Om te gryp of nie te gryp nie…

Dis ‘n filosofie waarvan ‘n mens so dikwels hoor: leef in die oomblik.  Dit klink so maklik, so natuurlik, maar eintlik is dit makliker gesê as gedaan, omdat ‘n mens nie altyd besef wanneer jy nié in die oomblik leef nie…

Eintlik is dit menslik om nie elke oomblik ten volle te beleef nie. Van kleins af word ons lewe bestippel met spesiale geleenthede waarna ons uitsien: ‘n verjaarsdag, ‘n vakansie, ‘n partytjie, die naweek wanneer my maatjie kom kuier, Oupa en Ouma wat volgende maand kom… En vinniger as ‘n oogknip gaan dit verby en is ons soos ballonne wat afgeblaas is of sommer net skielik geplof het. Geen probleem nie, want vir ‘n dag of wat gaan ons aan voordat daar weer iets nuuts is om na uit te sien.

Dit voel soos gister wat ‘n ek standerd sessie was wat met reikhalsende verlange daarna uitgesien het om al in standerd agt te wees, nes my ouer boetie. En nou? Nou is daardie jare lankal al verby en is daar net enkele oomblikke wat my onthou bestippel.

Daar is ook die kere wat ek tyd wou vashou, omdat ek bang was vir die vreemde, die onbekende wat oor die horison geloer het en kort voor lank op my drumpel staan en klop het. Maar daardie tye het ook verbygegaan en het die uitsiendinge algaande minder geword. Soms het dit selfs gebeur dat ek nie te veel na iets wou uitsien nie, omdat ‘n mens se verwagtinge soms die realiteit kan oorweldig en jou teleurgesteld laat omdat dit onrealisties is.

Kort voor lank het ek meer agtertoe as vorentoe begin kyk, deel van die ‘sjoe, dit was darem maar lekker tye daardie” brigade geword. Onvergenoegd, het ek op ‘n dag besef, onbewus van die belangrikheid van die oomblik.

Holruggeryde idees, nie waar nie? Net soos vele ander gesegdes of filosofieë wat ‘n mens so dikwels hoor, onwetend dat dit eintlik net holrug is tot jy besef dat jy eintlik midde in daardie holtetjie is.  Dis tegelykertyd ‘n ontnugterende en ‘n bevrydende gevoel wanneer daardie gedagte eers in jou denke posgevat het. Jy besef jy moet iets daaraan doen, maar jy weet nie hoe nie. Nogtans is dit op ‘n vreemde manier ‘n ontdekking wat die begin van ‘n meer sinvolle, doelgerigte bestaan kan word. Die ding is net, hoe op aarde kry ‘n mens dit reg om die meeste uit elke oomblik, elke dag te haal?

Deesdae skud ons ons koppe meewarig vir die moderne mens, die tegnologiegedrewe lewens om ons wat naarstiglik rekord hou van elke ding wat in hulle lewens gebeur.  Selfies, statusse wat opdateer word, blogs, joernale – ‘n oneindige string instrumente wat amper-desperaat daarop ingestel is om te sê: kyk, ek was daar, ek het gesien, ek het gehoor, ek het geproe, ek het gelag en gesels. Ek het geleef.  Ek leef…

Sommige van ons sit op die kuberdraad waar ons koppe soos tenniswedstrydtoeskouers in reëlmaat van die een kant na die ander kant toe beweeg.  “To join, or not to join?”  Ons besluit: “If you can’t fight them, join them.” In Rome maak ons immers soos die Romeine. Dan spring ons aan die Rome-kant af en kort voor lank is ons deel van die nuwe leefwyse. Kort voor lank het ons vergeet hoe die wêreld voor die internet gelyk het.

Dan is daar die ander wat sinies bly, wat met ‘n oordaad van versigtigheid al die moderne verwikkelinge met ‘n valkoog dophou en wie se filosofie keer op keer bevestig word, wat hulle daarop roem dat hulle beslis nie in al die strikke gaan trap nie.  Hulle sien en hoor mos hoe dit ‘n mens se lewe kan oorneem…

Dis moeilik om ‘n balans te vind.  Aan die een kant probeer jy die beste van elke oomblik maak, probeer jy ten volle elke aspek daarvan beleef, maar aan die ander kant kan die poging daartoe ook jou lewe oorneem, dit ook ‘n kunsmatige, onnatuurlike skynsel gee.

