Stukkies van Nice en skilderagtige roetes na Middeleeuse dorpies …

Dinsdag, 17 Julie 2001.  Ek hou myself wakker en besig op die bus deur my aantekeninge op datum te bring.  Ons het vanoggend ‘n laat ontbyt gehad – agtuur, waarna ons weer na Nice toe is.  Die bus laai ons by ‘n strategiese toeristepunt af en ons kry kans om daardie deel ‘n bietjie op ons eie te verken. Eers wil ons egter weer net die see-prentjie geniet, dus loop ek en Winnie promenade toe waar ons kort voor lank plek kry om te gaan sit. Om ons is die gewone promenade-bedrywighede – ouers met jong kinders wat om hulle huppel of neul, hoed op die kop en emmertjie in die hand; ouer mense met kieries en sonrokke, gemaklike skoene; hier en daar ‘n tiener met moulose t-hemp en bofpalpet wat op ‘n skaatsplank verbyraas.

Die son skitter op die ongelooflike blou water en weerkaats die felheid terug in ons oë.  Ek en Winnie stem saam dat ons soos baie van die toergroep amper in ‘n permanente staat van moegheid is, ten spyte van die soms lang ure wat ons op die bus deurbring. Daar is eenvoudig net soveel indrukke en aktiwiteite tussen-in dat ‘n mens nie aldag weet of dit Dinsdag of Dingaansdag is nie.

Ons kan egter ook nie ‘n geleentheid laat verbygaan om meer ervaring by al die ander indrukke te voeg en net op die stoele te sit en fotosinteer nie, dus staan ons op en waag dit tot op die klippiestrand. Gelukkig is dit gladde klippies en alhoewel ‘n mens moet kyk waar jy loop, is dit nie regtig ongemaklik nie. Ek tel ‘n paar klippies op en bêre dit in my drasak, maar hoor later by iemand dat dit nie eintlik toegelaat word nie.

Dan loop ons weer stad-in, op soek na ‘n internetkafee en kry gelukkig een. Binne is reeds ander van ons groep hartlik aan’t boodskap tik – net soos ek, probeer hulle ook so dikwels as moontlik in kontak met hulle huismense bly.

Winnie is dors en wanneer ons terug in die straat is, sien ek ‘n Spar supermark waar ons ‘n paar goedjies koop. Ken het gesê dat dit dalk interessant sal wees om in ‘n groot afdelingswinkel met die naam van Lafayette te gaan rondkyk. Dis nie ver van ons bymekaarkomplek nie en ons kry dit gou. Binne-in is dit net glans en glinster en ons dwaal ‘n hele rukkie daar rond, kyk na die klere en parfuums, gaan met die statige roltrappe na die boonste vloer, maar koop niks nie.

Daar is nog heelwat tyd voordat ons die bus moet kry, dus gaan ons weer ‘n kyk-plekkie soek. Hierdie keer is dit ‘n bankie op die Engelse plein. Terug op die bus vertel ons gids van die dag vir ons dat hierdie plein sy naam gekry het omdat so baie Britte Nice in die vroeë agtiende eeu ontdek het en hier kom aftree het. Die meeste van hulle het uit die militêre en kerkwêreld gekom.  Tot in 1860 was Nice deel van die Italiaanse Savoy provinsie, dus is daar ‘n ook ‘n sterk Italiaanse invloed in die stad.  Met die unifikasie van Italië het die mense die geleentheid gekry om te besluit of hulle deel van Frankryk of Italië wou wees.  Hulle het op Frankryk besluit.  Die Cote D’Azur;  so gedoop deur ‘n Franse skrywer wat dit na die ongelooflike blou see vernoem het, is 153 km lank en dis deesdae ‘n gewilde, digbeboude area.  Dit was hoofsaaklik omdat die Franse skrywer ‘n dagboek gehou het terwyl hy gereis het. Die boek is later gepubliseer en baie mense wat hierdie boek gelees het , is daardeur geïnspireer om hulle hier te kom vestig.

Dis moeilik om te glo, maar in die In wintermaande is die see nog blouer as nou, sê die gids. Die water in die hawe word gereeld skoongemaak om dit so mooi te hou. Die lughawe is letterlik in die stad gebou en toe ons gister aangekom het, het die stralers kruis en dwars blokkies met hulle wit rook teen die blou hemel getrek.  Die kafeetjies is behoorlik  die een op die ander ingeryg en  orals sit die mense en eet en gesels, hou hande vas.  Ons is op pad na die dorpie, St. Paul-de-Vence, waar Renoir gebly het.  Vandag sit ek op die agtersitplek in die bus, op my eie, want hierdie is ‘n opsionele ekskursie wat sommiges nie gekies het nie.  Ons ry deur nou straatjies waar jy die huise baie mooi kan sien.

