Dag twee – Londen tot Amsterdam

Om vroeg wakker te word was vanoggend behoorlik ‘n verligting – my drome was chaoties en deurmekaar, aangespoor deur die naglawaai in die straat onder my hotelkamer en onrustigheid in my onderbewussyn oor die toer wat voorlê.

Die groot Trafalgartoerbus het reeds in ‘n systraatjie gestaan en luier toe ek met my tas aangesukkel gekom het. Die toergids, ‘n korterige, skraal mannetjie, het homself in ‘n Britse aksent voorgestel as Ken. 

‘n Rukkie later kom ‘n middeljarige vrou langs my sit. Haar naam is Dana en sy bly in Florida, Amerika.  Ken het gesê dat sy by my moet sit, want ons twee sal vir die duur van die toer ‘n kamer deel.

Voor ons uit Londen vertrek, stop die bus eers naby Trafalgarplein waar die laaste klomp toerlede opklim – 54 van ons in totaal. Die busbestuurder, José, kan nie ‘n woord Engels praat nie en is reusagtig groot, maar baie vriendelik. Ek spring gou uit om poskaarte te koop en skrik my byna lam toe ek uit die klein winkeltjie kom en vir ‘n oomblik nie weet in watter rigting die bus geparkeer is nie.  Stel jou die dilemma voor om op die eerste dag al die bus te verpas! Ek vat ‘n drafstappie na die punt van die straat en wil huil van verligting wanneer ek die bus ‘n entjie verder sien. 

Ken verwelkom die hele groep en vra waar almal vandaan kom.  Die helfte is Australiërs, daar is ongeveer 8 Nieu Zeelanders, drie van Amerika, ‘n paartjie van Mauritius af (hulle huistaal is Frans), ‘n jong paartjie van Singapoer af – hulle twee dogtertjies Melissa en Susannah toer saam, ‘n middeljarige paar van Kanada af en ons is sewe Suid-Afrikaners.  Die ander Suid-Afrikaners is Indiërs wat soos ek, almal in Kwa-Zulu Natal bly. Daar is nog ‘n vyfjarige dogtertjie op die toer, haar naam is Rebecca en sy en haar ouers, Lynda en Lino, is van Australië af.

Ons kruiskruip deur die strate van London voor ons uiteindelik op die pad na Dover toe is.  Net voor tienuur is ons in ‘n lang tou van busse en motors wat almal in die groot ruim van die Burgundy, ‘n reuse veerboot, parkeer. Ek is verstom oor hoeveel ander busse reeds daar is en Ken sê dat ons moet seker maak hoe ons bus lyk en waar dit geparkeer is voordat ons uitklim.  Intussen het ek uitgevind dat my toermaat se Amerikaanse aksent my mislei het – sy is eintlik Donna, nie Dana nie. Ons volg die stroom mense op met stelle trappe tot in ‘n restaurantarea waar ons gelukkig genoeg is om ‘n tafel by die venster te kry.  Buite is dit ‘n lieflike dag met die son wat op die water van die Engelse kanaal glinster en die veerboot wat ‘n stroom wit golwe oopsny terwyl ‘n handvol seemeeue krysend bo die boot rondmaal en die kranse van Dover stadig maar seker kleiner word. In my kop maal die liedjie ‘White Cliffs of Dover’ al heel oggend rond, maar word gelukkig geleidelik verdoof deur die opwinding van die atmosfeer om ons.

Die enigste ander enkelreisiger op ons bustoer kom by ons sit – Winnie, ‘n klein, fyn meisie, oorspronklik van die Filipyne, maar sy bly al sedert haar elfde jaar in Australië.  Ons koop reuse toebroodjies en Cappucino’s vir middagete terwyl almal inligting uitruil oor wat ons doen en waar ons vandaan kom.  Winnie is ‘n verpleegster en Donna ‘n administratiewe bestuurder van ‘n mediese praktyk, besig om af te tree.  Sy was reeds op ‘n toer deur Engeland, Skotland en Ierland en het ‘n vyfdag breek tussen-in gehad voor sy by hierdie een aangesluit het.

Die veerboot meer by Calais vas waar ons die stroom mense van die restaurantdek af terug in die maag van die boot volg en mooi moet kyk om die regte bus te vind.  Ken wag reeds in die deur en wanneer ons uit die skemer in die helder sonlig inry, trakteer hy ons op ‘n stroom inligting oor Calais en daardie deel van Frankryk waardeur ons gaan ry.  