In my studentejare het ek ‘n joernaal begin hou, ‘n uitlaatklep vir my gedagtes gesoek. Toe ek begin werk het in ‘n werk waar daar baie stil oomblikke van wag was voordat iets anders in dolle vaart sou gebeur, het ek begin notatjies maak in ‘n poging om nie net verveeld in die verte in te staar nie.  Notatjies wat orals beland het en waarvan ek dikwels vergeet het, wat selfs later toe ek aanbeweeg het interessante leesstof vir my plaasvervanger verskaf het. Onbewustelik het ek die oomblik vasgevang sodat dit later weer ‘n instrument vir terugkyk sou word.

Op reis gryp ek aan die einde van die dag na my notaboek, moeg na liggaam en na gees wat soveel dinge gesien, gehoor, ervaar het.  My voete is seer van loop, my kop wil slaap, diep slaap. Ek pen die woorde neer, my skrif is skeef en onleesbaar. Notatjies aan myself sodat ek later weer kan onthou.  Dis ‘n gawe ding om te doen, eintlik, want in die ordentlik oorskryf en die weer-lees ervaar ek weer.

Net soos dié wat van elke benullige en onbenullige ding ‘n foto op Facebook plaas, kliek my kamera ook heeltyd.  Ek probeer soveel as moontlik in ‘n ervaring inprop, probeer die prentjie bewaar. Hoe meer ‘n mens dit egter doen, het ek besef, hoe minder is jy fisies ‘daar’.  Elke oomblik wat jy van agter die kamera die wêreld bekyk verander jy dit in ‘n ‘bêre tot ek dit later kan beleef’ oomblik…

Ek het geleer om aan spesiale oomblikke te herkou.  Gee ‘n hap, kou vinnig ‘n paar keer en sluk dit haastig af. Dan, later, wanneer dit stil word, kom die herkouballetjie weer op en dan proe jy dit weer….

Daar is nie ‘n verkeerd of reg nie. Ons is mense. Ek is ‘n mens en ek is jy en jy en jy. Maar ook nie, ek is ‘n individu. En elkeen van ons bly strewe daarna om ons selfopgestelde doelwitte te bereik. Meestal bly dit ‘n strewe, want dis ‘n bestemming wat nie maklik is om te bereik nie.

Gryp die dag, leef in die oomblik, dink ek, maar pasop dat selfs hierdie eenvoudige filosofie jou nie laat vergeet om bloot net mens te wees nie.  Soms is dit nodig dat die dag jóú gryp…

Oor boeke en woorde…

Daar is twee soort boeke wat ek graag lees. Die eerste een is vinnig, met ‘n storielyn wat jou vinnig van die een toneel tot die volgende neem en wat jy binne ‘n dag of twee kan klaarlees.  Die tweede tipe is die boek wat ek toevallig ontdek – ek begin dit lees en dan besef ek: hierdie een gaan lank neem om te lees…

Die rede vir laasgenoemde is dat ek soms ‘n boek oopmaak wat die woorde na my toe laat opspring, wat beelde en herinneringe en ‘n emosionele energie in my wakker maak sodat ek gedwing word om na ‘n paar oomblikke eers stil te sit en voor my uit te staar en te dink.

‘n Goeie boek is vir my een wat nie net met my kommunikeer nie, maar my ook lus maak om te wil skryf, te wil vertel, woorde soos ‘n towerstaf in die hande van ‘n bedrewe towenaar te wil gebruik.

Hierdie soort boeke met hulle magiese woorde slaag daarin om deur die fassades van my alledaagse bestaan te dring, mikroklein gaatjies te vind en deur te dring tot in die binnekamer van my hart waar dit kom nestel.  Soos ‘n droom wat vir ‘n rukkie in jou semi-onderbewuste bly voortdraal en jou in die soet-bewustheid tussen slaap en wakker laat wonder of dit nie dalk regtig gebeur het nie, want dis so naby aan jou soos asemhaal.

In ‘n lang gesprek tussen my gedagtes en die woorde in die boek reis ek in my herinneringe rond, gaan ek terug op die spore van katedrale en paleise, van mense met strak gesigte op ‘n warm somersmiddag, van dubbelverdiepingbusse waar jy vanuit die veiligheid van jou toeristekokon met gulsige oë alles rondom jou kan waarneem. Ek onthou ‘n skemeraand op die bo-dek van ‘n bus met die maan wat in ‘n vuuroranjebal oor die kruin begin kruip het, verby stringe woonstelblokke en een waar ‘n vrou die plante op haar balkon natgegooi het, opgekyk en vir my gewaai het.  Ek sien jou en ek weet dat jy my sien…

My gedagtes draai om die wese van elke mens, wat gesien wil wees, want elke keer wanneer iemand jou raaksien, bevestig hulle jou bestaan. Of dit nou ‘n toevallige oogkontak tussen rakke kruideniersware in ‘n supermark is, of waar jy op ‘n platform in ‘n vreemde land op ‘n trein wag, of waar jy haastig verby ‘n voetganger jaag en sy draai om, kyk jou in die oë. Of soms bloot net ‘n straatkind op ‘n straathoek met vuil stofhandjies wat bedel….  Die boodskap bly dieselfde: ek sien jou en ek weet jy sien my.