Die dorpie het ‘n wonderlike bekoring en ‘n mens kan dit reeds van ver af bo-op die berg sien waar dit heeltemal met ‘n yslike klipmuur omring word. Omdat bitter min voertuie toegelaat word om nader te gaan, laai die bus ons op ‘n parkeerarea net onder die muur af, waarna ons boontoe moet stap terwyl die swaartekrag behoorlik die maksimum uit ons kuite trek.

Uiteindelik is ons by die hoofpoort van St. Paul en dan binne-in die middeleeuse, besonderse dorpie. Die gids neem ons deur die nou straatjies wat nog hoër kronkel, verby kunswinkeltjies wat die een na die ander ingeryg lê en ten spyte van al die toeriste, ‘n rustigheid, kalmte en koelheid uitstraal. Kuns op kuns, van skilderye tot die fynste beeldhouwerke, porselein, keramiek, glas en kristal glinster in die vensters, pryk op vensterbanke.  Oral is daar systraatjies met nog winkeltjies en reg in die middel van die dorpie op die kruin van die berg is die kerkie.  Binne in voel dit asof jy jou skielik in ‘n ander eeu bevind. Dit half donker en koel binne, met sagte lig uit ‘n paar reuse kandelare, kersies wat oral brand en flikker en iewers vanuit die hoë torings sypel koorklanke deur. ‘n Mens is amper te bang om asem te haal en die atmosfeer te versteur. Winnie en van die ander Katolieke in die groep steek kersies aan en sommiges kniel in die kerkbanke. Ek kry ‘n plekkie waar ek net stil raak en vir Winnie wag.  Dan kry Ken die groep weer bymekaar en ryg ons een vir een uit deur die swaar houtdeure na buite toe waar die sonlig ons vir ‘n paar sekondes verblind voordat ons weer deur die hitte opgeslurp ons.

Die gids vat ons na ‘n uitkykpunt reg bokant die ongelooflike mooi begraafplaas toe. Van hier af kan ‘n mens kilometers ver sien en sommige bergtoppe het selfs versiersuikerkrone so hoog is dit. Ongelooflik dat dit in hierdie hitte moontlik is. Dis ‘n oop en helder dag en glad nie deinserig nie, dus kan ons die uitsig na alle kant toe bewonder.

Van hier af het ons weer vrye tyd en ek en Winnie loer by ‘n klomp winkeltjies in en wanneer ons weer sien, is ons by die klipmuur en loop dan langs dit af op soek na ‘n lafenis. By ‘n restaurantjie met tafeltjies buite en groot sambrele teen die son kry ons vir Leo en Lisa en saam besluit ons dat dit ‘n goeie plek vir middagete is, so met die uitsig terug na Nice se kant toe.

Ek bestel koffie waarvoor ek 12 Frank betaal en haal my ontbytrolletjies uit, met komplimente van ons hotel.  Die ander bestel slaaie en pasta.  My koffie kom aan en ek staar half verbysterd daarna. Weereens het ek vergeet dat koffie in Europa nié dieselfde is as koffie in Suid-Afrika nie. As jy nie spesifiek vra vir melk nie, gaan jy dit nie kry nie.  Dit is bitter sterk en word in ‘n piepklein koppietjie bedien – drie slukke later is die koppie leeg. Die kos vat ‘n lang ruk voordat dit uiteindelik by die tafel arriveer en Lisa is half bekommerd dat ons laat by die bus gaan wees.

Binne in hierdie restaurant is daar orals foto’s teen die mure van bekendes en beroemdes, veral in die filmwêreld, wat al hierdie restaurant besoek het. Almal eet gou, maar wanneer ons ‘n paar treë terugloop, besef ons dat ons amper reg bo die hoofingang gesit het. Van daar af is dit afdraande na die bymekaarkomplek toe. Driekwart van die groep is reeds onder die bome naby die parkeerarea en hulle staan en kyk na hoe ‘n groep mans ‘n vorm van rolbal speel. Hierdie spel is glo baie gewild en word  veral tydens die middagete gespeel.  Dit verskil van gewone rolbal omdat dit op rowwe terrein plaasvind, sommer so op die hobbeltjies in die koelte van die groot bome.  Ons gaan sit op ‘n lae klipmuurtjie en hou die spelers dop totdat Ken in die bus klim en ons hom volg.

