Maandagoggend 23 Julie 2001. Na die vorige aand se intense ervaring volg ‘n ietwat rustiger dag waarop ons na ons volgende bestemming, Bordeaux toe gaan ry.
Maar eers het ons ‘n vry oggend in die nou rustige dorpie – ‘n welkome verandering op die gewone roetine van moeg opstaan, haastig eet en haastig pak. Die wat wil het vanoggend die geleentheid om nege-uur na die Engelse mis toe te kan gaan en elfuur moet almal by die bus wees.
Ek loop ‘n entjie dorp-in en mik vir ‘n gebou wat baie na ‘n treinstasie lyk. Binne-in is daar ‘n groente- en vrugtemark en vir ‘n rukkie dwaal ek deur die kleurryke en welriekende stalletjies en sien dan ‘n uitgang waardeur die hoek van ‘n opelug vlooimark sigbaar is. Skuins agter my hoor ek die woorde: “Alles vir niks!” en wanneer ek omdraai, sien ek ‘n swartman wat sy aandenkings met blink oë in die lug hou. Ek is nog besig om my aan die woorde te verwonder toe Prakash skielik oor my skouer praat – ek het nie eers besef hy en Sandy is ook daar nie. “Maar dit klink mos baie na Afrikaans!” sê hy. Ons glimlag albei, maar ek sê dat dit waarskynlik eerder Nederlands is. Prakash is ‘n dokter in ‘n Durbanse hospitaal en hy en Sandy is deel van ons groep van nege Suid-Afrikaners in die toergroep.
Ek drentel nog ‘n bietjie rond voor ek weer terugstap hotel toe. ‘n Blok van die hotel af is ‘n vrou besig om die plante voor haar winkeltjie met ‘n sproeier nat te maak en is so op haar taak gefokus dat sy nie ‘n ander vrou sien wat agter haar verbyloop nie. Met die omdraaislag spat sy die arme vrou papnat en vra vreeslik om verskoning. In Frans, natuurlik. Albei kyk na my en die een sê “douche!” en trek weg met ‘n verduideliking, min wetende dat alhoewel ek kliek wat sy sê, ek nie haar taal praat nie. Ek lag maar saam, knik my kop en stap aan na die welkome visuele verposinkie.
Die roete van die dag neem ons deur die glansryke en kleurryke Biarritz aan die Mediterreense kus. Wanneer ons van die snelweg in die stad in afdaal, lê die blou see koel en sprankelend onder ons. Die bus parkeer en spoeg ons uit om middagete te gaan soek en ‘n bietjie rond te loop. Daar heers ‘n vrolike vakansie-atmosfeer en die strand is pragtig, maar het nie die sand en klippies van Nice nie. Ek en Winnie sit en bekyk die mense terwyl ons wegneemkoffie drink en ons hotelbroodjies eet. Die branders hier is heelwat groter as in Nice en Ken het gesê dat hierdie dorpie as’t ware ‘ontdek’ is toe een of ander filmster hier kom vakansie hou het. Haar man het van die branders gehou en spesiaal sy branderplank laat haal en so die belangstelling van ander mense gaande gemaak. Sedertdien is dit ‘n gewilde branderplankry-oord.
Voor die bus vertrek ontdek ek en Winnie ‘n romantiese winkeltjie met die naam Chocolateur. Binne in verdwaal ons in die heerlike soet geure van ‘n wye verskeidenheid vorms en groottes tuisgemaakte sjokolades, genoeg om enigeen na sy beursie te laat gryp. Ons verstom ons aan die ‘skeppinge’, maar nie een van ons is regtig lus vir sjokolade nie. Die detail en fyn afgerondheid van elke sjokoladetjie is ‘n kunswerk op sy eie.
Dan is ons weer terug in die luukse toerbus en bekyk die wêreld deur die wye vensters. Kilometer op kilometer van denneplantasies wat hoofsaaklik aangeplant is om erosie van die sanderigheid sover as moontlik te probeer terughou, volg.
Dis vroegaand wanneer ons in Bordeaux arriveer, maar hierdie is net ‘n oorslaapstop en ons sien nie veel van die stad nie, behalwe om na ete ‘n entjie te gaan stap. Die hotel is egter in ‘n redelik afgeremde area van die stad en daar is nie baie mense in die strate nie. Dit voel of die tyd deur die eeue heen hier gaan stilstaan het, maar die pragtige ou geboue is verwaarloos en hulle glorie het lankal al vergaan. Dis net die uitsig deur die hotel se vierkantvenster wat fassinerend is met rye en rye dakkies wat voor ‘n mens uitstrek…
24 Julie – Dinsdagoggend op pad na Parys. Ons roete sal ons deur die Loire-vallei neem en in die loop van die oggend sien ons uiteindelik die wingerde van Frankryk terwyl die pad deur die groen taferele kronkel. Op pad sien ons ‘n afdraaipad na Futuroscope en Ken sê dit is ‘n baie groot temapark met hotelle en allerhande winkels en dinge. Oral langs die pad is lappe sonneblomlande wat groot en geel blom. Dis ‘n wolklose dag onder die blou uitspansel en by die dorpie Tours draai ons om deur die Loire-Vallei te ry. Hierdie gebied is sedert 2000 as wêreld-erfenisgebied verklaar. Die huisies wat ons nou kry is goed versorg, meeste van hulle dubbelverdiepings met hope blombakke wat dit in ‘n idilliese prentjie omskep. Ons ry al langs die Loire-rivier af en al kan daar nie besonder groot bote op hierdie rivier vaar nie, is Frankryk ‘n land van waterweë en kan ‘n mens van die Mediterreense kus tot in Calais met groot bote vaar. Hierdie deel is baie boomryk en die nou paadjie is ‘n welkome verandering, want dit is al asof ‘n mens op hierdie manier meer in kontak met die platteland kom. Die rivier vloei breed en oral is daar klein eilandjies.