Is ons tog nie maar almal dieselfde nie?

Ons samelewing en die manier waarop ons kommunikeer is stadig, dog onomkeerbaar besig om te verander.  Ek gryp na my skootrekenaar in ‘n poging om die woorde en beelde wat so argeloos ronddool vas te vang, konkreet in swart op wit te verewig.  Te verewig?  Vir wie? Vir myself, vir ander? Vir hoekom?

Op die sosiale netwerke sien ons ‘hulle’: dié wat op elke muur van Facebook hulle graffiti kom krap, dié wat selfs die kleinste en vir ons die mees onbelangrike besonderhede van hulle bestaan aan die wêreld wil verkondig, dié wat in trol-skap ‘n uitlaatklep vir die desperaatheid van ‘n geïsoleerde bestaan vind, dié wat op elke forum, elke platform, elke blogspasie hulle ‘unieke’, spesifieke idees agterlaat, dié wat met soms byna-perverse genoegdoening die instrument is wat die spreekwoordelike been tussen die honde ingooi en dan terugstaan om die geveg en die bloedlaat van ‘n veilige afstand af dop te hou…

En dan is daar natuurlik: ‘ons’.  Ons is mos anders.

Ons is mos nie almal so nie.

Of is ons?

‘n Kleine wêreld ….

Die aarde het wit onder ‘n fyn lagie ryp gelê, nou-die-oggend toe ek die gordyne ooptrek om die daglig in te gooi. Yskoud, maar met die belofte van ‘n sonnige dag wat wag.

Ek het my kamera gegryp in die hoop dat ek ‘n paar tonele sou kon vaslê. Nes ‘n wafferse fotograaf, maar dié is ek tog nie. So vanuit die stotterende karretjie – onderdak is nie alkant-beskerming nie – ry ek stadig ‘n draai, op doek na die ideale foto, maar ek kry niks nie. Alles lyk dieselfde as so ‘n paar weke gelede se wit wêreld: koud en verlate… Toe kon ek wel ‘n foto of twee neem, maar nou is dit net ‘n herhaling van toe.

Hoe dikwels is ons lewens nie net ‘n herhaling nie! Dieselfde tonele, dieselfde gesprekke, dieselfde woorde waarmee ons kommunikeer.  Geskiedenis wat homself herhaal. Prediker wat sê daar is niks nuuts onder die son nie.

Kan die mense om ons ons nog verras deur onvoorspelbaar op te tree?  Kan ons onsself nog verras? Of is daar iewers in ons ‘n stemmetjie wat selfs met die eerste anderste optrede fluister: ek het gewéét dis wat jy gaan doen…

Half mistroostig minder stotterend kruip die tjorretjie om die laaste draai. Ek sug. My hande op die stuurwiel is yskoud. My tone ook, daar waar hulle by my ooptoonpantoffels uitloer. Ek draai links terug na my straatjie toe en kyk op na die hoekpaal waar die wyevisiespieël gemonteer is, die weerkaatsing van die son halfpad versluier deur die dun lagie ys wat nog daaraan klou.  Ek stop en neem ‘n foto van die beeld wat daar vasgevang is.

Agter my huis in die koek sit die drie hondjies in ‘n ry en bewe – dis die enigste stukkie sonkol hierdie tyd van die oggend, maar dis beter as die koue keramiekteëls in die kombuis. Die wêreld is nou vir hulle net daardie klein strokie son.

Wanneer ek later na my foto kyk, besef ek: die wêreld is inderdaad ‘n kleine plek, hier waar ons vasgevang in die oomblik leef.  Op die ou einde is dit ons keuse om wyer te kyk. Maar net as ons wil…

DSCN3272

Noord of Suid, Oos of Wes?

Snerpend koud is die enigste woorde wat die weer hier in die Middellande kan beskryf. Die lug is ysig blou en my persepsie van kleur word, soos baie dinge in my lewe, deur die weer en die natuur beïnvloed…

Miskien is ek inherent ‘n draadsitter wat kyk na watter kant toe die wind waai voor ek sê of doen. Hier deur my venstertjie lyk die wêreld vandag darem nie te oes nie, dink ek.

