Terugreis…

Juniemaand is gewoonlik die afwagtingsmaand, die laaste voorbereidingsmaand indien ons in die gelukkige posisie is om te kan reis.

Nie sedert Covid-19 nie, “to state the obvious”, soos die Ingelse sal sê. Nou word ons gedwing – nie altyd onwillig nie – om ons binnekamers weer te leer ken en lief te hê, letterlik en figuurlik.

Maar ek sou bittergraag weer wou reis. Net om weer die vreemdeling in ‘n vreemde land te wees, met vars oë na mense en dinge te kan kyk, te fokus op die lewe buite myself en ‘n kykie na ‘n ander leefwyse te kan hê…

Dus gaan ek vanoggend weer terug in die tyd. Julie 2005 op ons eerste gesinstoer.

Aquileia, Italië, en ons bevind ons in die nou bekende verwarring van jeughostel soek. Ek het reeds maande gelede plek via die internet bespreek. Eers was ons saam met die koor, het in redelik luukse hotelle in Duitsland gebly en die laaste week op ons eie terwyl Manlief ‘n seminaar in Lljubljana, Slovenië aangebied het. ‘n Vinnige terugkom aarde toe vir ons drie seuns om toe reeds in ‘n jeughostel te bly. Daardie eerste middag se verkenning was die gesiggies lank, maar gelukkig net tot hulle besef het – hierdie is ‘n ander land, ‘n ander kultuur, ‘n ander geskiedenis. ‘n Mens se gesindheid verander mos as jou fokus verskuif.

Ons hostel hier in Aquileia is in Via Roma en gelukkig kan die man by ontvangs Engels praat en vir twee Euro per persoon ekstra kan ons as gesin alleen in ‘n kamer bly. Badkamer en stort en die res is silwerskoon en ‘n rukkie later sit die seuns voor die televisie in die algemene sitkamer terwyl ek wasgoed laat was en Manlief die kar op die plein twee blokke verder laat parkeer. Veilig.

Skemeraand kies ons in ‘n algemene rigting koers op soek na pizza of iets eg Italiaans. Ons kry ‘n plekkie waar ons op die stoep by ‘n tafeltjie kan sit, maar vind uit dat hulle nie pizza bedien nie. Gmf! Ons eindig op met bruscetta, ‘n soort roosterbrood met iets daarop wat verlangs verwant aan pizza is soos ons dit ken.

Die aand is nog jonk en ons slenter na die motor toe en ry van daar af na Aquileia se basilika waar dit nogal bedrywig voorkom. Eers loop ons na die agterkant waar daar ‘n begraafplaas vir Itialiaanse soldate is wat in die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel het en verwonder ons aan die beelde en grafstene.

Binne in die kerk is ons net betyd vir ‘n gratis uitvoering deur ‘n simfonie-orkes en ons is gelukkig om sitplekke vir almal te kry.

Die stad Aquileia dateer uit die jaar 181 vC toe dit gestig is as ‘n Romeinse kolonie.  Dit was die hoofsentrum van handel tussen Noord en Suid-Europa en het as die tweede Rome bekend gestaan.  In die jaar 452 is die stad deur Atilla die Hun vernietig en toe dit in die sesde eeu herbou is, was dit die hoofkwartier van ‘n Christen patriarg tot dit deur die Venisiërs oorgeneem is in 1412.  Daarna is dit deur die Oostenrykers beset tot in 1812 toe dit in Italiaanse besit gekom het.  In 1998 is dit deur die UNESCO as ‘n Wêrelderfenisgebied verklaar is.  Die basilika is dus duisende jare oud en word met die grootste sorg bewaar.  As ‘n mens in die kerk inloop het hulle ‘n beskermende glasplatform opgerig sodat ‘n mens nie direk op die mosaiekvloer loop nie, maar dit alles steeds kan sien.  Die middelste gedeelte van die vloer is afgesper en ‘n mens kan glad nie daar loop nie.

Die uitvoering is ongelooflik met die ligte in die skemer kerk gedoof en die kollig op die orkes. Tussendeur lees ‘n Italianer lang stukke uit die Bybel en al kan ons nie ‘n woord verstaan nie, word ons geraak deur sy stem en die deernis waarmee hy lees.

Na die uitvoering is almal dors en soek iets te drinke by die stalletjies buite. Een of ander poprock orkes sal later daar optree en ons gaan sit by ‘n tafeltjie in ‘n groot tent. Ongelukkig stel die muskiete ook belang en gee ons na ‘n rukkie op en gaan terug hostel toe.

Die volgende oggend is ons vroeg uit die vere en na ‘n basiese ontbyt van harde rolletjies, piepklein glasies koffie en pakkies biscotti, pak ons die pad na Venisië aan.

Ons kom na ‘n ruk agter dat ons fluks is op pad na Padova toe en ry ‘n draai van omtrent tien kilometer, net om in die verkeer te beland wat voor ‘n tolhek opdam. Boonop is ons in die baan waar ‘n vragmotor die verkeerde deurgang gekies het en ons wag amper ‘n uur voor ons uiteindelik deur is. Van daar af volg ons die aanwysings na Fusina waar ons net betyds is om die twaalfuur boot na Venisië te kry.

Op die hoofeiland is dit ‘n miernes van bedrywighede, want dit is ‘n Saterdag en daar is ‘n stroom mense wat deurentyd van en na die Sint Markusplein beweeg. My senuwees is gedaan om nie die drie seuns of Manlief in die geroesemoes te verloor nie. Vir middagete koop ons regte pizza by ‘n kiosk en op die San Marko piazza staar die kinders verwonderd na die honderde duiwe wat rondtrippel en rondfladder op soek na mielies. Hulle wil terstond ook die duiwe voer en tussen hulle drie en agt pakkies mielies verder, oortuig ons hulle dat ons plan moet maak anders mis ons die boot vir die Drie Eilande toer wat ek vir ons bespreek het.

Weer is dit ‘n gesoek na die vasmeerplek by die waterfront en ek keer ‘n polisieman voor wat met handgebare en gebroke Engels vir ons wys waar die boot is. Teen die tyd wat ons onsself op die boot se sitplekke neerplak tap die sweet ons behoorlik af. Dit is vrek warm met nie ‘n enkele wolkie in die lug of selfs ‘n effense briesie nie.

Die gids van Adventures Bellisimo daag twintig oor twee op en teen hierdie tyd wag ‘n groot groep mense reeds aam met ons. Sy kondig alles in Italiaans, Engels, Frans, Duits en Frans af, maar met die eggo’s van die luidsprekers en die klanktrillings kan ons in elk geval geen snars van die Engels uitmaak nie.

Die boot klief deur die bruin water rondom Venisië en gou laat ons die hoofeiland agter, vaar verby kleiner eilande en ‘n klomp ander bote van verskillende groottes. Die hitte is nou meer draaglik in die wind en ons probeer soveel as moontlik van die tonele rondom ons absorbeer.

Ons eerste stop is die eiland Murano, waar die eeu-oue glasblaaskuns beoefen word. Ons tou agter die gids aan tot binne in die gebou waar die hitte ons soos ‘n bol wol tref. Daar is reeds ‘n ander groep op die paviljoentjie van waar almal ‘n goeie blik op die glasblaser het en  kort voor lank hang ons monde oop. Eers blaas die man ‘n vaas en dan, tot ons verwondering, ‘n perdjie wat op sy agterpote staan. Dis net ongelooflik hoe vinnig en meesterlik hy dit vorm.

Natuurlik neem die gids ons direk na die vertoning na ‘n winkel waar glasware uitgestal word, ten duurste. Ons hou die beursies vir eers dig toe tot ons op die volgende eiland dieselfde perdjie vir 4 Euro kan koop – aansienlik beter as die 12 Euro van Murano.

Ons volgende stop is Burano, veral bekend vir die fyn kanthandwerk wat hulle doen. Ons sien van ver af al die leunende kerktoring, een van die besienswaardighede van die eilandjie. Wat die plek nog meer gewild en besonders maak, is die veelkleurige geboue en huisies. Dit is regtig poskaartmooi – kleurvol en vrolik.

Dis ‘n besige hoofstraatjie, maar groot genoeg sodat ‘n mens nie op iemand se tone hoef te trap nie. Ons loer oral in. In ‘n klein winkeltjie sit ‘n ou vroutjie en borduur. So ‘n klein lappie borduurwerk neem maklik twee maande om klaar te werk. Terug op die boot en hierdie keer na die eiland Torcello.

Maar volgende keer meer daaroor anders raak die inskrywing te lank!

Foto-oomblikke Szczecin & Kamien Pomorski, Pole

DSCN4637
Skemer in Szczecin

DSCN4704 - Copy
Kerk in Szczecin

DSCN4700 - Copy
Kerk in Kamien Pomorski

DSCN4710
Orrel in Kamien Pomorski

DSCN4690
Op pad tussen Sczcecin en Kamien Pomorski

DSCN4673
Uitsig vanaf die restaurant

DSCN4712 - Copy - Copy - Copy
Kerkie in Kamien Pomorski

DSCN4589
Kerk in Szczecin

DSCN4615
Szczecin kerk

DSCN4735 - Copy
Straat in Kamien Pomorski

DSCN4605
Uitsig vanuit kerktoring in Szczecin

Sczcecin en mooi herinneringe

Vanoggend is ek weer lus vir reis. Ek dink dis die tinteling in die herfslug wat die reisgogga uit sy sluimering wakker maak. Weereens net bevestig – hierdie toer het ‘n paar jaar gelede plaasgevind…

Van hierdie dag af is dit asof die busmaatskappy opdrag gegee het dat daar so min as moontlik hoofroetes gebruik word. Ek vermoed dat hulle die dag waarskynlik so lank as moontlik uitrek om maksimum betaling kry.

Dis egter ‘n pragtige roete wat gevolg word en alhoewel die pad soos ‘n lappieskombers lyk soos wat dit reggemaak en gelas is, word dit steeds goed onderhou. Die bus ry deur klein dorpie na klein dorpie en dit herinner my baie aan die pad na Lljubljana in Slovenië en selfs aan die roete na Kalambaka in Griekeland. Die dorpies is pragtig – netjies en rustig, met die huise knus langs die pad ingeryg. Die landelike gedeeltes tussenin word intensief bewerk en daar is bykans nie ‘n lappie aarde wat nie produktief benut word nie. Landerye, vrugteboorde en digte groen woude flits weerskante van die bus verby. Binne-in die bus is dit tjoepstil – die laat nag en die sagte, gladde beweging van die bus sus die meeste mede-reisigers amper onmiddellik aan die slaap.

