Donderdag 26 Julie 2001. Dis die laaste dag van die toer, my laaste dag in Parys. Na ontbyt gaan groet ek die res van die groep by die bus. Ken was so gaaf om ‘n kopie van almal se kontaknommers te maak en vir elkeen een te gee. Uiteindelik vertrek die bus en ek, Jenny en Graham staan en waai vir die bus totdat dit net ‘n klein stippeltjie in die reguit straat is.
Ek is so dankbaar dat Jenny en Graham ook nie teruggaan Londen toe nie en ek dus vanaand ‘n taxi met hulle kan deel. Ons spreek af om mekaar om halftien in die voorportaal van die hotel te ontmoet. Graham het reeds die vorige dag gereël dat ‘n taxi ons om drie-uur vanmiddag sal kom oplaai. Ongelukkig vir hom en Jenny was daar ‘n effense misverstand en is hulle drie-uur vanoggend al wakker gebel!
Ons kan ons tasse in sluitkaste by die hotel bêre en dan stap ons na die bushalte toe waar ons ‘n bus kry wat tot in die stad ry en naby die Louvre stop. Ons het niks spesifieks om te doen behalwe om die tyd om te kry nie en Graham wil ook vir sy seun sigare koop, dus is ons ontspanne en rustig en geniet dit net om na die winkels en mense te kyk. Hier en daar loop ons by ‘n winkel in en bring ‘n rukkie langer tyd deur by Lafayette, ‘n gewilde afdelingswinkel. Binne is dit ‘n indrukwekkende vertoon van oormaat en oordaad – as ‘n mens opkyk sien jy ‘n groot koepel met gebrandskilderde glas wat vier vloere boontoe troon. Teen halftwaalf is ons uitgekuier met winkel- en mensekyk en besluit om na die busstop te gaan soek waar ons die bus terug na die hotel toe moet kry. Dis naby die Madeleine-plein, maar ons kry dit nie dadelik nie en stap maar in die algemene rigting van waar ons dink die rivier is. Jenny het ‘n stadskaart by haar maar dit help nie veel vir ons oningeligtes nie. Ons begin benoud raak en loop al hoe vinniger. Ons beland aan die onderpunt van die Champs Elysee en van daar af weet ons min of meer hoe om by die Louvre uit te kom. Dit is vrek warm en ons is oneindig dankbaar wanneer ons uiteindelik die regte busstop kry. Ons verstaan nie ‘n snars van hoe die busskedule werk nie en hoop vir die beste. Elke keer wat daar ‘n bus aankom, spring ons op, net om te sien dat dit nie nommer 24 is nie. Ons gaan weddenskappe aan oor watter bus ons s’n gaan wees, maar begin dink aan plan B: ‘n taxi. Dan daag ons bus uiteindelik op en alhoewel daar net staanplek is, gee ons glad nie om nie.
Tussen die hangende arms deur loer ek by die bus se venster uit en sien dat ons naby die Notre Dame is. Op dieselfde oomblik raak ek bewus van iemand wat naby my staan en kry ‘n soort van de ja vu-gevoel: dis ‘n boggelrugman! Ek probeer ongemerk Jenny se oog vang, maar sy en Graham staan met hulle rûe na die man toe. Eers nadat ons afgeklim het kan ek vir hulle vertel van die man en ons kom tot die gevolgtrekking dat hy doelbewus hierdie busritte doen om mense koue rillings te gee…
Ons trek daar weg en ek is ontsettend dankbaar dat ons uiteindelik op pad lughawe toe is. Ek kan nie veel sien van wat aangaan nie, want die tas voor my versper my uitsig, maar ek gee nie om nie. Die bestuurder is een of ander Oosterling en praat nie juis baie Engels nie en ek wonder kliphard of hy ons na die regte lughawe toe vat. Gelukkig sien Jenny in ‘n stadium aanwysings vir Charles de Gaulle en kan ons finaal ontspan. By die lughawe word ons rekening in drie gedeel – ek het dus tweehnderd frank gespaar en is effens bek-af omdat ek nie tog maar vir my ‘n parfuumpie in die Suide gekoop het nie…
Jenny en Graham het daarop aangedring dat hulle by my bly tot ek ingeboek het en ons ontdek dat ek by die verkeerde terminaal is. Gelukkig is daar ‘n busdiens en ek wurm omtrent net betyds my tas saam met my in toe die deure toegaan en ek vir die twee Australianers kan totsiens waai.