Ek het al dikwels gewonder oor die mens en die natuur en hoe ons aanpas by die fisiese landskap om ons. Stadsjapies moet aanpas en inpas by die tempo waarteen daar geleef word. Op die platteland het ons dieselfde hoeveelheid ure in die dag, maar ons tyd word straks gerek omdat ons nie soveel ure in die verkeer hoef deur te bring nie.

Hoe, wonder ek, verskil iemand wat op die Noordwesvlaktes bly teenoor iemand in die Karoo – of raak hulle rustig, is daar ‘n oopte, ‘n wydheid in hulle siele wat nie by die bergbewoner is nie. Stadsbewoners weer, is heeldag tussen honderde mense, sien duisende mense, het duisende beelde wat elke uur van die dag voor hulle verbyflits sonder dat hulle vir een minuut lank betrokke hoef te raak, deel daarvan hoef te raak. Plattelanders sien dalk nie soveel mense nie, het veel minder sosiale kontak – wanneer die geleentheid hom dus voordoen, glo ek, is hulle meer intens betrokke as iemand wat vanwee die omvang van hulle kontak meer oppervlakkig verkeer.  Of nie?

Die Noordelike Halfrond met lang winters en kort somers.  Wintertyd keer ons almal na binne – letterlik en figuurlik.  Ons soek minder ander mense se geselskap op, is meer tevrede om knus in ons eie huise te wees. Ons kom minder buite, het eerder ‘n behoefte om dieper in ons dop te kruip.  Somertyd is dit anders, dan is dit makliker om die son te deel met ander, aktiwiteite aan te pas om meer insluitend te wees. So, as die handskoen aan die ander hand is, lang winters, kort somers – sou dit ook ons persoonlikhede, ons uitkyk op die lewe beïnvloed?  Koue sneeulande teenoor warm, droë streke… sou ek dieselfde ek op ‘n ander plek gewees het?

Horisontaal Onder Duvet – oftewel, HOD…

… is ‘n lekker tydverdryf en iets wat beslis nie dikwels gebeur nie. Toe ek jonger was, het my kinders my baie besig gehou en was daar nie sommer ‘n kansie om net met ‘n boek in die bed te lê en selfs iewers ‘n sonkol te vind nie.

Nou is dit anders – hulle is natuurlik groter, alhoewel dit nog heelwat oortuigingsvermoë kos om hulle sover te kry om vrywilliglik self ‘n ete voor te berei. So nou en dan kry moeder darem ‘n koppie koffie, dus kla sy nie. Maar: met Manlief wat ‘n bobaas kok is en so graag kos maak, kry ek elke nou en dan die geleentheid om net luilekker rond te hand. Soos vanoggend, toe die dag vaal, grys en koud breek. Ek het die eerste koffietjies gaan aansit, ‘n paar dingetjies in die kombuis gedoen en toe pens en pootjies terug in die bed geklim, skootrekenaar uitgehaal en ‘n bietjie op datum met die tegnologiese kommunikasie gekom.  Later darem so dan en wan ‘n takie afgehandel en selfs ‘n ent gaan stap, maar dis mos nie verniet vakansie nie – ‘n mens mag maar weer rustig raak!

En hier kry ek ‘n verdwaalde nuwe aanhanger wat my skuldig laat voel dat ek hierdie spesifieke blogruimte afgeskeep het, Ek het dit in 2012 begin toe ek ‘n bietjie die grense van WordPress wou verken, maar het baie verdwaald, verlore en verlate gevoel en maar so half stert tussen die bene teruggesluip Litnet toe. Ongelukkig is my skryflus nes baie ander dinge in my lewe iets wat kom en gaan en ook natuurlik iets wat baie tyd in beslag neem indien ‘n mens ernstig daaroor raak. Ek voel behoorlik soos ‘n sprinkaan wat van stingel tot plant tot blom spring in ‘n poging om soveel as moontlik gedoen te kry.

Ek het boeke om te lees, ek het breiwerk om te doen (iets wat ek letterlik dekades laas in my prille jeug gedoen het en nou weer begin het omdat ek iemand anders touwys maak), ek het doeke wat wag om beskilder te word. So much to do, so little time!

Hierdie spesifieke blogruimtetjie, dink ek, sal dus aan stories gewy word, net sodat ek darem ietsie het om te doen. Moet nog mooi besluit hoe ek die ding sal benader, maar nou ja. Elke nou en dan beland iemand onverwags hier en dan laat dit my baie skuldig voel dat hier niks is om te lees nie.

So, ek gaan probeer…