Van St Paul-de-Vence af vat die kronkelpaadjie ons na nog ‘n klein dorpie waar ons by ‘n spesifieke uitkykpunt stop. Van hierdie besondere hoë punt kyk ons af ondertoe waar drie lande bymekaar kom en die see wit en skuimend op die rotsagtige kuslyn spoel – Italië, Frankryk en Monaco.  Die gids wys ook vir ons die pad waarop Prinses Grace gery het toe sy in 1982 in ‘n motorongeluk gesterf het, op pad van hulle naweekhuis.  Ons is 1500 meter bo seespieël en terug op die bus daal ons geleidelik af ondertoe terwyl ons heeltyd die ongelooflikste uitsigte het.  ‘n Mens kan op sommige plekke tot 120 km ver sien as dit nie ‘n deinserige dag is nie, sê die gids.  In die dorpie Eze stop die bus vir die hoogtepunt waarna baie vrouens uitgesien het, naamlik ‘n begeleide toer deur Fragonard se parfuumfabriek.  Dit ruik absoluut hemels wanneer ons in die voorportaal instap en ‘n jong meisie as gids optree. Sy vertel hoeveel tonne blomme en kruie en dinge hulle gebruik om parfuum te maak. Teen die muur is ‘n groot kaart waarop die lande van oorsprong van die plante wat hulle invoer, gegee word.  Ek let op dat Suid-Afrika nie daar is nie – en dit nadat ek gehoor het dat kakiebos so goed is om parfuum lank te laat hou!  Ek is seker dat dit ‘n mansmens is wat daar wolhaarstorie versprei het in die hoop dat hy nie vir sy vrou parfuum sou moes koop nie…

Deesdae word die parfuum in aluminiumbotteltjies verpak en hou dit tot 8 jaar lank daarin sonder dat dit verslaan. Die geheim is om parfuum in ‘n donker plek te hou sodat dit so min as moontlik aan lig blootgestel word. Hierdie is die enigste plek waar ek spyt is dat ek niks kan koop nie, want ek weet ek moet my Frank spaar vir die taxi na Parys se lughawe op ons laaste dag wanneer die ander terugry Londen toe.

Weer in die bus en ons ry ‘n entjie op na nog ‘n middeleeuse sentrum waar ‘n mens op en af en kruis en dwars met nou straatjies wat in die bergtop uitgekap is tot bo kan loop.  Iewers tussen die grotwinkeltjies en kronkelstraatjies verloor ons ons gids toe ons te lank luier en ek en omtrent die helfte van die groep kom oral behalwe by die kerkie waarheen sy op pad was uit. Dis egter nie ‘n groot verlies nie, want teen hierdie tyd het ons al so baie kerke gesien dat ons in elk geval nie meer die een van die ander een af kan onderskei nie.  Met soveel indrukke en plekke waarmee ons elke dag te doene kry, sal ons waarskynlik nie eers onthou in watter stad ons die vorige dag was nie. Gelukkig kan ons met ons gesamentlike geheue ons pad terug na die bus toe vind.

Dis nou al tyd vir aandete by ‘n restaurant nie ver hiervandaan nie.  Die bus stop by ‘n restaurant tussen groot bome waar ons in ‘n gereserveerde hoekie gaan sit. Dis ‘n driegang maaltyd en ons het boonop ‘n keuse uit ‘n hele paar geregte. Ek kies ‘n seekos Vaul au Vent (so iets, daardie wieletjie degie-ding) en Coq au Vin (hoender in wyn maar iemand sê later dat hy oortuig was dat ons kalkoen gekry het)  met doodgewone skyfies – French fries.  Ons drink rooi wyn en eet die heerlikste sjokolade mousse vir nagereg.

Die mans verkyk hulle aan die kelnerinne in die restaurant.  Hulle is beeldskoon en die enetjie het iets aan wat soos ‘n ekstra klein minirompie lyk, maar eintlik ‘n sjoebroekie met ‘n flap voor is. Die ander een het so ‘n klewerige leeuvel-tiertert ietsie aan en albei het lang bene wat omtrent tot onder hulle kieliebakke loop. Hulle is baie gaaf en vriendelik en bly kos en drankies aandra.  Die een kelner, ‘n jong outjie, is verskriklik lank en Graham, met sy tipiese voor-op-die-wa-houding vra vir hom hoe lank hy is – ‘n outydse ses voet ses.  ‘n Ouer kelner bring bier na die tafel toe en spot daarmee deur te sê dat dit American Wine is.  Na ‘n heerlike aand van lag en skerts is ons terug op die bus en kom net na tienuur weer by ons hotel aan.

Die volgende foto’s van St Paul-de-Vence is agt jaar later geneem…

Nou straatjies
Nou straatjies
Pragtige kerkhof
Pragtige kerkhof
Eindelose uitsig
Eindelose uitsig
Kuns en modes
Kuns en modes
Uitleg van die dorpie
Uitleg van die dorpie
Kenmerkende boustyl
Kenmerkende boustyl
Ommuurde vesting op die berg
Ommuurde vesting op die berg

2 gedagtes oor “Stukkies van Nice en skilderagtige roetes na Middeleeuse dorpies …”

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s