Later stop ons iewers vir ‘n halfuur lank iewers tussen niks en nêrens by ‘n garage-cum-restaurantjie, hoofsaaklik omdat selfs die busbestuurder lyk of hy sukkel om wakker te bly. Ek en Manlief is nuuskierig om te sien hoe dit in die paadjie by die woud neffens die garage lyk en stap ‘n ent daarmee op. Dis ‘n rustige woud, met lang kaal stamme wat skerp kontrasteer met die sagte goud van die wuiwende grasstingels tussen-in.

Ten spyte van die feit dat die pad deur die klein dorpies vleg, kom ons vroeër as beplan in Szczecin aan. Hierdie stad het in Duits as Stettin bekend gestaan en is aan die oewers van die Oder-rivier wat hier baie breed in die Baltiese See vloei. Dit was nog altyd ‘n baie belangrike hawestad, maar het ook ‘n tragiese geskiedenis van Duitse en later Russiese oorheersing en invloede. Meer as 65% van die stad is in die Tweede Wêreldoorlog in puin gelê en moes herbou word. As ‘n strategiese punt is en was die stad nog altyd belangrik en is daar ‘n groot skeepswerf wat ‘n mens begroet wanneer jy oor die breedvloeiende rivier ry.

Ons klim by die manjifieke, enorme Heilige Jakobus-katedraal af en ontmoet ‘n lank-gekende vriend van Manlief, ‘n professor in musiek, saam met wie ons in die hysbakke (twee van hulle op twee verskillende vlakke) opry na die tiende. Van daar af is ‘n asemrowende uitsig oor die hele stad – vanagter beskermende glasvensters.

Die katedraal is baie groot en alhoewel dit al eeue oud is, is dit verskeie kere herbou as gevolg van ‘n brand wat ‘n deel verwoes het, stormwinde wat die toring laat verkrummel het en groot gedeeltes wat in die oorlog gebombardeer is. Tot met die Tweede Wêreldoorlog was die kerk deel van die Pomeraanse Evangeliese kerk, maar daarna, toe Stettin aan Pole toegeken is, het dit ‘n Rooms Katolieke katedraal geword.

Dis pragtig en heerlik koel binne in die kerk, met ‘n eggo wat sekondes lank aanhou. Die orrel, kapelle, kunswerke, pilare en hoë dak is werklik besonders.

 Die driester Focus-hotel is net ‘n paar blokke van die kerk af. Dit is amptelik – Pole is besig om ‘n hittegolf te beleef en ons kan dit in die kamer (sonder lugversorging) voel. Gelukkig kan ons die deur sowel as die groot venster oopmaak en die vars lug sowel as die pragtige uitsig oor die rivier, brug en promenade op die rivieroewer geniet.

Die middag trakteer iemand ons op ‘n perdekarrit – so tussen my en jou en die wye grense van die kuberruim – alhoewel dit ‘n romantiese idee is en ek baie van die kloppitie-klop van die perdehoewe op die kieselsteentjies gehou het, is die perde laatmiddag al moeg gedraf en is dit vir my moeilik om die soetsweet-perdeureuk te hanteer.

Ons woon ‘n orreluitvoering in die kerk by en dit is iets besonders, alhoewel dit nogal konsentrasie verg om te luister met jou rug na die orrel gedraai, starend na die blomme, die pilare en die preekstoel. Na die uitvoering is ons dors en soek lafenis in die hotel se foyer waar ‘n klompie van ons groep bymekaar gekom het. Iemand is honger en ons skuif na die restaurant oorkant die straat.

Die restaurant is op die walle van die rivier en ons sit buite. Die drankies en die kos kom en almal was net besig met hulle laaste happies toe weerlig en donderslae en reën uitbreek. Almal skarrel om onderdak te kom. Dit is reeds laat en Manlief besluit dat ons twee sommer so in die reën hotel toe moet hardloop. Nogal ‘n koelerige storie en ons kom druipnat in die voorportaal van die hotel aan. Ten minste het die reën die ergste hitte gebreek en ons kan ons kamervenster oopmaak sonder dat dit inreën.

Vroeg Sondagoggend word ek wakker en kyk by die venster uit. Buite is baie mense reeds bedrywig en daar is orals fietse op die promenade te sien. Later die dag sou ons uitvind dat daar ‘n groot driekampkompetisie plaasgevind het. Almal het die oggend vry en die professor het vir my en Manlief genooi om elfuur saam met hom te gaan koffie drink. Hy sal ons met sy motor kom oplaai.

Kwart voor elf is hy daar en ons saam met hom na waar sy motor ‘n blok of twee boontoe in die straat geparkeer is. Hy is ‘n baie gawe man en beslis nog baie fiks vir sy 80 jaar! Dis mense soos hy wat my altyd my eie energievlakke en lewenslus laat bevraagteken! Ek vra uit oor die mooi gebou oorkant die straat en hy sê dat dit polisiekantore is. Langs dit is ‘n besondere interessante en moderne wit gebou en die professor bied aan om vir ons te gaan wys hoe dit binne lyk. Dit is die Filharmoniese saal, sê hy. Alles binne is ook spierwit met ‘n werklik indrukwekkende ontwerp. In die voorportaal is ‘n restaurant wat deur die lede van die filharmonie gebruik word.

Dan klim ons in die motor en ry die paar blokke na die restaurant toe waar ons voor ‘n baie hoë gebou stop. Ons ry met die hysbak op na Café 22 – opt die 22ste vloer van die gebou! Die hysbak beweeg ongelooflik vinnig boontoe maar ‘n mens kan dit nie eers voel beweeg nie. Moderne tegnologie maak werklik ‘n groot verskil.

Wat ‘n wonderlike ervaring om die wêreld van daardie vlak af te kon beskou! Die restaurant se uitsig is asemrowend en mens kan reg rondom die restaurant loop en letterlik vir kilometers ver sien. Ver onder op die grond van waar ons sit is ‘n kleiner gebou en ek tel ‘n hele nege verdiepings wat van hier af na niks lyk nie.

Manlief en die prof gesels oor koor- en musieksake. Hy was onder andere vir 35 jaar hoof van die musiekdepartement by die universiteit en is ‘n gerekende musikus wat onder andere oral in die wêreld rondreis en kompetisies beoordeel. Vroeër jare het hy ook sy eie kore gehad. Hy is die persoon wat konserte, uitstappies en restaurantetes vir ons hier in Pole gereël het. 

Na die koek-, tee- en geselssessie groet die prof en ons tweetjies loop ‘n paar blokke op na ‘n moderne winkelsentrum om dit te gaan bekyk.

 Terwyl ons wag om by die robot ‘n weereens baie breë en ingewikkelde kruising oor te stap, kom ‘n jong paartjie met hulle kinders en hond aangestap. Die hondjie is ‘n kruising tussen ‘n worshond en iets anders en begin sommer dadelik die straat oorstap. Die seuntjie roep sy naam uit en onmiddellik draai die hondjie om en kom staan ewe stemmig by die gesinnetjie. Van toe af is dit te oulik om te sien hoe hy saam met hulle stap, maar kort-kort opkyk om seker te maak hulle is nog by hom.

Ons loop in die winkelsentrum rond, kyk na pryse van leerprodukte (te duur!) en gaan dan na die supermark toe waar ons water loop voor ons terugstap na die hotel toe. Dis ‘n vrek warm dag en die son maak dit nog warmer, maar ons haal darem die hotel. Nog tyd om ‘n middagslapie in te kry voor ‘n uitstappie na Kamien Pomorski…

Volgende keer oor Kamien Pomorski en ‘n paar foto’s.

Bydgoszcz en sang en kultuur…

Een ding van ‘n vreemdeling in die poorte van enige stad waar ‘n mens glad nie die taal ken nie en Engels van die inwoners gebrekkig is of glad nie bestaan nie, is dat jy aan die genade van gidse en toermaatskappye uitgelewer is. Of, aan die genade van busbestuurders. In hierdie geval, een wat nie in Engels kan kommunikeer nie en klaarblyklik net ‘n vae idee het van waarheen hy ons in Bydgoszcz moet neem.

Hy moet kort-kort pad vra en boonop glo hy nog nie aan moderne katoeters soos ‘n GPS nie – hy ignoreer dié en probeer eerder sy landkaart volg. Maar, die voordeel (twyfelagtig, maar kom ons hou die blink kant in die oog) daarvan is dat ons ‘n paar Kaapse draaie ry en ‘n bietjie meer van die stad sien as wat aanvanklik beplan was. Uiteindelik word ons by die voorhekkie van die koshuis waar ons vir die duur van ons Bydgoszcz-verblyf gaan wees uitgespoeg. Die kinders se wenkbroue skiet omhoog – na die moderne en luukse Warskou-hotel, steek hierdie geboutjie onmiddellik af. Manlief het hierdie plek egter met hierdie doel voor oë gekies – blootstelling aan ander kore en ander kulture. Basiese fasiliteite om die toerervaring meer sinvol te maak. Hopelik…

Hierdie is ‘n koshuis met die meeste van ons kamers op die derde en vierde vloere, gedeelde badkamers vir meisies en vrouens op die eerste en derde vloere en vir die mans op die tweede en vierde vloere.  Laasgenoemde sou nie so ‘n groot probleem gewees het as dit meer privaat was nie. Elke badkamer het vier storte met deursigtige glasafskortings en jy moet buite die storthokkie uit- en aantrek… Oi.

En daar is nie ‘n hysbak nie. Net 76 trappies wat nogal baie onlekker is as jy met ‘n groot reistas moet stoei. Elke keer, tas of nie, wat ek op- of afloop tel ek die trappies, vat eers ‘n asembrekie op die tweede vloer en pak dan die traptog verder aan.

Daar is darem ‘n kompromie vir ons klompie volwassenes – iewers in die buik van die gebou is daar ‘n privaatbadkamer waarvoor ons elke keer ‘n sleutel moet gaan vra. Die nadeel – reisgenote wat daarvan hou om éérste die badkamer te gebruik en dan sommer 40 tot 50 minute neem voordat hulle ablusies uiteindelik afgehandel is. Na die eerste paar aande sluip ek dus eerder vieruur in die oggend na die gedeelde badkamers toe waar ek in vrede vinnig kan stort en aantrek.