By Terminaal 1 laai ek my tas op ‘n trollie, weeg my tas in en soek dan ‘n plek waar ek iets kan koop om te drink. Ek is verbaas dat daar geen lugversorging in die plek is nie en voel of ek gaan vergaan van die hitte. By ‘n boekwinkeltjie loop ek ‘n Readers Digest raak en gaan sit en lees op ‘n stoel om die tyd om te kry.
Uiteindelik is ek in die vliegtuig en my hart sing, al het ek so pas gehoor dat ons op Zurich sal land en eers brandstof sal moet inneem. Ek is een van die eerstes in die vliegtuig en hoop dat ek tog net ‘n vriendelike of ordentlike persoon langs my sal kry. ‘n Italiaanse tante en haar man loop in die gangetjie af, maar loop eers verby voor die vrou omdraai en langs my kom sit. Sy en haar man is nie langs mekaar nie en na nog ‘n paar minute kom ‘n jong blonde outjie langs haar sit. Die vrou vra dadelik vir hom iets in Italiaans, maar ek kan sien dat hy, nes ek, nie weet wat sy wil hê nie. Dan sit ek twee en twee bymekaar en ek sê vir hom in Engels dat ek dink dat sy vra of hy sal omgee om sitplekke met haar man te ruil. Gelukkig is hy Amerikaans en vriendelik en sê dat dit nie ‘n probleem is nie. Die vrou soen my amper van dankbaarheid en trek daar weg met ‘n stroom Italiaans, onder die indruk dat ek haar verstaan, maar ek glimlag net en mompel iets van ‘Non parla Italiano!” Ons lag albei en vir die res van die vlug kommunikeer ons in gebaretaal.
Gelukkig sit ek hierdie keer in die bo-dek en is daar ‘n bietjie meer beenspasie, maar ek kan nogtans nie gemaklik slaap nie. Ek word kort-kort wakker en is heeltyd bewus van waar ons is. Halfvyf Vrydagoggend word ons wakker gemaak vir ontbyt en land om halfsewe op Johannesburg lughawe. Dis heerlik om terug in Afrika te wees, maar eers wanneer ons nege-uur op die Durbanvlug klim, is ek regtig opgewonde, weet ek dat ek uiteindelik op pad terug huis toe is!
Woensdag 25 Julie 2001. Ontbyt in die hotel se eetsaal op die grondvloer en ons het ‘n mooi uitsig op die rivier. Met die terugloopslag vertel ek vir Donna dat ek die vorige aand die brandtrap aan die buitekant van die hotel ontdek het. “You need to have this special Paris experience,” oortuig ek haar om ook die Paryse lug uit hierdie hoogte te ervaar. Ek stap voor en sy is nog besig om te wonder of ons onsself nie sal uitsluit nie, toe die deur agter haar toegaan. Tot ons konsternasie is daar nie ‘n handvatsel of ‘n deurknop aan die buitekant nie en ons besef dat ons inderdaad op die brandtrap gestrand is! Daar is net tien minute tyd voordat die bus vertrek en ek gaan uit benoudheid aan’t giggel. Die enigste oplossing is om maar met die trappe af te stap in die hoop dat die onderste vloer iewers ‘n oop deur sal hê. In my gedagtes sien ek al hoe ek oor die hoë sifdraad moet klim, want aan hierdie kant van die hotel sal niemand ons raaksien nie. Tot ons verligting is die hekkie aan die onderpunt van die trappe oop en ons kan gou weer met die hysbak opgaan om tande te borsel.
Op die bus ry ons rivierlangs en nader aan die middestad ry ons oor ‘n brug na die Wesbank. Ons gids vir die dag wag reeds by die Notre Dame vir ons. Die Notre Dame is indrukwekkend, besonder groot, vol detail en kunswerke wat ‘n mens verstom.
