Innsbruck – op soek na ‘n rooi posbus.

Middeloggend op die Sondag steek ons die Switserland-Oostenrykse grens oor en van hier af word ons algaande deur hoër berge omring. Die bus maak korte mette van die roete en volg die tolpaaie wat deur tonnel na tonnel kronkel. So ‘n vreemde, dog opwindende gevoel om in die donker onbekende in te gaan, skielik nag in die middel van die dag met geel liggies wat verbyflikker, hoofligte van voor af. Dis net jyself en die liggies, soms stemme rondom jou van jou mede-reisigers wat half-angstig wag om die einde van die tonnel in sig te kry.

Die langste tonnel is ondenkbaar – Arlberg – ‘n hele veertien kilometer.  Ons gids verduidelik, gesigloos in die vae lig, dat daar voorsiening gemaak word vir ongelukke wat die verkeer kan laat ophoop deurdat daar oral in die wande  deure is wat kan oopmaak om die verkeer indien nodig te herlei . Vir dié wat aan engtevrees ly bring dit sekerlik vertroosting.

Dit is nog baie vroeg wanneer ons in Liechtenstein stop.  Dit is die kleinste staatjie in Europa en die kasteel van die huidige heerser troon hoog bo die dorpie uit.  Omdat dit Sondag is is omtrent al wat ‘n winkel is toe, behalwe vir enkeles wat mistroostig hulle deure hoopvol oophou. Ek is nie lus om saam met die groep by die eerste groot kafee te koop nie en kies my eie koers in, drentelend op soek na ‘n plek om my laaste Switserse munte uit te gee.  ‘n Ent weg in die straat sien ek ‘n supermark maar wanneer ek instap voel ek verlore tussen die vreemde rakke en kan nie besluit wat om te koop nie.  My oorblywende Oostenrykse sjielings gaan my nie ver bring nie, dus soek ek nou al iets vir middagete.   Nou nie juis baie gebalanseerd nie – joghurt en aartappelskyfies soortgelyk aan Pringles, en o ja, Toblerone sjokolade!

Op die grens van Liechtenstein moet ons weer paspoorte wys omdat ons terug in die Europese Unie in gaan. Ons bestemming is Innsbruck en wanneer ons dit inry waar dit tussen die berge genestel is, ry  ons eers al langs die Innsrivier af.  Innsbruck is in Tirool en die liedjie “Rosen im Tirol” draai al heeloggend deur my kop. Die bus spoeg ons naby die Ou Stad uit waar ons dit weer om twintig voor 4 moet kry. Niemand lyk juis baie entoesiasties nie – ek dink die busrit het ons almal uitgeput. Meeste van my toergenote is soos ek: ons is bang ons mis iets en wil nie op die bus slaap nie.  Maar, ons word weereens aangenaam verras met dit wat ons sien en beleef en vergeet kort voor lank van enige moegheid.

Ek en Winnie dink dis ‘n goeie idee om met die toring digby die plein op te gaan en dit kos ons ‘n hele 30 AS.  Lynda en Lino (die Australiese paartjie) met klein Rebecca loop voor ons en sy tel elke trappie – meer as ‘n honderd –  tot bo. Van daar af sien ons baie ver, oor rye en rye dakke, die rivier wat hier en daar dofgroen (dit bevat glo baie kalk) tussen die bome deur sigbaar is en die berge met hulle immer-, diepgroen woude.

Terug op die grond loop ons in die winkeltjies rond, bekyk soeweniers, voel aan materiaal, koop poskaarte.  Ons drink koffie by ‘n kafee terwyl ons na die mense kyk – iets wat ‘n baie gewilde tydverdryf in Europa blyk te wees, want hulle kyk ook vir ons! Ons probeer na die aksente luister en dit identifiseer, maar ek is nog ‘n groentjie wat dit betref. Almal klink vir my òf Amerikaans, òf Brits, òf Duits. Winnie, die wêreldreiger wat so maklik geselsies aanknoop, is meer akkuraat.

Terug in die koel bus en dan na die hotel Dollinger toe waar ek en Donna ‘n lekker groot kamer met ‘n effense uitsig kry.  Halfvyf vertrek Donna en die res van die groep op hulle perdekar-ekskursie en ek sorteer my tas vir die honderdste keer uit, skryf ‘n poskaart vir Nicola in Nieu-Seeland en kies dan die strate, poskaart beseël en reg om gestuur te word.  Onder in die voorportaal van die hotel is daar ‘n rekenaar met internetfasiliteite en ek gooi hoopvol 5 Frank in wat tot my frustrasie onmiddellik deur die masjien opgevreet word.  Ek is sommer lus en vloek kliphard in Afrikaans, maar daar is mense in die kroeg net langsaan, dus hou ek myself in. Daar is min dinge wat so vinnig op die oor val as ‘n Afrikaanse kragwoord en mens weet nooit wie op daardie oomblik ‘n glasie klink nie.