Die toermaatskappy keur hulle gidse baie goed en ek kom gou agter hoekom. Ken is soos ‘n wandelende ensiklopedie met allerhande brokkies geskiedenis en interessanthede . Aanvanklik was ek seker dat hy notas gebruik, maar later besef ek dat hy al die feite in sy kop het. Ek vind ook uit dat hy hierdie spesifieke toerroete al vir die laaste dertien jaar doen. 

Elkeen van ons kry ‘n reuse landkaart van Europa waarop ons elke dag ons roete met ‘n pen kan merk. Deur die groot vensters van die bus lyk die landskap nie veel anders as waaraan ek gewoond is nie, maar wanneer die padtekens verbyflits, is dit duidelik dat ek my beslis nie in Afrika bevind nie. Die snelweg neem ons eers deur industriële gebied aan die boonste punt van Frankryk en dan deur België. Ongelukkig is dit die meer praktiese roete en is België self nie in ons reisplan ingesluit nie. 

Dan is ons Holland waar ek uiteindelik die Europese stempels van die prentjies in my kop begin herken. Die poskaartgrootte plasies en landerye word met blink kanaaltjies tussen-in afgeskort en strek netjies en groen sover as wat die oog kan sien. Daar is orals fietspaadjies, maar ons sien nie baie fietsers op die platteland nie.  Ons kruis die Maasrivier wat ongelooflik wyd vloei, met  bote wat orals vaar en vasgemeer is en in ‘n stadium sien ons selfs ‘n stukkie kunsmatige strand waar die mense in die son lê en baai. 

Die rustigheid van die plattelandse tonele word egter gou vergeet wanneer ons kort na vieruur die eerste afrit en groot verkeer naby Utrecht tref. Ons kruip voort teen ‘n slakkepas en die slaap wil-wil my oorval, maar ek weier om in te gee, te bang ek mis iets. 

Ons hotel vir die eerste twee aande is die Ibis Hotel by Schiphol-lughawe en dit voel vir my of dit tussen niks en nêrens is nie. Die hotel self is egter modern en gerieflik en is dus ideaal vir ‘n plek waar ‘n mens slegs oorslaap. 

Ons eerste uitstappie is ‘n kanaalvaart, dus ry ons met die bus tot in Amsterdam waar ons op ‘n rivierboot klim. ‘n Jong Hollandse meisie wat vlot Engels praat is ons gids en sy wys al die interessanthede vir ons uit, van letterlik die kleinste huisie  in Amsterdam wat tussen die ander ingedruk is, tot die een waarin die mees bekende historiese figure gebly het.  Ek vergaap my aan alles, veral die tipiese boustyl en die honderde fietsryers wat oral ry. Ons gids verduidelik dat die huise en geboue vier soorte gewels het – trappies, klokvorm, kroon en plat.  Die huise is almal baie nou omdat mense belasting op die oppervlakte wat hulle huise beslaan moes betaal en dus eerder vertikaal as horisontaal gebou het.  Die gevolg hiervan is dat dit nogal ‘n missie is om meubels in die boonste verdiepings te kry en dit heel dikwels aand die buitekant opgehys moet word.

Oral op die kanaal is huisbote, driekwart van hulle onwettig omdat mense dikwels  die belasting daarvoor nie kan of wil betaal nie. Dit is duidelik dat die meeste van die bootbewoners gewoond is aan nuuskierige toeriste wat op en af deur die kanale vaar, want almal gaan hulle gang en steur hulle glad nie aan ons nie. 

Daar heers ‘n gemoedelike atmosfeer in die rivierboot, want in die loop van die dag het ons mekaar beter begin leer ken. In een huisboot staan ‘n jong meisie voor haar stofie met ‘n resepteboek in die hand en dit lok kommentaar uit oor wat sy vir aandete gaan voorberei, aangesien die meeste van ons teen hierdie tyd nogal honger is. 

Ons ry onder deur die Magere brug wat gebou is vir twee susters wat glad nie goed met mekaar oor die weg gekom het nie.  Knus aan die oewer sien ons ook die superluukse Amstel hotel, waar die gaste buite sit en bedien word deur kelners wat almal deftig uitgevat is. Later vaar ons die hawegebied in en die gids wys vir ons die Wetenskapmuseum  uit wat in die middel van die hawe gebou is – dit lyk nes ‘n reuse groen padda en volgens haar hou die meeste Amsterdammers glad nie van die gebou nie.  

