Op ‘n veerboot agter die ystergordyn se fladderende stukkies in…

Woensdag 3 Julie 2002.   Ons het reeds gister met ons reis begin.  Hierdie keer is die groep saam met wie ek toer soos ‘n warm kombersie om my: Manlief die koorleier, ‘n getroude paar wat saam met my as chaperones optree, een mammie wat saamgaan en een ouma met ‘n sin vir humor soos min. Laastens, die koor: klomp seunskinders wat uit hulle vel is van opgewondenheid oor hierdie toer.

Die enigste seer hartseer is my kindes wat nie saam is nie.  Hulle kuier by hulle tante in Kaapstad waar ek weet sy hulle goed sal besig hou sodat hulle ook ‘n avontuur beleef, al is dit dan op eie bodem. Die twee kleintjies is nog te jonk en hulle ouer boetie offer die toer op om by hulle te kan wees.

Ons bestemming:  Estonië en Rusland.  Van Estonië, of Estland, soos ons in Geskiedenis op skool geleer het, het ek ‘n klompie jare terug bewus geraak toe die ginekoloog – ook vriende van ons in daardie stadium – wat my oudste in die lewe help bring het, vertel het dat dit sy geboorteland was.  In daardie stadium moes ek die land en sy ligging op die wêreldkaart gaan opsoek en het dit toe gekry:  heel bo, Noord-Noordwes Europa (of is dit dalk vol-Noord).  Piepklein in vergelyking met soveel ander lande.

En Rusland!  Ek was so opgewonde oor die vooruitsig om hierdie eens ROOI land, die gevaarlike land, te gaan ontdek. Om die Ystergordyn oop te trek.  Om die verbode vrug te gaan proe.  Want het alles wat (eens) verbode was, nie juis ‘n groter aantrekkingskrag vir ons nie?

Vir maande al wou ek myself nie toelaat om te veel te droom nie.  Sê nou net iets loop verkeerd en die hele toer word afgestel?  Laasgenoemde het inderdaad op die ou end amper gebeur, want ons reisagent, toer-beplanner, finansies-hanteerder het ‘n paar oordeelsfoute gemaak en eers twee dae voor die tyd die kat uit die sak laat neuk –  geld was op, ons het nie plek op die vliegtuig gehad nie, niks daarvan is betaal nie!  Ons het dus ‘n paar naelbyt daggies agter die rug gehad: dan gaan ons, dan bly ons. Nee, ons gaan nie meer nie. Ja, ons gaan!  Ek wonder so by my sigselwers terwyl ek my gedagtes neerpen: kan adrenalienoorspoeling en dan weer –onttrekking ‘n mens se hart skade aandoen?

Maar dis nou alles ter syde en hier bevind ek my op ‘n veerboot op die Baltiese see, besig om aantekeninge te maak oor ons toer tot dusver, nie altyd seker of die trilling wat ek voel dié van die boot of my gevaarlik hoë adrenalienvlakke is nie.

Ons het van Durban af gevlieg en die feit dat die groep van Johannesburg af met twee lugrederye sou vlieg was al klaar ‘n potensiële nagmerrie situasie.   ‘n Klompie van ons was op SAL ingeboek tot op Milaan en van daar af sou ons met Swiss Air tot in Zurich vlieg, dan oorstap vir die laaste been van ons vlug tot in Stockholm, Swede.  Die ander groep was op Alitalia, van Milaan af reguit Stockholm toe.

Internasionale vertrekke in Johannesburg het gedreig om ons in te sluk met die honderde mense wat daar soos miere rondgekriewel en gekruie het – tasse, toue, mense en nogal mense. Ons volwassenes is gedwing om ‘n baie fyn ogie oor veral die kleintjies (ouderdom van die kinders was van graad agt tot twaalf) te hou sodat hulle nie verlore sou raak in die losgemaal van die menigte nie.  Toe almal mooi bymekaar was het ons hulle eenkant op ‘n hopie laat sit waar hulle moes bly, kom wat wil, terwyl ek en Manlief gou ‘n mini-krisis probeer uitsorteer het. Een van die graad aggies het ‘n angsaanval gehad en was iewers in ‘n mediese area besig om gelaaf te word.  Met dit op die ou einde uitgesorteer, kon ons deur die instaphekke vliegtuig toe beweeg

.Dit was SAL se heel eerste direkte vlug Milaan toe en om dit te vier, het ons almal na aandete die heerlikste sjokoladetjies gekry.  Heel spesiaal.  Daarna is die rustelose, beknopte en benoude ure deur die donkerte ingesluk tot ons weer hospitaalvroeg wakker gemaak is.

In Milaan moes ons ons storie ken om van die aankomssaal onmiddellik deur die doolhof van hekke en gange te kom om dadelik ons Swiss Air vlug te haal, maar gelukkig het ons toerleier ons veilig aan boord gekry.  Dit was maar net die begin van “we’ll get there fast and then we’ll take it slow “ wat die kenmerke van sulke toere is, want ons moes ‘n rukkie by die instaphekke wag voor ons kon deurstap.  Ons vliegtuig was ‘n Jumbolino van Cross Air, geaffilieer met Swiss Air en …. wag vir die dromme.. geaffilieer met American Airlines.  Oeps – so vars op die hakke van September 2001 wou ek nie graag met Amerikaanse vliegtuie geassosieer wees nie…

Dit was maar ‘n sinkplaatvlug tot in Zurich. Buite was die wolke asemrowend sag en mooi – wit bolle watte met orals onverwagte lugleegtes wat die vliegtuig kort-kort laat bokspring het.  Hoe meer die vliegtuig geduik het, hoe harder het die seuns gegiggel.  Later kon ons nie besluit of hulle regtig dink dis snaaks nie en of hulle maar net hulle benoudheid wou wegsteek nie.  Ons het darem ongedeerd in Zurich aangekom, waar ons weereens dadelik moes oorstap na die volgende vliegtuig. Gelukkig het ons nie nodig gehad om bagasie saam te karring nie.