Ons kamer het soos al die ander vier beddens in en ons venster se uitsig is na die westekant, wat beteken dat ons vol middagson kry in ‘n baie lang Europese en warm dag! Die beddens het dun matrassies en ‘n houtbasis wat vreeslik kraak, maar andersins is alles baie netjies. Daar is tot ‘n klavier in hierdie kamer – net jammer dis gesluit, maar dis seker die idee wat tel.

Aandete is beskeie – net brood met twee skyfies kaas, salami en ham. Laura, ons gids vir die tydperk, het vroeër verduidelik dat die hoofmaaltyd vir die dag smiddags is.  Ons het ‘n tweede gids – Laura se susterskind, ‘n veertienjarige seun met die naam van Adam.  Sy ouers is albei Pools, maar hy self is in Amerika gebore en kom elke jaar Pole toe waar hy dan as gids vir die kompetisie optree. Sy Engels sowel as sy Pools is vlot en ons kom gou agter dat hy presies weet wat hy doen. Hy is kleinerig en skraal, maar baie intelligent en het geen probleem om besluite te neem of vir ons te sê presies waar ons moet wees en wat volgende gaan gebeur nie. Hy het sosiaal ook baie goed by die koorlede ingepas en dit was net ‘n plesier om hom saam met ons te hê.

Elkeen van ons kry ‘n aansteeksirkelwapentjie met die BIM-logo (Bydgoszcz Musical Impressions) daarop. Hiermee kan ons van enige vorm van openbare vervoer gebruik maak: bus, trem of trein. Elkeen kry ook ‘n mikrogrootte pakkie kaartjies vir elke dag se ete. Ek het myne natuurlik na ‘n dag al verloor en eers ‘n paar dae nadat ons uit Bydgoszcz uit weg is weer gekry!

Die volgende episode in ons busbestuurder-sepie volg. Die eerste aand al het hy ons bus in ‘n parkeerterrein daar naby gaan parkeer, maar nie rekening gehou met die beperkings van ‘n baie nou straatjie nie. Hoe hy daar ingekom het, weet ek nie, maar dit was ‘n ramp om met die grote bus in die teenoorgestelde rigting te probeer uitkom.  Onsuksesvol, want in sy vorentoe en agtertoe ry, maak die agterkant van die bus hard kennis met die hekpaal waaraan die hefboom van die terrein is en die bus sit stewig vas. Omtrent al die seuns klim uit die bus om te gaan help om die bus los te kry. Intussen het die verkeer weerskante in die straat al opgehoop en is die motorbestuurders nie beïndruk met die situasie nie. Met ‘n gesteun en gekreun is die bus uiteindelik los uit sy greep en begin die vorentoe-agtertoe proses weer van voor af tot ons uiteindelik kan ry. Ons bestuurderomie is duidelik erg ontstig oor die voorval, want hy sal verantwoording aan die busmaatskappy oor die skade aan die bus moet doen. In die bus gons dit soos almal oor die voorval kwetter en selfs lag, maar my hart is seer vir sy pad.

Dis die begin van ‘n kultuur-avontuur. Die eerste aand kom al die kore, groepe, dansers en orkeste op ‘n oop stuk grond met lang groen grasse langs die rivier bymekaar. Musiek trompetter en bulder uit groot luidsprekers en dit wemel van tradisionele kostuums. Kort voor lank is dit dans- en demostrasietyd en die passies word met gemak en grasie uitgestal, die res genooi om elke keer sirkels en treintjies te vorm en mee te doen. Die jongetjies huppel en lag met ‘n vonkel in die oog en ons vlei onsself op die gras eenkant neer, probeer die muggies en die muskiete weghou.

Daar is baie vreemde en fassinerende instrumente wat deur sommige groepe gebruik word en meeste van die musiek sowel as die danse het ‘n middeleeuse klankie aan hulle wat ‘n mens na ‘n totaal vreemde wëreld verplaas.

Kommunikasie vir die res van ons week se verblyf bly ‘n probleem, maar daar is min dinge wat nie deur wedersydse welwillendheid oorkom kan word nie. Die dames in die kombuis waardeer ‘n dankie, al is dit nou in Afrikaans, Engels of gebroke Pools.

Die busbestuurder se ellendes is nie op ‘n einde nie. Die eerste oggend groet ek hom met ‘n Poolse goeiemôre, maar hy beduie dat dit glad nie ‘n goeie oggend is nie. Hy kon uiteraard nie weer in die parkeerterrein parkeer nie en het die bus so na as moontlik aan die sypaadjie, maar aan die verkeerde kant van die straat oornag laat staan. ‘n Vragmotor het een of ander tyd klaarblyklik te naby aan die bus verbygery en die kantspieëltjie afgeruk! Dit lyk my of die bus maar na Amakrokokroko herdoop moet word! Dit lyk nou kompleet soos ‘n insek waarvan die een voeler afgebreek is.

Amper in die middel van Bydgoszcz se middel is die jeugsentrum waar die meeste van die werkswinkels plaasvind en terwyl die kore daar doenig is, verken ons groep die moderne winkelsentrum ‘n blok of twee daarvandaan af. Dit word ons daaglikse afpakplek waar ons eers met koffie begin en dan stelselmatig die afdelingswinkels en die kleiner plekkies leer ken.

Middagetes by die koshuis bestaan uit hoender schnitzel, aartappels en blomkool of ander soorte vleis met … aartappel en dikwels diks snye brood. Meestal met ‘n bord sop daarby – smaaklik.

Ons leer Bydgoszcz se riviereiland ken, waar ‘n groot park al langs die walle af loop en ‘n tydelike verhogie aangebring is. Vanaf die paviljoentjie het ‘n mens ‘n mooi uitsig op die rivier en die imposante geboue oorkant die straat. Dit blyk ook ‘n gewilde plek te wees waar bruidspaartjies graag foto’s neem. Na die aktiwiteite loop Adam en Laura voor en ons loop oor die rivier tot by die oudste kerkie in die stad. Dit is Goties en lyk dus nie indrukwekkend van buite af met die nou reeds donkerrooi bakstene nie, maar binne in is die atmosfeer gewyd tussen die stil ikone, skilderye van heiliges, pragtig versierde koepels en diep juweelkleure.

Van hier af loop ons deur die Ou Stadsgedeelte van Bydgoszcz met sy kieselsteenstraatjies en pragtige ou geboue wat skouer teen skouer langs mekaar ingeryg is. ‘n Hele paar blokke verder gaan ons met trappe af in ‘n tonnel onder deur een van die breë strate en dan weer bo naby die jeugsentrum uitkom.

Die eerste aand kom al die groepe die jeugsentrum bymekaar en het hulle pragtige, kleurvolle tradisionele drag aan. Die Poolse afkorting vir Suid-Afrika is RPA en ons neem agter die banier en ons vlag stelling in. Oral om ons is groepe besig om hulle instrumente te stem en daarop te blaas en dis behoorlik ‘n babelse lawaai. Nogtans skep dit ‘n gesellige, feestelike atmosfeer en almal staan en lag en gesels terwyl mense op en af loop om foto’s te neem. Agter ons is ‘n groep oulike dansertjies uit Romenië met meisietjies wat nie ouer as agt of nege jaar lyk nie.

Iemand voor iewers gee die bevel en uiteindelik begin die optog deur die strate. Dit is nie baie ver tot by die Opera Nova waar die openingsaand gehou gaan word nie. Die optog beweeg stadig maar seker vorentoe en in ‘n stadium sluit ‘n klompie Poose meisies hulle by ons groep aan.

Die openingseremonie is skouspelagtig en uit die boonste rakke – duidelik is daar baie moeite gedoen om die geleentheid te choreografeer en die dansers met hulle vlae is besonders goed. ‘n Amerikaanse gospelgroep sing ‘n paar items en word luid toegejuig. Dan is daar ‘n jazzgroep waar die hoofinsturmentalis ‘n tipe van xilofoon/marimba instrument bespeel terwyl hy drie stokkies in elke hand hou. Baie indrukwekkend, maar die musiek is stadig maar seker besig om ons almal aan die slaap te sus. Ons kry nie regtig kans om heeltemal uit te rus nie, dus is dit ietwat van ‘n foltering om deur so ‘n lang musiekaand te sit. Anders as met koormusiek waar ‘n mens presies weet wanneer die einde van ‘n stuk aanbreek, voel dit of hierdie items geen einde het nie – elke keer wanneer dit klink of dit gaan ophou, begin ‘n ander instrument met ‘n solo en hou dit vir ‘n ewigheid aan.

Bedags, so tussen die musiek-aktiwiteite deur kry ons kort-kort kans om die stad rondom ons te verken. Naby die koshuis is ‘n supermark met die naam van Biedronka (ek herdoop dit na die ‘Dronk bytjie’ want daar is ‘n vrolike bytjiegesiggie langs die naam). Die Poolse supermarkte is darem nie so ingewikkeld soos sommige ander in Europa wat die afweeg van groente en vrugte betref nie. ‘n Mens vat wat jy nodig het en dan weeg hulle dit vir jou by die kasregister. Ons koop onder andere bottels water ook, wat nogal ‘n gewigtige pakkie maak wanneer ‘n mens dit in die warm son terug na jou blyplek toe moet dra.

Ons let op dat die straatjie waar die bus op ons eerste aand soveel konsternasie veroorsaak het, intussen deur werkers aan die kante oopgekap is, nuwe plaveisel of iets gelê is en reeds besig is om droog te word. Die mense werk ook soms tot laat in die aand en wanneer ons vir Laura hieroor uitvra, sê sy dat hulle in die somer in skofte werk om projekte afgehandel te kry. Dit is ongelooflik vir ons as Suid-Afrikaners om te sien hoe vinnig en hoe deeglik dinge daar gedoen word! Orals om ons vind daar padwerke plaas, maar dit veroorsaak geensins lang oponthoude nie en jy sien selde dat iemand net staan en niks doen nie. Dit voel of daar letterlik op die een dag slote gegrawe word vir watter doel ook al, om net drie dae later te sien dat dit weer opgevul, opgeteer is en verkeer weer normaal kan vloei.