Wanneer ons uitkom word ons deur ‘n tipiese Paryse straattoneel begroet, vir my is die atmosfeer heeltemal anders as die ander Europese stede. Dalk is dit maar net my romantiese idees oor die stad, maar ek hou daarvan.
Ek en Winnie snuffel rond in ‘n paar winkeltjies, koop poskaarte en dan is ons weer op die bus. Ons ry na die Operaplein en die Madeleine kerk en van daar af deur een van die gewildste dele van Parys tot by die Champs Elysees met sy agt bane wat boomomsoom reguit voor die bus uitstrek. Van hier af gaan ons na Montmartre, die bekende Paryse baken met sy kunstenaars.
Ons word in die een straat afgelaai en loop van daar af verder aan tot waar ons die Funiculier kry – ‘n soort van treinkabelkar wat ‘n alternatief vir die trappe is om ons bo op die heuwel te kry. Die van ons wat voor in die ry is klim eerste in en skielik gaan die deure toe en trek die tuig met ‘n spoed weg. Net ses van ons is binne-in en ons en die res van die groep staar verslae na mekaar. Dan neem die humor van die situasie oor en begin ons onder mekaar bespiegel oor die moontlike redes hoekom dinge so vinnig gebeur het. Iemand besluit dat it is omdat ons baie spesiaal is en dus spesiale behandeling kry. Bo moet ons lank wag vir die res van die groep om in ‘n oorvol karretjie te arriveer.
Die gids neem ons eers na die kunstenaarsplein, bekend daarvoor dat van die kunswêreld se grootste name dikwels hier gewerk het. Oral op die plein stal die kunstenaars hulle skilderye uit terwyl hulle rustig voortwerk en ons vergaap ons aan alles wat hulle het. Daar is heelwat van hulle wat ‘n lewe uit portretskilder maak en hulle wil net vir Winnie met haar strooihoed en jassie skets, maar sy lag net, want sy weet hoeveel geld hulle op die ou end daarmee maak.
Ek, Winnie en Donna loop tot op die punt van die straatjie en dan soek ons ‘n plek waar ons ons rolletjies kan eet en iets kan drink. In een van die systraatjies is ‘n gebou wat baie soos ‘n soort van kerk lyk, maar ons kan nie uitmaak wat dit is nie. Ons sien egter leë parkbankies om die gebou en wanneer ons mooi kyk, sien ons dat die hekkie nie gesluit is nie. Ons besluit om daar te gaan sit tot iemand ons wegjaag, maar niemand doen dit nie en ons kan ons broodjies in vrede eet.
Daarna stap ons op na die kerk. Montmartre is op ‘n hoë heuwel en van daar af het ons ‘n baie mooi uitsig oor die stad, alhoewel dit vandag ‘n bietjie deinserig is en nie so ‘n helder dag soos gister nie.
Dit is ook besonder warm en wanneer ons genoeg gesien het, besluit ons om terug bus toe te loop en daar te gaan wag. Dis definitief koeler in die bus as in die straat, dus klim ons in en wag vir die ander.
Hierna gaan ons na die Louvre – die galerye daarvan is ‘n totaal van 26 km lank, hoor ons. Ons gaan egter net die hoogtepunte sien en sal vir ongeveer twee ure daar wees. Ek is nogal teleurgesteld en besef dat hierdie spesifieke toer die ‘historiese’ een genoem word en dus nie noodwendig op kuns ingestel is nie. Dis ‘n verrassing om die groot glaspiramide by die Louvre se ingang te sien. Dit voel heeltemal in teenstelling met die eeu-oue kunsskatte wat binne bewaar word.