Van Zurich af kon ons die Europese lappieskombers onder ons geniet – asemrowend mooi.  Nader aan Stockholm was daar tientalle kanale en riviere, asook honderde eilandjies te sien.  Stockholm se lughawe was nie vreeslik groot nie, dus het dit ons nie lank gevat om deur paspoortbeheer te beweeg nie.  Met die dat ons ons bagasie van die vervoerband begin afhaal het, het ons ontdek dat daar van die tweede groep se bagasie by ons s’n was en dat sommige van ons groep se bagasie nie daar was nie.  Ons kon maar net hoop vir die beste wat die verlore bagasie betref, en het ons reg gemaak vir die paar ure se wag tot die ander by ons sou aansluit.

Ruspes wat die seuns is, het hulle dadelik begin geld trek en voorraad vir die lang wag tot drie-uur aangeskaf.  Coke, Fanta en ander gaskoeldranke was nogal duur – in daardie stadium was die Sweedse Kroon en die ZAR min of meer dieselfde – ‘n hele 18 Kroon, terwyl ‘n hamburger en tjips in ‘n restaurant vir ‘n paar geesdriftiges ‘n hele 79 Kroon uit die sak gejaag het.  Drie-uur het  die res van die groep gearriveer en toe ontdek ons dat vyf van hulle minus hulle bagasie was. Wat ‘n ramp, want ons moes die veerboot haal om oor die Baltiese see na Tallinn toe te vaar en sou nie lank vir die verlore bagasie kon wag nie.  Terwyl Manlief die lughawe-beamptes aanvat oor die bagasie, pak Span A van die seuns solank die bus wat buite vir ons wag, terwyl Janneman (nie sy regte naam nie), ons toerleier, paspoorte bymekaarmaak om daarna per taxi na die Estoniese ambassade te jaag waar ons visums wag om afgehaal te word.

Die lugredery belowe om die verlore bagasie na Tallinn toe aan te stuur sodra hulle dit opspoor. Janneman kom terug met ons visums en ons almal bestyg die toerbus.  Die toerbus gaan saam met ons op die veerboot klim en behoort aan ‘n Duitser, Ludwig, wat al vorige toere van Manlief hanteer het.  Na ‘n vinnige besoek aan McDonalds is ons op pad hawe toe. Slaan my dood met ‘n nat vis, daar is Ahrmen, die busbestuurder, nie seker hoe om by die hawe te kom nie en ek begin stilletjies naels kou, wonder of ons betyds gaan wees. Ongelukke kom mos gewoonlik in klompies, glo ek bygelowig, en met die rampspoede wat ons reeds getref het, is ek bang ons mis die veerboot.  Boonop knaag die gedagte aan my dat ons toerorganiseerder dalk nie die veerboot betaal het met al die marankas wat hy veroorsaak het nie.. en wat dan? Ek kyk by die busvenster uit, maar registreer nie veel van wat ek sien nie, behalwe dat ons deur die industriële gebied ry en dat daar ‘n reuse Nokia toringgebou sigbaar is.  Ek kan dus in alle eerlikheid sê dat ek wel al in Stockholm was, alhoewel ek geen idee het hoe dit daar lyk nie.

Wonder bo wonder spoor Ahrmen die veerboot en die hawe op en met tien minute tot ons beskikking, laai ons ons bagasie met die spoed van wit lig uit die bus en draf ons kletterend met die staaltrappies op na die vlak waar ons op die boot moet klim.  In my haas en met my medemenslikheid om Manlief se tas ook saam te sleep – hy moes van die kinders help – haak my tas boonop nog vas aan die nou trappies en spook ek om dit los te kry voor ek kan aanbeweeg.  Ek dink dit was seker nogal ‘n gedoente om te aanskou met die spulletjie van ons wat soos voetsoldate van ouds ons pad opveg boontoe!

Ons maak dit toe net betyds met die klank van die skip se mishoring cum blaasfluit in ons ore.  Nog was dit het einde niet, want toe moes die kajuitverdeling gedoen word.  Die seuns bly in groepe van vier in kajuite en ons volwassenes natuurlik twee-twee. Een van die matriekseuns, ‘n hemelbesem, gryp sy tasse en loop agter sy maats aan en die volgende oomblik stamp hy sy voorkop teen ‘n swaar staalbalk sodat jy net sien bloed spat.  Uit met die noodhulpkissie, ontsmettingsmiddels, pleisters en die toetie, maar op die ou end is hy weer mobiel en kan hy loop. Ek en Manlief  kry einde ten laaste ook ons sleutel en…. verdwaal amper in die doolhofgange van die boot.  Liewe aarde, ‘n mens het omtrent ‘n graad in Wiskunde nodig om jou kajuit te kry!

Maar meer hieroor in die volgende aflewering…

5 gedagtes oor “Op ‘n veerboot agter die ystergordyn se fladderende stukkies in…”

  1. Sjoe,ek raak skoon benoud as ek lees van alles wat verkeerd gegaan het.My senuwees sou dit nie hou nie.Goed geskryf.Ek het my heeltemal ingeleef!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s