Die hoof-kompetisielokaal is naby die Ou Stad geleë en die bus laai ons elke keer in ‘n koel, boomryke straat af. Ons kry ‘n nuwe busbestuurder wat meer na ‘n jazz-musikant as ‘n bestuurder lyk – hy het lang grys hare wat hy in ‘n poniestert vasbind. Dit wil voorkom of hy so ‘n klein bietjie Engels verstaan, want toe hy met die bus wegtrek en dit om een of ander rede nie lekker in rat kry nie, sê iemand iets van ‘n busprobleem waarna die man omdraai en dramaties sê: “No problems, no problems!”.  Dit blyk dat ons die kort lootjie betreffende busbestuurders vir hierdie toer getrek het. Om alles te kroon is ons ongeluksvoël omie van die eerste twee dae nog steeds met ons en ry nou elke dag ook saam. Dit voel nogal vreemd en ek wonder of die bestuurders later die helfte van die bus gaan volsit?

Ons kry ook geleentheid om saam met Laura na die moderne Basilika naby die jeugsentrum te gaan kyk Sy behoort aan die gemeente en ‘n vriend van haar het die ontwerp van die hoofingang se deur gedoen.  Dis ‘n pragtige, moderne gebou van buite af maar binne lig, mooi en besonders.  Later drink ons koffie by spesiale plekkie toe met die naam Cukierna Sowa. Sy verduidelik dat die eienaar van Bydgoszcz af is, maar wêreldberoemd is vir die sjokolades en soetgoedjies wat hy maak. Sy winkel het selfs takke in Londen en Parys.

Op ‘n ander dag na die kompetisie eet ons roomys op die stadsplein en daar doen ons koor ‘n paar Afrika-liede wat gou ‘n gehoor trek. Van die Amerikaanse koorgroep wat in die werkswinkel saam met ons koor was is ook daar en drie van hulle vra of hulle Shanandoah saam met die koor kan sing.

Dis al na twee wanneer die bus by die koshuis aankom en almal gou eers middagete gaan eet. Teen daardie tyd het ek al lankal my ‘kaartjies’ verloor, maar almal ken ons nou al so goed dat ek sommer in die ry kan val sonder dat iemand vir my kaartjie vra. Die vrouens wat in die kombuis werk is almal baie vriendelik en glimlag altyd wyd wanneer ‘n mens vir hulle dankie sê – glad nie bot of stug nie, ten spyte van die kommunikasieprobleem.

Die Bulgare wat heelweek saam met ons in die koshuis gebly het kom saans laat van iewers af en is gewoonlik in die luim om musiek te maak.  Ons kamervenster is omtrent reg bo die ingang van die koshuis en dit is waar hulle met hulle vreemde siter- en fluitinstrumente sit en speel. Later is daar groepies wat op die maat van die tradisionele musiek dans en ek neem hulle van bo-af af.

Omdat ons aan die Westekant van die gebou is, sien ons elke aand ook hoe die son skouspelagtig agter die geboue op die horison verdwyn en hoe ‘n enkele kruis se silhoeët bo die horisonlyn uitstaan.

Een middag stel een ou in ons groep voor dat ons ‘n bietjie trem ry om te sien hoe Bydgoszcz lyk, want tot dusver was ons ‘ekskursies’ beperk tot die sentrum en die kompetisielokaal en het ons nog nie van openbare vervoer gebruik gemaak nie omdat ons bus ons heeltyd karwei. ‘n Paar van ons stap saam met hom na die tremhalte toe wat so ‘n paar blokke daarvandaan in ‘n ouerige deel van die stad is. Dit is ‘n redelike warm dag en ons sit en geniet dit om net rustig te wees en na die geboue en parke te kyk, asook na die mense wat op en af klim. Daar is verbasend baie mense wat hierdie tyd van die dag van tremvervoer gebruik maak. Sommige klim op en klim weer twee blokke verder af, want ons laat vermoed dat dit nie so duur is om trem te ry nie.

Op ‘n ander keer loop ons al met die rivierwal langs tot by ‘n bootrestaurant wat permanent vasgemeer is en drink koffie of ietsie koels. Die dae is warm, dus soek ons heeltyd na skadu. Pole se maksimum somerstemperature is selde meer as 20° Celcius, maar ons is daar midde in die hittegolf wat oor Europa hang. Oral in Bydgoszcz is daar ‘spuitfonteintjies’ gemaak wat hoë boë uit die punte van plastiekpype spuit en waarin klein kindertjies uitgelate baljaar. Mense op fietse ry sommer dwarsdeur die sproeireën.

Die musiekweek se afsluitingsaand is ook in die Opera Nova en skouspelagtig met danse en vlae en weerskante van die verhoog sowel as op die agterste muur, ‘n visuele interpretasie van die danse wat plaasvind. Alles is perfek gechoreografeer – baie van die kleiner musiekgroepe verskaf byvoorbeeld die musiek vanaf links of regs voor op die verhoog, terwyl die dansgroepe van die verskillende lande op die verhoog is. Volgende groot orkeste kom dan met die agterste verhoog op boontoe van onder af en alles verloop seepglad. Elke groep en koor wat deelgeneem het kry ‘n geleentheid om ‘n item of twee te lewer, wat dit ‘n baie lang aand maak.

Ons staan die laaste oggend baie vroeg op want Szczecin, ons volgende bestemming, is ver. Teen sewe-uur is die bus gepak en is ons gereed om te vertrek, maar ‘n klein probleempie het intussen opgeduik. Beide Laura en Adam is daar om te groet, wat dus daartoe lei dat ons langer vat om aan die gang te kom. Intussen het die padwerke die vorige dag al na ons straat toe verskuif en die spoed waarmee hulle werk is iets om te aanskou. Aanvanklik wag hulle geduldig dat die bus moet vertrek, maar dan gee hulle nie meer om nie en begin die groot masjiene wat hope beton uitspoeg sommer langs die bus! Vir ‘n paar minute kon ons almal net verstom staar, want ons was oortuig daarvan dat die bus nie daar sou kon uitkom nie. Tyd is geld vir hierdie werkers en hulle vat beslis nie nonsens nie.

Die groot betonspoeger kruip stadig maar seker sentimeters van die bus verby en dan kan ons uiteindelik gaan, alhoewel dit nogal ‘n missie vir die bestuurder is om uit te kom met dié dat die straat in die rigting waarheen ons moet gaan nou afgesper is. Maar uiteindelik is ons op pad Szczecin toe…

Middeleeuse juweelstadjie…

Op pad van Warskou na Bydgoszcz in Pole is daar stringe klein plattelandse dorpies. Ek is nie seker of ons busbestuurder die beste pad, die langste pad of die kortste pad vat nie (alles hang gewoonlik af van die busmaatskappy en hoeveel hulle kry en ‘n mens kan nooit verseker sê as jy in ‘n vreemde land is nie). Dis ‘n gelapte pad, maar interessant en ons kan sien hoe die platteland lyk, min of meer ‘n gevoel kry van die leefwyse hier. Nie dat ‘n mens ooit ‘n ordentlike idee deur die vensters van ‘n bus kry nie, maar dit gee jou die geleentheid om te dink, om in te neem, om klein dingetjies op te merk. Met snelweë kry ek altyd die gevoel van isolasie – meestal is daar hoë beskuttings langs die pad aangebring, waarskynlik om die wind af te keer, of dalk om die geraas te verminder, maar dis daar en dis die somtotaal van jou belewenis.

Die stukkie snelweg uit Warskou uit het ook frustrasies  – net as jy dink daar is ‘n interessante huisie, plaasopstal, geboutjie om nuuskierig te beloer, is daar iets wat die uitsig versper en mis jy daarop uit.

Ek verstom  my aan die brugontwerpe wat ons oral teekom – so amper asof iemand aangestel is om die hele land se ontwerpe te koördineer en so kleurvol en skouspelagtig as moontlik te maak. ‘n Abstrakte skildery van ‘n onbekende filosofie daaragter, maar ek hou daarvan, dit fassineer my, die kleurvolle, skoon lyne.

Dit is duidelik dat boerderybedrywighede op ‘n intense skaal plaasvind. Met my leke-oog het ek geen idee watter gewasse verbou word nie, maar ek verlustig my in die skakerings van groen – varsgroen, geelgroen, blougroen, waterverfgroen, papegaaigroen. Kol-kol is daar laventelpersvelde waar die fyn blommetjies skerp teen die sagte groen uitstaan. Iewers swerm ‘n klomp voëls verskrik uit ‘n woud en op ‘n ander plek kruie ‘n boer rustig met sy trekker en sleepwaentjie voor ons aan in die pad.

Die pad kronkel tussen dorpies deur, soms net met ‘n paar huise en dan plotte met boorde en blomtuine. Die name bly onuitspreekbaar moeilik en die een klein dorpie na die ander flits verby en ‘n mens besef eers dat jy deur een is wanneer ‘n groen padteken met ‘n rooi skuinsstreep deur die naam ook verbyswiep.

Soms is daar bondels plantasie weerskante van die pad – lang, dun stamme wat wit in die oggendson glinster terwyl die blare blink en ritselend weerkaats. Ons stop iewers tussen niks en nêrens vir ‘n oggendbreek (busbestuurders word verplig om ‘n twintigminuut-breek na ‘n sekere aantal ure te neem) en die teer is stowwerig en warm in die son. Ons koop iets om te drink en stap ‘n entjie om die koel lafenis van ‘n woud te gaan ervaar. Ek en Manlief stap selfs ‘n entjie met ‘n kronkelpaadjie af waar plantasie woud en ruigte word, ‘n enkele huisie iewers tussen die sagbewegende skadu’s sigbaar raak voor ons omdraai.

Behalwe dat ons busbestuurder nie twee woorde in Engels kan sê nie, blyk dit ook dat hy nie honderd persent seker is van waarheen ons moet gaan wanneer ons aan die buitewyke  van Torun kom nie. Nogal vreemd dat hy nie vertroud is met moderne tegnologie nie, want daar is wel ‘n GPS in die bus. Met ‘n effense draai parkeer hy darem in ‘n groterige parkeerarea en moet ons die laaste entjie tot by die boogingang van die Middeleeuse stad stap. Torun herinner ‘n mens nogal aan ‘n paar van die ander Europese Middeleeuse stadjies, soos Rothenburg in Duitsland.

