elfuur in die nag op die bo-dek!
Wag vir hulle beurt ...
Wag vir hulle beurt …
Op die verhoog in 'n vreemde land
Op die verhoog…