‘n Spesiale aandete is deel van die uitstappie en dit kry ons in ‘n drywende Taise restaurant, die Sea Palace. Dis ons eerste groot ete van die dag en word eers teen agtuur se kant bedien, maar beslis die wag werd.  Die hoofgereg is Indonisiese rysbord, die nasionale Hollandse dis. Ons kry ook noedels en groente, met verskillende soorte vleise en souse.  Die helfte van die groep is egter te bang om van die beesvleis te eet, want volgens Winnie is “mad cow” siekte nog steeds ‘n probleem in Europa. Drankies en heerlike nagereg is ingesluit. 

Om tienuur is dit nog helder lig buite en dit voel baie onwerklik, asof dit eintlik middag moet wees. Van die restaurant af klim ons weer op die bus en Ken sê dat hy ons na die rooiliggebied toe gaan vat.  Ek het al so baie daarvan gelees dat dit glad nie vir my vreemd of dramaties voel nie, maar die meeste in die groep se monde hang oop.  Die enigste iets wat vir my opvallend is, is dat die vrouens so gewoon lyk, asof ek verwag het dat ‘n mens op hulle gesigte sou kon sien dat hulle prostitute is.  Ek kom ook niks agter van die sogenaamde aggressie wat gewoonlik teen nuuskierige toeriste gemik is nie – miskien omdat ons in ‘n groep is en hulle dus weet dat dit nie besigheid vir die oomblik beteken nie.  Sommige van hulle lyk selfs heel geamuseerd wanneer ons verby loop. Die een vrou het ‘n ongelooflike lyf aan haar maar wanneer ons nader kom, sien  ek dat sy glad nie meer so jonk is nie.  Winnie kan uit skone senuweeagtigheid nie ophou giggel nie. Daar is oral sekswinkels en uit die titels van baie van die flieks en video’s wat daar wys is dit duidelik dat daar pornografie in oormaat is.  

Na die tyd loop ons nog so ‘n bietjie in die omgewing van die Damplein rond en alhoewel die straatjies soveel anders is as waaraan ek gewoond in Suid-Afrika is, is almal baie dieselfde, wat nogal verwarrend kan wees wanneer ‘n mens na bakens soek om jouself te oriënteer.  Die Paleis, Sentrale treinstasie, kerke en ander groot geboue  troon imposant bo die strate uit en noudat dit uiteindelik heeltemal donker is en die honderde liggies aan is, word Amsterdam in ‘n feewêreld omskep. 

Terug by die hotel kruip ek uiteindelik tussen die koel lakens van die hotelbed in. Ek besef dat ek fisies heeltemal uitgeput is. My kop draai behoorlik van die dag se indrukke en prentjies wat daar ronddwarrel, maar ek slaap soos ‘n klip tot die volgende oggend. Ek word onseremonieel deur die skril geluid van ‘n wekker uit my slaap geruk, spring vervaard en vies op, net om te ontdek dat dit my eie wekkertjie is wat iewers in my tas se maag tekere gaan. 

Eers wil ek jammer vir myself voel wanneer ek skielik besef waar ek my bevind – onbereikbaar ver van die huis af, sonder my man en kinders ‘n vreemdeling tussen ‘n groot groep mense – maar dan neem die gevoel van afwagting weer oor: nog ‘n dag wink in Amsterdam en dis beslis nie nou die tyd om te wroeg en te tob nie. Terwyl ek hier is, gaan ek my bes probeer om werklik in die oomblik te leef en soveel as moontlik uit die ervaring haal…

Op reis, aflewering een…

Pak jou tasse en reis saam, as jy lus is!

Om alleen te reis is nie lekker nie, het ek gou uitgevind. In die weke voor my heel eerste toer het ek aspris nie probeer dink aan die groot en as ek moet eerlik wees, effens skrikwekkende avontuur wat voorgelê het nie. 

Kleintyd, daar waar ek dikwels vanuit ‘n sitplekkie in die mik van ‘n kareeboom op ‘n Sondagmiddag die wêreld beskou het, het ek nooit kon dink dat my paaie my eendag na Europa toe sou lei nie. As kind is die horison immers net so ver as wat jy kan sien en enigiets verder as dit is onbereikbaar, ondenkbaar.