Ek en Manlief besluit om eers ietsie vir middagete te kry voor ons die stadjie  verken en sien gou ‘n Döner Kebab-plekkie wat ons aandag trek. Dis klein en ongesofistikeerd, maar die pryse lyk billik en die Midde-Oosterling agter die toonbank is saaklik maar nie onvriendelik nie. Dit blyk dat hy van Tunisië af is, want behalwe vir sy voorkoms – donker vel met fletsblou oë en swaar wenkbroue – is daar oral plakkate van Tunisië teen die bure.

Ons wag vir ons kos by een van twee plastiek kafeetafeltjies sonder enige kleedjies. Langs ons sit twee mollige vrouens en ewe mollige man en praat Engels met ‘n tipies Britse aksent. Soos altyd voel dit nie vreemd om sommer net ‘n gesprek met iemand aan te knoop nie en wanneer ek uitvra, hoor ek hulle is van Manchester. Dis twee susters wat vir hulle broer, ‘n Engelse onderwyser in Torun, kom kuier het.

Kort voor lank is ons hoender-en-lamskebabs gereed – 11 Zloty daarvoor betaal met slap tjips daarby – en ons smul lekker voordat ons die stad aanpak.

Torun is ‘n pragtige stad, met baie ou, Gotiese kerke en kieselsteenstraatjies wat allerhande interessanthede wegsteek en jou naderwink. Daar is heelwat ander toeriste in die hoofstraat en by een van die kerke staan twee of drie mans hoog bo in die toring en sing – musiek omtower selfs die mees eenvoudige toneeltjie in iets besonders. Omdat die straat nogal breed is, het ‘n mens nie die gevoel dat jy deur die ander toeriste verswelg word nie. Ons loop rustig aan en verkyk ons aan die klein winkeltjies, wat hulle uitstal en hoe kleurvol alles is.

Hier, soos in die res van Europa, word die kort somermaande met oorgawe gevier en orals borrel blombakke met helder rooi en pienk malvas uit vensterbanke, vanaf balkonne, voor winkeltjies. ‘n Ent op in die straat is ‘n imposante gotiese rooibaksteengebou van wat soos die stadsaal lyk, sigbaar. In sy vierkantige toring pryk ‘n reuse astrologiese horlosie met goue wysers. Onder by sy voete is daar allerhande stalletjies, vrolik en uitnodigend en aan ‘n lamppaal is ‘n tiental rigtingtekens aangebring wat wys waar verskillende bakens in die stad is, maar daarvoor sal ons nie vandag tyd kry nie. Die Poolse name daarby help ook nie juis nie, maar duidelik is dit meestal kerkies en geskiedkundige geboue.

Die geboue weerskante van die straat troon hoog bokant ons uit, rooi baksteen teen helderblou lug en wit wattewolke, ‘n magdom torinkies wat skerp teen die blou afgeëts word. Die fassades  is netjies en so mooi afgewerk. Soms sagte grys mure met venstertjies wit omraam, ‘n lus vir die oog. Ander kere skoonwit mure met spatsels malvas wat van die gietysterbalkonnetjies afhang. Lamppale met hulle lanternligte herinner aan ou flieks en ‘n mens verwag om ‘n kapkar met perde om die volgende hoek te sien kom. En alles is skoon. Skoon en netjies. Iewers het ek gelees of gehoor dat elke geboue op ‘n gereelde klokslag geverf en skoongemaak moet word as deel van die stadsregulasies.

In die kieselsteenstraat voor ‘n winkeltjie sit twee musikante – viool en basviool en die soet klanke van Mozart word hoorbaar bo die sagte geruis van stemme, dwarrel nostalgies tussen die geboue deur. Hulle is nog jonk, sien ek, en daar is reeds muntstukke en geldnote in die viooltas by hulle voete. Die violis se hare en baard is lank en hy het ‘n bloedrooi lap oor die stoel waarop hy sit, gedrapeer. Voor hom is ‘n staander met die musiek, maar sy oë is bottoe terwyl die strykstok magiese klanke uit die snare tower.

Op die stadsplein is ‘n vrugtestalletjie onder wit tentdakkies neffens ‘n heldergeel sambreeltentjie waar blomme en ballonne verkoop word. Drie meisies sit daar naby op ‘n bankie en giggel terwyl hulle roomys eet. Hier draai ons om en loop stadig terug, koop water en sjokolade by ‘n supermarkie en ‘n ent verder soek ons die koel stilte van ‘n pragtige kerkie op waar ons vir ‘n paar minute sit en die ongelooflike detail van die loodglasvensters, uitgekerfde preekstoel en ikone bewonder.

‘n Ruk later bevind ons onsself weer by die ingangsboog en met ‘n paar minute oor voor ons bus toe moet gaan, sit ons op ‘n bankie en wag vir die res van die groep. Langs ons kabbel die water van ‘n rivier verby en orals tussen die fyn blommetjies is daar torgrootte hommelbye wat argeloos hulle gang gaan.

 

Met die terugstap na die bus toe kom daar ‘n omie met ‘n lang, slap swart motor uit een van die parkeerplekke gery. Hy sien ons en besluit om eerder regs om te ry maar misgis hom en  met ‘n gekletter en gekraak ry hy bo-oor ‘n oranje plastiekkeël wat hy nie raakgesien het nie en ons giggel uitbundig, geniet die onverwagse Kodak-oomblik…

Dan weer terug op die bus. Ons volgende stop: Bydgoszcz.

‘n Kort kennismaking met Warskou, Pole

Dis middel-oggend wanneer die vliegtuig uiteindelik op die Chopin-lughawe in Warskou neerstryk. Dit was ‘n lang en uitputtende reis, veral die tweede been vanaf Doha – ek is moeg en vaak en gedisoriënteer en moet mooi dink om te onthou dat ons reeds gisteroggend vroeg al van die huis af weg is. Die opwinding van die reis het iewers tussen die vliegtuig se vlerke en en my slaapbenewelde brein uitgesypel en verdwyn.

Dis eers wanneer ons bagasie in die ruim is, almal veilig vasgegordel sit en die toerbus koers kies stad toe wat ek so diep as moontlik probeer asemhaal en myself daaraan herinner: onthou, geniet elke oomblik want as jy jou oë weer knip, is hierdie ook verby.

Die bus vat ons met ‘n lang roete deur die stad sodat ons ‘n gevoel van Warskou kan kry. Dis tipies Europees, maar tog anders. Ou, historiese geboue staan knus langs fassinerende moderne argitektoniese wonders wat in glas en staal hoog bo die ander troon, asof dit die natuurlikste ding op aarde is.

Pole, besef ek, is nog net ‘n abstrakte konsep in my kop. ‘n Mens kan hoeveel navorsing op die internet doen as wat jy wil, Google-kaarte met instruksies na die naaste supermark uitdruk, die geldeenheid se naam oor jou tong laat rol, leer om goeiemôre en dankie en hoeveel kos dit in Pools te sê terwyl jou oor die fyn nuanses van die gesiglose stem op Google translate probeer opvang, maar wanneer jy jou eerste tree op die grond van ‘n vreemde land gee, waai al daardie idees by jou kop uit, gryp die plek jou stukkie vir stukkie en word jou oë ‘n kamera wat fokus van die een toneeltjie na die volgende. Jy probeer soveel as moontlik indrukke in jou bewussyn vasvang, maar jy kan nie byhou nie – jou sintuie oorweldig jou. Dis reuke, geure, klanke van ‘n vreemde taal, geboue, sypaadjies, winkeltjies, bome, standbeelde, hotelkamers en… vir ‘n oomblik word jy met ysingwekkende spoed in die maalkolk ingetrek totdat jou kop draai en draai en dan dink jy: Stop! Nou is dit tyd om jouself uit te sorteer, wakker te word, in die oomblik te leef.

Ons hotel is net-net op die grense van die ou stad. Amper te ver om te loop, maar te naby om te ry. As jy avontuurlustig is, kan jy van hier af na die Ou Stadsplein toe stap, verby allerhande interessante winkeltjies, kerkies, deur parke, op met sypaadjies, stomend in die somerson. Of jy kan ‘n bus vat, of ‘n trem, of  met die moltrein al die bo-grondse straatjies uitsny tot dit jou weer by jou bestemming uitspoeg.

Die hoofstrate hier rond is breed genoeg sodat die tremspoor in die middel kan loop. Die voetgangers is ordentlik en wetsgehoorsaam en kruis ‘n straat slegs by voetoorgange. Daar is fietsers oral en jy moet maar vinnig opsy spring as jy jouself niksvermoedend in ‘n fietslaan bevind. Die verkeer is nie te druk nie en as jy verdwaal, kan jy net weer vra. Of jou Google-kaart toepassing gebruik. (Nie altyd aan te bevele nie, want ek kan normaalweg nie die instruksies en afstande honderd persent kleinkry nie. Sug.)

In die winkelsentrum reg oorkant die hotel kry ons ‘n geldkiosk waar ons Euro’s vir Zloti kan verruil. Dis 2015 en een Euro kos 14 ZAR – ons kry 4 Zloti vir elke Euro. Dit kos fyn berekening om uit te werk hoeveel ons in ons eie geldeenheid vir iets betaal, maar my goue reël bly altyd: werk jou begroting uit sodat jy ‘n spesifieke hoeveelheid Zloti per dag het en bly daarby. Soveel vir kos, soveel vir soeweniers en dit wat oorbly is ‘n bonus. En moenie onnodig koop nie, veral nie as dit iets is wat jy in Suid-Afrika ook kan kry nie. Koop kultuur, nie kaggelgoetertjies en dingetjies wat net gaan stof vergaar nie. Koop ervaring, nie ‘n ontwerpersbloesie of ‘n paar skoene wat ‘n plaas se geld kos nie.

Een Poolse frase wat ons ver bring is “ Dzień dobry – uitgespreek as  ‘djiendjo(v)brè’ wat sommer goeiemôre, goeiemiddag, goeienaand en hallo in een is. Die enigste ander woordjie wat ek gereeld mompel is ‘Dziękuję!’, uitgespreek as ‘ Dzienkoejè!/ Dzienkwé’ wat ‘dankie’ beteken. Verder is kommunikasie maar met gebare, glimlagte, kopknikke en welwillendheid. Hier en daar is daar wel ‘n woord of twee wat bekend voorkom en alhoewel hulle taal baie vreemd is en herinner aan Russies of Sloveens of Estonies wat baie min vokale in het, is daar ‘n sangerige, melodieuse amper-Franse in sommige woorde opgesluit.

