Oor boeke en woorde…

Daar is twee soort boeke wat ek graag lees. Die eerste een is vinnig, met ‘n storielyn wat jou vinnig van die een toneel tot die volgende neem en wat jy binne ‘n dag of twee kan klaarlees.  Die tweede tipe is die boek wat ek toevallig ontdek – ek begin dit lees en dan besef ek: hierdie een gaan lank neem om te lees…

Die rede vir laasgenoemde is dat ek soms ‘n boek oopmaak wat die woorde na my toe laat opspring, wat beelde en herinneringe en ‘n emosionele energie in my wakker maak sodat ek gedwing word om na ‘n paar oomblikke eers stil te sit en voor my uit te staar en te dink.

‘n Goeie boek is vir my een wat nie net met my kommunikeer nie, maar my ook lus maak om te wil skryf, te wil vertel, woorde soos ‘n towerstaf in die hande van ‘n bedrewe towenaar te wil gebruik.

Hierdie soort boeke met hulle magiese woorde slaag daarin om deur die fassades van my alledaagse bestaan te dring, mikroklein gaatjies te vind en deur te dring tot in die binnekamer van my hart waar dit kom nestel.  Soos ‘n droom wat vir ‘n rukkie in jou semi-onderbewuste bly voortdraal en jou in die soet-bewustheid tussen slaap en wakker laat wonder of dit nie dalk regtig gebeur het nie, want dis so naby aan jou soos asemhaal.

In ‘n lang gesprek tussen my gedagtes en die woorde in die boek reis ek in my herinneringe rond, gaan ek terug op die spore van katedrale en paleise, van mense met strak gesigte op ‘n warm somersmiddag, van dubbelverdiepingbusse waar jy vanuit die veiligheid van jou toeristekokon met gulsige oë alles rondom jou kan waarneem. Ek onthou ‘n skemeraand op die bo-dek van ‘n bus met die maan wat in ‘n vuuroranjebal oor die kruin begin kruip het, verby stringe woonstelblokke en een waar ‘n vrou die plante op haar balkon natgegooi het, opgekyk en vir my gewaai het.  Ek sien jou en ek weet dat jy my sien…

My gedagtes draai om die wese van elke mens, wat gesien wil wees, want elke keer wanneer iemand jou raaksien, bevestig hulle jou bestaan. Of dit nou ‘n toevallige oogkontak tussen rakke kruideniersware in ‘n supermark is, of waar jy op ‘n platform in ‘n vreemde land op ‘n trein wag, of waar jy haastig verby ‘n voetganger jaag en sy draai om, kyk jou in die oë. Of soms bloot net ‘n straatkind op ‘n straathoek met vuil stofhandjies wat bedel….  Die boodskap bly dieselfde: ek sien jou en ek weet jy sien my.

Is ons tog nie maar almal dieselfde nie?

Ons samelewing en die manier waarop ons kommunikeer is stadig, dog onomkeerbaar besig om te verander.  Ek gryp na my skootrekenaar in ‘n poging om die woorde en beelde wat so argeloos ronddool vas te vang, konkreet in swart op wit te verewig.  Te verewig?  Vir wie? Vir myself, vir ander? Vir hoekom?

Op die sosiale netwerke sien ons ‘hulle’: dié wat op elke muur van Facebook hulle graffiti kom krap, dié wat selfs die kleinste en vir ons die mees onbelangrike besonderhede van hulle bestaan aan die wêreld wil verkondig, dié wat in trol-skap ‘n uitlaatklep vir die desperaatheid van ‘n geïsoleerde bestaan vind, dié wat op elke forum, elke platform, elke blogspasie hulle ‘unieke’, spesifieke idees agterlaat, dié wat met soms byna-perverse genoegdoening die instrument is wat die spreekwoordelike been tussen die honde ingooi en dan terugstaan om die geveg en die bloedlaat van ‘n veilige afstand af dop te hou…

En dan is daar natuurlik: ‘ons’.  Ons is mos anders.

Ons is mos nie almal so nie.

Of is ons?

5 gedagtes oor “Oor boeke en woorde…”

  1. Stof tot nadenke…ek beskuldig ook ander mense en dink ek is nie so nie,maar as ek eerlik wil wees,dan is ek maar net so…ons,hulle,ek?Uitstekend geskryf.

  2. @perdebytjie Jip, dis makliker om te dink dat ‘n mens nie regtig soos ander is nie. Iets wat ek onthou is ‘n Britse komediant, oorspronklik van Indië af, wat vertel hoe Indiërs lag wanneer hy sy/hulle tipiese aksent namaak. Die rede? Hulle dink nie hulle het dieselfde aksent nie! Net soos ons dikwels ook vir iets lag sonder om te besef ons is presies dieselfde, of ons doen dieselfde ding. Maar, aan die blink kant: so lag ons ten minste vir onsself!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s