Net voor instaptyd op die dag van my vertrek het ek vir my ‘n tafeltjie by ‘n restaurant in die besige internasionale vertreksaal van OR Tambo gesoek van waar ek net vir ‘n oomblik tot verhaal kon kom. Dit was agtuur in die aand en die stadsliggies het vrolik deur die groot glasvensters geflikker, die opgewondenheid in my aangevuur. Maar, tussen die liggies het die weerkaatsing van my eie beeld na my toe teruggestaar en het ek onwillekeurig gewonder of dit nie simbolies was van die beperktheid van my bestaan tot nou toe. Sou hierdie reis net my horisonne verbreed, of sou dit ‘n grensverskuiwende ervaring word? Soos ‘n ou tannie het ek half-benoud my handsak op my skoot vasgeklem en vir die soveelste keer seker gemaak dat alles daar was: my paspoort, my beursie, die lêer met my reisplan, hotelname, adresse.

‘n Entjie van my af het ‘n groep skoolkinders op ‘n hopie saamgedrom. Waarheen sou hulle op pad wees? ‘n Skooltoer, ‘n koortoer? Toe het hulle begin sing: Nkosi Sikelel’i Afrika. God seën Afrika. Afrika, my kontinent. Suid-Afrika, my vaderland.

Die lang toue voor paspoortbeheer in Heathrow-lughawe was nie juis ‘n welkome gesig na ‘n onrustige nag op die vliegtuig nie. My reisgenoot oor wie ek elke keer moes klouter om badkamer toe te gaan was nie baie spraaksaam nie. Hy het, wanneer hy wel wakker was, met sy neus in ‘n boek gesit en kompulsief elke paar sekondes aan die toutjies van sy haargordyntjie gepluk-pluk.

Toe ek uiteindelik met my bonkige tas in die aankomssaal staan en benoud rondkyk vir die Trafalgartoere-toonbank, het ek ontdek dat ek nie op hulle hotellys was soos my reisagent beloof het nie.  Een kyk na my askies-laat-ek-lewe gesiggie het die vriendelike dametjie wat die slegte nuus oorgedra het egter vinnig ‘n oproep laat maak en toe trippel sy sommer saam met my op haar hoë hakskoentjies na die uitgang waar ek die bussie na die hotel toe moes kry.

Aan die stuur van sake was Paolo, ‘n Portugese jongman wat al ‘n hele paar jaar in London gebly het, vlot Engels kon praat en ons almal van deurlopende kommentaar voorsien het.  Genadiglik was hy ‘n bedrewe bestuurder en sy hande het behoorlik die stuurwiel laat tol terwyl hy kruis en dwars deur die Londense strate gery het. Ten spyte van sy bekkigheid kon hy nie regtig daarin slaag om veel reaksie uit sy passasiers te kry nie – die meeste van hulle het onbelangstellend en bot voor hulle uitgestaar, haastig om by hulle hotelle te kom.

Volgens hom sou die rit ‘n halfuur lank duur, maar aangesien ek een van die laastes was om afgelaai te word, het ek my eers twee en ‘n half uur later in die voorportaal van die Regent’s Palace in Picadilly Circus bevind. Teen daardie tyd het my kop al  behoorlik gedraai en die feit dat die hotel redelik afgerem gelyk het het nie juis veel gedoen om my beter te laat voel nie.

Die hotelkamer was skaars groot genoeg om in die rondte te draai, maar na ‘n warm stort het ek heelwat beter gevoel. Die toerbus sou my eers die volgende oggend om sesuur buite die hotel oplaai – die hele middag het dus lank en vervelig voor my uitgestrek gelê. Ek het nie vooraf besef dat ek wel tyd sou hê om ‘n bietjie rond te loop nie, dus het ek geen idee gehad van waar presies ek myself bevind en waarheen ek sou kon gaan om die tyd sinvol te verwyl nie.  Hierdie was die eerste van vele oomblikke wat ek voor ‘n keuse te staan gekom het:  sou ek in my hotelkamer bly en jammer voel vir myself omdat ek op my eie in ‘n vreemde stad was waarvan ek niks weet nie, of sou ek my moed bymekaarskraap en die strate in vaar?  Eersgenoemde keuse sou impliseer dat ek maar net sowel in enige hotelkamer in enige plek, selfs by die huis, kon wees. Dus, ten spyte daarvan dat ek geen idee gehad het waarheen om te gaan nie, het ek my skouersak met my beursie en paspoort in gegryp en in die donker gang met sy uitgetrapte matte afgestap. Hierdie hotel was beslis nie vir sy luuksheid gekies nie, maar hopelik vir die feit dat dit redelik sentraal geleë was. Die enigste inligting wat ek uit die adres kon aflei, was dat dit in Picadilly was… en, nou ja, het ek nie as kind ‘n gediggie geleer wat van die opwinding en energie van Picadilly Circus vertel het nie?