Ek loop al met die promenade rivierlangs af.  Dis ‘n redelike warm middag, maar die rivier gooi koue, koel walms in my gesig op.  Fietsers (gelukkig nie in hulle hordes soos in Holland nie) vleg tussen die stappers deur en kort-kort hoor jy die hortende asemhaling van drawwers wat gedetermineerd maar gemaklik verbydraf.

Die Europese stadsprentjies is vir my verkwikkend anders as waaraan ek gewoond is en dis juis hierdie andersheid wat ‘n mens se gedagtes laat skommel en terug huis toe laat loop. Ek besef hoeveel toerismepotensiaal ons land eintlik het, maar ek vermoed dat dit nie heeltemal ontgin word nie, hoofsaaklik te wyte aan ons hoë misdaadsyfer.  Mense is nog baie onkundig oor Suid-Afrika, kom ek agter.  Donna, die stereotipe Amerikaner,  het byvoorbeeld nie geweet dat Suid-Afrika maar net een land in ‘n hele kontinent is nie. Ten spyte van haar beresenheid, ly sy steeds aan die spreekwoordelike tonnelvisie. Of ek haar kwalik kan neem, is ek nie seker nie. Eintlik is dit ‘n voorreg om te kan weet dat daar ‘n wêreld buite jou eie bestaan en die ontdekking daarvan is ‘n nog groter voorreg. Dis opwindend en dit daag jou uit om ook met nuwe oë na jouself en jou plek (stippel) in die groter prentjie te kyk…

Op een van die vele brûe staan ‘n non en staar na die rivierwater wat kabbelend onder die brug deur vloei. ‘n Paar tekkies sonder eienaar lê onder ‘n boom en wanneer ek nuuskierig opkyk, sien ek ‘n jongman, letterlik hoog in die takke, besig om na sy radio te luister en ‘n boek te lees, heeltemal afgesluit van die aktiwiteite rondom hom.

Helderkleurige vlae wapper aan pale wat skuins op die punte van omtrent elke brug ingeplant is en ek neem ‘n foto of twee. Sal ek ooit onthou watter rivier was in watter land, watter vlag het waar gewapper, wonder ek. ‘n Effense misreëntjie begin uitsak en laat my terug hotel toe draai met Nicola se poskaart steeds in my sak. Daar was nêrens ‘n posbus in sig nie.

Sewe-uur is ek in die hotelkamer en ‘n halfuur later arriveer die res van die groep – ‘n mens hoor hulle opgewonde kwetter hier onder, neffens die venster.  Hulle het dit baie geniet, hoor ek en later op die toer sê almal dat die kerkie wat hulle gesien het baie mooi was.  Terwyl ek gestap het het ek nogal gedink dat die perdekardrywers almal lyk of hulle ‘n klap van die windmeul weg het – ou omies met dun beentjies, woeste baarde en snaakse hoedjies op, die leisels argeloos in hulle knobbelrige hande.

Na aandete loop Donna en Winnie saam om opnuut na ‘n posbus te gaan soek. Dit reën steeds liggies, maar klaar na ‘n rukkie op. Net anderkant die eerste brug kies ons ‘n ander straat as die een met die promenade en stap ‘n hele entjie voordat ons soektog uiteindelik beloon word. Ek en Winnie pos ons nusies en teen tienuur is ons terug in die hotel. Ek gee ‘n halfhartige loer na my notaboek, maar is te moeg om eers te probeer om op datum te kom. Môre is nog ‘n dag. Vir nou wink die slaap, ‘n wondersoete ding…

6 gedagtes oor “Innsbruck – op soek na ‘n rooi posbus.”

  1. Dankie, het nou lekker saam met jou getoer. Gaan gou die plekke waarvan jy praat google, sodat ek kan sien hoe lyk dit.
    O ja, daardie tonnels het my engtevrees gegee net om daarvan te lees.

    1. Dis die lekker ding van deesdae se Google! Ek dink die oorsese gidse ly nogal daaronder, want op latere toere met jongmense kon ek sien dat die gidse amper oordadig feite aanbied en dat niemand meer wil luister nie. Dit maak omtrent ‘n nuwe, interessante navorsingsveld oop.

  2. Soos altyd, baie lekker gelees. Dankie. Dit is ‘n voorreg om al die baie goeie blogs, soos joune oa, hier gratis te kan lees.

    1. Ag dankie Danie! Ja, daai gratis ding is ‘n groot ding. Ek sukkel hier so om gratis Afrikaanse leesstof vir die skoolseuns te kry! Wonder of netwerk24 besef hoe hulle betaal-beleid die taal kniehalter. Hulle moet seker probeer oorleef, maar dis hartseer dat slegs enkele werwe soos Maroela die nuus aanbied. Ongelukkig is die klem by hulle op misdaad en wil ek dit nie graag vir die Engelse tienerseuns aanbeveel nie…

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s