Ons stop vir middagete in ‘n dorpie met die naam van Amboise – die huisies netjies langs mekaar ingewurm, die winkeltjies kleurvol. Die Chateaux (kasteel) is ‘n manjifieke plek wat ons reeds van ver af kan sien en is in die vroeë 1500’s deur Koning Francois I gebou. Dan ‘n interessante konneksie wat ons almal laat regop sit – dis in hierdie klein dorpie waar Leonardo da Vinci sy laaste dae derugebring het. Dit is nie so besig soos die meeste ander plekke waar ons al was nie, alhoewel daar steeds heelwat toeriste is. Ons stap op na die Chateaux vanwaar daar ‘n pragtige uitsig oor die dorpie en die Loire-rivier is. Daarna stap ons in die straatjies rond, op soek na poskaarte en ‘n lafenis.
Terug in die bus en ons ry weer verder al met die walle van die rivier langs tot in Blois waar ons terugdraai op die hoofroete na Parys.
Reeds aan die buitewyke van die stad begin ons druk verkeer kry, dus gaan dit maar stadig. Ons hotel is die Ibis Pont de Bercy, ‘n hele ent van die middestad af.
Soos gewoonlik klim Ken eers uit die bus uit om ons kamersleutels te kry en Maria, een van die Australiërs, volg kort op sy hakke. Sy kry haar kamersleutel eerste want sy moet baie dringend by die badkamer uitkom. Almal drom in die foyer saam terwyl Ken ons sleutels uitdeel. Ons staan reg by die hysbak en wag dat dit weer afkom. Almal lag en gesels, opgewonde oor die geleentheid om in Parys te kan wees. ‘n Paar minute later verbeel ek my dat ‘n gehamer tussen die stemme deur hoor. Toe dit weer herhaal word, besef ek dit klink glad nie soos die ritmiese getimmer van werksmense nie. Eers maak ek ‘n grap en sê dat iemand in die hysbak vassit, maar niemand steur hulle aan my nie. Dan luister ek mooi en hoor hoe iemand om hulp roep. Wanneer die hotelpersoneel uiteindelik die buitenste deur van die hysbak oopforseer staan arme Maria daar. Sy het net twee voet ver gevorder toe die hysbak gaan stop het en later het die ligte selfs afgegaan. Toe ek haar die aand vra of sy darem eers by die badkamer uitgekom het, antwoord sy dat sy tien minute nadat sy terug in haar kamer was besef het dat sy nog steeds nie ‘n draai geloop het nie!
Die uitsig vanuit ons hotelkamer is asemrowend mooi. Dis ‘n skoon, helder dag en ons kan selfs die Eiffeltoring sien. Ons is van die gelukkiges, want daar is net ‘n paar van die groep wat kamers aan daardie kant het.
Vanaand is weer een van my tuisbly-aande. Ek het dit aanvanklik oorweeg om wel na die kabaret en ete te gaan, maar toe ek sien dat hierdie een aand amper ‘n duisend rand gaan kos, het ek besluit ek gaan dit nie doen nie. Ek kry vir Lesley en Esther in die foyer en Lesley sê sy is lus vir stap. Ons loop rivierlangs met die straat af, kruis die Seine en stap dan met ‘n straatjie op wat nie juis baie bemoedigend voorkom nie. Hierdie is beslis nie ‘n gegoede woonbuurt van Parys nie en die straat is besaai met vuilerige kafeetjies vanwaar daar kort-kort ‘n rumoer opklink – hierdie tyd van die dag hou gesoute dobbelaars die perdewedrenne op televisie dop. Ken het gesê dat die Franse lief vir hulle perderesies is en baie geld daarop wed. Ons stap ‘n hele paar blokke tot by die punt van die straat en draai dan om. Tot my verbasing sien ek wat die naam van die brug is: Pont de Nelson Mandela!
Terug in my kamer is dit so kwart oor nege se kant, tussen donker en lig en ek kan nie die versoeking weerstaan om ‘n foto van die stadstoneel te neem nie. Die maan hang laag oor die stadsliggies en ‘n deel van die snelweg met sy diamante en robyne is sigbaar. Ek kan nie wag vir die volgende dag om hierdie romantiese stad beter te leer ken nie…