 Buite in die straat weet ek nie herwaarts of derwaarts nie – dis ‘n gemaal van mense wat elkeen op ‘n eie sending is, motors en busse, geboue wat donker en dreigend oor my toring. Ek ontdek dat my selfoon van nul en gener waarde is wanneer ek ‘n ‘n sms-boodskap probeer stuur. Net nog ‘n teken van my totale gebrek aan reiservaring…

Terug in die hotel se voorportaal het ek ‘n rekenaar met internetdienste gesien, maar ek maak geen hond haar-af daarmee nie en mors ‘n hele pond in die proses. Ek het dus geen ander keuse nie as om na ‘n internetkafee te gaan soek van waar af ek ‘n boodskap huis toe kan stuur om te laat weet dat ek – vir die oomblik – veilig in Londen is nie.

Londen word ‘n ontdekkingstog, ‘n smeltkroes van indrukke, plekke met name wat veraf klokkies lui en ‘n doolhof van straatjies waarvan ek geen idee het of dit Oos, Wes, Noord of Suid loop nie. Die stadskaart help nie veel nie, behalwe om my soos ‘n idioot te laat voel omdat ek nie weet of ek dit onderstebo hou of nie. Op die ou einde besluit ek om my neus te volg en min of meer te probeer onthou waar ek begin het. 

Op my pad is vele aangename verrassings – ek beland per geluk op Trafalgarplein en daarna in St James Park waar die Britte orals op bankies en gestreepte seilstoele in die son sit. Die park is groot en groen, met bome wat koel skadu’s gooi, eende wat in dammetjies plas en kinders wat met taai vingertjies roomys eet.

 Stadigaan begin ek die atmosfeer inasem, voel ek hoe ek ontspan. Dis nie so sleg om in London te wees nie, besluit ek, terwyl ek ‘n ma-eend en haar kleintjies dophou.  Ek volg die bordjies en bevind my dan voor Buckinghampaleis wat stil en statig aan die ander kant van die besige straat staan. Die outydse Londense taxi’s swiep voor my verby en die groen verkeerslig dwing my om te besluit of ek oopmond gaan staan en staar en of ek verder gaan loop. Aangesien ek reeds die park gesien het probeer ek ‘n ander roete. Elke keer wat ek egter ‘n interessante straatjie sien, loop ek daarin af.   Ek ontdek die Parlementêre geboue, Downing Straat 10, Big Ben en dan oor die Westminster brug, die Londen Oog waar mense in lang toue staan en wag om ‘n arendsvisie oor Londen te kry.

Teen hierdie tyd het daar al ‘n paar uur verloop en ek besef dat ek stadigaan terug hotel toe moet beweeg. Die probleem is net – ek is aan die verkeerde kant van die rivier en die hotelstraatjie is een van menige strepies wat kruis en dwars oor die stadskaart loop.  Die logiese stap is om met die Waterloobrug weer aan die regte kant te kom.

My stadskaart is steeds nutteloos. Ek kan die straatjie waar ek my bevind se naam sien, maar is ek nou aan die bo- of onderkant daarvan, moet ek links, regs of reguit aan? 

My moed is in my skoene, maar die antwoord is beslis nie om emosioneel te raak en op ‘n randsteen te gaan sit en tjank nie, dus is dit voorwaarts, waarheen dit my ook al mag lei. Ek is honger en ek is dors en die son skyn warm, my hart is verskeurd tussen die plesierige atmosfeer en die wanhoop van ‘n verdwaalervaring op my eerste dag in ‘n vreemde stad.

Ek gee geen snars meer om oor die indruk wat ek skep nie en gaan staan elke paar treë om die kaart te ‘bestudeer’.  Ek dwaal reeds vier ure lank rond en het geen idee wat my te doen staan nie. Die feit dat die son nog helder skyn ten spyte daarvan dat dit al na ses in die aand is, dra verder by tot die gevoel van onwerklikheid. Duisende kilometer verder is dit al lankal donker en het Manlief seker al aandete gemaak en die kinders gebad… My hart trek saam en ek byt my onderlip vas. Die prentjie van huislikheid wat nou in my kop ronddwarrel laat my net meer verwese en verlate voel. Tyd vir ‘n lafenis.