Omdat dit so ‘n groot groep is en die Louvre so besig is, verdeel die groep in twee en die helfte van ons gaan saam met ‘n ander gids. Sy is ‘n jongerige vrou wat met ‘n swaar Franse aksent praat en soms kan ons nie mooi hoor wat sy sê nie, maar soos al die ander gidse, het sy ‘n uitgebreide kennis oor alles. Ons loop van die een punt na die ander, hier op met trappe en daar af met trappe, draai haastig links en dan weer regs. Ons sien die Venus de Milo wat met ‘n strak gesig voor haar uitstaar, die Liberte-beeld wat koploos staan en op ‘n Griekse eiland gevind is. Ons gids vertel ons dat baie beelde koploos is omdat die mense in ‘n stadium handel gedryf het met die beelde en dit baie makliker was om die koppe alleen te verkoop en te vervoer. In ‘n groot saal sien ons reusegrootte skilderye waarvan meeste deur ‘n sekere David vir Napoleon gedoen is. Net soos by Schonbrunn-paleis hoor ons hier dat dit gebruiklik was om ‘n skildery van belangrike gebeure te maak, soos in hierdie geval, die kroning van Napoleon. Dit is werklik ongelooflik goed gedoen – veral wat die fluweel en pels van die mantels betref. Dit voel of ‘n mens daaraan kan raak, so realisties is dit. Ons gids vertel ons hoe die kunstenaar op die kroningsdag rowwe sketse gemaak het en daarna vir jare lank elke gas wat by die kroning was, gekry het om vir hom te kon sit sodat hulle portrette honderd persent korrek sou wees. Soos in baie ander het hy homself ook in die toneel in geverf.
By die Mona Lisa is daar ‘n los gemaal, asof die hele Parys op hierdie oomblik daarna wil kyk. Dit vat ons ‘n hele rukkie om naby genoeg te kom om dit te kan waardeer. Intussen vertel ons gids ons van die geskiedenis van die vrou in die Mona Lisa – hoe daar vermoed is dat sy geskilder is na die dood van haar baba en dat sy reeds weer swanger was. Die Mona Lisa is heelwat kleiner as wat ‘n mens jouself voorgestel het, maar steeds is dit ‘n besondere ervaring om voor hierdie beroemde kunswerk te kan staan.
Weereens opvallend van al die standbeelde in die Louvre, is die groot aantal kaal mansfigure – ‘ n duidelike bewys van die posisie van die man in die samelewing, deur die eeue heen. Daar is baie min beelde van vroue.
Ons kyk ook na die Egiptiese sfinks wat aan een van die Franse konings geskenk is. Dit is ‘n massiewe swaar granietblok, maar die neus van die sfinks is af. Die gids vertel ons van die moontlike redes hoekom dit gedoen is, maar vir my klink dit in elk geval net na blote spekulasie. Ons stap tot onder in die kelders, waar die oospronklike fortmure van die Louvre was voordat een van die konings die hele spulletjie laat toegooi het, dit gelyk gemaak het en die nuwe struktuur bo-gronds opgerig het. Dis koud en klam daar onder.
Wanneer ons uiteindelik weer by die bus in die parkeergarage kom, is ons dankbaar dat ons net twee ure lank daar was. ‘n Mens het werklik ‘n hele dag of selfs langer nodig om deur alles te gaan, maar definitief nie so haastig nie. Die feit dat daar soveel mense op ‘n slag is, maak dit ook baie moeilik om alles honderd persent te kan waardeer.
Terug hotel toe vir ‘n breek van ‘n uur en ‘n half voort die laaste uitstappie van ons toer. Ons begin met ‘n bootvaart op die Seine-rivier. Elkeen kry ‘n brosjuretjie waarop die verskillende stadsbakens aangebring is. ‘n Jong meisie tree as gids op en wys vir ons die bakens uit terwyl sy meer besonderhede daaroor gee. Wanneer sy klaar is sê sy dat sy eintlik ‘n student is wat net vir die oomblik uithelp.
Die brûe is ongelooflik in hulle uniekheid en detail wat mens werklik net kan waardeer as jy onder deur dit vaar. Elke brug het ook sy eie geskiedenis. Op die een brug is byvoorbeeld al die gesigte van ministers van ‘n sekere tyd daarop uitgekap, ‘n hele string van hulle. Daar is Pont Neuf, wat Nuwe Brug beteken en die eerste brug wat van beton gebou is en nie van hout nie. Dit was ook die eerste brug waarop daar nie huise gebou is nie. Daar is die Alexander brug met sy goue beelde en sy prag en praal wat die vriendskap tussen Frankryk en Rusland uitbeeld en vele ander.