In Europa voel ons Suid-Afrikaners meestal gemaklik, want ons bloed is ‘n goeie vermenging en ons staan nie werklik uit wat ons voorkoms betref nie. In die supermark groet die dames by die kasregisters ons in Pools sonder om te dink, maar wanneer ons in Engels teruggroet, kan jy sien hoe hulle kliek dat ons toeriste is. Hulle bly egter vriendelik en behulpsaam en as ons ‘n handvol note en munte na hulle toe uithou en verskonend glimlag, tel hulle sorgvuldig en geduldig die regte bedraggie af en ons beklink elke transaksie met ‘n vriendelike dankie, krom en skeef, maar in Pools.

Terwyl die koorgroep die volgende dag iewers in die hotel oefen, gaan ons klompie volwassenes op ‘n stadstoer in ‘n minibus. ‘n Rooikoptannie met ‘n swaar Poolse Engelse aksent is ons gids en begeleier.  Ons kyk na die stad deur haar oë en wat sy voel en glo ons moet weet. Ons, vreemdelinge, luister en ons aanvanklike ligsinnigheid verander gaandeweg in ‘n sombere bui. Hoe maklik is dit net nie om vanaf ‘n afstand na die koue feite van ‘n land se geskiedenis te kyk nie, sonder dat dit ‘n mens werklik raak. Maar hier, terwyl ons koppe soos in ‘n tenniswedstryd van links na regs kyk terwyl ons gids die besonderhede uitwys en feite opnoem, begin die prentjie anders lyk. Algaande begin ons dieper kyk, begin ons ervaar dat hierdie ‘n plek met ‘n geskiedenis is. Dat die oënskynlike normaliteit gegrond is op trauma en hartseer.

Warskou oftewel Warszawa is tydens die Tweede Wëreldoorlog omtrent tot op die grond platgevee en moes na die tyd steen vir steen herbou word. Ons ry deur die stad, met Jerusalemlaan al langs die voorheen Joodse kwartiere verby (daar is letterlik net ‘n klein stukkie van die oorspronklike oor) en dan met Marshallstraat tot by die ou stadsgedeelte. Oral tussen die geboue is daar groot, groen parke met helderkleurige blomme. Dis somer in Pole.

Naby die Joodse Museumgebou klim ons af om verder te stap en ons gids rammel die een feit na die ander in haar swaar Poolse aksent af terwyl ons probeer om sin van alles te maak. Stadig maar seker sypel die hartverskeurende geskiedenis van hierdie stad en die menseregte vergrype deur tot in ons bewussyn. Ons staan en luister voor die imposante struktuur van die Joodse museum met sy indrukwekkende glasteëltjies en manjifieke standbeelde – onroerende getuies wat die bloedige gebeure herdenk. Baie van die inskripsies op die gedenkstene is in Hebreeus en Pools met hier en daar ‘n Engelse of Duitse verduideliking by. Ons gids staan lank en praat terwyl ons luister en tussendeur foto’s van alles rondom ons  probeer neem. Dan loop ons na die Umschlagplatz wat die bymekaarkomplek was van waar die Warskouse Jode na die Treblinka uitwissingskamp geneem is. Sommige dae soveel as 10 000 Jode op ‘n keer om uiteindelik ‘n totaal van 300 000 Jode uit een gemeenskap te ruk. ‘n Monument vir die slagoffers is hier opgerig en op die monument  is die name van die mees algemene Pools-Joodse name in alfabetiese volgorde aangebring, vanaf Aba tot Zanna. Elke naam verteenwoordig ‘n duisend slagoffers van die Warskou-ghetto. Die omvang van dit wat ons hoor is skrikwekkend, maar terselfdertyd absorbeer ons dit en bêre dit iewers in ons bewussyn om later emosioneel te verwerk. Vir nou is daar te veel om in te neem. Onder by my voete sien ek ‘n enkele pers blommetjie wat tussen die beton deurgedring het en triomfantelik en kleurvol blom.

Ons volgende stop is die Markplein, alhoewel daar lankal nie meer sprake van ‘n mark is nie. Die plein self is verruklik wat die atmosfeer betref met die gesellige zoem van stemme en die wit sambrele wat koelte vir die restauranttafeltjies verskaf. Blombakke met helder blommetjies verskaf spatsels kleur en die nou systraatjies is fassinerend – weereens is oud en nuut langs mekaar ingesardyn en kan jy jou nie voorstel dat hierdie pragtige stad gelyk met die aarde gevee was nie. Wel, soort van, want dit was gereduseer tot murasies en hope bakstene en rommel. Een rooibaksteenkerk is steentjie vir steentjie terugherwin en elke steen is met sorg weer in sy oorspronklike plekkie herstel. Binne in die kerk is die atmosfeer gewyd, is dit halfdonker en misterieus, kan ‘n mens vir ‘n paar minute stil word en net aan niks dink nie, tot jy weer in die helder sonlig uitstap.

Warskou het baie toeriste, maar jy kan dit nie vergelyk met sommige van die Wes-Europese stede waar jy soms jou pad moet oopveg om iets te kan sien nie. Bedags is daar genoeg plek by een van die restaurantjies waar jy die plaaslike kos of bier kan uitprobeer met musiek wat van iewers af stroom en jou ervaring verder inkleur. Of jy kan in die nou straatjies afloop en by winkeltjies inloer tot jy by die stadsmuur kom waar daar skilderye van alle groottes en kleure uitgestal word.

Of jy kan vir jou ‘n buskaartjie koop waarmee jy heeldag kan rondry, of met dieselfde kaartjie op ‘n trem of die moltrein klim en lukraak iewers afklim, sommer net vir die pret. Hulle openbare vervoerstelsel loop op geoliede ratte en die meeste mense maak daarvan gebruik, selfs tot laat in die aand.

Ons stadstoer kom ook tot ‘n einde.  Iemand in ons groep het iewers gesien dat daar ‘n klavieruitvoering van Frederic Chopin se werke in een van die groot parke gaan wees. Gratis en verniet in die opelug. Ons bussie laai ons reg voor die parkhekke af en ons gids laat ons met instruksies oor hoe om min of meer weer by ons hotel uit te kom.

Die park is lieflik en groen en reeds driekwart vol mense. In die middel by ‘n standbeeld van Chopin is ‘n soort van amfiteater waar mense op stoele en komberse sit en verder op is elke denkbare oop kolletjie op die gras tussen die blombeddings en onder die bome gevul. Ons kry ‘n nessie vir onsself onder ‘n boom en later luister ons midde die rustigheid van die park tussen honderde ander na die musiek terwyl kindertjies rondhardloop en speel.

Operasie Hotel Vind volg hierna – vervoer met ‘n bus of ‘n trem blyk die beste opsie te wees en in die waan dat ons kaartjies op die trem kan koop, gaan ons by die halte wag.  Ons ontdek egter dat die kaartjiemasjien nie kontant of kredietkaarte neem nie maar dis te laat om weer af te klim. Ons weet nie of ons moet giggel of benoud moet wees nie, maar byt vas en loer onderlangs vir mekaar met die hoop dat daar nie ‘n inspekteur opklim en ons beboet of summer van die trem afgooi nie.

Dis met verligting wat ons min of meer naby ons bestemming uit die trem uit spring en ons giggel en praat almal tegelyk. Die entoesiasme verdwyn egter wel na ‘n ruk toe ons met ‘n Kaapse draai moet loop om weer by ons hotel uit te kom.

Die wonderlikste ding omtrent Europese somersaande is die son wat so laat ondergaan. Vroegaand is die ergste hitte van die dag oor en dan is dit nog heerlik lig buite. Genoeg tyd om tot laataand rond te drentel in die aandatmosfeer te geniet. Of om koffie by een van die pleinrestaurantjies onder groot sambrele te drink, miskien ietsie ligs te eet en die tyd geselsend te verwyl.

‘n Mens kan slegs maar ‘n baie klein stukkie van die hart van ‘n stad in ‘n besoek van ‘n dag of twee leer ken. Jy kan dit doen sonder ‘n gids, sonder enige vooropgestelde planne, of jy kan dit meer gestruktureerd doen, by al die belangrikste en bekendste besienswaardighede uitkom. Maak nie saak hoe jy dit benader nie, jy sal steeds net ‘n breukdeel van dit wat ‘n plek bied, kan verken. En indien jy gelukkig genoeg is en op ‘n ander keer weer daar kan uitkom, sal die stad vir jou ‘n ander profielfoto verskaf en jou van vooraf opgewonde maak. Die belangrikste is om soveel as moontlik te sien en soveel as moontlik te doen, maar nie so dat die plesier daaruit verlore gaan omdat jy naarstiglik alles op een slag wil inprop nie en alles net in ‘n waas verbygaan nie.

Volgende keer meer oor die middeleuse stad Torun en Szczecin, ‘n ander Poolse stad wat in die Duitse besettingstydperk as Stettin bekend gestaan het.

Die reuk van hout en ‘n tweetoringkerk in Tallinn

Julie, 2002.

Maandagoggend en ons ontmoet ‘n gids naby Tallinn se middestad. So al stappende en kykende deel sy interessante feite oor die stad – natuurlik neem ‘n mens nie veel in wanneer jy jou aan alles rondom jou verwonder nie, maar met my notaboekie byderhand stip ek elke nou en dan ietsie neer.

Tallinn is reeds in 1154 vir die eerste keer op ‘n kaart aangedui en het in 1248 stadsregte gekry.  Nie alleen was die stad een van die belangrikste Noord-Europese stede in Middeleeuse tye nie, maar ook een van die rykstes, omdat dit in so ‘n goeie geografiese posisie was.

Baie geboue in Tallinn is absoluut kolossaal en gebou uit kalksteen, die land se Nasionale steen (sou dit eerder as klip vertaal word? ).  In die bo-dorp area is daar slegs ‘n klein deeltjie van die oorspronklike stadsfortmuur oor wat al die verskillende oorloë, stryde en besettings oorleef het.   Die oorspronklike muur was ‘n hele 40 kilometer lank en het 45 torings gehad.  Vandag is daar nog net ‘n paar torings oor, onder andere Vet Margaret en Lang Herman.  Albei hierdie torings het ‘n hele paar legendes wat deur die eeue heen om hulle geweef is.  Daar is ook die Jongmeisie Toring waar daar nou ‘n restaurantjie is en die Kiek in de Kök (Loer in die Kombuis!) toring wat nou ‘n museum huisves en ook vir konserte en uitstallings gebruik word.