Aan die einde van die straat is daar ‘n kitskosplek waar ek ‘n koeldrank en ‘n hamburger koop en wanneer ek uitkom sien ek die groot advertensiebord: Picadilly Circus!  Die hoop vlam opnuut in my op en ek kies al kouend koers in daardie rigting. ‘n Motor toet en trek my aandag. Sowaar, daar, amper weggesteek omdat dit ‘n bietjie dieper in op die straathoek staan, wink my hotel vir my, asof ek nooit weg was nie!

 Terug in die welkome beknopte kamertjie sak ek op die bed neer, skakel die ketel aan en maak vir my ‘n lekker koppie koffie. Londen was my sowaar genadig – sy het haar mooiste gesiggies vir my gewys en haar magnete het my moeë voete weer terug hotel toe gelei. Halftien lê ek knus in my bed, my wekkertjie gestel vir die volgende oggend vyfuur, want om sesuur sal die toerbus daar wees. Met ‘n bestuurder en ‘n gids wat presies weet waarheen hulle op pad is en ‘n drieweeklange avontuur wat wag… 

 

Om te skryf of nie te skryf nie…

Woorde is vir my lewe wat agtergrondmusiek vir ‘n film is – dit maak dit net… anders. Hartseer word hartseerder, interessant word interessanter, doodgewoon word… nie meer so vaal nie.

Woorde verlig jou hart.  Daar is terapeute wat daarin glo om net te luister, want namate ‘n mens die donkerte van jou binnekamer aan die lig blootstel, is dit verstommend hoeveel insig jy ontsluit.  Lig word ligter.

Woorde kan jou gemoed egter ook verswaar.  Deel jou klagtes, dinge wat jou irriteer, dinge wat ‘n slegte nasmaak in jou mond laat… en jy word meer swaarmoedig. Male sonder tal het ek dit al self ondervind – die arme stommerik aan die ontvangkant wat beleefd luister raak later so opgesweep dat hy of sy ook weemoedig saamstem en ‘n hele paar stuiwers in die armbeurs begin gooi. Skielik sien jy nog foute, nog ongeregtighede, nog onregverdighede raak. Nog. En nog ‘n keer nog. Dan loop jy soos Atlas daar uit – die wêreld op jou skouer en jy die versteende standbeeld.

Dié wat weet sê dat dit altyd goed is om op jou dag te reflekteer, terug te kyk en ‘n ander perspektief te kry. Nie dat dit enigsins iets aan die feite daarvan kan verander nie, maar wanneer jy iets in swart op wit probeer vaspen, verander dit die prentjie. Net so effens. Maar genoeg. Genoeg om aan te beweeg en agter te laat.

Woorde gee vorm aan dit wat abstrak in jou denke ronddool. Woorde word instrumente, wat nes musiek, ‘n snaar kan aanraak wat jou week maak, wat jou saamsleur, wat vlerke aan jou gedagtes gee.

Woorde is werklik die vensters waardeur buitestaanders na jou siel kan kyk. Maak nie saak hoe hard ‘n mens soms probeer om ‘n ander prentjie voor te hou nie – mense lees tussen die lyne. Hulle ‘hoor’ daardie wanklanke wat deurskemer, waarmee ‘n mens jouself probeer oortuig dat alles reg is, goed is, wonderlik is. Soms sien jou ‘gehoor’ ook dinge raak wat jy self miskyk.  Dinge waarvoor jy jouself nie krediet wil gee of kan gee nie, omdat jou lewe te verstrengel of te gekompliseerd is. 

Ek dink nou onwillekeurig aan daardie sentimentele liedjie van die tagtigs: “Ek wens jy kon jou deur my oë sien…”  

Woorde is inderdaad vir baie van ons wat hier skryf, die agtergrondmusiek van ons lewens. Maak nie saak hoe saai of alledaags ons dit self ervaar nie – ons woorde kan dit omtower en al is dit net vir ‘n oomblik, ánders laat lyk. Heeltemal ánders. En minder saai….

So, moenie ophou skryf nie, moenie ophou deel nie, moenie ophou nie.