Die riviervaart is heerlik en die son skyn warm. Wanneer ons die Latynse gedeelte van Parys nader – dit word so genoem omdat dit die studentedeel is en daar tot ‘n sekere tyd net in Latyn by die Sorbonne Universiteit klasgegee is – begin ons al hoe meer mense sien wat op die oewer sommer net sit en gesels, of boek lees, of stap. Naby die universiteit is daar selfs ‘n groepie studente wat saam sing, dans en handeklap en oral is daar stalletjies wat onder andere boeke verkoop. Na ‘n uur is ons weer in die bus, weer op pad na die Champs Elysees waar ons om die Arc de Triomphe ry.
Hierdie area om die boog is besonders omdat hier geen verkeersreëls geld nie, behalwe dat jy vir mense van jou linkerkant af toegee. Daar is geen aanduidings van bane nie en almal ry kruis en dwars in en uit en ek is maar dankbaar dat ek nie self hoef te bestuur nie. Ons stop aan die ander kant vir ons aandete breek en Ken verduidelik dat ons onder deur die straat kan loop en in die middel van die boog kan uitkom. Ek en Winnie gaan eers by ‘n hamburgerplek in vir ons aandete. Binne is dit verskriklik warm en dis behoorlik ‘n verligting om weer buite in die straat te kom. Ons gaan met die ‘subway’ trappe af en draai dan links soos wat Ken beduie het. Halfpad onder hoor ons ‘n ongelooflike mooi stem van ‘n sopraan wat daar sing, haar geld op daardie manier verdien. Wanneer ons bo kom, is ons aan die ander kant van die boog, saam met nog ‘n paar ander van die groep. Ons staan ‘n hele rukkie daar en gesels en kyk na die mense. Dominic met sy alewige videokamera is ook daar en ek moet vir hom op kamera sê wat ek van die toer gedink het.
Terug op die bus en dis tyd vir die Eiffeltoring. Dis amper agtuur wanneer ons daar aankom en ons staan eers vir ‘n rukkie en wag terwyl Ken ons kaartjies gaan haal. Die mense staan in ‘n lang tou en wag aan die anderkant. Dis drukkend warm en ek sê vir Donna dat dit is hoe dit in Suid-Afrika voor ‘n donderstorm voel. Uiteindelik begin ons na die hysbakke toe beweeg. Die Eiffel is in 1889 gebou vir ‘n wêreld ‘fair’ en die mense het niks daarvan gehou nie. Hulle het gesê dat dit baie lelik was en Parys ontsier, maar om een of ander rede is die toring nooit afgebreek nie en is dit vandag een van Parys se bekendste bakens. Terwyl ons voor die hysbak wag, begin daar groot swaar druppels neerplof. Ons gaan op tot die tweede vlak en moet dadelik skuiling soek wanneer ons uitklim. Gelukkig duur die reën nie baie lank nie en kan ons die uitsig van daar af bewonder.
Dit is eenvoudig net ‘n ongelooflike prentjie en ons loop stadig al om die toring terwyl ons die stadstoneel bewonder. Dis nog steeds lig, maar oral begin die stadsliggies aanflikker. ‘n Mens voel of jy net heeltyd daar kan bly en na die stad kan staar, maar nege-uur moet ons weer terug in die bus wees. Ons staan nader na die hysbak toe waar daar reeds toue mense is. Gobin, Julie, Dennis en Reena is ‘n ent voor ons en agter ons is nog lede van die groep. Na tien minute hoor ons egter dat die mense tou staan om verder met die hysbak op te gaan en ons wil eintlik afgaan. Intussen het daar ‘n klompie mense agter ons kom staan en moet ons dus verby almal druk om uit te kom. Waarheen nou? Ek sien al hoe ons op hierdie laaste aand van die toer laat vir die bus gaan wees. Gelukkig beduie iemand vir ons waar om te wag en na ‘n paar minute kom die hysbak daar aan. Ons is net betyds vir die bus en gaan terug hotel toe. Ken sê sy laaste woorde vir die groep as geheel, want ‘n paar van ons gaan die volgende dag in Parys agterbly terwyl die res terug London toe gaan.