In Tallinn is daar net een Russies Ortodokse kerk, die Alexander Nevski en ons het ons behoorlik verstom aan die massiewe uivormige koepels en die goud en silwer, kristal en kandelare binne sowel as buite.  Dit is in 1900 deur ‘n St. Petersburgse argitek gebou en al die ikone binne-in is in St Petersburg geverf voor dit hierheen gebring is.  Die grootste klok weeg ‘n hele 15 ton en is 3 meters hoog. Met die intrapslag besef ons daar is ‘n diens aan die gang, wat dit eintlik interessanter maak omdat ons vir ‘n rukkie agter in die kerk kan bly staan. Soos die gebruik in Russies Ortodokse kerk is, het hierdie een ook net een of twee sitplekkie waar mense kan sit. Die res moet tydens die diens maar staan.

Ons loop darna deur ‘n groot gedeelte van die bo-stad deur baie nou straatjies. Kort-kort kry ons agtergrondmusiek van straatmusikante wat ‘n geldjie probeer verdien. ‘n Jongman speel kitaar en sing Lili Marlene. Op ‘n ander straathoek is daar ‘n klein ensemble-groepie bestaande uit ‘n klarinet, kitaar en blokfluit. Hulle besef dadelik dat ons ‘n toeristegroep is (meeste mense dink gewoonlik dat ons uit Duitsland of Holland kom wanneer hulle ons Afrikaans hoor praat, of uit Amerika wanneer ons Engels met die seuns praat) en speel “Memories”.

Ons maak ook ‘n draai by die  St. Nicholaskerk wat in die 13de eeu gebou is en meer as een keer herbou is.  Meeste van sy kunswerke is gedurende die Tweede Wêreldoorlog vernietig, maar hulle kon wel daarin slaag om ‘n paar items weg te steek en so te bewaar.  Een van hierdie werke is ‘n skildery van Bernt Notke, getiteld “Makabere Dans”.

By die oudste fonteintjie in Tallinn vertel ons gids vertel dat daar volgens ‘n legende ‘n aggressiewe watergees in die put bly en al die vars water in Tallinn beheer.  Elke jaar moes ‘n dooie kat geoffer word om te verseker dat die fonteine nie opdroog nie.  In ‘n stadium moes hierdie put toegemaak word vir higiëniese redes, maar deesdae is die gees (dank vader) blykbaar heel tevrede en het die stad steeds vars water.

Terwyl ek so na die gids luister, besef ek hoe min ‘n mens eintlik van ander lande en kulture af weet. Meeste name is slegs ‘n vae herinnering aan ‘n geskiedenisles op skool  waar die trio Letland, Estland en Litaue ‘n geleerde rympie in my kop was wat die Balkanstate verteenwoordig het.

Die gids wys in ‘n stadium ook vir ons die stad se biblioteek uit en sê met trots dat die gebou meer as 3 miljoen boeke huisves.

Na ons stadstoer het ons vrye tyd tot 5 uur voor ons weer bymekaar moet kom. Manlief het ‘n afspraak met iemand in ‘n kerk naby die middestad en ek verken die straatjies ‘n bietjie op my eie. Ek maak seker dat ek nie te ver loop nie, want dit is so maklik om heeltemal rigting te verloor met straatjies wat vir my oë almal dieselfde lyk. Ek drink eers koffie by ‘n klein restaurantjies en drentel dan verder rond. By ‘n boekwinkel loop ek in om te sien wat hulle het. Daar is selfs Engelse boeke in een afdeling, maar dis meestal klassieke verhale. Tot my verbasing sien ek ook die Estoniese vertaling van Harry Potter tussen al die vreemde titels.

Aandete is ‘n spesiale geleentheid in die oudste restaurant in Tallinn, die Miasmokk, AD 1864.  Ons word op hoender en groente getrakteer, met kaaskoek as nagereg. Bo die ingang van die restaurant sien ‘n mens die datum waarop dit gebou is: 1864.

Op pad terug na die hotel toe kom ek agter dat Kate, een van die chaperones, ‘n bietjie af lyk.  Haar man het siekerig gevoel en eerder by die hotel gebly terwyl ons aandete gehad het. Ek vra wat fout is en sy vertel hoe sy half uit gevoel het omdat ons volwassenes heeltyd Afrikaans gepraat het. Sy is ‘n eks-Zimbabwiër en vind dit moeilik om ons gesprekke te volg. Ek voel baie sleg en vra om verskoning. ‘n Mens vergeet so maklik dat jy almal in ‘n groep in ag moet neem.

Dinsdagoggend het ons weer ‘n paar ure om rond te loop. Manlief het ‘n afspraak by die Suid-Afrikaanse ambassade, maar ons beplan om mekaar later te ontmoet. Intussen is ek op ‘n missie om iets vir my kinders te koop, dus loop ek weer terug na die winkeltjies rondom die stadsplein.

Ek ontdek ‘n nou stegie wat as’t ware tussen die winkeltjies ingedruk is.  ‘n Paar treë in is daar ‘n stel trappe wat na ‘n ondergrondse winkeltjie lei.  Die Engelse naam, nl. “Handicrafts” is hopelik ‘n aanduiding dat dit op die toeristemark gerig is.   Binne in is daar ‘n heerlike houtreuk, komende van die magdom houtprodukte wat daar uitgestal word.  Piepklein en ragfyn beeldjies, kunstig uitgesny, ornamentjies, hangertjies en allerhande soeweniers.  Ek koop vir die tweeling twee klippies met gesiggies op en vir hulle boetie ‘n houthangertjie aan ‘n swart toutjie. Na ‘n handvol klein aandenkinkies is my sending voltooi en tyd vir ‘n lekker koppie koffie.

Ek gaan sit by ‘n kafeetjie wat op die een hoek van die plein uitloop. Die tafels en banke is van spoorweg houtstawe gemaak en van daar af kan ek die mense oor ‘n Cappucino beskou terwyl ek vir Manlief wag. Hy daag uiteindelik op en hierdie keer sleep ek hom saam om na die oulike winkeltjies te gaan kyk. So verwyl ons die res van die oggend tot dit tyd is om terug hotel toe te gaan.

Met ons tasse gepak en ‘n laaste inspeksie van die seuns se kamers is almal vieruur die middag weer op die bus wat ons voor ‘n tweetoringkerk gaan aflaai waar die koor se laaste optrede in Tallinn gaan wees.  Terwyl die koor opwarm, gaan soek ons chaperones na ‘n kuierplekkie in hierdie deel van die stad wat heelwat moderner is as rondom die middestad.

. Die kerk self is besonder groot en heelwat mooier as die ander wat ons tot dusver gesien het. Dit laat my nogal baie aan ons kerke in Suid-Afrika dink, behalwe natuurlik vir die enorme, pragtige muurskildery agter die kansel.  Die akoestiek is  ongelooflik en volgens Manlief duur die eggo’s ten minste 5 sekondes lank.  Absoluut ideaal vir koorsang.

IM000490

Alhoewel dit ‘n weeksaand is, is die kerk stampvol. Later hoor ons dit is omdat soveel mense se belangstelling gewek is na die televisie-uitsending die Sondagaand..

IM000489

(Jammer. maar die foto’tjie weier volstrek om regop te staan!)

Ek sit knus ingedruk tussen twee ouer Estoniese dames en iewers tydens die konsert kom ek agter dat die een dame ietwat verslons lyk. Onder die kerkbank is haar aardse goedere ingedruk en haar oë is vasgenael op die seuns. Blykbaar lyk ek nie te uitlands nie, want wanneer sy in ‘n stadium ‘n traan wegpink, sê sy vir my iets in haar taal en ek knik ewe asof ek verstaan en glimlag minsaam. Geen nut om nou skielik in Engels weg te spring nie.  Haar duidelike genot om die seuns te hoor sing laat my besef hoe dankbaar ek vir my eie seëninge moet wees.

IM000492

Die koor kry ‘n staande ovasie en Manlief kry drie verskillende bosse blomme. Die voorkant van die bus lyk al soos ‘n bloemiste, maar hy sal wel iemand by die volgende stop kry vir wie hy die blomme sal kan gee sodat hulle ook ‘n bietjie vreugde daaruit kan kry.

Na die tyd drom ‘n klompie mense om hom saam wat graag ‘n woordjie wil inkry en dan is ons weer in die bus en is dit tyd om die stad vaarwel toe te roep.

Terug in die Middeleeue

Sondagoggend is dit tyd om Pärnu met al sy pragtige herinneringe vaarwel toe te roep.  Net na ontbyt en ‘n vinnige afranseling (‘n klompie seuns het die vorige nag later uitgebly as wat hulle toegelaat was) sny ons gou die koek wat die koor as gehoorprys gewen het. (Dis tradisie om ‘n reuse koek vir die gehoorgunsteling te gee. Vreemd vir ons uit Afrika).  Daarna pak ons en terwyl die seuns die bagasie ondertoe dra, maak ek gou ‘n draaitjie in al die kamers om te kyk of iets agtergebly het. Ek kry ‘n paar skoene in een kamer, half weggesteek onder ‘n bed en in ‘n ander een ‘n das oor ‘n handdoekreling.

Buite by die bus ontdek ons dat daar sowaar by die bus ingebreek is en dat Ludwig, die bestuurder, se bagasie wat hy in die bus gehou het, gesteel is. So ook is die yskassie wat voor in die bus gehou word met koeldranke en water, leeggemaak…

Gelukkig is Ann daar om die polisie te bel en ‘n rukkie later as tolk op te tree sodat die saak amptelik aangemeld kan word. Uiteindelik is die formaliteite afgehandel en kan die seuns die busse pak. Ons groet vir Ann en Merike, twee pragtige mense wat ons soveel gehelp en bygestaan het terwyl ons hier was.  Buite op die sypaadjie staan ‘n bedremmelde groepie meisies wat kom groet en wanneer die bus uiteindelik wegtrek, rol die trane behoorlik. Vir my wil dit voorkom of die seuns heimlik baie gevlei is deur die kortstondige aandag en glad nie so emosioneel oor die afskeid is as wat die meisies sou wou hê nie.  (Vandag, ‘n dekade later, is een van die seuns wat saam met ons was met Merike getroud en woon hulle albei in Moskou! Sy het ons ‘n jaar gelede hier kom groet.)

Ons ry terug na Tallinn toe waar ons vinnig by die hotel inboek en ons tasse neersit. Die koor is geskeduleer om om twee-uur vanmiddag ‘n opelugkonsert op die stadsplein te gee. Die bus laai ons so twee blokke van die plein af en ons volg die gids wat vir ons gewag het.

Skielik voel dit vir my of ek myself in die midde-eeue bevind – hierdie Sondag is die laaste dag van ‘n jaarlikse weeklange middeleeuse fees wat in die stad gehou word. Dis ‘n besonder kleurvolle prentjie wat ons op die plein begroet – honderde stalletjies wat allerhande oulike goedjies verkoop. Van snaakse punthoede van velt of wol, tot helderkleurige tradisionele rompe, serpe en klompe. Handgemaakte juwele, koekoekhorlosies en allerhande interessante artikeltjies. Die mense wat die stalletjies beman is in fassinerende middeleeuse kleredrag uitgedos.

Miernes

Middeleeuse stalletjies
Middeleeuse stalletjies

Van alles en nog wat
Van alles en nog wat

Ons kom agter dat daar baie toeriste ook is, want dis somer enTallinn is een van die gewildste vakansiebestemmings vir lande soos Swede, Finland en Denemarke.  (Toe ons in 2007 weer daar was, het ons gehoor dat die stad intussen ook gewild geraak het vir die hou van rampartytjies – dat groepe mans selfs van ander dele van Europa en Engeland daarheen vlieg om ‘n naweek van drink en rinkink te hê!) Dis hier maklker om in Engels te kommunikeer as wat die geval met kleiner plekke is.

Die stadsaal van Tallinn is een van die beste voorbeelde van ‘n Gotiese boustyl in die Baltiese state en volgens sommiges, selfs in die hele Noord-Europa.  Dit is soos met die meeste van die groot strukture oor ‘n tydperk lank gebou, naamlik van 1371 tot 74 en later weer vir drie jaar, beginnende by 1401.  Fassinerend.

Pragtige geboue
Pragtige geboue

Aan die een kant van die plein is daar ‘n verhoog opgerig en met ons aankoms is ‘n groep musici besig om met Middeleeuse instrumente musiek te maak.  Daar is min dinge wat so ‘n feestelike atmosfeer skep soos hierdie soort musiek.

Manlief doen vinnig iewers in ‘n hoekie ‘n paar opwarmingsoefeninge met die koor terwyl die res van ons ‘n bietjie rondsnuffel. Ek ontdek vreeslike interessante winkeltjies in die systraatjies en stegies, en selfs ‘n paar met trappe af onder in kelders in.

Na die opwarming gaan kry ek vir Manlief en ons gaan soek ‘n plek om koffie te drink, kry een nie ver van die plein af nie. Ons knoop ‘n gesprek met die eienaar agter die toonbank aan, want ons is nuuskierig oor die “Tea House” benaming van die plekkie. Hy vertel dat die Estoniërs eintlik baie lief is vir koffie maar dat hulle probeer om meer mense te kry om tee te drink.

The Tea House
The Tea House

Hulle nasionale tv-nuusspan
Hulle nasionale tv-nuusspan

Terug by die plein het Manlief eers ‘n onderhoud met ‘n plaaslike televisiestasie, waarna hulle ook met die koor se hoofleier gesels.  Dan is dit konserttyd, maar met al die ander aktiwiteite wat aan die gang is is dit onwaarskynlik dat hierdie hoekie veel aftrek gaan kry. Manlief besluit om met die gumboot-dansroetine te begin en kort voor lank is almal se aandag op die verhoog. Sommiges staar oopmond en luister en aan die einde van die danse en Afrika-liedjies (wat hulle heeltemal fassineer) bars die applous los.

‘n Klomp mense kom drom om Manlief saam om te hoor wie hy is en waar die koor vandaan kom. ‘n Vrou gee vir hom ‘n bos blomme – sy het van iemand in Pärnu van die koor gehoor en wou graag kontak maak.  ‘n Ander paartjie kan weer skaars hulle opgewondenheid bedwing, want hulle het die skool se wapen gesien wat amper net soos hulle eie koor, ‘n seunskoor in Tallin, s’n lyk.  Tussen die mense is ook ‘n klompie wat die koor reeds in Pärnu gehoor het en weer na Tallinn toe gekom het.  Onder andere is daar Juri-Ruut, die dirigent van die Estoniese Jeugsimfonie-orkes, wat daar vir Manlief vertel dat hy nie een van die konserte in Pärnu gemis het nie en dat hy beplan het om elke konsert in Tallinn by te woon. ( Hierdie kennismaking het daartoe gelei dat sy orkes in 2007 in Suid-Afrika saam met Manlief se ander koor kom toer het.)

‘n Prettige affêre inderdaad.

Laaste dag in Pärnu

Saterdag Julie 2002. Vanoggend was daar tyd  om in Pärnu se middestad te gaan rondloop voor die middag se bedrywighede.  Ons het oral ingeloer – van tweedehandse klerewinkels om te sien wat die gewone Estoniër vir klere betaal, tot ‘n moderne winkelsentrum waar bekende handelsname hulle produkte in helderverligte vertoonvensters uitstal. Die mees fassinerende is egter die ou-wêreldse mantel wat die middestad dra – kieselsteenstraatjies en ou geboue met hulle eie karakter. Ek wonder altyd watse stories die mure sou vertel indien hulle stemme sou gehad het…

Vroegmiddag stap ons deur die boomryke strate met die son wat kol-kol tussen die blare deur speel na die plek waar middagete in tente bedien word. Van daar af beweeg al die kore na die stadion toe vir ‘n repetisie. Rye en rye stoele is op die gras staangemaak, terwyl die kore op die paviljoen bymekaar kom.  Daar is reeds ‘n paar orkeste wat hulle instrumente opgestel het en besig is om dit galmend in te stem.

Middagete
Middagete

Taiwannese koor
Taiwannese koor

Een van die vele orkeste
Een van die vele orkeste

Stout gesiggies!
Stout gesiggies!

IM000440

Na die repetisie stap ons ‘n verdere twee blokke na ‘n skoolsaal toe waar ons koor ‘n middagkonsert moet doen. Met hierdie kompetisie en soveel ander kry die gemeenskap in ‘n dorp of stad sowel as ander nabygeleë plekke altyd die geleentheid om na die kompetisiekore te luister. Ek hou nogal van die idee, want so kom ‘n mens dikwels by plekkies uit wat jy selde of ooit as ‘n gewone toeris sou besoek. Dis ook interessant en opwindend om tussen gewone mense te wees waar musiek en sang ‘n internasionale kommunikasiemedium is sonder dat enigiemand mekaar se taal hoef te praat.

Waar kom dié vandaan?
Waar kom dié vandaan?

Volgepakte saal
Volgepakte saal

Met ons aankoms is dit dadelik duidelik dat die organiseerders nie voorsiening vir ‘n groot gehoor gemaak het nie, want gou-gou is die klein saaltjie vol en moet daar nog stoele ingedra word. Ons klompie Suid-Afrikaners besluit om ons sitplekke af te staan en ek kry vir my ‘n plekkie in ‘n breë vensterbank waar ek as bonus ‘n goeie uitsig onder op die straat het. Tot my verbasing sien ek hoe ‘n perdekar ‘n langerige, geel waentjie trek. Rustig, asof dit die mees natuurlike ding in ‘n stad is.  Die saal is gou so vol dat mense by die deur en selfs met die trappe af saamgebondel staan. Ek wonder wat in hulle koppe aangaan, hierdie mense vir wie musiek so ‘n integrale deel van hulle leefwyse is.

In die gehoor is natuurlik al ‘n paar bekende gesiggies – die jong meisies wat oral saam met die seuns gaan, sowel as ‘n handvol volwassenes wat die koor ‘aangeneem’ het. (Later sou ons hoor dat daar ‘n paar van hulle was wat nie ‘n enkele van die koor se konserte gemis het nie!)

Langs my staan ‘n Duitser wat iets vir my sê. Alhoewel ek so ‘n paar woorde verstaan, antwoord ek hom in Engels. Hy is eintlik net daar uit nuuskierigheid, sê hy, en was nie veel te wagte van ‘n skoolkoortjie nie, maar hy is aangenaam verras.

Die konsert word met die nou gebruiklike Afrikamusiek en gumbootdanse afgesluit. Na die derde éncore moet Manlief egter halt roep – die gebruiklike optog van kore gaan binnekort begin.  Gelukkig neem dit net ‘n paar minute om by die beginpunt te kom en word ons deur ‘n skouspelagtige, helderkleurige prentjie begroet. Die kore het almal hulle tradisionele drag aan en dis ‘n fees vir die oog. Daar heers ‘n vrolike atmosfeer, want die spanning van die paar dae se kompetisie is verby en mense lag en gesels.  Een van die organiseerders wys waar ons koor tussen die ander moet inval.  Elke koor het een of ander vlag of banier wat hulle dra. Ons klompie het gelukkig ‘n groot Suid-Afrikaanse vlag gebring wat natuurlik baie belangstelling uitlok. Dan begin die groepe beweeg terwyl honderde toeskouers langs die strate saan en juig en waai. Voor in die optog is ‘n marsorkes wie se klanke die strate vul. Inderdaad ‘n vreugdevolle geleentheid wat almal terdeë geniet.

Die Suid-Afrikaanse vlag  word trots gedra
Die Suid-Afrikaanse vlag word trots gedra

Kleurvolle tradsionele drag
Kleurvolle tradsionele drag

Die roete eindig by die stadion wat stadig maar seker met toehoorders, kore en orkeste vul. Die konsert  is ‘n hele twee ure lank, maar vir ons klompie in die gehoor vlieg die tyd verby – ons geniet dit om na al die kore en orkeste te luister. Die seuns, daarenteen, moet heeltyd tjoepstil op die paviljoen bly sit totdat dit hulle beurt is om deel van die optrede te vorm. Na die konsert het ons die res van die aand af en word daar glo ‘n ‘partytjie’ in die stadion gehou. Die seuns het egter genoeg gehad, want die partytjie is glad nie so opwindend nie na ‘n besige dag wil hulle eerder rondloop en na ‘n pizza- of burgerplek gaan soek.  Manlief en die koorhoofseun is as verteenwoordigers van die koor na ‘n formele dinee uitgenooi en ek stap saam met Beth terug jeughostel toe, behoorlik pootuit na ‘n besige maar opwindende dag.